Hoe lank nog? Week 4: Gister gee hoop vir môre

[powerpress]

Vandag het ons een van die laaste uitnodigings vir ons as gemeente wat in ‘n oorgang is en ook van ons wat in ons lewe op ‘n tussen-in plek is.

Deut. 31:7-8

“Toe het Moses vir Josua geroep. In die teenwoordigheid van die hele Israel het hy vir Josua gesê: “Wees sterk en hou moed! Jy sal hierdie volk die land inlei, die land wat die Here aan hulle voorouers beloof het. Jy sal die land as hulle erfdeel aan hulle gee. Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie.”

Die boek Deuteronomium is vol pynvolle realiteite.

Ons het 2 weke gelede gesê dat die boek begin met die Israeliete wat op die kante van die Jordaanrivier staan en die beloofde land kan sien maar hulle is nog nie daar nie.

Die belofte is daar maar dit is nog nie ‘n realiteit nie.

Dit is amper soos die evangelies, Matteus Markus en Lukas met Jesus en jy los die opstanding van Jesus uit.  Dit is pynvol om so naby te wees en tog is dit nie daar nie.

 

Saam met dit sterf die grootste profeet wat die Israeliete nog gehad het, Moses, wat hulle gelei het vir 40 jaar lank en soveel druk gehad het vir so lang tyd.  ‘n Hartseer einde. Hulle het gewag in die tussen-in plek van hulle reis, die belofte is in hulle sig, hulle sit op die banke van die Jordaan rivier en nou treur hulle die dood van die grootste leier wat hulle nog gehad het. Dit is pynlik eerlik.  In baie opsigte reflekteer dit ons ervaring van die lewe.  Is dit nie?

Vir baie van ons is die lewe nie drome wat in ‘n groot mooi rooi strik toegedraai is met ‘n gelukkige einde nie.  Dit is nie ‘n sepie waar al die konflik en probleme in 30min opgelos word nie.  Nee, daar is harde eerlike realiteite van ‘n lewe wat nie alles uitwerk soos mens gedink het dit sal nie.

 

Ons almal beweeg deur baie hartseer tye en verlies van verskeie maniere.

Drome wat weggeraak het.  Maniere wat gevind moet word om te ‘cope’.

Alhoewel Deuteronomium sleg eindig is die boodskap nie net dat ons moet leer om te ‘cope’ met moeilike omstandighede in ons lewe nie.

Daar is ‘n oproep vir iets veel groter:  HOOP.

En die HOOP waarvan ons praat is nie die perfekte uitwerk van al ons begeertes en omstandighede nie.  Die oproep vir HOOP is om te glo dat GOD MET ONS IS!

 

T.s.v. moeilike tye word ons uitgedaag vir iets veel groter:  God is met ons!  Moses

Deut. 31:8 “Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie.”  NLV

Dit is ‘n baie vreemde boldness en vrymoedigheid van iemand wat binnekort gaan sterf.

Moenie bang of mismoedig wees nie, die Here is by jou!

 

Die Here belowe sy teenwoordigheid t.m.v. ons pyn

Ek moet sê dat dit vir mens so bietjie soos ‘n agterdeur voel as mens die belofte hoor.

Dit voel vir ons so amper of die Here nie nou belangstel om te help nie en nou gee Hy maar hierdie belofte vir ons.

Ek het in moeilike tye van my lewe al dikwels gedink:

“Here, dit is baie gaaf van U om u teenwoordigheid te offer maar U teenwoordigheid gaan nie my probleem oplos nie.  Ek het ‘n beter idee: Hoekom doen U nie wat u kan doen om die towerstaffie te swaai en hierdie moeilike goed te laat verdwyn nie.”

Ek sou hierdie belofte eerder partykeer wou laat verby gaan, want dit lyk nie of dit veel sal help nie.  Selfs Jesus kom aan die einde van sy lewe hier op aarde en dit lyk of Hy ‘n bladsy uit Deut. aanhaal.

Matt. 28:20         “En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die

wêreldgeskiedenis.”  NLV

Waar is die drome wat waar word?  Dit is nie wat Hy belowe nie.  In plaas daarvan belowe Hy sy teenwoordigheid.

Die probleem wat ek gehad al gehad het is dat ek God se teenwoordigheid op ‘n abstrakte manier bedink.  Dit is iets in die lug of iets wat jy kan voel of ervaar.

Maar ek het al die fout gemaak op die tasbare effek van God se teenwoordigheid te onderskat.

 

Daar is iets wat my bybly wanneer ek al mense wat terminaal siek is besoek het.

Met my eie ma wat gesterf het aan kanker het ek dieselfde ervaring gehad.

Daar kom ‘n stadium wat hulle geen ander begeerte het as om net nog ‘n oomblik saam met jou te wees nie.  Daar is nie ‘n begeerte vir probleme wat opgelos moet word of omstandighede wat moet verbeter of dinge wat reggemaak moet word nie.

