40 Dae reis na Paas – verlange

[powerpress]

Dit is nogal vreemd hoe ons geestelike behoefte ons ontkant kan vang op ’n onverwagse moment.  Jy kyk dalk na ’n fliek en jy sien iets in die karakter en hy/sy ervaar een of ander verandering of transformasie in hulle lewe.

Miskien was dit iemand wat groot teenstand oorkom het en baie integriteit gewys het of iemand wat ’n groot liefde ontdek.

En soos die fliek se laaste lied speel en die “credits” rol sit jy daar en jy is in voeling met jou eie verlange om dieselfde te ervaar.

Of miskien in jy in ’n baie besige seisoen van jou lewe, dalk by die werk of met jou kinders of dinge vir God.  Maar wanneer jy stil raak kom jy agter daar is ’n verlange, dit was ’n hele ruk sedert jy en God werklik intiem was en jy hunker na daardie liefde en rustigheid wat net Hy kan gee.

Dit was lank sedert jy iets ervaar het in jou diepste plekke van jou innerlike siel.

 

Dit kan baie ongemaklik wees om in voeling met jou verlange te wees.

Ek dink juis dit is hoekom baie mense hulself besig hou met geweldig baie aktiwiteite sodat hulle nie hoef in aanraking te kom met hulle diepste verlange nie.

Ons het al hierdie plaasvervangers.  Dinge waarmee ons ons lewe volmaak omdat ons glo dat hulle ons diepste verlange sal vervul.

En dit is nie dinge wat op sigself verkeerd is nie.  Nee, hulle het ’n regmatige plek in ons lewe maar hulle is net plaasvervangers vir ons ware diepste begeertes.

 

So wat maak ons – ons is honger.  Honger na iets – en ons soek na maklike en vinnige maniere om ons honger stil te maak.

Ons wil nie wag nie – ons wil dit maklik hê en ons wil dit nou hê.

En daarom is on tevrede met ’n plastiese burger in ons lewe.

Iets wat vaagweg soos die regte ding lyk maar hy proe nie naastenby soos die gourmet burger, die regte ding nie.

Ons word gebore met ’n diep verlange na God.  ’n Honger of ’n leë plek wat net Hy kan vul.

En wat maak ons?  Ons vul daardie honger met kitsoplossings?

 

Die waarheid is dat Jesus gereeld wanneer Hy in gesprek met mense gegaan het hulle vrae gevra het wat hulle gehelp het om in aanraking te kom met hulle diepste verlange.

Jesus het op een of ander manier een van die volgende vrae gevra:

Wat is dit wat jy wil hê? Waarna is jy opsoek?

Dit is ’n baie interessante vraag is dit nie?  Dit neem ons verby al die oppervlakkige dinge in ons lewe waarmee ons onsself definieer na ’n baie dieper plek, ’n plek wat kwesbaar en oop is.  ’n Plek waar ons weet dat daardie diepste plek in ons lewe, dit wat ons so diep begeer – net God kan dit doen.

Om in voeling te wees met ons geestelike begeerte is nie altyd gemaklik nie maar dit is ’n belangrike plek om te wees want dit neem ons na ’n plek toe van eerlikheid en openheid, om vir God ruimte te gee om in ons lewe te werk.

 

En van die kragtigste stories oor verlange is die storie van Bartimeus in Markus 10.

In ons Lydenstydboekie waarmee ons besig is, is daar weer ’n ander verhaal in Johannes 1 en word daar gepraat van hunkering.  Die woorde hunkering, verlange, begeerte en in Engels longing is dieselfde gedagte wat na vore kom.

In Markus 10 lees ons van Bartimeus, ’n blinde man wat langs die pad van Jerigo gesit en bedel vir jare lank.  Hy het ’n lewenswyse gehad wat hy geskep het rondom sy gebrek.

Op hierdie spesifieke dag het hy op een of ander manier geweet dat Jesus verby sou stap en hy het ’n opgewondenheid gehad dat hierdie Jesus van wie hy gehoor het iets vir hom kon doen wat hy begeer het sy hele lewe lank.

Maar hy het ’n probleem gehad, Jesus was ’n gewilde persoon en hy was altyd omring deur mense wat hom gevolg het.

Die pad waar Bartimeus gesit het, was besig en vol geraas.

 

Hy het gewonder, hoe in die wêreld gaan ek Jesus se aandag kry?

Weet jy wat hy gedoen het?  Hy het in aanraking gekom met sy diepste verlange, sy grootste begeerte in sy lewe en hy roep uit na Jesus – “Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig!

En dan gebeur iets baie interessant – die skare raak ongemaklik met hom en hulle probeer om Bartimeus stil te maak.

Ek weet nie presies hoekom hulle hom stil wou maak nie maar ek het in idee of twee.

Ek wonder of hulle nie dalk ongemaklik gevoel het met iemand wat uitgeskree het vanuit so kwesbare en rou plek in sy lewe nie.

Miskien was hulle bietjie jaloers en het gedink – maar hoekom het ek nie daaraan gedink nie.  Hy kry Jesus se aandag en hier is ek net in die skare wat saambondel.

Wat dit ook al was, hulle het probeer om hom stil te maak.

Maar Bartimeus was so duidelik oor wat hy begeer het dat hy selfs dieper gedelf het in homself en selfs harder uitgeroep het en geskree: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

 

En Jesus was totaal en al gearresteer deur sy uitroepe.  Hy het net daar gestop en sy dissipels gevra om hom te gaan roep.

Die dissipels het na hom toe gehardloop en gesê: “Hou moed, Jesus roep jou.”

