Deur die Kruis… is jou verlede in die verlede

[powerpress]

Vandag gesels ons oor een van die mees relevante aspekte van ons geestelike lewens.

Ons verlede.  Hoe ons verlede ons gevorm het en ook hoe ons verlede ons terughou.

Ons verlede en veral ons kinderjare het ’n geweldige invloed in ons ontwikkeling.

Sonder dat ons dit besef speel ons verlede die hoofrol in ons karaktervorming en ons temperament en persoonlikheidsvorming.

Die rol van ons omgewing, ons ouers, ons vriende is ook baie vormend op ons.

Dit is een ding om te sê dat jy wil leef los van gebeure in jou verlede, positief en negatief, dit is heeltemal iets anders om dit reg te kry.

Dit is so goed jy sê vir ’n wilde leeu hy is van nou af net op ’n vrugte en groete dieet.

In ons onderbewussyn het dinge wat ons ons kinderjare en jong volwasse lewe gebeur het ons die mens gemaak wat ons vandag is.

So, om te sê jy kan jouself daarvan losmaak is feitlik onmoontlik.

 

Fil. 3:13-14   “Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.”  NLV

“Ek maak my los van wat agter is.”

Wat Paulus hier sê is dat sy verlede nie hom terughou van dit wat God vir hom beplan het nie. Hoe vormend dit ook al was, dit kan hom nie definieer en weghou van God af nie.

 

Een van die dinge wat ek mee moes worstel in my lewe was om voor mense op te tree.

Toe ek nog jonk was, het ek in kunswedstryde en kompetisies deelgeneem in klavier.

En ek onthou hoe ek by geleentheid toe ek nie voorbereid genoeg was nie gevra is deur ’n beoordelaar om eerder nie weer aan die kunswedstryd te kom deelneem nie.

Hierdie geleentheid en ’n paar ander het my ’n absolute vrees gegee om voor mense iets te doen.  Die slegte ervarings van die verlede het my gevorm.

 

Toe ek later ’n teologiese student was, was my grootste vrees natuurlik om te preek voor ’n gehoor.  Ek sal die keer toe ek my eerste preek moes doen nooit vergeet nie.

Ek sou veel eerder ’n reis maan toe aanpak, as om voor mense te praat.

Want wat as ek nie goed genoeg voorbereid was nie?  Wat as ek my storie verloor halfpad en ek weet nie wat om te sê nie?

Dan is daar die effek van mense soos hierdie beoordelaar op my wat ons lewens raak op meer maniere as wat ‘n mens besef.

En dit is in verhoudings wat ons die meeste emosionele bagasie bymekaarmaak en dit saam met ons dra die res van ons lewens.  Omstandighede waar ons bagasie optel:

  • Teleurstellings – mense wat ons in die steek gelaat het en nie optree soos ons glo hulle moes nie. Hier dink ek bv. aan ’n goeie vriend wat sy rug op jou draai of iemand van wie jy ‘n sekere optrede verwag het en so opgetree het nie.
  • Ongeregtigheid – dinge wat met ons gebeur het wat onregverdig was. Jy het daardie promosie of prys verdien en iemand anders het dit gekry.  Sonde en ongeregtigheid van ander mense wat ’n effek op jou gehad het.
  • Selfverwyt – jou eie swak keuses en besluite wat op die ou einde baie pyn in hartseer in jou lewe ingebring het.

 

En hier is die hartseer deel daarvan:  ons wil dit gewoonlik nie laat gaan nie.

Maak nie saak of dit ons eie skuld of iemand anders se skuld of niemand se skuld was nie, ons hou aan om onsself te kasty en kruisig met hierdie gevoelens.

Ons hou gereeld ’n emosionele repetisie in ons gedagtes oor hierdie goed.

As dit nie gebeur het nie, dan sou ek ’n ander mense gewees het.  Dan sou dinge anders vir my uitgedraai het.

Maar hoekom laat ons nie hierdie dinge laat gaan nie?

Want ons seer raak ons sekuriteit.  Dit gee jou ten minste iets wat jy ken.

Daardie gebeurtenisse is vormend op ons manier van dink oor onsself, oor ander mense en oor die lewe.

 

En so raak ons self-saboteurs.  Ons raak ons eie grootste vyande.

Ons hou vas aan hierdie goed omdat dit ons identiteit bepaal.

As ek my voorbeeld kan gebruik: Ek is nie goed met publieke optredes nie. Ek is ‘n introvert en sal eerder terug staan. En om die seer te laat gaan, is om jouself te laat gaan.

Wat lê dan aan die ander kant daarvan?

So wat gebeur?  Die ding wat ek die meeste vrees, waarvan ek die meeste probeer wegkom in my lewe gebeur oor en oor met my.

Ek glo bv. dat mense nie van my hou nie en dan tree ek ook so op asof mense nie van my hou nie.  En dit steek ek weg agter ‘n storie van iets.

Dit is soos ’n selfvervullende profesie.  Ek glo bv. dat niemand my sal aanvaar soos ek regtig is nie, maar hierdie onsekerheid projekteer ek op ander mense.

Daarom beland ek gereeld op ’n plek waar mense my verwerp, wat vir my sê, ek is nie goed genoeg nie.

 

Wat meer is, hierdie emosionele bagasie het sy voordele.

Mense wat bv. onregverdig behandel is, het ’n manier om bymekaar uit te kom.

Die stories van onregverdigheid bind hulle aan mekaar maar dit is ’n baie ongesonde verbintenis.  Want die feit dat jy my verstaan en dat ek jou verstaan beteken nie dat ons mekaar gesonde heel mense gaan maak nie.

Die feit dat jy deur jou baas sleg behandel is en dat ek deur my baas sleg behandel is skep gemene grond in ons lewe maar dit maak ons nie los van ons verlede nie.

 

So, hoe deel ek met my verlede?

