Beter… wat maak jou gelukkig?

[powerpress]

Ons is in die nuwe jaar besig met ’n reeks getiteld: BETER.  Want ek glo dat ons almal in ons lewe iets het wat ons graag beter wil hê en waarin ons wil groei.

Die subtitel is:  Normaal is die vyand van BETER.  Want almal doen normaal, maar normaal verander nie enigiemand nie.

Normaal gee jou nie beter verhoudings nie, normaal gee jou nie beter gesondheid nie, normaal gee jou nie beter emosies nie.

Wat ons deur die reeks gesê het, is dat indien ons soos Jesus lewe dan sou ons verander en groei in hierdie areas van ons lewe, want Jesus was nooit normaal nie.

En wat ons gesê het is dat ons as volgers van Jesus is, dat ons SOOS HY moet lewe.

As jy al besluit het om Jesus te volg met jou lewe dan is jy veronderstel om te lewe soos Jesus gelewe het.

Indien jy nog nie daardie besluit geneem het nie en jy nog dinge uitkyk dan sal jy steeds beginsels sien wat jou kan help in jou lewe.

 

Ons wil soos Jesus lewe, ons wil vergewe soos Hy vergewe het, ons wil gee soos Jesus gegee het, ons wil omgee soos Hy omgegee het.

Maar hier is waar ek vandag die draai wil maak – en ek hoop dat jy dit sal hoor en reageer.

Jesus het jou nie net gevra om SOOS HY te lewe nie.

Jesus het nie net gesê dat ons soos Hy moet lewe en Sy voorbeeld moet volg nie.

Wat Jesus van ons vra is iets veel groter as dit – dit is veel moeiliker en dalk affronteer dit jou.

Dit is wat Hy gesê het:  Ek wil hê julle moet VIR MY lewe.

Daar is ’n verskil tussen SOOS HY lewe en VIR HOM lewe.

En daar is ’n groot verskil – as iemand vir jou sê ek wil graag hê jy moet iets doen soos ek dit doen, dan sal dit een ding wees.  Maar as iemand vir jou sê, ek wil hê jy moet jou hele lewe vat, jou drome, jou toekoms, die familie wat jy het, die besigheid wat jy bou…

Ek wil hê jy moet jouself uit die middel daarvan haal en jou ideale daarmee opgee en Ek wil hê jy moet dit doen, VIR MY.

 

Wie sal so iets van jou vra?  En as ons eerlik is, is dit dalk so bietjie verwaand.

Die waarheid is dat dit baie ontstellend is.

Vir Iemand om te sê dat jy jou hele lewe rondom Hom moet laat draai.

Vergeet daarvan om vir jou kinders te lewe. Vergeet daarvan om vir jou eie drome te lewe.

Ek wil hê jy moet VIR MY lewe.

Ek wil hê jou hele lewe moet draai om ’n middelpunt wat EK moet wees.

Luk. 14:26 “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe.”  AFR83

Wie praat so?  Wie sê sulke goed?

Jesus het vir meeste mense vandag gewoon, normaal begin word.

Hy is die storieboek liewe Jesus wat omgaan en vir almal lief is en gee wat hulle graag wil hê.

Mense dink dat Jesus vervelig en veilig was…  Hy was alles behalwe veilig – hy was radikaal en revolusionêr gewees.

Wie sê so iets?  En dit is presies hoekom mense op hierdie stadium gesê het, ek het van jou wonderwerke gehou Jesus, ek het van jou boodskappe gehou MAAR DIT.  Ek is uit.

Dit is TÉ EKSTREEM.  Jesus was nie veilig nie.  Hy kom vir die belangrikste dinge in jou lewe.

Hier is hoekom Hy dit van ons vra – dit is wat Hy weet van jou en my…

Jy leef alreeds VIR iets.

 

Elkeen van ons leef vir iets – jy mag miskien nie so daaraan gedink het nie.

Maar jy leef vir iets op hierdie stadium.  Hoe weet jy wat dit is?

Dit is wat die geluk in jou lewe bepaal.