Al wat belangrik is wanneer ons deur pyn of hartseer gaan is dat iemand by ons is.

Dat ons die ervaring en die gevoel het, ek is nie alleen hier nie.

Al werk dinge nie uit nie, dit gaan okay wees.  Ek is nie alleen hier nie.

 

Niks wat gedoen of gesê kan of moet word nie – net om daar te wees.

Die krag van God se teenwoordigheid is nie iets wat jy kan uitdruk of beskryf aan iemand nie.  Dit is iets wat enige verduideliking verbygaan.

Dit is soos om na ‘n stuk musiek te luister of na ‘n kunswerk te kyk wat jou asem wegslaan en dan te vra beskryf wat jy nou gesien, gehoor of ervaar het.

God met ons, het die krag om enige twyfel, donker of moedeloosheid te oorweldig.

Immanuel – God met ons – dit is die hart van die Evangelie.

Jesus wat gekom het om saam met ons te wees in die stof, die modder, die moeilike realiteite van die lewe.

En hierdie belofte word herhaal in die lewe, die dood en die opstanding van Jesus.

 

In die tussen-in tyd van ons lewe wanneer ons HOOP soek is die uitnodiging aan ons om te bid vir Immanuel – God met ons.

Bid dat Hy jou iets sal gee van Sy teenwoordigheid.

En sy teenwoordigheid kom op soveel verskillende maniere:

Soms is Hy by ons – deur die gemeenskap van ander gelowiges wat om ons is.

Soms is dit in die saamwees, in die mense wat een van gees is, in die omgee en liefde wat ons ervaar wat God Immanuel vir ons word.

Soms is Hy Immanuel deur musiek.  Deur dit te luister of dalk saam met ander te sing.

 

Soms is Hy by ons deur gebed.  Dat wanneer ek alleen met Hom is en met Hom praat dat ervaar ek iets van sy teenwoordigheid wat my weer HOOP gee.

Soms is dit deur wat ek sien in die wêreld of die natuur dat ek weer HOOP kry dat ek nie alleen is nie, dat Hy steeds hierdie wêreld in die palm van Sy hand hou.

Soms is dit dat ek net gaan slaap en môre wakker word en die sonsopkoms sien en dink Sy genade is nuut elke môre.  Sy genade vir my.

 

Die volgende boek in die Ou Testament is Josua.  Deuteronomium sluit af soos met ‘n Paas-Vrydag op ‘n moeilike, pynvolle en hartseer plek.  So begin Josua met hoop soos ‘n Opstanding Sondag met die volgende woorde:

Jos. 1:5-6 “Soos Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees. Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek sal jou nooit los nie.  “Wees sterk en dapper. Jy is die een wat hierdie volk moet lei om die land in besit te neem. Ek het dit met ’n eed aan hulle voorouers beloof.”  NLV

Weereens ‘n belofte:  ‘n Belofte dat Hy saam met jou is.

Ek wil afsluit deur jou te vra of jy hierdie 2 verse sal lees asof hulle vir jou geskryf is.

Kom ons lees dit saam…

GEBED

 

So bietjie verder in Josua 4 lees ons die gedeelte waarop ons hierdie klippe voor in die kerk baseer.  Hulle staan letterlik op die wal van die rivier voordat hulle deur dit trek.

Josua 4:5-7       “Hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan. Elkeen moet ’n klip op sy skouer tel sodat daar vir elke stam een is. Ons sal daarmee ’n gedenkteken bou. Julle kinders sal julle in die toekoms vra: ‘Waaraan herinner hierdie klippe julle?’ Julle moet dan vir hulle vertel: ‘Die water van die Jordaan is afgesny toe die ark van die verbond van die Here deur die Jordaan gegaan het.’ Hierdie klippe sal die Israeliete altyd daaraan herinner.”

En die Here se voorsiening het opgedaag.

Hulle mag nooit daarvan vergeet het nie.

Hoe lank nog? Week 3: Onthou om te onthou

[powerpress]

Goeie môre vriende

Wat ’n voorreg om vanoggend weer saam met julle te kuier, maar ook saam met julle te leer oor hoe om die lewe beter te doen.

Ons is besig in ons reeks Hoe lank nog? En verlede week het Braam met ons gesels oor Deuteronomium en ook dat dit ’n boek is van transie. Van gaan van een plek na ’n ander plek maar die volk is op pad nè. Hulle is nie hier nie Egipte maar ook nie daar nie Kanaän. Hulle sien al die beloofde land, hulle is nie meer in die wilderness besig om net rond te trek nie hulle sien al die land maar hulle is nog nie daar nie.

Dis soos as jy op pad is na Hartenbos en jy oor daai built gaan na George en jy die see so mooi sien en daar in die afstand sien jy Mosselbaai Hartenbos. Dis daar jy sien dit jy is opgewonde die reis is amper verby maar jy is nog nie daar nie.