Baie moeilik, want ons verlede is soos ‘n skaduwee.  Dit is nie ons nie, maar dit is altyd daar.  As jy omkyk is hy daar.

Gal. 6:14   “I have been crucified in relation to the world, set free from the stifling atmosphere of pleasing others and fitting into the little patterns that they dictate.  It is what God is doing, and he is creating something totally new, a free life!”  MSG

Deur die kruis is my verlede in die verlede en mag dit nie ‘n houvas op my toekoms hê nie.  Deur die kruis kan my identiteit deur Christus gevorm word en nie my seerkry in die verlede nie.

 

  1. Laat enige wrokke en hartseer gaan.

Dit is seker een van die moeilikste dinge wat ons kan doen in ons lewe.

Hoe kan ek dit wat met my gebeur het net laat gaan.

Ons voel:  hoe kan ek die oortreder in my lewe net vrylaat?

Maar ons het dit verkeerd, dit is nie die oortreder wat vry moet kom nie, dit is ons.

Wrokke maak van ons gebonde mense.  Ons het iemand anders op die hoek.

Hartseer is iets wat ons terughou want ons kan nie aan beweeg nie.

Hier is die ding van die verlede.  Dit is staties.  Dit staan stil.  Dit beweeg nie.

En die toekoms is iets wat die hele tyd aanhou beweeg.

So dit is soos iemand wat met een voet stil staan en die ander voet hou aan beweeg.  Kort voor lank gaan dit te ongemaklik raak en nie een van ons is ballerina’s wat kan split nie.

 

Nou, dit is maklik vir my om dit hier te sê maar in realiteit is dit geweldig moeilik.

En dit is nie ‘n eenmalige geleentheid nie.  Ons vergewe, en treur, ons rou oor en oor totdat ons genesing ontvang.  Die oomblik wat die insident, die persoon weer in ons gedagtes kom, dan stry ek nie daarteen nie.  Ek sê ook nie, ek het al daarmee gedeel nie.  Nee, ek doen dit weer.  ‘I embrace the emotion and let it go again.’

 

Ephesians 4:31 “Get rid of all bitterness, rage and anger, brawling and slander, along with every form of malice.  Be kind and compassionate toward one another, forgiving each other, just as in Christ, God forgave you.”  NLT

Hoe begin hierdie vers?  Git rid, raak ontslae.  Gooi dit weg.  Elimineer dit.

Daar is min dinge is die lewe wat meer skade aan al jou verhoudings kan doen as bitterheid

Om iets teen iemand anders te hou maak nie hulle seer nie, dit maak jou seer.

Maar meer as dit:  dit is waardeloos.  Dit bereik niks.

Sal enigiets wat ek teen jou hou die verlede kan verander?  Nee.

Dit is ook om die beheer van jou lewe oor te gee aan iemand anders. Sommige van ons laat nog steeds toe dat mense uit ons verlede ons beheer.  Raak ontslae daarvan, laat dit gaan.  Die verlede is die verlede.

Ons sê nie vergeet daarvan en ly aan geheueverlies nie.  Ons sê moenie langer dat dit jou beheer nie.

 

Job 18:4       “You are only hurting yourself with your anger.”

Jy sien hier is die probleem, die gevoel bly by jou.  Daardie persoon kan al dood wees en dan is die gevoel nog steeds joune.

So wie is gebind?  Die ander persoon of jy?

 

In 2 Sam. 12 is daar ’n verhaal van Dawid wat geworstel het met hartseer.

Hy het ’n buite-egtelike kind by Batseba gehad nadat hy haar man laat vermoor het.

Nadat hierdie kind gebore was, het hy baie siek geword en Dawid het die Here gesmeek om die kind te spaar.

2 Sam. 12:16&18                 “Dawid het tot God gebid vir die kind. Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê. Op die sewende dag het die kind gesterwe, en Dawid se amptenare was bang om hom te vertel dat die kind dood is.”  ANV

 

Maar ek sien iets in Dawid se lewe wat vir ons ‘n voorbeeld kan wees.

2 Sam. 12:23     “Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.”  ANV

 

  1. Aanvaar wat nie verander kan word nie.

Dawid sê daar was ’n tyd wat ek kon huil en God gesmeek het, maar dit is verby.

Nou moet ek aangaan met my lewe.  Hy’t aanvaar wat hy nie kon verander nie.

Die sleutel tot oorwinning en vrede is een woord:  aanvaarding.

Aanvaarding van God se wil in jou lewe.  God is nog steeds op die troon en Hy is steeds in beheer en ek moet aanvaar wat nie verander kan word nie.

Onthou die voorbeeld van die persoon wat ‘split’.  Hoe langer dit neem, hoe meer sal dit ons toekoms beïnvloed.

En daarmee sê ek glad nie dat ons moet vergeet nie.  Die Here het vir ons te wonderlike breine gegee om te vergeet.  Nee, dit is aanvaar wat nie kan verander nie.

 

2 Sam. 12:20     “Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid.”

  1. Moenie oordryf of vergroot nie

Ons is geneig om ons huidige realiteit as die grootste en enigste in die heelal te maak.

Alles is nie verlore nie.  Die wêreld het nie tot ’n einde gekom nie.

Neem dit eerder in gebed na die Here toe en praat met Hom daaroor.

Wat het Dawid met sy hartseer gedoen?  Hy het kerk toe gegaan en God aanbid.

Kort daarna het die Here weer vir Dawid voorsien.  Hy het weer ‘n seun by haar gehad.

Maar hy moes aanvaar dat sy eerste seun by Batseba nooit weer terug sal kom nie.

 

  1. Fokus op wat jy het en nie op wat verlore is nie.

2 Sam. 12:24     “Daarna het Dawid sy vrou Batseba getroos. Hy het by haar slaapkamer ingegaan en by haar geslaap. Sy het ’n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad…”

Hy het nog vriende gehad, familie, geliefdes.  Moenie fokus op wat jy verloor het nie.