Wat jy nodig het om jou gelukkig te maak, is waarvoor jy lewe.

Wat ek doen om myself gelukkig te maak, is waarvoor jy lewe.

 

Vir baie van ons is dit jou gesin, jou eggenoot, jou werk, jou sport.

Vir sommige van ons sal ons sê, ek sal nooit heeltemal gelukkig wees totdat ek in ’n intieme verhouding met iemand lewe nie.

Wat Jesus sou sê is, DIT is waarvoor jy lewe.  Jy lewe vir daardie verhouding.

Die middelpunt van jou lewe draai rondom dit wat jy glo jou gelukkig sal maak.

Ek dink dit is Thomas Merton wat jare gelewe gesê het, REPENTANCE is changing the direction in which you seek your happiness.

Elkeen van ons het ’n denkbeeldige lyn in die grond getrek en gesê, as ek aan die ander kant daarvan is, dan sal ek gelukkig wees.  Dan sal dinge vir my sinvol wees, dan sal ek voel daar is ’n doel in hierdie lewe.

Vir party is dit om suksesvol te wees en te bewys dat ons dit kan doen.  Of om dalk net te bewys dat ek NIE SOOS my pa is nie.

En ons lewe ons hele lewe om net iets te bewys vir onsself of dalk vir iemand.

Almal het daardie lyn getrek, dit is waarvoor ek lewe.

En hier kom die onveilige Jesus en sê:

Waarvoor jy nou lewe, is nie die moeite werd om voor te lewe nie.

Hier is die hartseer ding wat Jesus sê, as daar enigiets anders as EK aan die ander kant van daardie lyn is – sal dit jou in die steek laat.

Jou verwagting daarvan gaan teleurgestel word.  Dit gaan een of ander tyd nie vir jou gee wat jy regtig hoop dit sal vir jou gee nie.

Dit is hoekom ons dikwels dieselfde patrone in ons lewe herhaal oor en oor.

Ons bly geluk soek op plekke wat dit nie vir ons oor die langtermyn kan gee nie.

 

WIE of WAT jou gelukkig maak, kan jou nie permanent tevrede stel nie.  Ons voel voortdurend teleurgesteld en in die steek gelaat.

So Jesus wil nie net hê jy moet soos Hy lewe nie, Hy wil hê jy moet VIR HOM lewe.

 

Ek gaan dat Jesus se eie woorde tot ons spreek vanoggend.  Om soos Jesus te lewe maak ons lewe beter maar wat ons lewe selfs nog beter maak is om VIR Jesus te lewe.

Daar is ’n verhaal wat in Johannes 4 afspeel wat een van ons gunstelinge is.

Hier is so bietjie agtergrond:  Jesus is op pad van Judea af in die suide van Israel en Hy is op pad Noorde toe maar Hy moet deur ’n streek trek wat Samaria genoem was.

Nou die Samaritane was om dit lig te stel soos honde vir die Jode.  Hulle het mekaar gehaat.

Die Jode het nie eers gedink dat die Samaritane ten volle mens was nie.  Die rede was dat die Jode wat agtergebly het in Jerusalem nadat die Babiloniërs hulle ontvoer het met die Grieke en ander nasies begin trou het en so vermengde godsdiens en kultuur gehad.

’n Goeie Jood sou nie deur Samaria gereis het om uit te kom waar hy wou uitkom nie.

Maar Jesus was nie normaal nie, Hy gaan deur Samaria.  En Hy kom by ’n put uit in die middel van die dag.  En hierdie vrou kom na die put toe wat ’n vreemde tyd van die dag was vir ’n vrou om na die put toe te gaan.  Die vroue het gewoonlik vroegoggend of laatmiddag put toe gegaan, so sy wou die ander vroue waarskynlik vermy, uit skaamte.

En hier is wat veronderstel is om te gebeur:  Jesus sit by die put en toe sy daar aankom moes Jesus weg beweeg het omdat ’n man in daardie kultuur nie met ’n vrou gepraat het nie en nog erger as die ’n Joodse man en ’n Samaritaanse vrou was.