En die volk is so hulle sien die land wat oorloop van melk en heuning maar hulle proe nog nie die melk en heuning nie. Hulle lewe nog in daai tussen in gedeelte. Ons as gemeente is in daai proses ons sien die gebou maar ons kan nog nie intrek nie. En dalk is jy in daai tussenin gedeelte met jou werk, of jou finansies jy is amper uit daai diep skuld uit maar jy is nog nie, jou huwelik of gebroke verhoudings wat herstel word maar nog nie heeltemal is nie. Afskeid van ’n geliefde en die proses om deur dit te werk.

En Deuteronomium leer ons dat ons nog steeds moet lewe selfs in die tussenin gedeeltes van die lewe. Vandag gaan ons bietjie kyk hoe lewe mens in die tussenin gedeeltes.

Nou die boek van Deuteronomium is ’n boek wat eintlik baie herhaal. Dit herhaal alles wat in die vorige vier boeke gesê is. Mosie (of vir julle Moses of oom Moses) is besig om die hele tyd stories en wette wat in vorige boeke geskryf is oor en oor met die volk te deel.

Dan in hoofstuk 5 kom Moses en hy roep almal by mekaar. 1 Moses het die hele volk Israel bymekaargeroep en gesê: “Luister baie goed na die voorskrifte en bepalings wat ek vandag aan julle gee. Leer dit en maak seker julle is gehoorsaam daaraan!

2 “Toe ons by Sinaiberg was, het die Here ons God ’n verbond met ons gesluit. 3 Die Here het die verbond nie net met ons voorouers gesluit nie, maar met almal van ons wat vandag hier is en nog lewe. 4 Die Here het persoonlik uit die vuur met ons op die berg gepraat. 5 Ek het as ’n bemiddelaar tussen julle en die Here gestaan, want julle was bang vir die vuur en wou nie teen die berg uitklim nie. Hy het met my gepraat en ek het sy woorde weer aan julle oorgedra. Dit is wat Hy gesê het: 6 “‘Ek is die Here julle God wat julle uit die slawerny van Egipte gered het. 7 “‘Moenie ander gode naas My aanbid nie.

So hy begin om vir hulle bietjie geskiedenis te gee van waar dit waaroor hy gaan chat vandaan kom en dan deel hy die 10 gebooie met hulle niks nuut nie en gesels hy oor die Sabat en in vers 12 gesels Mosie oor die Sabat en hoe dit moet gehou word en dan in vers 15 so in die middel van die 10 gebooie is daar hierdie een vers wat alles verander.

15 Onthou dat jy vroeër slawe in Egipte was en dat die Here jou God jou met groot krag en magtige dade daaruit gebring het. Dit is waarom die Here jou God jou beveel om die Sabbatdag te vier.

Onthou daai woord verander alles. Ons het gesê Deuteronomium is ’n herhaling van die vorige 4 boeke behalwe die woord. Julle sien in die vorige 4 Boeke saam word die woord 12 keer gebruik en elke keer is dit dat God onthou sy oor een koms met die volk, maar hier in Deuteronomium word die woord meer as 40 keer gebruik en dis elke keer dat die volk moet onthou hoe getrou God was in die verlede, Onthou wat God vir jou gedoen het Onthou wie God is.

So wat moet ek en jy doen wanneer ons in daai tussenin tyd is, ons moet onthou wie God is en wat hy al vir ons gedoen het in die verlede.

Hoekom want onthou gee ons identiteit.

Wanneer ek en jy in die tussenin tyd is, kan ons baie keer voel maar ons weet nie wie ons is nie. Ons kan baie vinnig twyfel in ons eie identiteit. Ons weet wie ons was maar nie wie ons gaan wees of kan wees nie. Dis belangrik om te onthou want ons verlede vorm ons. Ons verlede leer ons wie of wat ons nie wil wees nie, maar ook wat ons tot in staat is om te oorkom.

Dis interessant dat Moses die onthou vers doen net na Sabat. Ek vermoed dis omdat dit is waaroor Sabat gaan. In die Joodse gebruik praat hulle van die Sabat. Nou die Sabat is in hulle gebruik van Vrydagaand 7 uur tot Saterdagaand 7 uur. In daai 24 uur is Pa by die huis en die gesin is saam. Hulle eet saam om die tafel en hulle deel die stories van hulle voorvaders. Hulle celebrate mekaar. Bid vir mekaar moedig mekaar aan. Hulle gaan saam kerk toe as ‘’n gesin. Die kos is kla gemaak voor sabat begin daar is geen tegnologie nie. Fone is weg laptop is af geen T.V nie niks hullenet-net saam. En daarin kry hulle hul identiteit en weet hulle waar hulle vandaan kom en waarna toe hulle in staat is.