Moenie fokus op die persoon wat jou gewond het nie.

Dit is om die mag van jou lewe in hulle hande oor te gee.

Selfbejammering is baie sleg vir ons omdat dit dinge glad nie in perspektief sien nie en die pyn veel langer maak as wat dit moet wees.  Fokus op die Here, praat met Hom.

 

Dalk voel jy – God het ’n A-plan vir my lewe gehad en ek het dit opgemors en nou moet ek maar met die B-plan leef.  Ek kan nie langer God se beste vir my lewe hê nie, want ek het dom foute gemaak.  As dit is hoe jy voel, dan is jy verkeerd!

Daar was ‘n kruis – Jesus het goeie nuus kom bring nie net vir die wat al hulle eendjies in ’n ry het nie maar ook vir hulle wat sleg drooggemaak het.

God wil vir elkeen van ons nog ’n kans gee maar dan moet ons aan Hom oorgee.

Dit is nie die einde nie.  Net soos Jesus nie finaal gesterf het nie, is daar ook nie ‘n einde as ons kind van God is nie.

Mat. 5:3-4  “You’re blessed when you’re at the end of your rope. With less of you there is more of God and his rule. You’re blessed when you feel you’ve lost what is most dear to you. Only then can you be embraced by the One most dear to you.”

With less of you there is more of God and his rule.

Deur die Kruis – Wanneer my storie Jesus s’n kruis

[powerpress]

Elkeen van ons het ‘n storie.  Jou lewe en dit wat al met jou gebeur het vertel ‘n storie.

Ek het so paar jaar gelede die verassing van my lewe gehad toe ek vir ‘n 2 jaar kursus ingeskryf het en met die eerste byeenkoms het die dosent vir ons gevra om elkeen ons lewensverhaal te vertel.  Die vraag was:  Wat het jou die mens gemaak wat jy vandag is?

45 Minute vir elke persoon van die groep van 24.  As jy nie die 45 minute gebruik nie, dan bly almal stil totdat die 45 minute verby is.

Ek het gedink, hierdie gaan ‘n lang week wees.  Elkeen het tyd gehad om voor te berei en tot my absolute verbasing het nie een persoon minder as 45 min. gepraat nie.

Wat meer is, elke persoon se storie het my aandag vasgevang.  Ek wou nie met een persoon voel, aggg, as hy/sy maar net kan klaar kry nie.

 

Donald Miller ‘n kontemporêre skrywer vertel die elemente van ‘n goeie storie is:

“A character who wants something and has to overcome conflict or difficulties to get it.”

Dink maar aan enige goeie lewensverhaal, hulle het almal hierdie elemente in.

Dink aan S.A. se storie.  Dit het hierdie elemente en mense in.

Dink maar aan Jesus en God se storie met die mensdom, dit het hierdie elemente in.

Die mens wat hoop verloor het om met God versoen te word.  God wat nie wil hê dat enige van sy kinders verlore moet gaan nie.  Christus wat gekom het en deur die kruis ‘n feitlik onmoontlike werk kom doen het om die mensdom met God te verenig.

1 Kor. 15:53-56 “Die dood het nie meer enige krag of invloed nie. God het al die krag as oorwinnaar. Daar is net mooi niks oor van die dood se mag nie. Sal die dood ons nog kan seermaak? Nee, vir seker nie.” Sonde is die oorsaak dat ons doodgaan. En ons kan nie stry dat ons in sonde vasgevang is nie omdat die wet van God so duidelik daar is en dit vir ons wys. Maar ons is anders; ons het baie waarvoor ons vir God baie dankie kan sê. Jesus Christus het gewen en omdat Hy gewen het, het God ons saam met Hom wenners gemaak.”  BDP

Groot konflik, moeilikhede en ‘n God wat sy kinders met Hom wou versoen.  Christus het oorwin, Hy het die dood en sonde oorwin.  Wat meer is – Hy wil jou ook ‘n oorwinnaar maak.

So wat is jou storie?  Is dit ‘n storie wat dieselfde elemente het?

Wat is dit wat jy wil hê, en wat is besig om dit van jou te weerhou?

Dalk is dit ‘n suksesvolle beroep, ‘n gelukkige huwelik, goeie gesondheid, finansiële sekuriteit.  Dalk is dit ‘n lewe wat betekenisvol is.

Maar sonder twyfel is daar dinge wat jy sal moet oorwin, oorkom om dit te kry.

Dalk het jou hoop so vervaag dat jy nie meer glo dat jy sal kry wat jy gedroom het jy sou kry nie.  Die oorsaak is ook ‘n klomp dinge, regstellende aksie, siekte, iemand wat jou verraai het, slegte gewoontes, bose mense.

Maar op die einde is daar net twee dinge wat ons verhou van die lewe wat ons in Christus wil lewe:  sonde en dood.

Sonde is die menslike tendens om ‘n gemors van dinge te maak.  Ons dink aan ons eie belange eerste eerder as die van ander.  Soms is dit die sonde van ander mense wat in die pad kom.  En in dit alles leef ons in ‘n gebroke wêreld met boosheid.

Dan is daar dood:  Maak ook nie saak hoe goed ons lewe nou is nie, ons word altyd bloot gestel aan sonde en dood wat dinge feitlik oornag in ons lewe kan verander.

Daarvan het ons hierdie week beleef toe iemand wat baie geliefd was deur haar mense koelbloedig vermoor is en sonde weer geseëvier het.

Kan jy nog die road runner cartoons onthou?  Dit gaan oor Wile E. Coyote wat elke trick onder die son probeer om die roadrunner te vang en wat gebeur elke keer?

Hy kry dit nie reg nie.  In honderde episodes wat ek al gekyk het, het Wile E. Coyote nog nooit die roadrunner gevang nie.  Maak nie saak wat hy doen nie.

