Ek het ‘n vriend wat… net wil goed voel

Hy kyk na die lewe as ‘n uitdaging om geluk te vind. Hy soek heeltyd na plesier in sy lewe.  Wanneer hy goed voel, dan is die lewe vir hom die moeite werd.  Hy kyk na homself as ‘n verantwoordelike persoon wat sy lewe so leef dat hy enige vorm van ongemak vermy en wegkom van enige vorm van pyn.  Soos Freud gesê het, glo hy, ‘n gesonde mens is iemand wat pyn vermy en plesier in jou lewe in te bou.

Sy lewensbesluite word altyd geneem op grond van die vraag, hoe laat dit my voel?  Iemand wat net dinge doen wanneer hulle goed voel daaroor, sukkel natuurlik om commitments te maak.  Want as dit nie goed voel nie, dan is dit mos tydmors.  Hoekom tyd aan iets spandeer wat jy nie onmiddellik enige vorm van plesier sal gee nie?  As dit my nie lekker laat voel nie maak nie saak wat dit is nie, dan is dit nie vir my nie.

Wanneer so iemand dan ‘n gelowige word dan begin hulle glo dat God net vir hulle geluk wil gee.  God is daar om hulle lief te hê en om enige vorm van ongemak of frustrasie uit hulle lewe te verwyder.  Hy interpreteer Jesus se lewe in die lig van hierdie siening.  Jesus het gesterf, sodat ek kan lewe.  Jesus het arm geword sodat ek ryk kan word.  Jesus het pyn verduur sodat ek nie pyn hoef te verduur nie.

Ek sien soveel van myself ook in hierdie vriend en ek kan met baie daarvan identifiseer.

Maar ek moet ook dink aan Jesus se woorde aan Petrus in Matteus 16.  Dit lyk nogal of Petrus ook hierdie goed voel ingesteldheid gehad het en dat Jesus gekom het om hom te help om ‘n posisie en sukses in die lewe te bereik.

Matteus 16:21-15       “Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word. Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.” Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.”  1983 NAV

Toe Jesus vir Petrus sê dat dit nou nodig is dat Hy Jerusalem toe moet gaan want die tyd het gekom dat Hy moet sterf en ly.  Toe sê Petrus, nooit, dit sal nie gebeur nie.

Dit pas nie in sy idee van die lewe nie.  Ook nie in sy idee van God nie.

God sal jou mos nie ondertoe vat nie, Hy vat jou net boontoe en hoër.

En dan draai Jesus na Petrus toe en sê vir hom, jy het geen idee hoe God werk nie.

Mat. 16:25-26     “Don’t run from suffering; embrace it. Follow me and I’ll show you how. Self-help is no help at all. Self-sacrifice is the way, my way, to finding yourself, your true self.”  MSG

 

Nie net gaan Ek ly nie sê Jesus, jy gaan ook ly.  Jy het ook ‘n kruis om te dra Petrus.

Vat dit wat God vir jou gee.  As jy dit nie doen nie, sal jy groot skade aan jou eie lewe doen.  Jy sal nie jou ware self vind nie, jy sal jou siel verloor in die proses.

Vir hierdie vriend, is daar drie vrae wat ek dink die moeite werd is om oor te dink:

  1. Hoe kyk jy na die lewe?  (Lewensbeskouing)
  2. Wie is God vir jou?  (Godsbeskouing)
  3. Hoe sien jy jouself?  (Mensbeskouing)

Wat moet jy doen, wat is jou rol en verantwoordelikheid in die lewe?

  1. Hoe kyk jy na die lewe?

Die lewe is plesier en pyn.  Dit is die realiteit van ons bestaan.

As jy enigiets anders verwag gaan jy altyd aanhou soek na iets wat jy nie gaan vind nie.

Jy soek dalk na ‘n perfekte wêreld wat nog nie hier is nie.  Dit is ook nie God se rol om jou gelukkig in hierdie lewe te maak nie.  Dit is ‘n gevaarlike realiteit.

As jy nie met hierdie realiteit wil lewe nie sal dit vir jou baie moeilik wees.

Daar is nie net fisiese realiteite nie maar ook psigiese en geestelike realiteite waarmee ons moet vereenselwig in die lewe.

 

Die lewe se realiteit is ook dat daar soms pyn in die lewe is.  Dit is deel van die lewe.  As jy dit probeer ontsnap dan probeer jy iets ontsnap wat onvermydelik deel van die lewe is.

Net so is geluk ook deel van ons lewe.  Ek moet albei kan vat.

Beide plesier en pyn.  Nie net een van die twee nie.

Ons oriëntasie van kleins af is dat ons pyn wil vermy.

Maar goeie ouers sal vir jou leer dat jy nie net die lekker in die lewe kan kry nie maar die slegte is baie keer nodig om jou te vorm.

Dit is die beginsel van uitgestelde genot – dat ek my lewe so leef dat ek eers die pyn van dinge ervaar en daarna kan ek die beloning wat gewoonlik groter is soveel meer ervaar.

 

Baie van ons het swaar gekry om te kom waar ons vandag is.  Ons wil dit nie vir ons kinders hê nie en dan doen ons baie keer te veel vir hulle.  Die uiteinde is dat hulle alles op ‘n bord wil hê, en hulle leer nie om hard te werk, om ook te sukkel met dinge nie.

Is dit nie ook wat in verhoudings gebeur nie?

