40 Dae reis na Paas: Lydenstyd – geleentheid om te vas
[powerpress]
Mat. 6:16-18 “As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” AFR83
Mat. 6:16 “And when you fast, don’t make it obvious…
When you fast…, Wanneer julle VAS….
Jesus het veronderstel dat ons van tyd tot tyd sal VAS.
So vandag wil ons begin deur een van die moeilikste Christelike dissiplines te bespreek. VAS. Geestelike dissiplines is – Die dinge wat ek doen om geestelik te groei en nader aan God te beweeg. Dit is soos ’n deur wat ek oopmaak dat Hy in my lewe kan kom werk.
Geeneen van die dissiplines opsig self bring my nader na God nie.
Dit is ook nie een of ander magic trick wat ek doen om God se aandag te kry nie.
Dit gaan glad nie daaroor dat ek iets van God wil hê en sy arm so kan probeer draai nie.
Nee, dit gaan daaroor dat ek God wil beleef en Hom wil ervaar op ‘n dieper manier.
Van al die dissiplines is VAS seker een van die moeilikste omrede die vlak van selfverloëning baie hoog is.
Soos iemand eenkeer gesê het: Die gedagte van vas is skrikwekkend.
As jy vir my sê dat jy niks geld gaan hê nie, sal ek oorleef.
As jy vir my sê jy moet sonder slaap klaarkom vir ’n tydperk, geen probleem nie.
Maar die gedagte om vir 24 uur sonder kos klaar te kom is angswekkend.
En ek dink meeste van ons kan hiermee vereenselwig.
Wat is ’n Bybelse VAS? Dit is om myself van iets te ontneem wat ek uit gewoonte doen om nader aan God te beweeg.
Dit is die opgee van iets wat elke dag in my lewe is, om nader aan God te kom.
Hoekom moet ons dan VAS?
Meeste van ons het ’n diep begeerte om nader aan God te beweeg. Maar iets kom in die pad wanneer meer van God wil hê.
Ons begeerte na meer van God word ook gedeel in ons lewe met ’n begeerte na dinge.
En in hierdie tyd waarin ons leef het ons geweldig baie dinge waarmee ons ons lewe vol maak en wat ons begeerte na God wegneem.
Ons is so vol van kos, vermaak, oppervlakkige konneksie dat ons geen honger vir God oor het nie.
Daar is natuurlik niks verkeerd met kos en hierdie dinge nie maar ons besef dikwels nie dat ons ware diepste honger eintlik na God is en nie al hierdie dinge nie.
Hoe meer dinge in my lewe is wat my op die oog af vol maak, hoe minder besef ek dat ek eintlik ’n diep verlange en honger na God het.
Is dit nie waar van ons so oor Kersfeestyd nie? Ons peusel en nibble die heeldag aan dinge, teen die tyd wat ons hoofgereg opgeskep word, geniet jy die kos nie soos jy moet nie. Ons peusel die hele dag aan ons selfone, TV, facebook, koop, aktiwiteite, kos, selfs dinge wat ons vir God doen, dat ons later nie meer honger is vir God en tyd saam Hom nie.
VAS is die dissipline wat ons honger na God weer wakker maak.
Dit sê, Here ek is bereid om enigiets op te gee, sodat ek in U teenwoordigheid kan wees.
As iemand vir jou sê, daar is 10 miljoen rand in jou huis begrawe, wat sal jy doen?
Jy sal jou aktiwiteite en roetine baie gou aanpas en jou huis steen vir steen ondersoek totdat jy daardie geld gekry het.
VAS wys dat ek ’n begeerte het diep in my innerlike mens om Hom beter te leer ken.
Wat VAS doen?
- VAS wys wat in my hart is.
Richard Foster sê, “More than any other discipline, fasting reveals the things that control us.”
Dit help ons om te ontdek wat werklik in ons binneste aan die gang is.
Bv. indien jy iemand is wat eet om beter te voel, sal die wegbly van kos my weer bewus maak daarvan.
VAS kan vir ons wys hoeveel pyn, trots en woede daar nog in ons is.
Wanneer ons ’n vreeslike slegte dag gehad het, wat doen ons om te vergeet? Ons eet iets om daarvan te vergeet of ons doen iets om daarvan te vergeet.
Maar skielik wanneer ek VAS besef ek, ek moet ’n ander manier vind om met my gevoelens te deel. Die vrese, die frustrasies wat ons so wegsteek kom na vore.
En sodra jou hart begin dink, vanaand gaan ek die lekkerste kos eet om te vergeet dan herinner die VAS my, nie vanaand nie.
Ons VAS maak die ware honger na God en sy teenwoordigheid in ons wakker.
Mat. 4:4 “Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” AFR83
- VAS wys ons honger vir God self.
Jak. 1:17 “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo.” AFR83
Dit sluit natuurlik kos en al die wonderlike seëninge in waarmee ons onsself vol maak.
So hoekom dan VAS? In ’n sin is dit om van tyd tot tyd onsself te herinner dat die Gewer van hierdie Gawes belangriker as die gawes self is.
M.a.w. ons verklaar teenoor God – kos is goed, al hierdie gawes in ons lewe is goed, maar U is nog beter as dit.
“God is most glorified in us when we are most satisfied with Him.”
Dit help my om die fokus van myself af te haal en die goeie dinge wat God in my lewe geplaas het en my fokus op Hom te plaas. Hy is die één wat belangriker as dit alles is.