Is dit nie die mens se storielyn nie?  Maak nie saak wat ons doen nie, ons sal nooit sonde en dood se greep kan breek nie.

Maak nie saak hoeveel vredes ooreenkomste die wêreld sluit nie, daar sal altyd oorloë wees iewers.  Maak nie saak hoeveel goeie mense in ‘n stad is nie, daar sal nog altyd bose mense wees wat kom steel, slag en verwoes.

 

Dink weer aan Jesus se storie vir ‘n oomblik.  Hy kom die wêreld in as ‘n nikswerd.  Gebore in ‘n stal.  Sy bediening begin op 30 jaar.  Wonderwerk op wonderwerk gebeur.

Mense begin in hulle duisende Hom volg.

Die draaipunt in Sy bediening kom toe Hy na 3 jaar by Jerusalem inkom op ‘n donkie en die skare Hom wil kroon as koning.

Maar skielik maak Jesus se storie ‘n donker draai.  I.p.v. Jesus wat ‘n rewolusie lei draai Jesus weg daarvan en begin praat van swaarkry, dood en weggaan.

Hy word verraai deur een van Sy eie vriende, Hy word skuldig bevind deur ‘n korrupte hoë priester en ‘n lafhartige politikus.

Hy word in die openbaar verneder, gemartel en uiteindelik moet Hy sterf aan ‘n misdadigers kruis.  Sy volgers is te bang om hulle gesigte in die openbaar te wys.

Dit lyk soos ‘n wonderlike held maar sy gewildheid het gou afgeneem.

Maar op die derde dag het ‘n paar brawe en lojaal vroue na die graf toe gegaan om afskeid te neem.  Maar wat hulle kry is ‘n graf wat oopgebreek is en ‘n liggaam wat nie meer daar is nie.  Die engele kom vertel hulle dat Hy nie meer daar is nie.

MAAR hulle hoef nie moed te verloor nie want Jesus is weer lewendig, Hy sal hulle ontmoet en alles vertel.  Hy het die dood oorwin.

En so is die storie toe nie verby nie.  2000 jaar later word hierdie storie nog steeds vertel.

‘n Merkwaardige ware verhaal en alhoewel ons dit al baie gehoor het, verstom dit ons nog steeds en maak dit ons nog steeds opgewonde dat so iets kon gebeur.

Terug na ons definisie van ‘n goeie storie:

“A character who wants something and has to overcome conflict or difficulties to get it.”

Wat wou Jesus gehad het?  Ons kan seker ‘n klomp dinge opnoem.  Hy wou God bekend maak.  Hy wou Israel herstel.  Maar daar is seker twee tekste wat ek aan kan dink wat Sy missie duidelik uitspel:

Joh. 10:10          “’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”  AFR83

Luk. 4:18-19      “Die Gees van die Here is op my.  Hy het my baie sterk gemaak.  Daarom bring ek nou goeie nuus vir daardie mense op wie almal neersien — van nou af is hulle vir God baie spesiaal.  God het my gestuur om vir die gevangenes te sê dat hulle vonnis vir altyd verby is; en om die blindes weer te laat sien, om almal wat verdruk word te kom bevry, en om aan te kondig: ‘God se bonusjaar is hier, sy jaar om stukkende mense se lewe heel te maak.’” BD

Wat moes Hy oorkom het?  Dieselfde twee dinge wat ek en jy ook moet oorkom:  Sonde en dood.

Jesus se laaste vyand was die dood, en Hy het dit ook oorwin.

Sy lewelose liggaam is in die graf neergelê en drie dae later het God die klip weggerol en Jesus het uitgestap in die ewigheid wat nie meer ‘n mag oor Hom het nie.

So 15 jaar later skryf Paulus die woorde:

1 Kor. 15:55-57 “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?  Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet.  Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.”  AFR53

Daar was nie nog so verhaal in die mens se geskiedenis nie.  Geen wonder baie vind dit moeilik om te glo nie.  Ons kan nie vandag na al die bewyse kyk nie maar hier is net drie:

1.  Fisiese bewyse dat die graf leeg is.  Verskeie getuies het by Jesus se graf aangekom en bevestig dat Hy nie meer daar was nie.

2.  Menslike getuienisse.  Die lewensverandering wat in die dissipels se lewens gebeur het.  Iets het met hulle gebeur van hierdie klomp wat weggekruip het en bang was om gesien te word na mense wat later bereid was om hulle lewe te gee om die nuus te gaan vertel.

3.  Historiese bewyse deur die opkoms van Christendom.  Die radikale groei van die kerk na Jesus se opstanding, die wegbeweeg van Judaisme en die begin van ‘n geestelike beweging in die wêreld soos daar nog nooit was nie.

 

Hier is waar God se storie met jou storie kruis:

Jy kan ook ‘n oorwinnaar wees.  Hy het gekom sodat jy lewe en lewe in oorvloed kan beleef.

En terloops as dit is dat jy gemak in hierdie lewe soek, dit is nie wat Jesus kom doen het nie.

Mense met Hoop in ‘n hopelose wêreld.

Mense wat lig is in ‘n donker tyd in ons land se geskiedenis.

Mense wat bereid is om ophou pessimisties te wees en te doen wat hulle kan om duisternis te verdryf uit ons stad en ons land.

Mense wat ‘n verskil wil maak en ook soos Jesus goeie nuus te bring vir die mense waarop almal neersien, vrylating aan die gevangenis, sig vir die blindes.

Die kruis kan jou lewe ook verander:  As Jesus se twee grootste struikelblokke vir jou oorwin het, sonde en dood, en Hy nooi jou uit om die oorwinning saam met Hom te vier, dan is dit goeie nuus vir jou vandag.