Ek onthou hoe my oupa my op Sondae rondgery het en dan het ons na al die huise en ontwikkelings gaan kyk in J-bay en dan het hy my stories vertel oor die Rootmans. Ek sal nooit vergeet nie ek was eenkeer in die moeilikheid en bang ’n oom het in my vasgery en hy het gesê ek het in hom vasgery en ek moet vir alles betaal. My oupa het my so gekyk en gesê moet nie worry nie, wat die ou nie weet nie is ons is Rooties en ’n Rootie is ’n Arend ons vlieg hoog bo ons is nie hoenders wat skrop op die grond nie en jy mors nie met ’n arend nie.

Julle jong klomp luister mooi, daar word altyd gesê julle is die toekoms van die kerk en julle is die toekoms van ons land en dit is baie waar maar ek wil julle aanmoedig gaan sit by die voete van ons ouer generasie en luister na hulle stories oor God se getrouheid, Sy voorsiening asook Sy vertroosting want deur hulle ondervinding en wysheid wat ons en veral julle jong klomp leer wie julle is en tot wat julle in staat is.

Nog ’n rede om te onthou is want dit gee ons hoop.

Vriende ons gedagtes het die vermoë om ons te help om hoop te sien en te skep. Deur te onthou hoe goed en getrou God vir jou was in die verlede help ons om moed te skep en te glo en vertrou dat die toekoms ook beter sal wees.

Die rede hoekom hierdie klippe hier voorlê en ons almal aanmoedig bring jou klip as die Here vir jou ’n wonderwerk gedoen het bring jou klip sit dit hier neer is want in hierdie tussenin tydperk waar ons as gemeente nou is met die bou proses en die vyand vir ons leuens wil vertel of ons mismoedig wil maak dan kyk ons na die klippe en ons onthou hoe getrou God was die laaste 2 jaar, ons onthou dat Hy gesê het Hy bou sy kerk en hy nooi my en jou om deel van die wonderwerk te wees, Hy sal die brood en vissies wat ek en jy in sy hand plaas vermeerder en soos julle in die bulletin sien is Hy steeds besig om wonderwerk op wonderwerk te doen en getrou te wees.

Vriende die Here is vol van die gedagte dat ons moet onthou. Al die feeste was gehou sodat die volk moet onthou, elke keer as ons nagmaal hou is dit sodat ek en jy kan onthou dat die prys is kla betaal. Paasfees onthou ons van God se groot genade maar ook Sy vrygewigheid. Kersfees onthou ons dat God ons so lief gehad het dat hy Sy enigste seun gegee het as geskenk vir my en jou.

En dis wanneer ek en jy onthou dis wanneer ek en jy stil raak en die Sabat vier wat ons kan onthou nie net wie ons is nie, maar ook in wie se hande ons is en dit gee ons hoop en krag om aan te hou in die tussenin tyd.

Kom ons bid saam.

Hoe lank nog? Week 2: Die moeilikste deel van die reis

[powerpress]

Die moeilikste deel van die reis soos ons verlede week by Steve gehoor het is wanneer die einde net nie nader wil kom nie en jy in so tussen-in fase is.

Wanneer die kinders begin vra – hoe lank nog?  My jongste hou daarvan om te vergroot, so as ons sê, nog 1 uur sê ry, dan sal hy sê, nog ‘n 1000 ure.

Want vir hom voel een uur soos nog ‘n 1000 ure.

Ek en jy is maar baie dieselfde.  As dit nog 6 maande is wat jy moet uithou vir iets om te gebeur.  Wat sê ons?  Nog ‘n 1000 dae.  Dis die langste wat ek in my lewe gewag het.

As ek dink ons ons kerkbou projek wat nou so 30 maande aan die gang is en ek dink dat dit dalk nog 6 maande gaan vat, dan voel dit vir my ook soos ‘n 1000 maande.  Ek kan net nie meer wag nie.

 

Vandag gaan ons ‘n bietjie na ‘n boek in die Bybel kyk wat nie baie gelees word nie.

Dit kan debatteerbaar een van die minste gelese boeke in die Bybel wees.

Deuteronomium.  Daar is ‘n goeie rede hoekom meeste mense nie Deut. lees nie.

Om dit te verstaan moet jy so bietjie van die O.T. weet.

SKERM: Die O.T. word in twee dele verdeel.  Die 1ste deel is die 5 boeke wat die Pentateug genoem word.  Dan is daar die historiese boeke.  Hierdie maak 17 boeke op.

Daarna het ons die poëtiese boeke of wysheidsboeke (5) en die profetiese boeke. (17).

Nou as jy die Bybel van voor af lees en jy lees Numeri deur en jy begin by Deut. sal jy agterkom dat dit presies dieselfde inligting in die historiese verhaal is.

Jy kan basies Deut. heeltemal skip en aan die einde begin lees en jy sou niks gemis het nie.  Die boek Deut. begin met ‘n klomp Israeliete wat dwaal, hulle is eks-slawe.

Dan in die einde kom hulle op die kante van die Jordaan rivier bymekaar en hulle wag om die Beloofde land in te gaan.