En Bartimeus was gereed – hy het sy bokleed afgegooi, opgespring en in Jesus se rigting gehardloop.  Dit is moontlik dat Bartimeus se kleed die enigste ding was wat hy besit het.

Die kleed het sekerlik sakkies of nate gehad waar hy die geld wat hy in die dag bymekaargemaak het ingedruk het.

Sommige kommentare beweer dat sy bokleed nie net dalk sy enigste besitting was nie sodat die kleed wat hy afgegooi het nie net ’n afgooi van alles wat hy gehad het, was nie maar dalk ook dat hy sy waardigheid prysgegee het deurdat hy feitlik niks onderaan gehad het nie.  Sodat hy na Jesus toe kon kom met niks behalwe homself nie.

Oop, kwesbaar en gereed om van Jesus te ontvang wat ook al Jesus vi hom gehad het.

 

Bartimeus se openheid bring ons na die kruks van hierdie verhaal.

Die oomblik toe Jesus vir hom daardie dieper vraag vra:

Mark. 10:51          “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”  AFR83

In ons teks van hierdie week:

Joh. 1:38    “Wat soek julle?”  AFR83

As ek dalk Bartimeus was, sou ek dalk bietjie ongemaklik met hierdie vraag gewees het.

Ek meen, is dit nie ooglopend nie?  Kan Hy nie sien dat ek blind is nie?

Ek het hier langs die pad en bedel, is dit nie obvious nie?

Dalk het hy gevoel het hierdie is ’n besige plek, kan ons nie dalk bietjie eenkant gaan en privaat hieroor praat nie?

Maar Bartimeus moes dit erken, hy moes dit bely, hy moes volkome eerlik wees oor sy ware verlange en hy het gesê:

Markus 10:51    “Rabbóni, dat ek mag sien.”  AFR53

En dit is hierdie begeerte van Bartimeus, hierdie diepste verlange, wat die spasie oopgemaak het dat God sy werk kon doen.

 

Mark. 1:52  “En Jesus sê vir hom: Gaan, jou geloof het jou gered.”  AFR53

Maar die ware verhaal eindig nie hier nie.  Die laaste sin in die verhaal is die mees bemoedigende van alles.

Mark. 1:52  “En dadelik het hy gesien en Jesus op die pad gevolg.”  AFR53

Nie net het hy sy sig gekry nie maar hy het opgestaan en Jesus gevolg.

Sy hele lewe was gebou rondom sy bestaan as blinde bedelaar.  Nou het daardie lewe nie meer vir hom gewerk nie.  Hy het die genesende aanraking van Jesus ervaar.

Hy het ’n nuwe lewe ontdek, ’n lewe wat heel en naby aan God was.

Ons sien in hierdie verhaal dat die gewilligheid om ons diepste begeerte of verlange vir Jesus te noem ons nie net oopmaak vir ons diepste begeertes nie maar ook die ingang tot ’n hele nuwe manier van lewe.

Dit maak ons oop vir die moontlikheid om Jesus op ’n hele nuwe manier te volg.

 

Op watter plek is jy vandag in jou lewe? Waarna is jy opsoek? Wat is dit wat jy wil hê?

Nou het jy een van twee opsies:  Jy kan soek na maklike plaasvervangers.

Dinge wat nie op sigself verkeerd is nie maar nooit jou diepste begeerte kan stilmaak nie.

As dit by geestelike dinge kom – dan soek ons events en mense wat vir ons leiding of ’n woord moet gee, wat is dit wat die Here van my vra.

Ons gebruik ander mense se openbarings, se interpretasies, se boeke en dagstukkies om ons te lei asof God self met ons gepraat het.

Ons gaan gereeld omgeegroep toe of kom darem so paar keer in die kerk.

Weereens, ek sê nie hierdie dinge is verkeerd nie.  Daar is ’n goeie plek daarvoor.

Maar as die somtotaal van my geestelike ervaring met God iets is wat deur ander mense kom, dan is ek besig met die McDonalds burger.  Hy maak nog vol.  Hy proe darem na iets.  Maar nooit kan hy vergelyk word met die gourmet burger nie.

Kyk om by McDonalds in te ry en hierdie burger te koop is maklik.  Maar om ’n smaaklike gourmet burger te maak vat meer tyd, meer opoffering, meer moeite.

Kom ons dink aan ons verhoudings.  Ons diepste verlange en begeerte in hierdie lewe is om aanvaar te word, om liefgekry te word, vir wie ons is met al ons foute.

Wat maak ons – ons gaan soek plaasvervangers wat hierdie diepste behoefte kan vervul.

Iemand wat ons glo al ons diepste behoeftes sal kan vervul.

Maar ongelukkig is hulle mense wat foute maak.  Mense wat teleurstel en soms meer aan hulle eie behoefte dink as aan jou behoefte.

Ons soek genot en excitement.  Wat doen ons?  Ons soek maklike plaasvervangers.

Iets wat ons vir ’n oomblik die gevoel gee – dit is die lewe, dit is lekker.

Maar die genot hou net vir ’n naweek, die vrede is nie permanent nie.

Die verlange na iets meer bly nog steeds.  Geen plesier in hierdie lewe kan die verlange na God in ons binneste wegneem of versadig nie.

Dalk moet ons soos Bartimeus word – erken dat ons eintlik ’n bedelaar is wat blind is.

Dalk moet ons, die maklike plaasvervangers opgee, die vinnige kitsoplossings wat ons verlange nie kan stilmaak nie.

Dalk moet ons ons waardigheid prysgee en in voeling met ons ware rou begeerte kom en na Jesus toe hardloop en voor Hom neerval en sê Here dit is wat ek van U nodig het.