Dalk het jy soos Jesus ‘n konflik of moeilikhede om te oorkom, maar weet jy wat – jy hoef dit nie meer in jou eie krag te doen nie.

Met Jesus se hemelvaart het Hy sy Gees op elke mens uitgestort en woon Sy Gees in jou lewe indien jy Hom uitnooi om in jou lewe te kom woon.

So moedeloosheid is nie meer jou deel nie, want die lewende hoop leef in jou.  Magteloosheid is ook nie meer jou deel nie, want jy het ‘n lewende God vir wie jy kan vra om iets te doen aan die onreg.  Wat ook al jou hindernis is, die lewende Christus het die dood oorwin en leef nou in jou om jou te help om ‘n lewe van oorwinning te leef.

Hulle sê elke goeie storie het ‘n kritiese draaipunt.  ‘n Kritiese oomblik wat die uitkoms van die karakter se lewe bepaal.  Ek wonder of vandag nie dalk so dag vir jou is nie.  ‘n Besluit wat jy hier gaan maak wat jou lewensverhaal totaal en al gaan verander.  Dalk is die eerste struikelblok wat jy gaan oorkom, om net vandag ‘n besluit te maak.

Gaan jy Hom innooi?  En gaan jy Hom toelaat om jou te lei met Sy liefde en genade?

Deur die Kruis – Is daar Hoop?

[powerpress]

Die afgelope week of twee is daar weer ‘n geweldige negatiewe klimaat besig om te ontwikkel in ons land.

As dit nie die standbeelde is wat hulle wil afbreek nie, dan is dit Eskom wat ons krag onvoorspelbaar afsit elke dag, dan wil die Law Commission ons vakansiedae soos Paasfees en Kersfees verander.  Of dit is die Xenofobiese aanvalle in die land.

As ek mense se opmerkings op Facebook en in geselskappe dophou dan is dit so dat baie net op die een na die ander noot van kla afgaan.

Nou, ek sê nie dat ons eenvoudig moet stilbly en alles aanvaar wat met ons gebeur nie.

Allermins, maar as jy kies om aan die negatiewe boodskappe elke dag vas te klou en die bietjie ongerief wat ons verduur jou so laat omkrap gaan jy binne ‘n paar weke een van die mees siniese en negatiefste mense word wat mense ken.  En daar is baie van hulle.

Ek dink gelowiges moet positiewe mense wees.  Hulle moet ‘n hoop hê wat nie gebaseer is op die tydelike en die gemak van hierdie lewe nie.

 

Die eerste gelowiges wat gelewe het in Jesus se tyd en kort daarna het in die mees afgryslikste tye geleef, in mense geskiedenis, en tog het hulle HOOP gehad.

Onregverdigheid en ongeregtigheid soos wat jy nog nie beleef het nie.

Siekte, hongersnood en vervolging soos wat jy nie jouself eers kan verbeel nie.

Tog sien mense mense in die N.T. wat leef met entoesiasme, met liefde en HOOP.

Veronderstel dat jy een van die skywers van die Bybel was, wat sou jou boodskap gewees het?

Een van hoop of een van pessimisme en ons moet almal groener gras iewers gaan soek?

 

1 Pet. 1:3-6;9     “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.  En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.  Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. v.9  Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.” AFR83

 

Ons het ʼn brief gelees wat geskryf is van ʼn groepie gelowiges wat verspreid woon in die Noorde en Weste van Klein-Asië – die huidige Turkye.

Hulle is uit hulle vorige godsdienste geskud toe hulle die wonderlike evangelie van Jesus

se sterwe en opstanding gehoor en dit aangegryp het.  Dit het hulle lewens verander: hulle het God nuut leer ken, hulle is vrygemaak van sonde en skuld, hulle het deel geword van die huisgesin van God, hulle het die krag van die evangelie en die opstanding fisies beleef…

 

En toe kom dit: erge diskriminasie.  Dit was nog voor die vervolging begin het.

Meeste van hierdie eerste gelowiges was ook slawe wat onder slegte base gewerk het.

Hulle gaan deur beproewing (4:12), hulle word onverdiend gestraf (2:20), hulle word gespot oor hulle toegewyde lewens (4:4), hulle ly… Nou is dit nie meer lekker nie.

Nou begin hulle wonder of dit nie maar beter was om weer terug te gaan na hulle vorige godsdienste nie. Hulle verloor iets van hulle eerste vreugde en entoesiasme.

 

Petrus sê vir hulle: “Glo! Hoop! Wees bly!” Daar is Iemand wat ʼn onbreekbare belofte van ʼn wonderlike hemelse erfenis aan julle gemaak het. En weet julle wat? Hy is volkome betroubaar. Julle kan reken op elke woord uit sy mond.

Num. 23:23        “God is nie ʼn mens dat Hy sou lieg nie…”

 

Beleef ons dit nie ook so partykeer nie.

Wanneer dit met ons goed gaan, dan is dit maklik om positief te bly en te wees.

Maar wanneer almal om ons begin kla en ons eie gemak is so bietjie ontwrig dan vergeet ons dat ons veronderstel is om as verteenwoordigers te lewe.

Nie van ons eie lewens nie maar van God se koninkryk.

Anders leef ons eenvoudig nog vir onsself.

 

Hoekom kan dinge nie net reg werk nie?  Hoekom is alles so gesukkel?

Wel, ons leef nog nie in die ewigheid nie.  Ons het nog nie die volmaaktheid bereik nie.

Hoekom is dit dat ons verwag dat alles perfek moet gaan in ons lewens?

En as dit nie gebeur nie, oo wee, dan moet almal in my koninkryk uitvind dat ek diep ongelukkig is met hierdie klomp patetiese mense wat om my leef.

My vraag is net:  Hoe goeie ligdraers en verteenwoordigers van God is ons, wanneer ons met so gesindheid elke dag leef?  Moet ons nie ‘n Hoop hê wat ander nie het nie?