Ons kom in ‘n huwelik in met die verwagting dat iemand my gelukkig gaan maak.  Vir baie mense is hulle troudag dan ook die hoogtepunt van hulle lewe.  Maar op ‘n dag kom die realiteit by, daar is frustrasie, daar is teleurstelling, dan is uitgangspunte oor die lewe wat verskil, daar is ontnugtering.

Dan is daar ook dikwels die laagste laag in iemand se lewe, dat hierdie verhouding nie alles is wat ek gedink het dit sal wees nie.

 

 

En dan gaan enige verhouding ook deur ‘n seisoen van pyn wanneer jy voel maar ek wil nie met hierdie pyn sit nie.  Nou as jou verwagting van die lewe so is dat jy net hoogtepunte wil hê en net romantiese oomblikke en blomme dan kom jy op ‘n plek waar jy voel dit is nie waarvoor ek opgeteken het nie.  Dit is nie wat ek wil hê vir myself nie.

 

‘n Totale commitment is nie om net een deel van jouself vir iemand te gee nie.  As dit my nie meer pas nie en daar is pyn wat deurgewerk moet word dan stap ek eerder daarvan weg nie.

En hoekom commit mense vandag nie meer so maklik nie?  Daar is baie redes maar een daarvan is dat mense voel ek is bang ek kry seer, ek is bang dit is nie wat ek gedink het dit sal wees nie.  So, ek hou eerder my opsies oop.

 

Aan die ander kant kan ek sê, ek vermy pyn en ek gaan net vir dit wat die plesier in my lewe vir my bring.  As ek nie lus is vir iets nie dan doen ek dit nie.

As dit my vandag gelukkig maak, dan gaan ek daarvoor.

Pred. 2:10“Alles wat my oë begeer het, het ek my nie ontsê nie. Ek het my nie teruggehou van enige plesier nie. Ek het genot gevind in my harde werk. Dit was my beloning vir al my inspanning. Ek het daarna egter nagedink oor alles wat ek bereik het, oor al die moeite wat ek gedoen het. Ek het besef hoe sinloos dit alles is. Dis niks anders as ’n gejaag na wind nie.”  NLV

Wat sê hy, alles wat ek gedink het my gelukkig gaan maak, het dit nie gedoen nie.

Nie geld nie, nie vrouens nie, nie plesier nie.  Dit het nie werklike lewensgeluk gebring nie.

Die kersie op die koek kan nie die koek wees nie.  Plesier kan my nie gelukkig maak nie.

 

Aan die ander kant kan jy weer mense kry wat voel hulle is bestem vir pyn.

Ons kry dit dikwels met mense wat hulself heeltemal vir ander gee en hulle eie behoeftes heeltemal eenkant sit.  Hulle wil net doen vir ander.

Maar hulle bereik nooit die punt wanneer hulle ‘nee’ kan begin sê nie, hulle voel hulle verdien dit.  Dit is hoe die lewe is, net om swaar te kry.

En alles gebeur buite hulle.  Hulle kan nie self kies nie.  Nee, die besluite word vir hulle gemaak.  Die kontrole van hulle lewe lê buite hulself.

 

So ons dilemma is met die lewe.  Daar is plesier wat ons s’n is.  Dan is daar pyn wat ons s’n is.  Ons moet met albei kan leef anders werk ons lewe nie uit nie.

 

  1. Wie is God vir jou?

Die idee dat God daar is net om vir my dinge te laat uitwerk en net om vir my plesier te verskaf in die lewe sit my op net soos in enige verhouding om ‘n groot teleurstelling te ervaar.

Want as Hy dan net al jou paaie gelyk moet maak en daar kom ‘n dag wat jy voel Hy maak nie die pad voor jou gelyk nie dan doen Hy nie waarvoor Hy daar is nie.

En die een groot vraag wat jy gaan ontwikkel is:  Hoe kan ‘n God van liefde dit aan MY doen?

Ek doen alles wat ek kan, om Hom gelukkig te maak en Hy gee nie vir my wat ek nou nodig het nie.

 

Jesus sê vir Petrus, God gaan jou nie help om nie pyn te hê nie.

Maar, jy gaan God kan vind in jou pyn.

As hierdie goed jou pad langs kom, dan is God met jou.  En as jy dit vat, dan kan daar groot en wonderlike goed in jou lewe gebeur.

Dit is wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het, Ek moet nou Jerusalem toe gaan en Ek gaan moet ly en dan sal ek sterf maar dan sal Ek opgewek uit die dood kan word.

 

Dink ‘n bietjie vandag aan Sy emosionele lyding wat net so groot gewees.

Hy word verraai deur Sy beste vriende.  Die een wat die naaste aan Hom was, Petrus, is die een wat sy rug op Hom draai toe dinge moeilik raak.

Dan is daar Sy eie planne wat Hy moes opgee.

Hoekom sal Jesus dan bid, nie My wil nie maar U wil moet geskied.

Maar deur hierdie bloed sweet wat Hy moes deurgaan, die teleurstelling van almal wat Hy geken het op aarde, het Hy ‘n nuwe lewe en ‘n nuwe opstanding beleef.

 

  1. Hoe dink jy oor jouself?

Col 3:5      “And that means killing off everything connected with that way of death: sexual promiscuity, impurity, lust, doing whatever you feel like whenever you feel like it, and grabbing whatever attracts your fancy. That’s a life shaped by things and feelings instead of by God.”  MSG

Dink maar aan al die lewensfases ook waardeur ons moet gaan.  Van ‘n baba na ‘n kind, van kind na ‘n tiener toe, van tiener na adolessent, van adolessent na jong volwassene, van trou, van kinders kry, van kinders wat groot word en hulle eie lewe begin leef.  Al hierdie dinge is moeilik.