So wat Jesus moes doen was om op te staan en weg te stap tot hierdie vrou klaar was met haar water wat sy kom haal het.  Daar moes nie eers oogkontak gewees het nie.

Joh. 4:7-9 “’n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep. Jesus vra haar: “Gee vir My asseblief water om te drink.” Sy dissipels was toe nog in die dorp om kos te gaan koop.  Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe op aarde vra jy wat ’n Jood is, van my wat ’n Samaritaanse vrou is, water om te drink?”

 

Hoekom praat jy met my, sê die Samaritaanse vrou?  Ek wonder wat het deur haar gedagtes gegaan het?  Hoekom praat die man met haar?

Jesus se reaksie het Hy seker met so klein glimlag op sy gesig gesê:

Joh. 4:10  “As jy maar net hierdie gawe van God vir jou geken het, en geweet het wie dit is wat vir jou vra: ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hóm gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”  NLV

Jesus het ’n ander gesprek met haar as wat sy met Hom het.  Dit is iets wat ’n mens opmerk van Jesus  – hy het dikwels ’n ander gesprek met mense gehad as wat hulle na Hom toe gekom het om te hê.

Hier is hoekom dit so radikaal is – hierdie vrou soos elkeen van ons, het probeer om haar geluk te vind, probeer om haar betekenis te vind in verhoudings.

Hier is wat ons almal doen – ons wil betekenis hê, ons wil weet dat ons lewe saak maak.  Dat ons lewe sin het.  Ons wat ons doen, is om ons hele lewe te probeer bewys vir onsself en vir ander dat ons werklik gelukkig is en betekenis het.

 

En wat Jesus vir haar sê is, wat jy soek – daardie gevoel van geluk, tevredenheid, betekenis, wat jy nastrewe; as jy maar net weet, dit is ’n geskenk.

Jy kan niks doen om dit te verdien nie.  En Ek kan dit vir jou gee.  Dit is gawe.

Joh. 4:11-12      “Die vrou sê vir Jesus: “Meneer, jy het nie eers ’n skepding nie, en die put is diép. Van waar kry jy dié lewende water? Jy is beslis nie belangriker as ons vader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie.”  NLV

Weereens sien mens sy het heeltemal ’n ander gesprek was wat Jesus het.  En sy het vrae, dinge wat sy nie verstaan nie.

Sy het dalk gevoel, as ek na jou kyk, dan kan ek nie sien hoe jy kan gee wat jy hier van praat nie.

Joh. 4:13            “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word.”

Hier is die hartseer van meeste mense – hulle gaan oor en oor na die verkeerde put toe om te drink van die water wat hulle nooit gelukkig sal maak ten volle nie.

En daar is verskeie soorte putte.  Dit wat jy glo jou gelukkig en vervuld sal maak.

En oor en oor gaan drink ons van die water van sukses en van die water van genot en van die water van verhoudings buite Hom en van die water van finansiële voorspoed.

Dit is wat Jesus weet, want sy Pa het my en jou gemaak – elkeen van ons het ’n diep siele dors.  Daar is ’n dors aan jou binnekant wat so droog is, soos jou liggaam water nodig het.

Joh. 4:13-14      “Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ’n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel.”  NLV

Hier is wat Jesus sê, die geluk waarna jy soek gaan van binne afkom, nie van buite af nie.

Hoeveel van jou geluk word bepaal deur dinge wat van buite af kom?  Wanneer hulle my uiteindelik raaksien.  Wanneer ek uiteindelik my prestasie om bo uit te kom bereik.

Wat as jy van binne af buitetoe kon lewe?  I.p.v. buite af binne toe?

Hoeveel vrede sal jy nie hê nie?

Joh. 4:15-26      “Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, gee my van hierdie water sodat ek nie weer dors word en hierheen hoef te kom om water te skep nie.”