 

Deur die Kruis is Hoop nie iets nie maar Iemand

Ons hoop is gebaseer op ‘n persoon.  Jesus Christus.

As ons sonder hoop lewe dan lewe ons sonder Christus en wat die kruis vir ons gedoen het.

 

Een van die bekende skilderye in die skilder wêreld is die een van Faust.

FOTO: In die skildery speel Faust met die duiwel skaak vir sy siel.  Faust het net ‘n paar skaakstukke op die bord oor en dit kom voor of hy in skaakmat is.  Sy lyftaal vertel ‘n prentjie van moedeloosheid en hopeloosheid.

Die persoon wat die duiwel voorstel lyk of hy in beheer is en wag vir sy kans.

In die begin het mense wat kom kyk het na die skildery die hopeloosheid van die skildery uitgewys en daar weggegaan met ‘n swaar gevoel in hulle.

Tot eendag, toe daar ‘n Skaak meester daar uitgekom het en vir ure na die skildery gekyk het.  Uiteindelik met ‘n skree wat almal gehoor het, het die skaak meester uitgeskree:

“It’s a lie, the King and the knight still have moves left.”

 

Dit is wat die kruis en die opstanding vir ons beteken:  Ons staan en kyk na ons lewens en dit wat aangaan in ons land en ons voel ons is in skaakmat.

En dan kom Jesus van Nasaret wie God uit die dood laat opstaan het na ons toe en sê: “Dit is ‘n leuen, julle het nog skuiwe oor.”

Hoop nie iets nie maar Iemand.  Die kruis, Paasfees is ‘n teken van HOOP.

 

1 Pet. 1:3  “…het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.”

M.a.w. ons HOOP kom van die feit dat ons nie meer dieselfde mens is as wat ons was voordat ons Christus ontmoet het nie.

Die historiese opstanding van Jesus uit die dood word gekoppel aan my nuwe lewe wat ek ontvang het toe ek tot wedergeboorte gekom het.

Want, Christus IN MY is die lewende HOOP wat ek het.  Dit is my bron van HOOP.

Hoop is nie iets nie maar Iemand.

Nie enige ding wat in hierdie wêreld vandag daar is en môre nie meer daar is nie.

 

Dit beteken dat elke oortreding van my kant af nie hierdie HOOP kan blus nie.

Dit beteken dat elke vervolging en diskriminasie in hierdie wêreld nie die HOOP wegneem nie.

Dit beteken dat ek nie ‘n arme sondaar is wat worstel hier op aarde nie maar ‘n koningskind wat tydelik deur Hom gebruik wil word hier op aarde.

“God se ontferming en genade gee vir my hoop – vir myself en die vir die wêreld.”Billy Graham

 

Klaagliedere 3:21-23 “Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.”  AFR83

 

Jy het ‘n nuwe geboorte gehad toe jy besluit het om Jesus Christus te volg met jou hele lewe.  Dit beteken dat hierdie onverganklike saad.  Saad van HOOP binne in jou is.

Niemand kan dit by jou steel nie.

Dit beteken dat dit nie onseker is nie, dat daar volkome sekerheid en vaste sekerheid is dat Christus nou deur sy Heilige Gees in jou woon.

Volkome sekerheid dat die bron van HOOP nie iets is nie maar Iemand wat in my woon.

As dit jou nie op gewonde maak nie, is daar iets fout met jou.

 

Ek het dit al voorheen so verduidelik en ek wil vandag weer:

Ons het ‘n Hoop tenk in ons lewens.  En die krag wat al weer af gaan en die mense wat onregverdig behandel word en die siekte wat jy nou weer moet hanteer en die kar wat weer gebreek het TAP hierdie hoop uit jou Hoop tenk uit.

 

As jy nie soos die Israeliete elke dag uitgaan en manna optel wat God vir jou laat val het deur sy genade nie gaan die stampe en stote van hierdie lewe jou gou leeg tap.

Dit is een van die redes hoekom ‘n mens myns insiens nie ‘n Sondag diens kan mis nie.

Dit is weer ‘n geleentheid om vol te raak, weer ‘n geleentheid om Hoop te kry.

Die lewende brood wat God vir ons gee verander ons in ander mense.

 

St. Francis van Assisi, ‘n man met ‘n ongelooflike geskiedenis het ‘n gedig geskryf:

Lord, make me an instrument of Thy peace;

 where there is hatred, let me sow love;

 where there is injury, pardon;

 where there is doubt, faith;

 where there is despair, hope;

 where there is darkness, light;

 and where there is sadness, joy.

 

Hoop is nie iets nie maar Iemand

Ons is die draers van lig in die donker wêreld waarin ons lewe.

Ons kan nie dankbaar wees en kla in dieselfde asem nie.  Dit is onmoontlik.

Ons probleem is baie keer dat ons leef soos mense wat hulle permanente tuiste hier gemaak het op aarde en nie soos pelgrims wat net trek deur hierdie lewe soos reisigers nie.

Die kruis is God wat vir ons sê: “Jy het nog ‘n skuif, nog ‘n kans.  Maak ‘n skuif om die lewende Christus te omhels en laat Hom toe om jou HOOP te wees en jou van binne af ‘n nuwe positiewe mens te maak.

 

So nou en dan kry ek dit nie reg nie maar ek het besluit dat ek nie op enige bandwagon van negatiwiteit spring nie.  Ek wil nie in blend in hierdie lewe nie, ek wil uitstaan.

My hoop is nie eskom krag 24/7 nie.  My hoop is nie alles wat my hart begeer nie.

My Hoop is Iemand.  En my gedagtes en fokus is op Hom.