Dit bring groot plesier en ook vreugde ja, maar dit bring ook baie pyn en seer in die lewe.

Deur die pyn in die lewe te wil uithaal en net te leef vir die plesier lewe, is om eintlik die werklike plesier in die lewe te mis.

Elke lewensfase bring pyn vir ons.  Dit is amper soos ‘n nuwe identiteit wat gevorm word.

Soos wat ‘n mens in hierdie wêreld inkom met groot pyn.

 

Hier is die vraag vanoggend:  Word jy uitgenooi om jou kruis op te neem vandag?

Dalk sit jy met frustrasie, met iets wat nie afgehandel is nie, iets wat nie nou uitwerk nie.

Is jy een van daardie haastige mense, jy wil dit nou hê?

As ek my kruis vermy en net wil goed voel, dan het ek ‘n ander kruis wat ek dra maar dit is nie Sy kruis nie.  Dan raak dit te swaar vir jou.

Jesus sê my kruis, My las, is lig en sag.

Dit bly ‘n kruis maar dit lei na lewe toe.   Deur die pyn kom daar op die ou einde oorwinning.  Jy vind jou ware self, jou siel gaan nie verlore nie, jy vind hom. Iets sal met jou gebeur wat jy nie kan glo nie, ‘n opstanding uit die dood uit.  As jy kan wag, as jy kan dra aan die onvoltooidheid van hierdie dinge, dan sê die Here vir jou ek gee vir jou ‘n opstanding.

Hy sê dat Hy elke behoefte en begeerte van jou vervul.  Kan ons dit glo?

(Aangepas en gebruik met toestemming van Mosaiek en Dr. Johan Geyser)

Ek het ‘n vriend wat… pessimisties is

 

 

Waar was jy 24 April 1994?  Ek onthou dat ek gaan stem het.  Ek onthou dat daar die was wat gedink het dit gaan nou die einde van Suid Afrika wees.  Die wat blikkies kos gekoop het en voorrade opgebou het in hulle ondergrondse skuilings vir wanneer die burgeroorlog sou uitbreek.

Maar ek onthou ook drome.  Dat ons land miskien na die jare se afsondering en apartheid nou ‘n nuwe toekoms het.  Dat daar tog plek vir almal in ‘n nuwe Suid Afrika kan wees.  Mense het eers gedink hoe gaan ‘n swart man, Nelson Mandela vaar as president.  Later het meeste darem besef dat daar baie drome is wat ook gebore is soos die Rugby wêreldbeker 1995.

En so ook ons, ons sit drome en beloftes vir onsself uit en ons glo hoe verder ons stap hoe nader aan daardie beloftes sal ons kom.  Israel het hierdie droom gehad.  Dat hulle vry kan wees, dat hulle ‘n beloofde land kan kry.   En soos tyd aangegaan het, het hulle geglo sal hulle nader aan daardie droom kom.  Abraham – jy gaan ‘n groot nageslag hê en in jou gaan die hele aarde geseën word.  Dan is dit Jakob en Josef.

Josef word darem tweede in bevel in Egipte en dit is seker ‘n tree nader aan die belofte.  Dan is daar Moses.  Wat hulle bevry van die Egiptenare, dit is nader aan die belofte.  Dan is die 40 jaar in die woestyn, wat ‘n moeilike tyd was maar aan die einde daarvan was hulle nader aan die belofte gewees.

Uiteindelik kom hulle in Kanaän aan, die beloofde land, die land van melk en heuning.  Nou is hulle nog nader aan die belofte.   Dan gebeur daar iets – daar is amper soos ‘n burgeroorlog.  En die volk skeur in twee.

Die noordelike stamme word dan weggevoer deur die Assiriërs. Ons hoor nie weer van hulle nie.  Die Suidelike stamme was nog so rukkie daar en toe kom die Babiloniërs.  En hulle vat Juda weg en hulle ontvoer hulle.  En hulle beland in Babel.  En hier sit hierdie klomp Israeliete en hulle eindig in Babel, myle ver van die belofte af en hulle weet nie wat om te doen nie.

Dit was baie erg vir hulle.  Nie net beloftes so effens buite bereik gelyk nie, dit is asof hulle hele geskiedenis in ‘n ander rigting begin beweeg.

En hulle het gevoel, dit is nie net of dit nou langer gaan neem nie, dit is asof ons in ‘n totale ander rigting gaan en wegbeweeg.  Asof daardie drome gesterf het.

Van die musikante in daardie tyd het liede geskryf soos:

Ps. 137:1, 4        “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink.  Hoe kan ons die lied van die Here sing in ’n vreemde land?”

Hulle is op hierdie plek van absolute moedeloosheid.

As jy na die koerante en nuus kyk die afgelope jaar dan is daar mense wat ‘n soortgelyke prentjie skets van ons land en waarheen ons op pad is.  Dinge is op pad ondertoe en hoopvolle toekoms is vinnig besig om te verdwyn.

Ouens soos Steve Hofmeyer en ander sal ‘n prentjie skets wat min of meer so lyk:

Ons het begin met ‘n droom in 1994.  En daar was n paar tree gewees in daardie rigting.  Kom ons sê Rugby Wêreldbeker.  Mandela was toe nie so slegte president nie, dit was ‘n tree in die regte rigting.  Die sokker wêreld beker was ook ‘n groot tree.