Dan vra Jesus haar om haar man te gaan haal en sy sê toe dat sy nie ’n man het nie.  Jesus verstom haar toe Hy vir haar sê, ja ek weet, want jy het al 5 gehad en die een wat jy nou het is ook nie jou man nie.

Weet jy hoekom sy in die middel van die dag gekom het?  Want sy wou almal vermy, sy was moeg om geoordeel te word.

En vir baie van ons is dit waar – ons hoor hierdie uitnodiging van Jesus en ons voel veroordeel, ons dink aan ons verlede, die dom dinge wat ons al aangevang het.

Ek is nie ’n insider nie.  En Jesus sê, Ek was nie normaal nie.  Ek het nie ingepas nie.

Al wat jy moet doen, is – sit jou vertroue IN MY.

Dan is die vraag wat enige praktiese persoon sal vra:  Hoe weet ek dit sal werk?

Want wat Jesus vra is groot, dit is alles.  Hoe gaan ek weet dat ek nie gaan uit mis op die lewe en dinge wat die lewe lekker en interessant maak nie?

Want om buite beheer te wees van jou eie lewe en Iemand anders in beheer van jou lewe te plaas is nie iets wat maklik is nie.

Hoe kan ek weet dat wat Jesus my offer is beter as wat ek self nastrewe en na soek?

Gaan so bietjie vêrder in Joh. waar Jesus aan die kruis hang.  Hy is op sy laaste.

Joh. 19:28 “Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”  NLV

Hy het dors geword, sodat jy nooit dors hoef te kry nie.  Sodat jy vervuld kan wees.

Dit is hoe jy weet.

Hy het nie net vir jou gevra om jou alles vir Hom te gee nie, Hy het alles vir jou gegee, nog voor jy dit kon doen.

Hy het gesê, Ek sal my lewe vir jou aflê om jou te wys hoe committed ek aan jou is.

Dit wat Hy vir jou vra, is iets wat Hy reeds in soveel meer en groter maniere vir jou gedoen het.

Jy sien, dit gaan nie om soos Hy te wees nie.  Dit is wat goeie mense doen.

Vir baie mense is dit waaroor hulle geloof gaan, om meer geduldiger, liefdevol, eerlik, ens. soos Jesus te raak.

Maar Jesus vra meer as dit – Hy wil die senter van jou lewe hê, dit wat jou gelukkig maak.

Dit moet Hy wees.  Om in elke besluit te vra, Here wat wil U nou vir my hê?

Dit is nie ’n eenmalige besluit nie, dit is ’n daaglikse oefening.  Uur vir uur, soms minuut vir minuut.  ’n Gebed wat jy oor en oor bid.  Nie my wil nie, maar U wil.

Hier is die wonderlike ding – wanneer jy vir Hom begin lewe, hoe makliker en meer vanself gebeur dit dat jy soos Jesus lewe.

Beter… verhoudings

[powerpress]

Almal wil ’n beter lewe hê.  Daar is gedeeltes van ons lewe wat ons graag beter wil hê.

Veral hierdie tyd van die jaar dink baie van ons aan nuwe doelwitte, nuwe dinge wat ons wil aanpak, nuwe uitdagings wat ons wil aanvaar om ons lewe meer interessant te maak en ook om onsself te verbeter.

As ek net aan ons derde kwartaal reeks weer kan dink was daar 6 areas van ons lewe waarna ons gekyk het:

Geestelike doelwitte; Fisiese; gedagtes of denke; emosies en gevoelens; verhoudings; finansies.

Ek is seker dat ons almal in een of meer van daardie areas van ons lewe doelwitte het of graag wil verbeter.

Die uitdaging met beter is waaroor ons verlede week ook oor gesels het.

Normaal is die vyand van Beter.

Die manier hoe ons normaalweg dinge doen hou ons weg.

Wat normaal so moeilik maak is dat dit so onsigbaar is.

Hier is die moeilike deel – jy kan nie ’n beter lewe leef soos wat Jesus vir jou beplan het indien jy net aangaan soos normaal nie.

Normaal is maklik.  Jy hoef nie veel moeite te doen om ongesond of ongesond in areas van jou lewe te raak nie – dit gebeur vanself.