 

Deut. het basies 3 preke van Moses en die stel wette in die middel net vir die pret daarvan.

En dan is die preke nie nuut nie, dit is preke wat al in die vorige boeke was.

Deuteronomium kom van twee woordedeutero beteken “tweede,” en nomos beteken “wet”.  So mens kan maklik dink, daar is niks nuut om te sê nie en dit net los.

So hoekom daarna kyk vandag?

Een van die redes is omdat dit die boek is wat Jesus die meeste aangehaal het toe Hy geleef het.  Sommige geleerdes beweer ook dat Deut. die teologiese middelpunt van die O.T. genoem kan word.  So hoekom het Jesus so baie van Deut. gehou?

 

Deut. 1:1-8

“In hierdie boek word die woorde van Moses weergegee. Hy het al die Israeliete toegespreek in die woestynvlakte oos van die Jordaan, oorkant Suf, in die omgewing van Paran, Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab. 2 Dit vat elf dae om met die Seïrbergpad van Horeb af by Kades-Barnea te kom. 3 Op die eerste van die elfde maand van die veertigste jaar na die uittog uit Egipte het Moses vir die Israeliete alles gesê wat die Here hom oor hulle beveel het. 4 Dit was nadat Moses vir Sihon en Og verslaan het. Koning Sihon van die Amoriete het in Gesbon gewoon, en koning Og van Basan in Astarot by Edreï. 5 Dit was oos van die Jordaan, in Moab, dat Moses die wet begin verduidelik het. Hy het gesê: 6“Die Here ons God het by Horeb vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. 7 Breek nou kamp af en trek die Bergwêreld van die Amoriete in en ook die gebied van die mense wat saam met die Amoriete in die land woon: die Jordaanvallei, die Bergwêreld, die Laeveld, die Suidland en die Kusvlakte. Dit is die hele Kanaän en die Libanon tot by die groot rivier, die Eufraat. 8 Ek stel hierdie land tot julle beskikking. Trek in en neem dit in besit. Ek, die Here, het met ‘n eed beloof om dit aan julle voorvaders Abraham, Isak en Jakob te gee en aan hulle nageslag.’

 

Deuteronomium is die verhaal van mense in oorgang.

Vers 1 begin met Moses wat die Israeliete nie net die wet weer gee nie maar die wet aan hulle interpreteer of verduidelik.  Baie van hulle was nie daar toe die wet die eerste keer vir hulle gegee is nie.

Twee keer word daar gesê, ‘Oos van die Jordaan.”

Dit is baie belangrik – want nou dwaal hulle nie meer in die woestyn rond nie MAAR hulle kan nog nie die beloofde land in besit neem nie.

 

Hulle is geforseer om te WAG.  WAG is nie iets waarmee ons goed is nie.

Hulle is in ‘n oorgang – nog nie waar hulle wil wees nie maar ook nie meer waar hulle vandaan gekom het nie.

Is dit nie waar ons as gemeente is nie?  Is dit nie waar ons baie keer in ons lewe is nie?

Ons het ‘n besluit gemaak maar nou lewe ons met die oorgang, die aanpassing, die tussen-in fase, van daardie besluit voordat dit klaar kom.

Aanpassings is deel van die lewe maar hoe haat ons dit nie?

Die hele boek Deut. is ‘n oorgangsboek.  Dit is ‘n brug tussen die Torah die wet en die begin van die historiese boeke en die profete.

Dit forseer die Israeliete (en ons) om te luister na ‘n LAANGG preek van ‘n baie ou man.

 

Die ‘tussen-in’ is die moeilikste deel van enige reis

Daardie oorgang, die ‘hoe lank nog’ deel is die moeilikste.

Die opgewondenheid en die avontuur is verby en jy is nie meer by die huis nie.

Maar die WAG is uitstekende teelaarde vir groei in ons lewe.

Dit is ‘n plek waar ons moet WAG en LUISTER.  Nie reageer nie en glad nie reaktief nie.

Die ‘tussen-in’ vra ons baie moed om geduldig te wees en die onbekende te verduur.

Aan die een kant kan niks gedoen word nie maar ter selfde tyd is dit nie ‘n plek van rus nie.

 

Dit is ‘n plek van rustelose afwagting.  Die ‘tussen-in’ is ‘n plek waar ons die algemene kinders frustrasie begin ervaar wat vra:  “Are we there yet?”  Hoe lank nog?

Sommige van ons is in beroepe waar ons vra:  ‘Hoe lank nog?’

Hoe lank nog voordat ek kan doen wat ek glo die Here wil hê ek moet doen?

Ander van ons is dalk in ‘n verhouding waar ons vra:  ‘Hoe lank nog?’

Hoe lank nog voordat hierdie ongemak of struikelblokke in ons verhouding opgelos kan word?