Maar ons het dit alles verloor.  Dit waarvoor ons gebid en geglo het is weg.

Die pessimiste sê, hier waar ons nou is.  Dit is nie asof ons stadiger of kleiner tree gee nie, dit is asof ons in ‘n totale ander rigting beweeg.  Wat gaan van ons word?  En wat gebeur as jy jouself konstant bombardeer met inligting dat ons weg beweeg van die belofte?

Jy word moedeloos, jy verloor hoop, ALLES wat gebeur is negatief.  Jy voel, die geskiedenis is besig om teen ons te draai.  Dalk is jy so pessimis en soos ons dit eerder wil sê, ‘n realis.

Dit voel of ons wegstap van die belofte af.  Wat gaan aan met die myne, wat gaan aan met die ekonomie?

Dit is waar die ouens sit wanneer Jeremia skryf in Jeremia 29.  Hulle sit in Babel.  Die mense wat so bietjie navorsing gedoen het sê daar is twee agendas wat hier afspeel.

1. ‘n Joodse agenda – trek laer.

Ons sit nou hier, ons is nie deel van hulle nie, ons gaan onsself eenkant hou en afsonder.

Ons met ons geloof gaan onsself eenkant hou.

Toe is daar selfs profete soos Gananja wat profeteer en sê die Here sê die volgende:

Jer. 28:4   “want Ek sal die juk wat Babel se koning julle oplê, verbreek.”

Oor twee jaar sal julle teruggaan nie meer hier wees nie.  God gaan julle verlos.

Moenie deel word van Babel nie, God gaan hulle vernietig.

Jeremia het eers gesê mag dit so wees maar toe hy met die Here gepraat het daaroor het die Here gesê dat dit nie die waarheid is nie.  Hy gaan hulle nie verlos nie.

Hulle sal in Babel bly en Nebukadnesar dien.

 

  1. Babiloniese se agenda – word deel van ons.

Hulle het vir die volke gesê, julle kan deel word van ons sisteem, ons voorspoed word.

Neem net ons manier kultuur, geloof en manier van dinge aan.

As jy hard werk gaan jy bo uitkom.

Wat dan gebeur het is, binne 2 of 3 generasies bestaan daardie volk of geloof nie meer nie en hulle het eintlik maar Babiloniërs geword.

Nou dit is in hierdie wêreld wat Jeremia vir hulle skryf terwyl hulle heeltemal moed verloor het en teen die vloer sit.  Dalk het jy ‘n vriend wat so voel.  Totaal hulpeloos begin voel.

Jeremia skryf hierdie ongelooflik brief vir hulle en ek wil 4 dinge vir julle uitlig vandag:

 

Jeremia vertel vir hulle en sê: julle sit nou hier in ballingskap, die eerste ding wat julle moet doen is om:

1.  Laat gaan jou droom.

Dit wat jy dink hoe dinge veronderstel is om uit te werk en jy voel nie dit gaan na daardie rigting toe nie.  Los daardie droom.

Jeremia sê vir hulle, daardie is goed waaraan julle vashou, goed wat julle glo.

En julle voel, as ek dit nie kan kry nie… weier ek om verder deel te wees van alles.

Ek het my droom en ek moet daar uitkom, maak nie saak wat nie.

Baie daarvan is nie noodwendig God se agenda nie, dit is drome dat dinge gerieflik en gemaklik vir ons sal uitwerk.  Alles moet vir MY uitwerk, vergeet van God en sy plan met my lewe en met ons land.  Solank dinge net vir my gesin uitwerk, dis al wat belangrik is.

 

Dit is seker een van die heel moeilikste dinge om te doen.  Om te sê vir hierdie droom, hierdie prentjie wat ek in my kop het, jy moet gaan.

Jer. 29:4-8         “Bou vir julle huise in Babel om in te bly. Maak vir julle tuine en eet die kos wat uit die tuine kom. Julle moet ook trou en kinders hê. Sorg ook dat julle kinders maats kry om mee te trou. Mag hulle vir julle baie kleinkinders gee. Werk daaraan dat julle getalle meer word en nie minder nie. Doen ook julle deel dat daar vrede en voorspoed in Babel sal wees. Vra ook in gebed vir die Here dat dit goed sal gaan met die stad waar julle aangekom het toe julle uit julle land weggevat is. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.” Die Here wat die God van Israel is, sê: “Moenie toelaat dat die profete en die waarsêers wat daar by julle is, julle bedrieg nie. Julle moet julle ook nie steur aan hulle drome nie.”  DB

God het ‘n plan, Hy het ‘n droom maar Sy plan is dalk anders as jou plan.  Hulle het gedink God se droom is om hierdie groot politieke mag te verslaan.  God gaan kom en die Babiloniërs vernietig en hulle uitwis.

Dit is ook hoekom hulle nie die Messias herken toe Hy gekom het nie.  Hulle het aan hulle eie drome vasgehou. Wat die Here se profeet Jeremia vir hulle sê is, laat hierdie drome gaan.  Moenie luister vir die valse profete wat sê oor twee jaar sal alles fantasties wees nie.

Luister eers, word eers stil en hoor regtig by God.  Waarheen nooi Hy jou na toe uit?

  1. Bou die plek waar jy nou is – Babel.

Daar waar julle nou is, in die plek wat nie vir julle sin maak nie.  In die vreemde goddelose plek.  Onder hierdie leiers wat nie God vrees nie en julle nie wil dien nie.