Die normale goed soos skuld, ongesond leef, verhoudings wat nie uitwerk nie gebeur so maklik – dit maak dit so maklik.

Normaal werk nie.  Nie tensy jy desperaat word om iets te doen om te breek met normaal nie – gaan jy dieselfde foute of patrone oor en oor herhaal.

Jy kan nie ’n probleem aanspreek wat jy nie bereid is om te erken nie.

Jesus is nie normaal nie, Hy is BETER.

Sy hantering van Geestelike, sy geld, sy denke, sy verhoudings was nie normaal nie.

So, as jy net wil inblend met die massa, dan gaan Jesus nie vir jou werk nie.

Hy wou nie gewild wees nie, Hy wou nie ander probeer beïndruk nie.

Sy missie was ons die wil van Sy Vader te doen.  Punt.

As jy ’n volger van Jesus is – dan gaan jy ook nie normaal lewe nie maar dit gaan vir jou ook beter wees.  Luk. 6

Lukas was ’n mediese dokter – hy het mense se stories nagevors.

Hy het baie presies Jesus se woorde ook neergeskryf.  En vandag gaan ons kyk na wat Jesus gesê het oor gemeenskap met ander gelowiges.

Baie van ons het een of ander vorm van kerk agtergrond.  Vir baie is dit ook die grootste rede hoekom hulle nie meer vandag kerk toe gaan nie.

Hulle verwysingsraamwerk is sleg wanneer dit by kerk en kerkleiers en kerkmense kom.

Wat ons baie ervaar as gemeenskap van gelowiges en wat Jesus hier in Lukas 6 beskryf is nie dieselfde ding nie.

Jesus praat oor hoe ware volgers van Hom moet optree en hoe gelowiges lyk – dan sê Hy dinge wat baie abnormaal is, bv. wees lief vir jou vyande.  Seën hulle wat jou vloek.

Vandag net 2 verse oor verhoudings, maar as ons die 2 verse kan leef sal dit ons verhoudings transformeer.  Nie dit weet nie, maar dit begin leef.

Luk. 6:37  “Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie.  Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie.”  NLV

Oordeel – Grieks: krino.  Die woorde Kritiek, kritici, kom van die woord af.

Ons leef in ’n kultuur van kritiek.  As jy net die media die afgelope 2 weke dopgehou het, sal jy besef hoe krities ons is en hoe ons ander oordeel.

Ons kritiseer konstant ander – 99% nie voor hulle nie maar agter hulle rug.

Ek sal nooit so optree nie.  Ek sal nie my kinders dit laat doen nie.  Hoe kan sy so wees.

Ons kritiseer mense wat ons ken en mense wat ons nie eers ken nie.

Ons gee kommentaar oor veral mense wat in die oog is en hoe hulle dinge doen en meeste van die tyd ken ons hulle nie eers nie.

Kritiek werk gewoonlik in absolutes en veralgemenings.  “Ek sal nooit dit doen nie.”  “Ek sal nooit so onsensitief wees nie.”

Ek vang myself gereeld dit doen.  Hoe ek ander oordeel.  Hoe hulle bestuur, hoe hulle dinge doen.

So paar weke gelede hardloop ek een oggend en die wind waai nogal sterk.  Terwyl ek hardloop kom ’n ou oom en tannie met ‘n kar en stop teen ’n redelik skuins driveway.  Hulle het seker iemand gaan oplaai.  In die wind kom toe nog van vooraf.  En ek sien die oom klim uit die kar uit en die tannie probeer ook by die kar uitklim maar die kar staan so skuins en die winddruk die deur ook nog toe van vooraf.  En my eerste gedagte is – jou idioot, dink bietjie aan jou vrou, sy sukkel haar as af.  En net daar praat die HG met my en sê vir my… nou hoeveel keer dink jy het jy nie dalk iets soortgelyks met jou vrou gedoen nie?

