Vergete waardes: Integriteit

Ons kyk na 3 waardes wat ek dink geweldig skaars geword het in die wêreld waarin ons leef.

Al wat jy hoef te doen, is om die nuus 1 keer ’n dag te kyk en jy sal agterkom hoe skaars het die waarde van integriteit geword.

Om elke hoek en draai is daar iemand wat iemand anders inloop.

En moenie die fout maak om te dink dat dit net vandag so is nie, ek dink dit was 20 jaar gelede net so groot probleem, dit was net nie so openlik raakgesien nie.

En dan is dit ook in plekke waar ’n mens gedink het mense het integriteit, soos die kerk of geestelike leiers en dan gebeur dit gereeld dat mense agterkom, hulle is nie veel anders nie

En nie net mense wat op die voorgrond is nie, ook mense in jou eie lewe.

Dit gebeur van tyd tot tyd wat jy besef, daar gebeur dit weer, ’n gebrek aan integriteit.

Wat is integriteit?

Wanneer jou optrede en jou geloof / waardes ooreenkom.

Ek kan bv. glo steel is verkeerd maar as die omstandighede in MY oë anders is, is dit nie steel nie, dit is iets wat my toekom.

Integriteit beteken dat jou lewe geïntegreer is.  M.a.w. daar is nie sekere gedeeltes van jou lewe wat versteek of nie met integriteit geleef word nie.

Reputasie is wat ander mense van jou dink.  Integriteit is wie jy regtig is.

Proverbs 11:3   “The integrity of the upright guides them, but the unfaithful are destroyed by their duplicity.”  NIV

Ek hou van Samuel in die Bybel.  In 1 Sam 12 kom hy aan die einde van sy lewe en hy gaan na die gemeenskap toe en vra hulle:  ‘Het ek ’n lewe van integriteit geleef?’

‘As enigiemand iets teen my het, moet hulle dit inbring en dan sal ek dit regmaak.’

En die gemeenskap het geantwoord:  ‘Nee, jy het altyd die regte ding gedoen, jy is ’n persoon van integriteit, Samuel.’

Dit is ook my begeerte om as ’n leier voor julle te staan na baie jare en te sê:

‘Was ek ’n persoon van integriteit?’  Dalk het jy nie van my simpel grappe gehou nie, dalk het jy nie van my styl gehou nie maar sal jy kan sê, ek het integriteit?

 

Kom ons kyk vir ’n paar oomblikke na integriteit in die Bybel.  As daar ’n paar verse in die Bybel is wat integriteit kan vasvat is dit Dawid in Ps. 15.

Onthou hy was nie perfek nie, hy het selfs ’n man na sy dood gelei toe hy verlief op sy vrou geraak het maar kyk na…

Ps. 15:1     “Here, wie mag dit waag om in u teenwoordigheid te kom? Wie mag woon op u heilige berg?”

M.a.w. wie is dit werd om met God gemeenskap te hê?

Die Here antwoord in vers 2 basies deur te sê, ’n persoon met integriteit.

Ps. 15:2-5 “Hy wat onberispelik lewe en doen wat reg is, met ‘n opregte hart die waarheid praat; wat nie sy medemens belaster, hom benadeel, of van hom kwaadpraat nie; wat dié wat aanhou sondig, verfoei, húlle eer wat die Here dien, en beloftes gestand doen selfs tot sy nadeel; wat nie geld op rente uitleen nie, en nie omkoopgeld teen onskuldiges aanvaar nie. ‘n Mens wat so optree, sal vir altyd stewig staan.”  NLV

 

Voordele van Integriteit:

•   Jy kan naby aan God leef

Dawid het gesê: “Wie mag dit waag om in u teenwoordigheid te kom?”

En die Here antwoord:  “Hy wat integriteit het.”

Dieselfde geld vir jou kinders.  As hulle sê, ek sal volgens die waardes leef wat jy vir my as ouer geleer het, sal daar ’n intimiteit wees wat nie daar is wanneer hulle basies sê, ek sal doen wat ek wil doen nie.

As hulle by jou reëls hou, dan is daar intimiteit.

As hulle nie wil nie, is die nabyheid nie daar nie.

 

•   Jy het ’n ingebore ‘Rigtingwyser

Die Heilige Gees werk in mense se lewens wat Hom daar toelaat.

Indien jy God se stem aanhoudend stilmaak in jou lewe dan raak jou gewete stomp en pla dit jou naderhand nie meer wat jy doen nie.  Dan leef jy met jou eie reëls.

’n Skerp gewete is soos in ingebore rigtingwyser in jou lewe wat grys areas duidelik maak.

