Nagmaal – wat beteken dit vir ons?

[powerpress]

‘n Jong getroude bruid besluit net na hulle honeymoon om vir haar man sy geliefkoosde gereg te maak:  Skaapbout.

Sy kry die bout en sny toe die kante van die bout af voordat sy dit in die oond sit.

Terwyl sy dit doen vra die man:  Wat maak jy?  Almal weet die kante is die lekkerste deel van die skaapbout.

Moenie laf wees nie, almal weet as jy dit afsny en in die pot sit is dit die lekkerste.

My ma het dit so gedoen en haar ma.  Almal doen dit.

 

Niemand doen dit nie, antwoord hy.  En hy besef hierdie is hulle eerste ‘fight’ en hy moet die een wen anders gaan hy altyd verloor.

Hy bel sy skoonma en vra, ma hoekom sny julle die kante van die skaapbout af?

Wel, ek is nie regtig seker nie, ek het maar gedoen wat my ma gedoen het.

Desperaat om die fight te wen bel hy vir ouma en vra dieselfde vraag.

Jy sien, sê ouma, my oond waarin ek skaap bout gemaak het was te klein, toe sny ek maar die kante af en sit dit langs dit ander deel anders sou dit nooit in die oond kom nie.

 

Baie keer doen ons dinge vir jare en jare selfs geslagte en ons weet nie eers hoekom ons dit doen nie.

Vandag praat ek oor ‘Nagmaal.’  ‘n Gebruik wat baie van ons aan begin deelneem het nadat ons voorgestel was in die kerk toe ons 17 jaar oud was.

Maar die betekenis het so verlore gegaan dat ek vandag spesifiek daaroor wil praat.

 

Stel jou vir ‘n oomblik voor dat jy een van Jesus se dissipels is wanneer jy die laaste keer saam met Jesus eet.

Na 3 jaar se bediening is hy saam met sy naaste vriende, sy dissipels, Hy’t sy lewe in hulle uitgestort.  Hy’t hulle opgelei en alles gegee wat Hy kon.

Hy kyk na hulle met die wete dat dit die laaste keer is wat hulle saam sal wees.

En Hy spreek die belangrikste woorde wat Hy kon net voordat Hy gevangene geneem is

En Hy doen iets baie, baie spesiaal.  Hoekom?

Om ons te help om te onthou wat Hy binnekort sou doen.

1 Kor. 11:23-25 “Dit het alles die nag gebeur toe Jesus gevang is. ’n Rukkie voor Hy gevang is, het Hy saam met sy getrouste volgelinge geëet. Hy het die brood gevat en vir God daarvoor dankie gesê. Hy breek die groot stuk brood toe in kleiner stukke en deel dit uit. Terwyl Hy dit doen sê Hy: “Dit is my liggaam wat net so gebreek word. Julle sal baie daarby baat. Elke keer wat julle dit eet, moet julle dink aan wat ek alles vir julle gedoen het.”  Boodskap

Jesus het geweet wat met Sy liggaam sou gebeur kort hierna.

Hy sou gegesel word, kaal uitgetrek word en geslaan word dat hulle Hom nie eers sou herken nie.  Sy liggaam sou onherkenbaar mishandel word.

 

1 Kor. 11:24-25 “Toe hulle amper klaar geëet het, vat Jesus die groot beker waarin die wyn gehou is. Toe sê Hy: “Die wyn in hierdie beker staan vir die nuwe ooreenkoms wat God met julle gemaak het omdat my bloed vir julle gevloei het. Drink die wyn en elke keer as julle dit drink, onthou dan wat Ek vir julle gedoen het.” Eet die brood en drink die wyn dus in hierdie gesindheid totdat die Here weer terugkom. As julle dit so doen, is dit so goed soos ’n preek vir almal om te sien wat die dood van die Here vir julle beteken.”  Boodskap

Jesus het geweet Hy sou soveel bloed verloor dat dit Hom sy lewe sou kos.

Die bloed is teken van die vergifnis wat sou kom deur Sy dood.

Maar wat beteken dit vir ons vandag?

 

Nagmaal / communion: afgelei van koinonia; participation, sharing, communion.

Common union.  Gemeenskap.  Deelname.

Nagmaal beteken baie letterlik om deel te neem saam met Jesus in geloof aan Sy kruis, sterwe en opstanding.

Voorbeeld:  Gemeenskaplike ervaring saam met ander.