Bou huise, maak tuine, vergroot julle families, wees so suksesvol soos julle kan.

Jer. 29:7   “Vra ook in gebed vir die Here dat dit goed sal gaan met die stad waar julle aangekom het toe julle uit julle land weggevat is. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.”  DB

Hulle haat hierdie Babiloniërs – die Here sê vir hulle, waartoe julle geroep word is om daar waar julle is, lig te wees, te skyn, ‘n verskil te maak.

Hy sê nie vir hulle word soos hulle, neem hulle kultuur, geloof en gebruike aan nie.

Nee, die Here sê vir hulle, wees my kinders op ‘n plek wat vir julle nou donker is.

Maak ‘n verskil waar daar nie hoop is nie.

Bly by My, Ek is saam met julle hier.  Word lief vir hierdie heidene, moenie julleself eenkant hou nie.

Ek dink hulle was vies en kwaad toe hulle hierdie brief gekry het.

Later sê die Here, julle gaan nog vir 70 jaar hier wees.  Moenie jou tas pak nie, pak hom maar uit.  Besef dat My plan groter as jou plan dalk is.

As jy later sien watter verskil Daniel en sy vriende kon maak in so donker plek dan besef jy hoe groot God se plan eintlik was.

Daniel het nie soos hulle geword nie.  Hy het homself ook nie eenkant gehou nie.

Hy het ‘n verskil gemaak.

Later sê Jesus, julle is ‘n stad op ‘n berg.  Leef so, dat die mense julle werke sien.

Daar is vir hulle ‘n roeping in die moedeloosheid, in die ballingskap, in die vreemde.

Moenie net in dinge wees vir jouself en jou eie voordeel nie.

Leef julle vir julle eie koninkryke of leef julle vir My koninkryk?

Die derde ding wat Jeremia vir hulle sê is, toe julle nog in Jerusalem was en die droom gehad het en gevoel het julle kom al nader daaraan, toe het alles so uitgewerk vir julle.

Nou sit hulle in die vreemde, dit was vir hulle ‘n enorme ding dat hulle tempel afgebreek was.  Hulle het amper hulle God verloor deurdat hulle nie meer ‘n tempel gehad het nie.

Kyk moedeloosheid bring jou op daardie plek, waar jy voel, ek het God verloor, waar is Hy dan nou, dat ek Hom nodig het?    Dan kom die uitnodiging:

 

  1. God kom op nuwe maniere

In die moedeloosheid bring Jeremia vir hulle die uitnodiging, raak bewus – die Here kom op nuwe maniere.  Op vars maniere.

Kyk uit daarvoor dat God julle gaan verras.

Die vraag is dalk vir jou, Hoe oop is jy dat God jou kan verras?

Dalk is daar iets in jou wat voel, dit is nie meer soos dit was nie.  Ja, dit is nie meer soos dit was nie.  Maar beteken dit dat God ophou werk het?

Beteken dit dat God gaan kom soos Hy in die verlede gekom het?

Beteken dit dat jou idee van voorspoed weer gaan gebeur?

Dalk nie, God is altyd nuut, Hy is vars.  Die oomblik wat jy dink nou het ek dit.

Nou weet ek hoe Hy werk, dan verloor jy dit.

Want Hy is net soveel meer as wat ons dink Hy kan wees.

 

  1. Dit lyk soos die einde, maar dit is nie.

Dit lyk of geskiedenis teen hulle gedraai het.  Dit lyk dalk of dit die einde is maar dit is nie.

Dit lyk of Jesus vandag dalk more sal kom, maar julle sal nie weet nie.  Dalk eers oor 100 jaar.

Hoe verder jy lees, sien jy hierdie bewustheid by hulle, al lyk dit soos die einde, is God nog steeds besig met iets.

Die storie gaan aan.  Dit lyk of dit hopeloos is maar dit is nie.

En Jesus die Messias kom op ‘n tyd in hulle geskiedenis toe hulle Hom die minste verwag het.  God het hulle totaal verras.  Dié dat meeste van hulle Hom nie erken het nie want hulle het hom nie verwag in ‘n tyd toe dit gelyk het soos die einde nie.

Jesus kom nie Jerusalem en tempel toe nie.  Die plek waar Hy moet heers en regeer.

Nee, Jesus kom Betlehem toe.  ‘n Romeinse keiser regeer toe Hy kom.

Hy kom in omstandighede wat nie gunstig is vir ‘n bewys van Sy mag nie.

Hy kom in daardie ongemaklike spasie in.

Dit wat julle gedink het die einde is, was toe nie.

Die Here sê:  Ek werk wanneer jy dit nie verwag nie.  Ek daag op wanneer daar nie meer hoop oor is nie.   Selfs toe Jesus sterf en in die graf gesit word.  Dan lyk dit of alles verby is.  Dit lyk of dinge nie uitgewerk het nie of God hom misgis het met hierdie aardse magte.

Van die sterkste en mees inspirerende mense in die geskiedenis is mense wat geleef het in die hopelose van omstandighede en hoopvol en dankbaar geleef het.

Mense wat gesê het, dit wat lyk soos die einde, dit is nie die einde nie.  Daar is hoop.

Jesus sê, kom Ek gee vir jou nuwe brille.

Kom Ek gee vir jou die hoop wat jy soek in ‘n hopelose omgewing.

Die graf is leeg.  God is hier, Hy is tussen ons.  Hy verras ons.