 

Rom. 8:24-25     “Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.”  AFR83

“Die Christelike hoop is nie dieselfde as “the power of positive thinking” nie; die Christen se hoop lê in die wete: Selfs in my uiterste nood is God steeds daar; selfs in my diepste eensaamheid is ek nie alleen nie, want Hy is deur sy Gees by my. Ek weet dat my lewe opgeneem is in God se groter verhaal. My pyn, my verlies… is in God se hande – nie omdat Hy dit bewerk het nie, maar omdat Hy dit in sy hande neem en daarmee werk sodat daaruit iets goeds kan voortkom. Wát die goeie is wat God vir ons bewerk, dit verstaan ons nie altyd nie. Baie keer weet ons dit eers heelwat later, en soms nooit nie. Maar Christelike hoop is om te weet dat my lewe en my lotgevalle in die goeie Vader-hande van God is – dieselfde hande waarmee Hy besig is om ‘n nuwe, beter wêreld tot stand te bring.”  Andre Bartlett

Deur die Kruis – ‘n nuwe identiteit

[powerpress]

Alhoewel die tradisionele Paastyd laas naweek verby is, word die daaropvolgende 6 weke eintlik op die Christelike kerkkalender gesien as die Paastydperk tot en met die hemelvaart wat gevier word 40 dae na die opstanding.

Daarom gaan ons vir die volgende paar weke gesels oor die implikasies van die opstanding en wat Christus se kruis regtig vir ons beteken 2000 jaar later.

Of ons dit erken of nie, daar is ‘n klomp dinge wat ons in die lewe glo sonder dat ons dit besef.  Een daarvan is wie jy glo jy is.  Jou identiteit.

Sosioloë sê dat identiteit die sterkste krag is in die menslike persoonlikheid.  Ons almal het ‘n diep behoefte om konsekwent op te tree volgens die beeld wat ons van onsself het.  Transformasie is dan die vermoë om nuwe dinge te begin glo oor jouself.  M.a.w. nuwe oortuigings het die vermoë om jou lewe drasties te transformeer.

Gal. 2:15-21

“Ons wat van geboorte Jode is en nie sondaars uit die nie-Joodse nasies nie, weet dat niemand deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie. Net deur die geloof in Jesus Christus kan dit gebeur! Selfs ons het tot geloof in Christus Jesus gekom sodat ons deur geloof, en nie omdat ons die wet onderhou nie, deur God vrygespreek kan word. Niemand sal mos deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie! Dit is eers as ons deur Christus God se vryspraak soek dat ons raaksien dat ons self ook sondaars is. Beteken dit nou dat Christus in diens van die sonde staan? Natuurlik nie! Dis eerder ék wat van myself ’n oortreder maak. Dis nou as ek weer begin leef volgens ’n stelsel wat ek klaar verwerp het. Deur die wet het ek die wet afgesterf. Gevolglik leef ek nou vir God. Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf. Ek verwerp nie dié genade van God nie. As dit moontlik was om deur God vrygespreek te word deur die wet te onderhou, het Christus mos verniet gesterf!”  NLV

 

Paulus, skrywer van groot dele van die N.T. probeer aan sy lesers verduidelik – julle is nou vry.  Julle het ‘n nuwe identiteit.  In Galasië het baie nie-Jode ook tot die geloof gekom en saam met die Joodse gelowiges begin om Christus te aanbid.

Maar die jong gelowiges, die nie-Jode het minderwaardig gevoel teenoor die Jode wat eeue oue tradisies en gebruike gehad het in hulle geloof.

Kort voor lank het hulle begin om hulself te vergelyk met mekaar.

Het ek genoeg gedoen?  Is ek aanvaarbaar voor God?  Hierdie Jode het eeue lange tradisies, hulle is soveel meer volwasse in hulle geloof.  As ons na ons lewens kyk, dan kom ons vêr te kort.

 

Hierdie klomp mense in Galasië het begin om hulle geloof te beoefen soos baie gelowiges vandag nog hulle geloof beoefen:  In boeie, die verdienste godsdiens waar ek myself moet bewys dat ek goed genoeg is.  In hierdie realiteit sê Paulus aan hulle in baie sterk woorde:

Gal. 2:19-20       “Deur die wet het ek die wet afgesterf. Gevolglik leef ek nou vir God. Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.”  NL

Gal. 2:21   “If a living relationship with God could come by rule keeping, then Christ died unnecessarily.”  MSG

As jy die begin van die volgende hoofstuk lees dan sien jy Paulus vertel vir hulle mooi dat hulle besig is om hulle koppe te verloor.  Hy is hoogs ongelukkig met hulle oor hulle nie hierdie nuwe identiteit van hulle kan verstaan en daarvan af leef nie.

 

Dink maar hoe word ons identiteit deur die jare gevorm.  Jy is eerstens deel van ‘n volk, ‘n land.  Dan is jy deel van ‘n familie met ‘n geskiedenis.  Dan is jy deel van ‘n gesin.  En so goed bedoelend soos ons is vorm ons ons kinders se identiteit meestal gebaseer op prestasie.  As jy op ‘n sekere manier optree, is jy aanvaarbaar.  As jy gehoorsaam is en doen wat jy moet word jy beloon.  Op skool, word jou waarde gemeet aan jou vermoëns en jou prestasies.

Wanneer ons by die Kruis en die werk van Christus uitkom besef ons dat ons beste pogings is nie genoeg nie.

Dit is drek volgens Paulus in Fil. 3:8.  Skubalon in Grieks.  Letterlik uitwerpsel, ‘dung’ in Engels.

My geregtigheid kom nie van my eie pogings af nie maar van geloof in Jesus af.  Ek kan nooit hard genoeg werk om God te ‘please’ nie.  Iets wat daarmee saam gaan: Ek nooit hard genoeg werk om mense tevrede te stel nie.  Die enigste manier om in ‘n goeie verhouding met God te leef is deur geloof in Jesus.  Nie Jesus + goeie werke nie.  Nie Jesus + nie sonde doen nie.  Jesus plus niks anders.