 

Wanneer jy saam met mense op skool / universiteit / kampe / vakansie was deel jy ‘n gemeenskaplike ervaring saam met hulle.

Julle lag oor sekere dinge, jy maak grappe oor goed wat julle saam gedeel het.

Ook swaarkry wat jy gedeel het met ander mense veroorsaak ‘n band tussen mekaar.

Dit is presies wat die nagmaal moet wees – ‘n gemeenskaplike ervaring saam met ander

Ons deel in dieselfde gebeurtenis saam met miljoene ander Christene reg oor die wêreld

 

1 Cor. 10:16       “Is not the cup of thanksgiving for which we give thanks a participation in the blood of Christ? And is not the bread that we break a participation in the body of Christ?

Participation – deelname aan wat?  Die dood en die opstanding van Jesus.

 

Vandag wanneer ons nagmaal gebruik, deelneem aan ‘n gemeenskaplike ervaring.

Wat moedig die nagmaal ons aan om te doen?

  1. Om na binne te kyk

Om stil te staan en eerlik te kyk wat in jou eie hart aan die gang is.

Baie van ons, as ons werklik eerlik is, het ‘n slegte gesindheid gehad hierdie week.

Miskien baklei vanoggend op pad kerk toe, miskien hier gesit met ‘n kritiese gesindheid.

1 Kor. 11:27-29 “As jy dit op so ’n traak-my-nie-agtige manier doen, is jy amper net soos daardie mense wat Jesus geslaan en gespot het toe Hy gekruisig is. Hulle het nie besef wat die dood van Jesus regtig vir mense beteken nie. Wil jy regtig soos hulle wees? Sekerlik nie. Kyk dan diep in jouself en soek na die redes hoekom jy die nagmaal eet. Toets jou gesindheid voor jy van die brood en die wyn vat. As jy die nagmaal gebruik, maar jy gee nie om vir wat die brood en wyn beteken nie, kan dit ernstige gevolge vir jou hê.”  Boodska

 

Selfgeregtigheid is ‘n baie slegte ding.  Dit word gebore uit hoogmoed.

En hoeveel keer voel ons nie ons het die reg om ‘n slegte gesindheid te hê nie, ons het die reg om te kritiseer nie, ons het die reg om te terug te kry, om te kies wat ons wil.

Dit is nie die gesindheid waarmee Jesus die nagmaal bedien het voor Sy dood nie.

 

Die nagmaal praat eerder van ‘n opgee van regte.  Jesus het sy reg om te leef opgegee.

Sy reg om Homself te verdedig opgegee.  Sy reg om te heers opgegee.

Met die nagmaal moet ons diep na onsself kyk en ons regte opgee en die gesindheid van Christus aanneem wat liefde is.

Die vraag wat ek hier by jou wil los is eenvoudig:

Wat sien jy wanneer jy stil raak en binne jouself kyk?

 

Die antwoord op hierdie vraag gaan bepaal hoe jy vandag aan die nagmaal gaan deelneem.

Bv. As jy weet jou hart word getrek deur sondige dinge dan is die nagmaal vandag vir jou ’n ervaring van vergifnis – om hierdie dinge vandag te bring en te vra vir vergifnis.

Miskien ervaar jy oorvloed in jou lewe en is die nagmaal vandag ’n ervaring van dankbaarheid vir die goeie in jou lewe.

Dalk is jou hart seer vanoggend a.g.v. iets wat gebeur het of besig is om te gebeur – dan is die nagmaal vandag ’n ervaring van Hy is al wat ek vir hierdie oomblik nodig het.

So, kyk na binne want dit bepaal die ervaring wat jy met die nagmaal sal hê vanoggend.

 

  1. Om terug te kyk

‘n Goeie voorbeeld hiervan is ‘n foto album.  Nou ek weet party van ons is uitstekend hiermee en ander is weer baie sleg.

Maar wat is die doel van ‘n foto album?

Om te onthou, om terug te kyk, om ‘n ervaring te onthou.

Wanneer jy deur iemand se fotoalbum blaai dan is daar foto’s wat jy nie verstaan nie.

 

Jy sien ‘n maer outjie wat lyk soos ‘n geraamte.  Jy sien ‘n baba wat lyk soos enige ander baba.  Jy sien ‘n klein fyn meisietjie, en jy wonder of hulle broers en susters het?

Jy sien foto’s van ‘n klomp mense saam en jy hoor later van hulle is al oorlede en weg.

Daar is betekenis daaraan.  En wanneer jy hulle sien besef jy daar is ‘n storie agter dit.