Hy sê vir ons, Ek is nog steeds hier, Ek is nog steeds in beheer.

Jer. 29:11“Ek weet wat Ek vir julle in gedagte het. Ek beplan dat goeie dinge met julle sal gebeur en nie slegte goed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.”  DB

(Gebruik en aangepas met toestemming van Mosaiek)

Ek het ‘n vriend wat… glo maar nie kerk toe gaan nie

 

 

Ek het nogal ‘n paar vriende wat glo maar nooit kerk toe gaan nie.  Van hulle sal hulself as toegewyde gelowiges beskryf maar hulle behoort nêrens aan ‘n kerk nie.  Dit lyk nogal of dit ‘n tendens is wêreldwyd dat mense hulself as spiritueel beskryf maar nie hulle vir verbind aan ‘n plaaslike kerk nie.  Van die idees wat my geïnspireer het vir die boodskap kom van Mosaïek gemeente in Johannesburg waar die tendens nogal sterk aan die toeneem is.

Sekere kenners skryf, “It is not that people are leaving the church, they are just not going to the church.  They are indifferent.”  Hulle is onbetrokke en dit maak nie saak vir hulle nie.  Ek het self vir my doktorale studie gesels met mense wat meer as 12 maande laas in die kerk was, hulself nog gesien het as kerklidmate maar net nie meer gegaan het nie.  Rapport sê 89% van die mense onder 30 jaar sê dat hulle glo in God maar net 25% gaan kerk toe so nou en dan.  Net 10% sê hulle kom ten minste1 keer in ‘n maand in die kerk.  Sommige teoloë voel ook dat die gestruktueerde kerk nie ‘n rol het in die samelewing nie.  So mens vra hoekom, en is dit dan enigsins belangrik dat iemand kerk toe gaan as dit dan skynbaar nie iets sê van sy/haar geestelike lewe nie? Wanneer ‘n mens met hulle gesels dan kry mens baie redes hoekom mense voel hulle wil nie meer kerk toe gaan nie.

‘n Baie algemene rede is dat mense voel dat dit nie regtig iets vir hulle beteken nie.

Ek kry nie iets by die kerk nie.  Baie van my vriende voel Sondae is húlle dag. Op hierdie dag ry hulle fiets, doen inkopies, kry bietjie rus in want die lewe is so gejaagd deesdae, jy kan net nie by alles uitkom nie.

Ander is weer baie teleurgesteld in die kerk.  Soos Jan Spies altyd gesê het, het hy nie ‘n probleem met die Here nie maar hy het nogal ‘n probleem met die Here se grondpersoneel hier op aarde.

Hulle voel vies vir mense by die kerk en het seergekry by die kerk.  Nog ‘n rede is, die kerk sit vol skynheiliges. Hulle sê een ding en hulle leef dit nie uit nie.  En baie van hulle praat uit ervaring uit.  Hulle sal bv. sê as iemand in besigheid sê hy is ‘n Christen dan sal hulle juis nie met so persoon besigheid doen nie.  Hulle het nie integriteit nie.

Die kerk het ook nie die vermoë om regtig te help wanneer dit nodig is nie.  As ek regtig in die moeilikheid is kyk ek eerder na sielkundiges of kenners op die gebied.  So, die kerk kan nie my lewe regtig help nie.  Sy het nie die vermoë nie.

As mens bv. kyk na die kruistogte in die donder eeue dan het die kerk al elke sonde moontlik gepleeg en baie van die juis in die naam van die Here.  Daar is selfs mense waarvan ek weet wat voel dat die kerk selfs nadelig vir jou is.  As jy wil groei in jou geloof en in jou verhouding met God moet jy juis die kerk vermy.  Hy voel die kerk het al die antwoorde en hulle beheer alles.  So die kerk sê, dit is reg, dit is nie reg nie. Moenie dit doen nie, doen dit.  Hulle weet alles.  Alles gaan net oor posisie en geld en om ‘n paar ouens te beskerm in hulle posisies.

Nou ek wonder nogal hoe die wêreld of die tydsgees nie ‘n invloed op hulle siening het nie.  Daar is seker baie woorde wat ons kan gebruik oor ons kultuur vandag.  Dinge soos verbruikers georiënteerd, narsisties, net ingestel op hulself. Die hoogste waarde in vandag se kultuur is totale onafhanklikheid.   Ek wonder nogal of daar nie iets daarvan in my vriende is as hulle sê, ek doen wat ek geniet nie.  Ek kyk wat werk vir my.  Ek gaan nie oorboord met my geloof nie.

Ek hou eenvoudige nie van georganiseerde godsdiens nie.  Maar ek het ‘n diep honger in my en ek soek na dinge om die honger te stil.  As ek iets nodig het, dan sal ek daarna soek en ek sal dit kry op verskillende plekke.

Wat sê ek vir my vriende wat so oor die kerk en die lewe dink?

Wel, dit is natuurlik moeilik want hoe sal ‘n mens iemand se ervaring van die kerk veral teengaan en sê maar dit is nie reg nie.  Ek meen as ‘n restaurant jou slegte diens gegee het, dan het hy dit gedoen en as jy besluit ek gaan nie weer soontoe terug nie, wie kan daarmee stry? Dit is my ervaring.  Maar ek dink ‘n mens moet ook hierna kyk nie net vanuit jou ervaring nie.

Dalk moet ons nie na die kerk van onder af kyk nie maar eerder na die kerk van bo af.  Daar is ook ‘n ander perspektief as net my eie ervaring.  Hoe kyk God na Sy kerk?  Vanoggend wil ek jou neem na ‘n moeilike gedeelte in die Bybel.