Illustrasie: In antieke dae is goud gesuiwer deur die gouderts in ’n kookpot te sit in ’n vuur. Soos die vuur warmer geword het, het die onsuiwerhede na boontoe gedryf en is dit dan soos skuim afgeskep. Maar dit is nie waar dit gestop is nie.
Dan het hulle die vuur nog warmer gemaak en dan sou daar nog meer onsuiwerhede na die oppervlak toe gedryf het. Die proses het aangehou totdat die goudsmid sy eie refleksie in die gesmelte goud kon sien.
Die Here doen dieselfde ding in ons lewe. Hy maak dinge so bietjie moeilik sodat die onsuiwerhede in ons lewe na die oppervlak kan dryf. Wanneer ons deur moeilike tye gaan begin die onsuiwerhede soos trots, dinge wat ons van Hom af weghou na vore kom.
Hierdie dinge word duidelik sigbaar wanneer ons deur moeilike tye gaan en dit gee die Here kans om hierdie onsuiwerhede af te skep in ons lewe.
Hy weet hy is klaar wanneer Hy nog ’n bietjie meer sy refleksie in ons kan sien.
- Om te VAS is om onsself te verneder voor God.
Om te VAS is om gewilliglik die vuur warmer in ons lewe te maak.
Meer as enige ander dissipline wys VAS ons die dinge wat ons lewe beheer.
VAS is ’n geestelike dissipline waar ek vrywillig myself voor God verneder en die vuur warmer maak in my lewe sodat Hy vir my kan wys watter onsuiwerhede in my lewe is.
As trots en arrogansie my beheer word dit onmiddellik sigbaar.
Ons sien hoe elkeen van God se geloofshelde hulself verneder het deur te VAS.
Woede, bitterheid, jaloesie, vrees – as dit in ons is, sal dit na vore kom met ’n VAS.
In die begin sal ons dit rasionaliseer en sê dit is a.g.v. die honger dat ons kwaad is, maar dan sal ons agterkom dat daar woede in my innerlike mens is.
Maar dit bring ook vreugde omdat ons weet dat die genesing net moontlik is deur die krag en genade wat Jesus vir ons gee.
Van al die geestelike dissiplines is VAS die meeste soos fisiese oefening.
Daar is beide fisiese en geestelike elemente wat ons geloof opbou en versterk sodat ons groter uitdagings later in ons geestelike lewe kan hanteer.
Dit is ook ’n teken dat ek my hart terugdraai na God toe soos ons verlede week gesê het.
Hoe Vas ’n mens?
Weereens is VAS soos fisiese oefening. ’n Mens moet stadig gewoond raak aan meer.
Om op ’n 40 dae VAS te gaan soos baie mense in die Bybel is baie dom as ek nog nie eers my liggaam geleer het om ’n maaltyd te mis nie.
Dit is ook nie ’n dieet nie.
Daar is baie beter maniere om gewig te verloor as om sonder kos te bly.
Dit kan net suiker wees, koffie of coke, vaste kos, van sonop tot sononder. Begin klein.
Dan kan dit ook dinge in ons lewe wees wat vir ons belangrik is en wat ons voel –
ek kan nie daarsonder klaarkom nie.
My gunsteling TV-program, geld, oefening, kar ry, lees, coke, facebook, my selfoon.
Dit is belangrik om die doel van jou VAS te vas te stel en te onthou.
Is dit om nader aan God te beweeg? – dan moet ek tyd inruim om saam met Hom te wees
Is dit om leiding van Hom te kry? – dan moet ek stil raak en luister en skryf in my joernaal.
Is dit om vir ander in te tree? Dan moet ek tyd vir voorbidding en intersessie maak.
Hoe lank wil jy dit doen? Een dag, ’n week of langer.
Beplan daarvoor, moenie dink jy gaan maar sien soos jy aangaan nie. Dit werk gewoonlik nie. Moet ook nie dit aankondig sodat almal weet nie.
’n Eenvoudige “ek gaan nie vandag middagete eet” is genoeg vir meeste situasies.
Bly gefokus op die Here. As jou VAS jou grumpy maak met jou gesin en werksmense sal dit nie die Here eer nie.
Die beloning kom van God af.
Mat. 6:18 “Then no one will suspect you are fasting, except your Father, who knows what you do in secret. And your Father, who knows all secrets, will reward you.” NLT
Ek hou daarvan – “And your Father, who knows all secrets, will reward you.”
Dit verduidelik watter tipe VAS die Here beloon.
Die Here beloon hulle wat Hom soek soos iemand wat water in ’n droë woestyn soek.
Hy sien ons harte wat op Hom gerig is sodat ons nie mense wil beïndruk nie maar eerder ons swakheid wil bely en ons behoefte om meer van Hom te sien en beleef.
Verseker sal Hy ons beloon.
Open. 21:6 “Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.” AFR83
Die beloning wat God gee, kan nie gekoop word nie. Dit is verniet.
Verniet vir hulle wat dors na meer van God.
Nie na meer van God se dinge nie maar meer na God self.
Ons VAS omdat ons in ons harte weet dat niks op aarde ons diepste verlange en begeerte na God tevrede sal stel nie behalwe God self.
“Both fasting and prayer cry out, “Father, I am empty, but you are full; I am hungry, but you are the Bread of Life; I am thirsty, but you are the fountain of Life. I am broken but you are whole.” Craig Simonian
Hierdie week wat kom wil ek jou uitdaag om te VAS. In die stiltetyd begeleiding wat ons besig mee is, gaan ons hierdie week op verskillende maniere VAS. Ek wil jou uitnooi om ten minste een daarvan te probeer.