 

Ek onthou om my vorige gemeente hoe ek baie gefrustreerd begin raak het en ervaar het dat die Here iets nuuts en anders vir my het.  Maar daardie wag, die tyd wat ek moes vasbyt, moes verduur, wat net ‘n paar maande was, was die langste deel van my bediening.  Toe Vanessa vir meer as 2 jaar weer begin werk soek nadat sy vir 5 jaar by die kinders was.  Dit was die langste 2 jaar van ons lewe.

Dit is nie pret nie – maar dit is ‘n normale deel van die lewe in geloof.  Dit is in daardie ‘tussen-in’ tye van ons lewe wat ons geloof groei.

Dit is wanneer ons meer geestelik volwasse raak as in die gemaksone wat ons so geniet.

 

 

Ek weet baie van julle ervaar ‘n ‘tussen-in’ tyd in julle lewe op die stadium.

Die drome is daar vêr op die horison en dit voel of hulle nooit nader kom nie.

Die plek waar jy vandaan gekom het en die slawerny is gou vergete.

En die ongemak en die frustrasie van dinge wat nog nie uitwerk nie is amper daagliks daar.

 

Die uitnodiging is:  WAG en LUISTER

Twee dinge waarmee ons nie baie goed is nie.  Wel, ten minste nie ek nie.

Om ¾ klaar te wees met ons fase 1 is wonderlik maar dit is nog nie daar nie.

Om te WAG is nie maklik of lekker nie. Ons is te veel ingestel op vinnige kitsbevrediging.

Van die groot katedrale en kerke oor die eeue het sommige tot 150 jaar gevat om te bou.  Dis dalk goed ek leef nie in daardie tyd nie want ek sou dit dalk nie oorleef het nie.

As God sê, VERTROU op MY!  Dan klink dit so cliché-erig.

 

Vertrou op die Here…  Wag op die Here…

Maar dit is in die wag wat ons gereed raak om die beloftes te kan ontvang.

Hoekom het dit die Israeliete 40 jaar geneem om ‘n reis wat net 11 dae kon geneem het?

Nie omdat hulle nie ‘n GPS gehad het nie.  Nie omdat hulle verdwaal het nie.

Omdat HULLE nie gereed was vir die beloofde land nie.

Wat IN JOU gebeur in die ‘tussen-in’ tyd is wat belangrik is.  Nie wat MET jou gebeur nie.

 

As jy vandag in ‘n ‘tussen-in’ tyd is….  Ek nooi jou uit om vir God te vra:  Hoe lank nog?

Maar ek wil jou ook uitnooi om te LUISTER na Sy antwoord.

Want sy antwoord word nie in dae en maande getel nie, maar eerder in verandering wat in jou moet gebeur getel.

En dit is om te hoor wat jy dalk nie wil hoor nie.  Dit is om te vertrou as alles in jou sê – sorg nou vir jouself, jy het nou lank genoeg gewag.

Die uitnodiging in die tussen-in is, WAG en LUISTER.

Hoe lank nog? Week 1: In die Woestyn

[powerpress]

Goeie môre vriende

Wat ’n voorreg om vanoggend weer saam met julle te kuier, maar ook saam met julle te leer vanuit die user manual wat God vir ons gelos het.

Ek vermoed ons almal het al daai donkie oomblikke beleef wat Shrek het van asb. hou net opvra of ons al daar is. Jy sal weet as ons daar is hoe sal jy weet, ons sal ophou ry en uitklim.

Baie keer as ons Hartenbos toe ry dan so van Knysna af dan uit die agterkant van ons kar hoor jy ook is ons al daar? Hoe vêr nog? Hoe lank is 120 km in tyd. Ok is ’n uur al verby.

En ek vermoed dat baie keer is dit nie net wanneer ons travel wat ons daai onrustige of ongeduldige gevoel het nie nè?

Soms is ons in daai woestyn oomblike en ons raak ongeduldig.

  • Skool kinders wil net eksamen en skool verby he dat hulle kan groot wees,
  • mammas en pappas wil he vakansie moet kom dat hulle ook net bietjie kan rus en nie so rond moet ry agter nie bloesels aan nie.
  • By die werk wil ons soms net he daai deal moet nou happen of daai promotion moet gebeur.
  • In jou huwelik wil jy net hê dat dinge weer moet terugkeer soos dit was, waar liefde geseëvier het julle by mekaar wou wees. Waar julle man en vrou was en nie soos nou net kennisse of goeie vriende nie.
  • Van ons sit in hierdie donker diep gat en jy wil vra Here hoe lank moet ek nog steeds so sukkel hoe lank gaan ek nog steeds met hierdie seer of teleurstelling moet saamleef.
  • As gemeente is ons in die posisie met ons bou projek waar maklik kan of wil vra maar Here hoe lank nog, of Here hoekom nog so lank?

Nou vandag gaan ons by die volk God se volk in check in hulle woestyn oomblik.