Joh. 6:51-56

“Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”  Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”  Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie.  Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.”  AFR83

As jy ‘n gedeelte wil hê waar kommentare verskil van mekaar is dit hierdie gedeelte.

Joh. 6:51  “Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe.”  AFR83

Jesus sê, Ek is die lewende brood.  Jesus bedoel natuurlik dit nie letterlik nie.

Joh. 6:40  “Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê…”

Om te glo – is om te eet.  Jesus sê as jy My kan aanneem en jy kan My inneem in jou lewe.  Dan sal jy die lewe ontdek binne in jou en hierdie lewe is die ewige lewe.  So , Jesus nooi hulle uit om te kom eet. Geestelike voeding wat ons kan kry deur Hom te eet of dan in Hom te glo.

Dan sê Jesus.  Ek is die brood maar ek sal vir julle ook brood gee.  Joh. 6:51  “En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.”  AFR53

Alles draai om die woordjie vlees.  Ek gaan dit vir julle gee en wat Ek gee is my vlees.

Die vertaling wat ons vroeër gelees het sê, “My liggaam.”

Die woordjie wat ons daar het vir vlees in die Grieks is:  Sarx – dit is liggaam.

Jesus sê, Ek gaan vir julle my Liggaam gee.  En dit gaan lewe in die wêreld inbring.

Nou as die Bybel praat van die liggaam van Christus of “Body of Christ” kan dit 3 dinge beteken:

  1. Die historiese fisiese liggaam van Jesus.
  2. Dit kan beteken die nagmaal.  Onthou toe Jesus die nagmaal ingestel het, het Jesus vir hulle gesê, dit is My liggaam.  Eet dit.  Drink dit.
  3. Sy kerk.  Dit is My liggaam. ” This is My body.”

 

So, ons kan sê dat hierdie na die nagmaal verwys.  As ek glo in Christus en die nagmaal gebruik en vier, dan kan ons die lewe kry daardeur.  Maar dit kan ook beteken dat Hy hier verwys na die kerk van Jesus Christus.  Persoonlik dink ek dit is waarna Jesus verwys want, dit is nie sy fisiese liggaam nie.

Dit kan ook nie net die nagmaal wees nie want hierdie mense was baie ontsteld oor Jesus se woorde.  Dit wat hier gebeur het is:  Die mense volg Jesus, hulle wou Hom koning maak.  Daar is ‘n groot skare, een preek en feitlik almal loop weg en net so paar dissipels bly oor.

Wat was dit wat hulle so ontstel het?

Dit was hierdie idee dat Jesus gesê het, julle sal dit nou moet eet deur My liggaam, die kerk.  M.a.w. die pad na God toe is nie ‘n individuele reis nie.  Jy doen dit deur ander mense.  Dit kom ook na jou toe deur ander mense.  En hierdie pad wat jy gaan stap, stap jy saam met ander feilbare mense.  Dit is wat dit beteken om ‘n liggaam te wees.  Jy gaan met My te doen kry deur My liggaam.

Die kerk is…  1. Sy liggaam

Ek wil jou terugvat na jou eie lewe toe.  Hoe het God na jou toe gekom?  As jy vanoggend hier sit en jy het ‘n verhouding met Jesus Christus. ‘n Lewendige hoop dat Jesus leef.  En Hy werk in jou lewe.

Vraag:  Hoe het dit na jou toe gekom?

Kyk meeste van ons het iemand gehad wat jou pad gekruis het en getuig het.  Ek het so vriend gehad wat saam my tennis gespeel het op skool.  Hy het my genooi om saam hom kerk toe te gaan.  Daar aangekom, het die pastoor alles van my af geweet.  Hy het NET vir MY gepreek.  Ek het die Heilige Gees so tasbaar ervaar dat ek myself sommer die tweede keer wat ek daar was laat doop het omdat ek gevoel het iets het in my lewe gebeur.

Ek het die Here so tasbaar ervaar in die diens dat dit feitlik ‘n hele ketting van gebeure in my lewe aan die gang gesit het.  Ek onthou hoe daar so honger in my was dat ek enigiets wat my kant toe gekom het in die vorm van kursusse, Bybelskool, geleenthede om te groei verslind het.  Die Here het na my toe gekom, deur die kerk.

Ek ontmoet ander gelowiges daar.  Baie van hulle het ‘n groot rol in my lewe gespeel om my die mens te maak wat ek vandag is.  Ek het ook ontdek dat hulle foute het en uitdagings het.  Maar meeste van hulle was met hulle foute deur die Here gebruik.  Wat ek ook baie gou ontdek het, is hierdie reis, is nie ‘n individuele reis nie.

Toe Jesus sy dissipels roep en sê, kom.  Wat is die eerste ding wat hulle besef het, ek is nie alleen nie.  Die ander ouens lyk maar bietjie suspect maar hulle saam my op ‘n reis.  Jesus leer hulle – julle verhouding met My, is ‘n verhouding met mekaar ook.

Toe Saul die kerk vervolg.  Toe kry hy ‘n visioen en die Here sê vir hom:

Hand. 9:4  “…waarom vervolg jy my?”

Vervolg Saul Jesus self?  Nee, hy vervolg mense wat Jesus se kerk was op daardie stadium.  En tog sê die Here vir Saul op daardie stadium:  Waarom vervolg jy My?  Wat sê die Here vir hom toe?  Gaan nou na reguitstraat toe, daar sal jy gelowiges kry, hulle sal jou leer, hulle sal jou wys.