En wat onderliggend lê aan kritiek en oordeel is – ek is beter as hulle.  Ek sal nie doen wat jy doen nie.  Ek sal nie optree soos hierdie ou oom met sy vrou maak nie.

Maar dit is presies wat ons doen – Ons posisioneer onsself net so bietjie bo die persoon wat ons kritiseer.

Ek weet nie of jy al in ’n hof was nie maar die regter of landdros se regbank is hoër as die res van die hof vertrek.  Hoekom?  Want die regter se woorde of opinie tel in ’n hof meer as joune.

As die regter sê ek gee vir jou ’n boete van R10,000 en jy sê, wel… dit is net jou opinie.  Ek gaan dit nie betaal nie.  Nee, jy kan nie dit doen nie, want hy is belangriker as jy in die reg se oë.

Wanneer jy kritiek of oordeel uitspreek – dan plaas jy jouself bo ander mense.

Met vryheid van spraak en sosiale media dink ons vandag dat ons kan sê wat ons wil vir wie ons wil.  Behalwe as jou naam Penny Sparrow is, maar dit is wat ons dink.

Jesus sê, dit is nie hoe jy moet lewe nie.

Ons dra dit saam in ons huwelike en verhoudings ook.  En weer werk ons in absolutes en veralgemenings.  “Jy is altyd in ’n slegte bui.”  “Jy wil nooit na my luister nie.”

As jy in 2016 verbeterings in jou verhoudings wil sien, hou op om te veralgemeen.

Nie totdat jy in iemand ander se skoene geloop het nie, sal jy nie weet wat daardie persoon ervaar, dink of doen nie.

Dit is nie normaal nie – maar dit is BETER.

Luk. 6:37  “Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie.”  AFR83

Wanneer veroordeel jy?  Wanneer jy mense in kategorieë sit of labels te gee of hulle veroordeel op grond van hulle voorkoms.

Jou verhouding met iemand kom tot ’n einde wanneer jy begin veroordeel.  Want as jy iemand ’n label gee of in ’n boksie plaas gaan hulle altyd optree soos jy verwag hulle sal optree maak nie saak wat nie.

Ons sê basies, daar is nie hoop vir jou nie.  Dit is net wie JY IS.

As jy gesonde verhoudings wil hê, moenie veroordeel nie.

Luk. 6:37  “Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.”  AFR83  “As julle ander vergewe, sal julle vergewe word.”  NLV

Vergifnis dink ek kan die beste verduidelik word wanneer jy praat van ’n skuld en skuldenaar verhouding.

Wanneer iemand jou te na kom – dat ontstaan daar ’n skuld of ’n gaping.  Ek het van jou iets verwag – en jy het dit nie gedoen nie.

En hulle skuld ons iets – om te bewys aan ons dat hulle waardig om vergifnis te kry.

Dit is die normale manier van kyk na vergifnis.

In sommige gevalle is die gaping groot en in ander gevalle is die gaping klein.

Jesus se BETER manier is nie jy gaan op een of ander manier moet opmaak nie.

Nee, in die lig van wat God ons al vergewe het, sê Jesus, moet ons t.w.v. onsself, nie die skuldenaar nie, die gaping afskryf soos wat Hy ons al vergewe het.

Ek laat dit gaan.  Dit is soos ’n bedrag wat jy skuld en die brief of epos kom, jy skuld dit nie meer nie.

Onvergifnis is soos ’n klip wat jy begin ronddra saam met jou elke dag en hy word al hoe swaarder en al hoe swaarder, Maar hierdie gaping is so belangrik vir jou dat jy nie daardie klip kan laat gaan nie.  En wanneer jy met ander mense in ’n ander verhouding is dan kom hierdie klip in die pad want jy kan nie iemand omhels, of liefhê of druk met ’n klip in jou hand nie.  En die klippe wat ons ronddra maak ons emosioneel moeg.

Sommige van hierdie vergifnis het ook te doen met onsself en om onsself te vergewe vir die dom dinge wat ons al gesê en aangevang het.

Sonder dat ons vryspreek, kan ons nie God se vergifnis in ons lewe ervaar nie.