Nou vinnig om almal op dieselfde bladsy te bring. Die volk is in Egipte en hulle is slawe dan moan hulle en kla en smeek God dat Hy hulle sal red. God stuur dan ’n ou met die naam ……………. Moses of ek en hy is tight so ek noem hom Mosie. Hy wou nie die job he nie. Maar ok hy vat toe die job en God sê vir hom ek het gehoor hoe my mense kla en ween ek gaan hulle uit slawerny uitvat na die beloofde land.

Eks 3:8 Daarom het Ek afgekom om hulle van die Egiptenaars te bevry en hulle weg te lei uit Egipte na hulle eie mooi, groot land. Dit is ’n land met oorgenoeg kos. Die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete bly nou daar.

Nou vriende dit klink soos ok vinnige stappie uit een land in beloofde land. Dit klink nie na ’n lang tyd nie, dit klink soos ok avontuur, dit gaan lekker wees ons gaan see toe tiepe trippy.

Nou ons gaan in check by die volk en lees hoe dit gaan daar op hulle adventure. Ons moet 2 goed besef hulle kom uit land Egipte waar hulle slawe was maar hulle het genoeg gehad om te eet. Dinge het gegroei daar soos jy nie kan glo nie en hulle is op pad na Kanaän toe ’n plek wat ook beken gestaan het as die plek wat oorloop van ………… Melk en Heuning.

Maar hulle is nie hier nie Egipte maar ook nie daar nie Kanaan nie hulle is in die middel. Hulle is op pad. Hulle is in die woestyn.

Wat het hulle geëet in die woestyn. Manna wat beteken “wat is dit” julle sien God doen ’n wonderwerk en elke oggend as die volk op gestaan het, was daar hierdie wit flokkies op grond en die volk sou dit optel en water bysit en dan ’n tiepe mash maak of selfs tiepe koekbak daarmee.

En hulle het dit elke dag geëet vir Ontbyt middagete en aandete en die volgende dag vir Ontbyt middagete en aandete en die volgende dag vir Ontbyt middagete en aandete. En so het dit aangehou.

Nou as ons begin lees dan is die volk nou al ± 2 jaar in die woestyn op pad na Melk en Heuning toe. 730 dae van Manna eet 3 keer ’n dag. 2190 borde manna.

Numeri 11:4-6 (lees in huilende/moan stem) 4’n Spul skobbejakke wat saamgetrek het, het ’n onbedaarlike lus vir vleis gekry. Die Israeliete het toe ook begin kerm: “Waar kan ons tog vleis kry? Ons onthou nog hoe ons net soveel vis kon eet soos ons wou in Egipte. Daar was komkommers en waatlemoene en prei en uie en knoffel. Maar nou stik ons aan die manna waarteen ons elke dag moet vaskyk!”

Nou sonder die agtergrond van hoe lank hulle al manna eet kan ons vinnig hulle oordeel nè en sê die ondankbare goed. God red hulle uit slawerny en hulle verlang terug, Hy doen hierdie wonderwerk elke oggend dat manna uit lug val en steeds is hulle ondankbaar.

Maar probeer jy elke dag oggend middag en aand selfde kos eet en kyk hoe jy voel na ’n week. Ons het eenkeer net groete geëet (hoender) vir soos 17dae middag en aand ete. Lank daarna wou ek nie ’n stukkie hoender sien nie. Nou nog is as ek hoor hoender vir aandete dan voel ek wat het ek verkeerd gedoen.

Vriende ons sal wonder wat groei in die woestyn. Wel, iets wat maklik groei in die woestyn is klagtes en ondankbaarheid. Ons sien dit in die volk hulle kla en ween en as ek en jy in daai posisie was, sou ons dalk ook begin kla het. Kla is nie die probleem nie dis hoeons kla en wat ons sê en doen as ons kla wat die probleem is. Julle sien die volk kom en begin teen God praat hulle is soos dit was beter in Egipte toe ons slawe was. Eintlik dit was beter voor U Here kom interfere het. Ons was beter af sonder U. Julle sien ons moet versigtig wees dat ons hart in hierdie tyd nie vêr van God af raak nie, ons moet versigtig wees om nie weg van God te hardloop nie en bitter te raak nie.

In die Woestyn groei Emosionele uitbranding. Moses kom en in Numeri. 4:11Moses vra toe vir die Here: “Waarom het U hierdie moeilikheid oor u dienaar, gebring? Waarom het U my met hierdie volk opgesaal? 12Is ek hierdie volk se pa? Het ek hulle gemaak dat U vir my sê: ‘Dra hulle in jou arms soos ’n oppasser ’n suigeling ronddra. Vat hulle na die land wat Ek vir hulle voorsate beloof het.’ 13Waar gaan ek vleis kry vir hierdie hele volk? Hulle kerm by my en hulle vra: ‘Gee vir ons vleis om te eet.’ 14“Ek kan nie alleen hierdie hele volk versorg nie. Hulle is te veel vir my.15 As U dit van my verwag, maak my dan asseblief maar liewer dood as wat ek na hierdie ellende moet sit en kyk.”

