50 Dae van HOOP – Week 4: Dié wat hul HOOP op die Here stel sal hul krag terug kry
Jes. 40:29-31 “Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die kragteloses sterk. Selfs jongmense raak uitgeput en afgemat. Baie jongmense struikel en val. Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg hoog, soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie.” NLV “He gives power to the weak and strength to the powerless. Even youths will become weak and tired, and young men will fall in exhaustion. But those who trust in the lord will find new strength. They will soar high on wings like eagles. They will run and not grow weary. They will walk and not faint.” NLT
Ons almal maak sekere veronderstellings oor die lewe, oor God, oor onsself, oor ander mense in die lewe. Wanneer hierdie veronderstellings wat ons het ooreenstem met ons realiteit dan het ons ‘n redelike gelukkige lewe en maak dinge sin. Maar wanneer ons veronderstellings nie ooreenstem met ons realiteit nie, word ons deurmekaar, kwaad en ontnugter. Ons wat gelowiges is hanteer hierdie ontnugterings met allerhande vooropgestelde idees van hoe God werk in ons lewens.
Jes. 49 sê dat ons name op Sy handpalms gegraveer is en dat ons beloning by Hom is. Ons lees hier in Jes. 40 wat geskryf aan mense is wat in ballingskap geleef het dat hulle nuwe krag sal kry wanneer hulle op die Here en Sy teenwoordigheid wag. Hulle sal soos arende vlieg, hulle sal hardloop en nie moeg word nie, hulle sal loop en nie vermoeid raak nie.
Hoe kry mens hierdie HOOP en KRAG by die Here, wanneer jy op Hom wag?
Hoe werk God? Wat moet ons van Hom verwag?
Ek dink ons antwoorde op hierdie vrae word verskillend beantwoord afhangende die teologie wat jy glo. M.a.w. dit wat jy glo oor God se betrokkenheid in ons lewens.
Ek het vriende wat sterk Calvinisties is. Wanneer jy so met God werk dan glo jy dat God verantwoordelik vir alles op hierdie aarde is.
Die wêreld is ‘n verhoog en ons is die spelers op hierdie verhoog.
God beplan en beheer alles, ons lewe, selfs ons keuses en ons gaan net deur die bewegings.
Dan het ek vriende aan die ander kant van die spektrum wat wonder of God enigiets doen hier op aarde. Vir hulle het God alles geskep, Hy het alles as’t ware opgewen en nou staan Hy op ‘n afstand en kyk hoe dinge afspeel hier op aarde.
God het vir hulle die karakters gereed gekry, die gordyne gelig en dan sit Hy agteroor en kyk wat gaan hier gebeur.
Ons die karakters hier op aarde worstel so goed as wat ons kan en op ‘n dag gaan God weer kom en die gordyne laat sak oor alles hier op ons planeet. Intussen is alles aan ons oorgelaat.
As God dan sê dat ons HOOP en nuwe KRAG sal kry wanneer ons op Hom wag, hoe werk hierdie beloftes in ons lewe?
Terwyl ek hieroor gedink het en oor hierdie teksgedeelte stil geraak het, het ek gesien dat God sy belofte hou op verskillende maniere:
- Hulle vlieg hoog, soos arende – God se wonderwerkende ingrypings.
Een manier hoe God betrokke raak in ons lewens is wat ons sal noem ‘n ingryping of intervensie van die Here waar Hy in ons moeilike situasie ingryp en dit wegneem.
Dit is gewoonlik wanneer ons praat van ‘n wonderwerk.
‘n Voorbeeld in die Bybel is waar die Israeliete uit Egipte is en hulle kom by hierdie groot see. Die Egiptenare het hulle agterna gesit en hulle vasgekeer teen die Rooi See.
In daardie oomblik sien ons God doen iets wat Hy baie keer sedert daardie tyd gedoen het:
Eks. 14:13-14 “Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan net daar waar julle is en kyk hoe die Here julle vandag red. Hierdie Egiptenaars wat julle vandag hier voor julle sien, sal nooit ooit weer gesien word nie. Wag en kyk! Die Here sal in julle plek veg.” NLV
In daardie oomblik maak die Rooi See oop en hulle trek deur die see op droë grond en toe die Farao se weermag deur kom gaan die see toe en vernietig hulle vyande.
Ek dink aan die blinde man in Lukas 18. Al wat hy sê is, “Jesus, Seun van Dawid wees my genadig!” Dan vra Jesus vir hom wat hy vir hom kan doen.
Luk. 18:42-43 “Sien weer! Jou geloof het jou gered Eensklaps het die man weer gesien; hy het Jesus gevolg en God geloof.” NLV
Dit was dit. Hy kon sien. Nie modder aan sy oë smeer nie. Nie ‘n oogspesialis wat hy moes gaan sien nie. Net ‘n paar woorde en hierdie man kon sien.
Wanneer ons bid, in ‘n krisis is, is die eerste ding wat in ons gedagtes opkom dat God ‘n wonderwerk gaan doen. Ek weet nie hoekom nie maar dit is so.
Miskien gaan dit terug na ons babajare toe, dat ons ‘n geluid maak en ons kry wat ons wil hê en ons word voor gesorg.
Die van ons wat in die kerk groot geword het is ook meestal vertel van ‘n God wat so werk. Hy gryp in, Hy doen wonderwerke, Hy verander natuurwette.