 

Maar dit moet ook ‘n stap verder gaan: Die woorde wat die satan gebruik om my minderwaardig te maak:  ‘Jy is nie goed genoeg nie.’  Dit is die woorde wat God gebruik om my vry te maak:  “Jy kan nie goed genoeg wees nie.  Daarom moet ek op Hom vertrou en Hom alleen.”  En dit haal al die druk af.  Dit verander alles.

 

Dit is amper soos wanneer jy iemand nooi om saam met jou te gaan uiteet en wanneer dit by die betaalslag kom besef jy dat jy jou beursie by die huis vergeet het.  Jy het geen manier om te betaal nie.  Dit voel of die aarde jou kan insluk.  Dit maak nie saak of jy R10 of R10 000 in jou beursie gehad het nie. Jy kan nie betaal nie.  Jy het nie die vermoë om te betaal nie, iemand anders sal moet.  Jy is in groot skubalon.  Jy’s nie goed genoeg nie.

 

En i.p.v. dat dit my angstig maak is dit iets wat my moet vry maak om onder God se genade dinge te doen nie vir Sy aanvaarding nie maar omdat Hy my aanvaar het.  Vir die eerste eeuse gelowiges was dit rewolusionêre woorde:

Jy gaan nie regverdig gemaak word deur dit wat jy DOEN nie maar deur dit wat Christus GEDOEN het.  Jy hoef nie te verdien nie.  Jy hoef nie te perform nie.  Jy is vry.

 

MAAR jy moet weet dat jy vry is omdat jy DOOD is.  Nou wil ek dinge so bietjie deurmekaar krap.

Gal. 2:19-20       “Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.”  NLV

Jy is saam met Christus gekruisig.  Nie letterlik nie maar figuurlik.

As ek saam met Hom dan gesterf het, dan is dit mos nie ‘n mooi prentjie nie.

 

Nee, dit is nie.  My prestasies beïndruk God glad nie.  Dit onderskei my nie eers nie.  Hier is die ding van geestelike trots.  Dit sê nie “ek is perfek nie”. Want ons weet ons is nie.  Dit sê net, ek is darem beter as jy.  Ek sal darem nie so optree nie.  Maar as jy dood is, dan beteken jou prestasies niks nie. Dooie mense kry nie mooi rapporte nie, hulle word nie raakgesien nie, hulle bereik niks meer nie.  Hey, jy is veronderstel om dood te wees.  Gekruisig saam met Christus.

 

Maar dit beteken ook dat jy nie hopeloos of verlore is nie.  Dooie mense kry nie boetes nie.  Dooie mense kom nie in die moeilikheid nie. Net soos ons goeie werke ons nie definieer nie, definieer ons mislukkings ons ook nie.  Ons foute en mislukkings vernietig en veroordeel ons nie.

Foute tel nie, prestasies tel nie.  Wat tel, is dat jy DOOD is.

 

Dood maar lewendig IN CHRISTUS

Gal. 2:20   “Indeed, I have been crucified with Christ. My ego is no longer central. It is no longer important that I appear righteous before you or have your good opinion, and I am no longer driven to impress God. Christ lives in me. The life you see me living is not “mine,” but it is lived by faith in the Son of God, who loved me and gave himself for me.”  MSG

 

Vraag:  As jy dood is en Christus is lewend in jou, wie se identiteit het jy?  Jesus Christus.

Dis die punt. Daar het ‘n internasionale aanneming plaasgevind. Jou naam en van het verander.

Daarom sê Paulus in:  Fil. 1:21    “want om te lewe, is vir my…. Christus”  AFR83

Iemand anders se identiteit het joune geword.

Dit is een ding om dit met jou kop te verstaan maar iets heeltemal anders om met jou emosies en jou hart te verstaan.  Daar is nie wiskunde vir hierdie som nie.  Dit is hoekom ons sing Amazing Grace – genade onbeskryflik groot.

 

Maar dit is nog nie die einde van die storie nie.

Gal. 2:20   “Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe… in my.”

Dit beteken dat dieselfde krag wat Jesus uit die dood uit laat opstaan het nou in my en jou werk.  Daarom kan sonde nie meer my baas wees nie.  Sy krag is in my lewe.  Jy is getransformeer geestelik.

 

Daar is tye wat ons na die satan se leuens luister wat sê, “jy kan dit nie help nie, jy kan nie verander nie, jy kan nie herstel word nie.”  En God sê vir elkeen van hierdie, dit is ‘n leuen.  Groter is Hy wat in jou is as hy wat in die wêreld is.  Daar is ‘n realiteit, Jesus Christus wat nie sigbaar is vir hierdie wêreld nie.  Maar dit is so goed ek sê dat daar nie iets soos radio, TV of klankgolwe is omdat ek hulle nie kan sien nie.

 

Nee, Hy het opgestaan.  Hy leef in elkeen van Sy kinders.  En ons het ‘n keuse seker ‘n paar honderd keer elke dag:  gaan ek glo in my krag, my prestasies, my vermoëns.

OF gaan ek glo in Sy krag, Sy werk, en Sy liefde.

Daarom kan ek verander, want ek het ‘n nuwe identiteit ontvang.

 

Wat beteken dit?

Dit beteken dat môre nie soos gister hoef te wees nie.

Dit beteken dat ware verandering in elkeen van Sy kinders se lewens moontlik is.

Dit beteken dat daar weer hoop is, al voel dit of almal hoop verloor het.

Dit beteken dat Hy my nie haat vir my foute nie maar dat ek lief gekry word deur Iemand wat nie net liefde het nie maar liefde is.

 

Dit beteken dat sonde nie oor my hoef te heers nie.

Dit beteken dat ek vrygekoop is deur die Kruis van Jesus.

Dit beteken dat Christus IN MY LEEF.

En as ek dit glo, dat verander dit ALLES.