 

•   Jy het konstante vrede in jou hart

Dit is iets wat ek dink geen waarde kan hê nie.  Om jou kop op die kussing te sit en nie ’n nag se bekommernis te hê dat iemand dalk sal uitvind nie.

Baie mense se lewensenergie gaan daarin om dinge van ander af weg te hou.

Dit is ’n lewe wat gemors word.

Vrede en rustigheid in jou hart is meer werd as daardie groot skip wat jy glo gaan inkom.

Ek het nog nooit gehoor van mense wat wakker lê saans en hoop niemand vind uit dat hulle die regte ding gedoen het nie.

 

•   Jy kan vertroue, respek, eer en invloed verdien.

As jy kinders met goeie waardes wil hê, wees ’n ouer met integriteit.

As jy ’n goeie leier wil wees, wees iemand wat leef volgens sy / haar waardes.

Wanneer jy integriteit het, sal mense jou volg, hulle sal jou advies soek, hulle sal jou eer.

Dit is ’n groot uitdaging natuurlik.

Want net soos ons verlede week gesien het met dislojaliteit, is dit verskriklik maklik om dit in ander raak te sien, maar so moeilik om in die spieël raak te sien.

 

Wat is die teenoorgestelde van integriteit?

Mense sê dit heel dikwels van Christene.  Hulle is ’n regte klomp ‘skynheiliges’.

Die Griekse woord wat met ‘hypocrite’ vertaal word beteken letterlik:  Akteur.

Onthou julle nog die Griekse drama.  Dit is waar die maskers vandaan kom.

Dieselfde persoon kon verskillende rolle speel, net deur die masker wat hy voor sy gesig hou te verander elke keer.

Die masker is nie wie die persoon werklik is nie, dit is wie hulle voorgee om te wees.

 

Voor ons nou weer begin dink dit is ander mense, dit is ons almal.

Hoeveel keer het jy al in jou lewe ’n rol aangeneem dat jy iets is wat jy nie is nie.

Dit is so algemeen in die lewe vandag dat meeste mense eintlik ’n rol het wat hulle leef.

Toe ons tweede seun gebore is, besluit Vanessa en die Gynie dat die beste datum vir die keisersnee 1 April is.  En ek is soos, is julle ernstig, die kind gaan ’n April fool wees.

Ek begin toe al voorbeelde sien hoe JP in die skool geterg gaan word omdat hy op 1 Apr. verjaar.  Hoe hulle vir hom ’n geskenk gee en dan is daar niks in nie ens.

Wel, ek besluit toe, maar ek kan mos dit verander.

Toe ek hom gaan registreer by Binnelandse sake, vat ek sy kliniek kaart wat hulle gebruik en verander die 1 op die kaart na ’n mooi 2 toe.

Ek gee dit in en so paar dae later kontak iemand my en sê die kaart lyk nie so lekker nie, ek moet asb. ’n brief van die kraamsaal af bring om te wys op watter dag hy gebore is.

En net daar, word ek ‘redhanded’ gevang.  Leuenaar, uitgevang, Braam het nie integriteit nie.

 

Ons almal het op een of ander stadium ’n gebrek aan integriteit.

Dit is dikwels moeilik om dit raak te sien indien niemand dit vir jou uitlig nie.

Ek is mos basies eerlik, ek sal nie steel nie, maar ek sal my kind se kliniek kaart verander.

As jy na Jesus se optrede kyk dan sal jy sien dat Hy veel harder was met skynheiliges as wat Hy was met prostitute of mense met sogenaamde groot sondes.

Matt. 23:25-26, 28       “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel blinkskoon, maar aan die binnekant is julle vuil van grypsug en selfsug. Blinde Fariseër, was die beker eers aan die binnekant, en die buitekant sal vanself skoon word. So lyk julle ook van buite vir die mense baie vroom, maar van binne is julle vol skynheiligheid en minagting van die wet.”  NLV

 

Julle speel soos akteurs, julle het nie integriteit nie, sê Jesus.

Julle gee voor dat julle godsdienstig is, maar julle harte is eintlik vuil.

Maak eers julle harte binne skoon en die uiterlike sal ook skoon word.

Integriteit begin nie aan die buitekant nie, dit begin binne-in jou hart.

Wees rein van binne.  Julle het maskers aan, julle gee voor wat julle nie is nie.

Kom ons wees eerlik, dit is so maklik om dit te doen.  Om ’n masker op te sit.

En voor te gee dat alles okay is maar die binnekant van die beker is vuil voor God.

Ek wil jou ’n vraag vra maar voordat ek dit vra wil ek jou opregte eerlike antwoord vra:

Wat is jou integriteit werd?

Nie net ’n ‘ja’ dit is baie werd nie.  Nee, wat sê jou optrede, is jou integriteit werd?