Die gevaar is dat ons begin glo dat dit die enigste manier is hoe God werk of dan ten minste dat dit die hoof manier is hoe God werk.
As jy met so prentjie van God werk gaan jy op een of ander stadium ontnugter raak en jou geloof gaan erg skade lei.
Hy werk soms so, maar dit is meer die uitsondering as die reël dat God so werk.
Daar is nog maniere hoe God sy beloftes hou.
- Hulle hardloop en word nie moeg nie – Soms werk God saam met ons
Nie net is daar ingrypings van die Here nie, somtyds het God wat interaksie met ons.
God kom en Hy doen nie ‘n absolute wonderwerk nie – Hy stel ons in staat om ‘n verskil te maak in ons omstandighede.
‘n Bybelse voorbeeld sou Eksodus 3 wees.
In hoofstuk 2 sien ons Moses ervaar hoe sy volksgenote slawe is van die Egiptenare.
Moses maak sy eie plan, Hy slaan ‘n Egiptenaar dood. Miskien in sy agterkop het hy gedink dat as elke Israeliet dit doen sal die Here hulle bevry van die Egiptenare.
Dit het nie so gewerk nie. Moses moet vlug uit Egipte en moet in die woestyn vir ‘n klomp skape gaan sorg. Moses se hele lewensverhaal kan opgesom word in drie fases van sy lewe.
Die eerste 40 jaar word hy groot in die paleis as Farao se dogter en dink hy, hy is ‘iemand’.
Die tweede 40 jaar pas hy skape op in die woestyn en besef hy, hy is ‘niemand’.
Die derde 40 jaar van sy lewe besef die ‘niemand’ dat hy ‘iemand’ is.
Toe Moses in sy ‘midlife crisis’ is sien hy ‘n bos wat brand en God praat met hom.
God sê vir Moses die tyd het aangebreek wat Hy ‘n wonderwerk gaan doen. Maar kyk hoe:
Eks. 3:10 “Gaan nou! Ek stuur jou na die farao toe. Jy moet my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte uit.” NLV
Verbeel jou Moses se gedagtes toe God met hom begin praat – Miskien gaan God nou sy moue oprol en bietjie iets aan hierdie 400 jaar oue situasie doen.
Nee, God sê, jy gaan en Ek gaan saam met jou.
En Moses reageer, Here, ek is saam met hierdie ouens van kleuterskool af, daar is nie ‘n manier wat hulle 2 miljoen slawe gaan laat loop nie.
En die Here sê, Moses, gaan en ek sal saam jou gaan.
God werk. Moses werk. Die Israeliete werk. Daar is interaksie tussen God en sy kinders.
Dink maar aan die Groot Opdrag van Jesus toe Hy die aarde verlaat het. Wat sê Hy?
Matt. 28:18 “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” AFR53
Matt. 28:20 “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”
En wat is ge-‘sandwich’ tussen hierdie twee stellings wat eers vertel van God se almag en daarna van Sy alomteenwoordigheid.
Matt. 28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” AFR53
Die wêreld sal nooit hoor van God as hy nie deur Sy Gees in mense se harte werk nie.
Maar die wêreld sal ook nie hoor tensy jy en ek saam met God werk op aarde nie.
- Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie – Soms doen God iets binne ons.
Nie net is daar interaksie tussen God en ons hier op aarde nie. Daar is ook ‘n inner aksie.
Met hierdie model doen God nie ‘n wonderwerk nie, Hy gee ons selfs nie krag om uit die situasie te kom nie, Hy los ons min of meer waar ons is en doen iets moois in ons lewe.
God se inner aksie in ons lewe. Hy help ons om die ware EK te ontdek.
Hy help ons om deur ons worsteling met Hom iets van onsself en iets van Hom te besef wat ons nog nooit voorheen ontdek het nie.
Ek dink bv. hier aan Paulus in 2 Kor. 12 wat bid en die Here drie keer vra om hierdie doring in sy vlees weg te neem. Ons weet nie wat dit was nie.
2 Kor. 12:9 “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” AFR53
Die Here het nie ‘n wonderwerk vir hom gedoen nie. Die Here het hom ook nie in staat gestel om met sy hulp daardie doring in sy vlees self uit te trek nie.
Die doring is daar gelaat en op een of ander misterieuse manier het God iets moois in sy lewe tot stand gebring. Hoekom doen God dit soms so?
Ek weet nie en ek verstaan dit nie. Maar wat ek wel weet is dat God soms so werk en dat ons op God se teenwoordigheid kan reken in sulke tye.
En ook dat God ons Sy genade en liefde op ‘n baie besondere manier so laat ervaar.
Hulle wat op die Here wag kry nuwe krag – en soms a.g.v. God se ingryping vlieg hulle soos arende. Hulle word gedra bo hulle omstandighede en kan dans tussen die wolke.
Ander kere is daar interaksie met God en dan hardloop hulle en raak nie moeg nie.
Ander kere kan hulle skaars loop, tree vir tree, maar hulle word nie vermoeid nie.
Ek weet nie hoe God op hierdie stadium na jou toe kom nie maar ek weet daar is HOOP vir dié wat bereid is om te wag op die Here en aan Hom vashou met alles wat hulle het.