Die konteks bring baie diep betekenis aan die foto’s.

 

Die kanse is goed dat Jesus en sy dissipels ‘n Joodse pasga gevier het toe hulle geëet het.

Waaroor het die pasga gegaan vir die Jode?

Dit het teruggegaan honderde jare toe hulle in Egipte was en die Here besluit het om hulle te verlos uit die hande van die Egiptenare.

Hy het hulle opdrag gegee om die bloed van ‘n perfekte lammetjie te neem en dit aan hulle deurposte te verf.

 

Toe die Doodsengel in die nag gekom het, het hy by die huise verbygegaan wat die bloed aan hulle deure gehad het en die eersgeborenes gedood wat dit nie gehad het nie

So, die Jode het die pasga gevier om te onthou.

Eks. 12:26-27    “As julle kinders sou vra: ‘Wat beteken hierdie verpligting?’ moet julle sê: Dit is ’n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise

oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar.”

 

Hulle moes aan hulle kinders verduidelik wat die pasga beteken.

Netso is dit ouers se verantwoordelikheid om vandag te verduidelik wat die nagmaal beteken.

Wat beteken die nagmaal in die Nuwe Testament?

 

Luk. 22:19-20    “Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.”  Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.”  1983 NAV

 

Die vraag wat ons hier moet vra is:

Watter ervaring of voorsiening van God is vir my spesiaal?

Soos jy jou hart voorberei vir die nagmaal vandag vra jouself af, watter herinnering van God is vir my baie spesiaal?  Die nagmaal spreek van intimiteit en gemeenskap.

Dalk is dit die dag wat Hy jou sonde vergewe het.  Dalk is dit die dag wat Hy jou gesond gemaak het.  Dalk is dit die dag wat Hy voorsien het op ‘n wonderbaarlike manier.

Wat het in jou lewe al gebeur wat net God is?  Niks of niemand anders nie.

Die nagmaal sê:  Onthou dit!

 

  1. Om vorentoe te kyk

1 Kor. 11:26       “Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.”  1983 NAV

Verlede naweek was ek alleen Durban toe om aan die Comrades te gaan deelneem.

Maandagoggend moes ek al 7:30 op die vliegtuig klim maar ek was al net na 6 daar.

Ek was moeg en kon nie wag om by die huis te kom nie.

Toe die vliegtuig land, is ek eerste om op te staan, hoekom weet ek nie, want almal staan stil en niks beweeg nie.  Maar ek staan op en wag.

Hoekom?  Want ek verwag om gou by die huis te wees.

 

So baie mense sê dat hulle gelowiges is maar hulle leef asof hulle nooit dood sal gaan nie.

Hulle maak hulle baie tuis in hierdie lewe en spandeer al hulle tyd en geld op goed in hierdie lewe asof dit vir ewig daar sal wees.

Vir die persoon wat ‘n verhouding met Jesus het is daar ‘n verwagting om saam met Jesus te wees, om Hom van aangesig tot aangesig te sien.  Daar is ‘n afwagting.

Die eerste keer wat Jesus gekom het was dit in die vorm van ‘n dienaar wat gely het.

Wanneer Hy weer kom sal dit in die vorm van ‘n oorwinnede koning wees.

Nagmaal herinner ons – Hy gaan weer kom!

Om Hom te sien sal die mees wonderlikste ding wees wat jy ooit beleef het.

Dit is goed om met ‘n verwagting te leef.

Dalk is jy siek in jou liggaam en jy weet daar sal ‘n dag kom wat jy ‘n nuwe liggaam sal hê.

 

Meeste toegewyde Jode het ‘n begeerte om in Jerusalem pasga te vier.

Baie van hulle kom nooit daar uit nie maar hulle het die gebruik met die pasga om hulle bekers op te lig en te sê, volgende keer in Jerusalem.

Daar is sekere gelowiges wat sê, volgende keer is dit saam met Christus.

Want ons gaan ‘n laaste nagmaal hier op aarde hê en nog een saam met Hom.

Hoe weet ek dit?

 

Mat. 26:29 “Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.”  1983 NAV

 

Jesus het gesê, volgende keer is dit saam met julle.

Die vraag wat ek laastens wil vra:  Waarna sien jy uit saam met God?

Wat sal jy graag wil deel saam met Hom hierdie week?

Wat sal jy graag wil sê vir Hom as jy geweet het dat Hy luister?

Wat sal jy verander indien jy geweet het, Hy verwag jou binnekort by Hom?