Hierdie is seker een van die eerlikste gebede wat jy sal hoor. En dis die ontsagwekkend ding van God Hy is ok as ek en jy eerlike gebede bid. Julle sien anders as die volk hardloop Moses na God toe.

Ok dalk nie met die beste versoek nie. Here as jy my lief het maak my dood. Kyk as jy weet jy is op jou einde as jy bid en sê Here as jy my lief het maak my liewer dood.

En vandag is daar dalk van julle wat so voel. Jy voel dis net te rof ek kan nie meer dit vat nie ek kan dit nie meer doen nie. Ek sien nie meer kans nie. Ek kan nie meer so aangaan nie. Hierdie ding is net te swaar vir my om te dra. Here hoe lank nog?

En die wonderlik ding is hoe God Moses ontmoet en die rede hoekom dit so wonderlik is want dit bring vir my hoop dat God ons ook so gaan ontmoet as ons op emosionele uitbranding staan.

Numeri  4:16-17 Die Here sê toe vir Moses: “Maak uit die ouer mans van Israel vir my 70 mans bymekaar van wie jy weet dat hulle die oudstes en die leiers is. Vat hulle saam na die tabernakel toe en wag daar saam met hulle. Ek sal afkom en met jou kom praat. Ek sal my Gees wat in jou woon ook in hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou verantwoordelik wees vir die volk. Jy sal dit nie meer alleen hoef te dra nie.

Ek love die laaste sin Jy hoef dit nie meer alleen te dra nie. God kom en gebruik Moses se eie woorde. Moses se dis te swaar ek kan dit nie meer dra nie en God kom en Hy is soos jy hoef dit nie meer alleen te dra nie.

Vriende in die Woestyn groei nie net klagtes en uitbranding nie, maar God se voorsiening groei ook in die woestyn.

God kom en maak ’n klomp mini Mosese nè want dis wat hy nodig het om hom te help die las dra.

Wanneer ek dit lees en hoor dan sien ek hoop. Wat as God nog steeds dit doen dames en here. Wat as God se hart nog steeds vir my en jou is. Wat as God nog steeds genadig en vrygewig is. En wat as ek en jy vandag kom en ons hande oopmaak en daai las wat ons so aan vashou, daai haat wat ons so aan vashou, daai seer wat ons so aan vashou, wat as ons dit laat gaan en ons hande oopmaak en soos ons dit laat gaan ons God se voorsiening ervaar. Dalk vanoggend moet jy jou hande oopmaak en laat gaan dit wat jy ook al vashou en vanoggend hou jou hande oop en aanvaar God se voorsiening.

Ek weet nie hoe daai voorsiening vir jou lyk vanoggend nie. Dalk is dit werk of ’n beter werk. Dalk is dit die kapasiteit om te vergenoegd te wees om met minder oor die weg te kom vir nou, dalk is dit die vermoë om nog een C.V uit te stuur of nog een oproep te maak. Vanoggend maak jy dalk jou hande oop en sê Here ek weet nie hoe ek in die depressie verval het nie en soos jy jou hand oopmaak en God vertrou vir sy voorsiening vriende dalk haal hy jou uit daai depressie uit of dalk voorsien hy net genoeg krag vir jou elke dag om deur die depressie te werk.

Vriende ek weet nie hoe jou voorsiening lyk nie, maar ek weet dat God wil voorsien want dis wat hy doen. Hy voorsien sy Seun om die prys vir ons sonde te betaal, Hy voor sien die wolk en vuurkolom vir die volk, Hy is besig om met ons Brood en vissie wonderwerk na wonderwerk te doen sodat ons bou projek voortgaan. Dalk sit jy hier vanoggend en wonder hoe het die bees geweet wat in my lewe aangaan. Vriende die bees het nie, maar God het en dalk is dit vanoggend sy voorsiening, want jy het nodig gehad om te hoor dat jy moet jou hande oopmaak en laat gaan en toe laat dat God kan voorsien.

Vriende ek weet nie waar jy vanoggend is nie. Dalk is jy vanoggend by kla en ondankbaar wees, of dalk is jy waar Moses was aan die einde van jou tou of baie baie naby daaraan en jy weet net nie meer watse kant toe nie, jy voel net dat jy kan nie meer nie en wil net opgee.

Vriende wil jy nie saam met my vir ’n oomblik stil raak nie. Wil jy nie daar waar jy sit net eerlik vanoggend vir God sê waar jy is emosioneel nie. Wil jy nie soos jy vir God dit sê nie jou hande oopmaak nie en vir God vra om vir jou te voorsien nie en jou te help om Hom te vertrou dat Hy die beste vir jou wil hê nie.

Kom ons vat ’n oomblik nou. Sluit af met Gebed.