Kom ek gee ’n voorbeeld:  Kom ons sê jy vertel ’n leuen op jou CV en jy kry ’n werk.

Dan is jou integriteit werd wat ook al daardie werk jou betaal.

Jy vat jou integriteit en sê ek is bereid om dit op te gee vir die voordeel wat ek gaan kry as hulle dit nooit uitvind nie.

So, daardie voordeel wat jy gaan kry, hoeveel is dit vir jou werd?

Dalk is dit veel minder werd, dalk net daardie ‘reem’ papier wat jy huis toe vat vir jou persoonlike gebruik.  Dalk net ’n paar fotostate wat jy maak sonder toestemming.

Dalk ‘overcharge’ jy daardie kliënt net so bietjie want jy weet hulle kan dit bekostig.

Dit is wat jou integriteit werd is.

Dalk vertel jy ’n storie maar jy oordryf net so klein bietjie om dit meer interessant te maak of om mense te beïndruk met jou storie.

Wat is ’n paar verdraaide feite tussen vriende?  Dit maak mos nie saak nie.

Dalk is dit daardie eksamen waarvoor jy bang is, dat jy gaan nie deurkom nie, ek jy soek ’n manier om net seker te maak jy gaan deur kom.

Wat is jou integriteit werd?

 

Daar is iemand in die O.T. wat versoek was om sy integriteit op te gee.  Die duiwel kom na God toe en sê dat God se kinders net Hom dien omdat Hy goed vir hulle is.

God sê dit dat dit nie so is nie en om te bewys dat Hy reg is, sê God vir die Satan hy kan maar Job probeer.  Job verloor feitlik alles wat hy het insluitend sy vrou, kinders en sy gesondheid.  Almal (vrou, vriende) beskuldig hom van goed wat hy nie gedoen het nie.

Hulle sê hy moet God maar eerder vervloek, want watter God dien hy wat sulke goed aan hom doen?  Dan kom Job en hy antwoord hulle:

Job 27:5-6          “There is no way I’ll ever agree to your accusations. I’ll not deny my integrity even if it costs me my life.  I’m holding fast to my integrity and not loosening my grip-and, believe me, I’ll never regret it.”  Message

Job, wat is jou integriteit werd?  Meer as my lewe self.

Dit breek my hart elke keer wanneer ek hoor van ’n persoon wat in almal se oë ’n lewe van integriteit geleef het en ’n dag van realiteit breek aan en mense vind uit hy / sy het ’n leuen geleef.  Dit breek my hart want ek weet dit breek God se hart elke keer wat ek ook iets doen of sê wat nie in integriteit is nie.  Die kere wat ek ’n akteur is.

Matt. 5:37  “Sorg dat julle ja altyd ja bly en julle nee altyd nee. Enigiets meer as dit is uit die bose.”  NLV

Integriteit is wanneer jou hart, woorde en optrede volgens God se Woord is.

 

Ek wil jou vandag vra om nie verder jou masker te dra nie.

Om nie verder voor te gee dat jy alles so onder beheer het nie.

Om vir ’n oomblik die naakte waarheid van jou eie lewe in die oë te staar en God vir hulp te vra.

Om vir ‘n oomblik voor God te staan soos jy is, naak en ontbloot en Hom te vra om hierdie leuen of geneigdheid om sonder integriteit te leef, te vat.

Dit is tyd dat jy pa staan vir jou foute.  God wil jou vergewe, Hy wil jou gesond maak.

Maar Hy kan dit nie doen solank dit nog in die donker is nie.

Hy wil Sy Gees in jou stuur om jou van binne af ’n nuwe mens te maak.

Hy wil jou omvou met Sy liefde maar Hy wil jou ook vandag ’n kans gee om in die lig te kom en dit te bely.

 

Hoe nader jy aan Hom kom, hoe meer sal Hy sy lig in jou hart skyn en hoe meer sal areas van donker in jou lewe vir jou sigbaar word.

Vandag moet jy nie hier uitstap en voel, ek is ’n verloorder, ek is skuldig nie.

Nee, jy moet hier uitstap en sê, ek gaan ’n area van my lewe in lyn met God se wil bring.

Daar is een plek in my lewe wat die Here vir my nou wys en dit gaan ek vandag met Sy genade oorwin.  En as ek sukkel, gaan ek hulp kry.

GEBED

Here, vandag bely ons ons sonde, dat ons nie by U standaard hou nie.

Ons vra dat U ons sal vergewe.  U genade is groter as wat ons kan besef.

Maak ons skoon met U kosbare bloed.  Vergeef ons skynheiligheid.

Ek bid vir die krag van die Heilige Gees om in ons lewens te werk, want sonder U kan ons dit nie maak nie.

Bookmark the permalink.

Comments are closed.