Hoekom so?  Die Here praat tog direk met hom en roep hom.  Hoekom dan hierdie ander feilbare grondpersoneel van hom gebruik?  Dit is hoe ek dit wil hê sê die Here.  Dit is my liggaam.  Ek wil werk deur my liggaam.

  1. Is gebroke.

Die Griekse woord wat gebruik word is:  SARX.

Wanneer SARX gebruik word dan verwys dit altyd na die gebroke liggaam.  Die liggaam met sintuie, die liggaam wat siek kan raak, die liggaam wat sondig is.  En nou sê Hy, ek wil hê jy moet My SARX eet, My gebroke liggaam eet.  Hierdie liggaam van my, kom na jou toe deur gebroke mense.

En as jy nie kan deel met my liggaam of SARX nie, kan jy ook nie met my deel nie.

“You cannot deal with a perfect, all-loving, all-forgiving and all-understanding God in heaven if you cannot deal with a less than perfect, less than forgiving, less than understanding community here on earth.” Ronald Rolheiser

1 Joh 4:21          “En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.”  AFR83

Die Here sê, as jy met My wil deel, dan moet jy ook met gebrokenheid in mense kan deel.  Ons wil dit tog so anders hê.  Hulle moet alles reg doen, want ek doen alles reg.  Hulle moet perfekte integriteit hê, want ek het mos perfekte integriteit.  Die oomblik wat ek weg van die Here kerk of liggaam wil beweeg, dan sê ek dat ek nie met die Here wil ontmoet soos wat Hy gekies het om met gelowiges deur die eeue te ontmoet nie.

As jy mense leer ken, dan sal jy ontnugter raak.  Maar dit is so belangrik.  Dit is deel van die proses.  Anders sê jy, ek wil die pad stap maar ek wil nie SARXdeel van die liggaam wees nie.  En die Here sê maar jy moet anders kan deel van my plan met my kerk vind nie.  As jy ‘n goeie kerk kry wat perfek is.  Moenie deel van hulle word nie want dan gaan hulle nie meer volmaak wees nie.  Dit bestaan nie.

Alle families is disfunksioneel.  Alle persone is nie perfek nie.  Alle instellings het ‘n disfunksionele aspek in hulle.  Elke kerk het ‘n less than perfect aspek in hulle.  Daarom is die prent van Christus met die twee rowers aan die kante seker een van die beelde wat ons kan gebruik vir die kerk.

“How much I must criticize you, my church and yet how much I love you! You have made me suffer more than anyone and yet I owe more to you than to anyone.  I should like to see you destroyed and yet I need your presence.  You have given me much scandal and yet you alone have made me understand holiness. Never in this world have I seen anything more compromised, more false, yet never have I touched anything more pure, more generous or more beautiful. Countless times I have felt like slamming the door of my soul in your face – and yet, every night, I have prayed that I might die in your sure arms! No, I cannot be free of you, for I am one with you, even if not completely you. Then too – where would I go? To build another church? But I could not build one without the same defects, for they are my defects. And again, if I were to build another church it would be my church, not Christ’s church. No. I am old enough. I know better!” ~ Carlo Carretto

  1. ‘n misterie (verborgenheid).

Efes. 5:32“Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.”  AFR53

Dan praat hy van ‘n man en vrou wat een word en hierdie eenheid is ‘n simbool van die eenheid wat tussen Christus en Sy kerk bestaan.  En die eenheid wat nog gaan kom.  Dit is ‘n verborgenheid.  Engels:  “This is a mystery.” Jy kan dit nie volkome verstaan nie.  Maar dit is ‘n realiteit.   Daar is iets van die misterie van God waarmee jy te doen kry wanneer jy met die Kerk te doen kry.

Dink maar aan alles wat in die Kerk fout gegaan het oor die eeue sedert dit ontstaan het met Jesus se koms aarde toe?  Noem dit en die Kerk het die fout gemaak.  Hoe kan die Kerk bly oorleef?  Die Kerk is verban, die Kerk is onderdruk, die Kerk is doodgemaak.  Wat is dit wat die Kerk laat aanhou voortbestaan?

Waar kom hospitale vandaan?  Waar kom universiteite vandaan?  Wanneer het gewone mense begin geletterd raak?  Alles die Kerk.  Wat is dit wat maak dat ten spyte van haar gebrokenheid die Kerk so fenomenale bydrae lewer in die wêreld?   Dit is ‘n misterie.

Dit is hiervoor waarvoor duisende selfs vandag nog bereid is om hulle lewe te gee.  Nie vir ‘n mens nie.  Vir die Kerk, vir God.  Dit is dalk die uitnodiging.  Gaan ek dit aanvaar, gaan ek dit nie aanvaar nie?  Dieselfde met die lewe van Jesus.  Gaan ek dit aanvaar, gaan ek dit nie aanvaar nie?  Die Bybel, gaan ek glo dit is deur feilbare mense geskryf maar tog is dit die Woord van God?

Die Kerk is Sy bruid.  Daar gaan eendag ‘n groot bruilof wees.  Dit is moeilik om dit te glo maar dit is die belofte waaraan elke gelowige vashou.  Dat die Kerk op die ou einde elke mag in hierdie wêreld gaan oorwin.  Die Here sê dit is vir wie Ek gaan kom.  Dit is my Bruid.

Kan jy dit glo?