Ons het net nie die emosionele kapasiteit om vry te voel as ons aan iets vashou nie.

Maar dit is nie normaal nie.  Normaal is – iemand het my te nagekom, iemand skuld my iets, iemand moet gestraf word.  Dit is net menslike natuur om eers vir jouself uit te kyk.

Luk. 6:38  “As julle gee, sal julle ontvang.”  NLV

Jesus praat nie hier net oor gee van iets vir ander of vir Hom nie.  Hy praat hier oor hoe jy na die lewe kyk.  Is jy ’n GEWER of ’n NEMER?

Wanneer jy in ’n vriendskap of ons as gemeente of by die werk is – dink jy meestal oor hoe JY iets kan kry OF dink jy meestal oor hoe jy iets kan gee en waarde kan toevoeg?

Jesus sê, GEE eerste en dan sal daar vir jou gegee word.  Dit is nie normaal nie.  Dit is nie instinktief nie.  Normaal is – jy gee vir my respek, dan sal ek vir jou respek gee.

 

BETER is, ek gee eerste.

Ek het van ’n prokureur gehoor wat vir sy kliënte gevra het om net een ding te doen wanneer hulle in die hof is.  Hulle moet sit met hulle hande of palms oop.

Want wat hy agtergekom het, is wanneer iemand sit met hande oop is hulle geneig om meer oop te wees, om meer eerlik te wees, om meer kalm te wees.

Dit sê, ek het niks om weg te steek nie, ek is oop.

Weet jy wat normaal is?  Normaal is hande toe.  Gryp vir wat jy kan.  Wys jy sal terugveg sal hulle oor jou loop.  Beskerm jouself.  Verdedig jouself.

En dit is hoe baie mense leef.

Ek sal gee as hulle gee.  Ek sal vriendelik wees as hulle vriendelik is.

Maar Jesus sê, nee, gee jy eers.

Wat as ons begin om hande oop i.p.v. vuiste toe te leef?

 

Hoe belaglik is dit nie?

Ons leef met ’n hierdie wag-en-kyk-houding teenoor mense en teenoor organisasies.

Ek sal – as jy sal.  Ek sal nie – as jy nie sal nie.  Dit is vuiste toe.

Maar Jesus sê, BETER is hande oop.

Ek gaan omgee, selfs as jy nie omgee nie.  Ek gaan gee selfs as jy nie gee nie.

Op Kersdag het ons pakkies met koekies uitgedeel vir almal wat hier was.  En ek het met my kinders die strate ingery die Vrydagmiddag en mense gaan soek daarom voor te gee.

En die blydskap by feitlik almal van hulle – is meer werd as wat daardie koekies gekos het.  En my kinders het iets geleer – dit is beter om te GEE as om te ontvang.

Jesus sê, dit is ’n saak van vertroue.  As jy bereid is om My te vertrou dan sal jy (oop hande) leef.  Wat ek het, het nie van my afgekom in die eerste plek nie.

Wat na my toe kom, kan deur my vloei.  Dit was nie myne om mee te begin nie.

As ek (toe hande) leef is dit ’n selfsugtige lewe, dit is ’n geïsoleerde lewe.

Ek leef in die veronderstelling dat wat ek het, het ek myself bymekaargemaak.

Dit (toe hande) is normaal, dit (oop hande) is BETER.

Luk. 6:38  “Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang.”  NLV

Hy praat hier van hoe jy leef.  Hoe jy dink oor die lewe, oor alles.

Die liefde wat jy ontvang vir ander sal onderhewig wees aan die liefde wat jy gee.

Die talente wat jy bereid is om te gee en ander te dien sal bepaal hoe ander jou ook dien.

Hoe vrygewig wil jy graag wees?

Wat dink jy sal gebeur as jy so (oop hande) lewe?

En nie wag vir ander om eers vir jou te gee nie.

Jou lewe sal meer soos Jesus s’n lyk, dit is verseker.

Want sy hele lewe, tot Sy dood toe was oop hande.