Ons Bou 2015 – Ons Bou ‘n lewe van Geloof

[powerpress]

Markus 6:35-44

“Toe dit alreeds laatmiddag begin word, kom sê sy dissipels vir Jesus: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. Stuur die mense weg sodat hulle op die omliggende plase en in die dorpies iets kan gaan koop om te eet.”  Hierop antwoord Jesus: “Gee julle vir hulle kos.”  Hulle sê toe vir Hom: “Dit sal ’n yslike bedrag kos om brood te gaan koop om vir hulle te ete te gee!”  Hy sê toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan vind uit.”  Toe hulle dit vasgestel het, sê hulle: “Vyf brode en twee visse.”  Daarna sê Jesus vir die mense om groepe te vorm en op die groen gras te gaan sit. Hulle het toe in groepe van 100 en 50 gaan sit.  Jesus het die vyf brode en die twee visse gevat, na die hemel toe opgekyk en God gevra om die kos te seën. Toe breek Hy die brood en gee dit vir sy dissipels om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. Hulle het almal geëet totdat hulle genoeg gehad het. Later het hulle twaalf mandjies vol oorskietbrood en -vis opgetel. ’n Volle 5 000 mans het van daardie vyf brode geëet!

 

Hierdie is ‘n interessante verhaal.  Die rede daarvoor is omdat Jesus se optrede so anders is as wat ons ons s’n is.  Indien jy die vooraf gedeeltes lees sal jy sien dat Jesus net voor hierdie geleentheid eintlik ‘n baie slegte en donker tyd beleef het.

Hy was in sy tuisdorp Nasaret – hier was Hy verstom a.g.v. die ongeloof wat die mense gehad het en kon Hy feitlik nie wonderwerke daar verrig nie.  So, Hy was teleurgesteld.

Daarna gaan hulle uit en Jesus stuur sy dissipels uit om te begin bedien.  Hulle leer die mense, dryf duiwels uit en maak siekes gesond.

In hierdie tyd hoor Jesus dat sy vriend en neef Johannes die Doper deur koning Herodus vermoor is omdat hy teen die koning gepreek het.  So Jesus was ook in rou en hartseer.

 

Hulle was so bedrywig met bedieningswerk dat hulle nie daarby uitgekom het om te eet nie.  Maar die skare wat hulle gevolg het wou nie huis toe gaan nie.

Ek en jy sal dalk begin ongeduldig begin raak het maar nie Jesus nie.  Die Skrif sê dat Jesus meegvoel gehad het toe Hy die skare gesien het.  Dit nadat Hy teleurgesteld en hartseer was oor wat die laaste week in sy lewe gebeur het.

 

Dan Jesus se ironiese woorde in Mark 6:37  “Gee julle vir hulle kos.”

Wat is dit?  Is Jesus besig om ‘n grap te maak, is Hy besig om sarkasties te wees?

Interessant nêrens lees ons dat die mense kom vertel het dat hulle honger was nie.  Waarskynlik was dit die dissipels wat honger geraak het.

 

Onthou, die dissipels het nou-net duiwels uitgedryf en siekes gesond gemaak; ek is seker as hulle probeer het om vir hulle kos te gee, sou daar dalk iets gebeur het.

Maar wat is hulle reaksie?  Waarskynlik het Judas en Matteus koppe bymekaar gesit en gedink – as ons vir hierdie menigte kos moet gee, wat gaan dit kos?

Mark. 6:37 “Hulle sê toe vir Hom: “Dit sal ’n yslike bedrag kos om brood te gaan koop om vir hulle te ete te gee!”

 

Vra die regte vrae

Ek dink nie hulle vra die regte vraag nie.  Hulle vraag is, “Moet ons so baie geld spandeer om kos te koop?”  Dalk moes hulle vraag eerder gewees het, “Ons weet nie hoe om vir hulle kos te gee nie, kan U ons wys hoe?”

As Jesus vir ons vra om iets onmoontlik te doen, moet ons reaksie nie wees om vir Hom te vertel hoeveel dit gaan kos nie en dom idee dit is nie.  Ons reaksie moet eerder wees, “Here, ek weet nie hoe om dit te doen nie, sal U my wys?”

 

Toe ons begin het met Ons Bou – elke druppel, het baie van ons geskrik toe ons gehoor het wat dit gaan kos.  Dit het vir ons onmoontlik gelyk.

Maar die regte vraag was nie, Here, hierdie gaan te veel kos, hoe sal ‘n klein groepie soos ons ooit soveel geld kan bymekaar maak nie.

Die regte vraag was vir baie van ons, Here, hierdie gaan U werk wees, ons weet nie hoe U dit gaan doen nie maar as U die opdrag gegee het dan moet ons vra, Here wys ons hoe U dit gaan doen?  Wat wil U hê, ek moet doen?

 

Ons is het dikwels die antwoord op ons eie gebed.  En wat doen ons?

Ons begin met die lys van verskonings hoekom dit nie sal werk nie, hoekom is dit ‘n dom idee is, waar moet ek die gawe of die tools kry om hierdie opdrag uit te voer.

Ons gee vir Jesus al die redes hoekom dit nie kan werk nie.

Ons maak of ALLES van ONS af hang.

Wat kan EK doen? EK het nie genoeg om vir 5000 kos te gee nie.  ONS het nie genoeg om kerk te bou nie.  So dan doen ek maar eerder niks.  Dit is nie geloof nie.

 

Geloof is… om gehoorsaam te wees al verstaan ek dit nie.

Hierdie dissipels moes doen soos Jesus hulle gevra het.  Of daar 5000 was en net 2 vissies en 5 brode, dit was nie die saak nie.  Hulle is nie in beheer nie, Hy is.

My werk is nie om vir Jesus die redes op te noem hoekom dit nie kan werk nie.

Al wat ek moet doen, is om gehoorsaam te wees.  Al verstaan ek dit nie.

 

Mark. 6:38 “Hoeveel brood het julle? Gaan vind uit.”

Dit is amper of Hy nie eers na hulle verskonings geluister het nie.  Hy stuur hulle terug na die skare toe omdat geloof en die bestanddele vir ‘n wonderwerk altyd IN ONS midde is.

Dit is in saad vorm en ons dink dit is niks, want dit is nog nie ‘n oes nie.

Maar Jesus kan nie vermenigvuldig, wat ons nie raaksien nie.

 

Dink jy nie dat daar dalk nie iemand anders was wat kos gehad het nie?

Die dissipels het waarskynlik omgegaan en gesê, ons moet al hierdie mense kos gee, het enigiemand vir ons kos om vir die mense te gee?

En wat het gebeur?  Almal wat iets daar gehad het, het gedink die grootheid van hierdie probleem of uitdaging is té enorm.  En hulle het vasgehou aan wat hulle het.

Hulle het gedink, Omdat ek nie genoeg het nie, gaan ek niks doen nie.

 

Geloof is… om vir Jesus te gee al lyk dit of dit te min gaan wees.

Wie het die bestanddele vir die wonderwerk gegee?  Die seuntjie wat nie eers getel was nie.

In Bybelse tye het hulle net mans getel.  En ons weet daar was 5000 mans.

En God gebruik die seuntjie wat nie eers getel is nie.

 

Mark 6:38b         “Toe hulle dit vasgestel het, sê hulle: “Vyf brode en twee visse.”

En hulle het waarskynlik gesê, kan U nou sien wat ons het, daar is nie genoeg nie.

**       Jy het nie God nodig as dit nog vir jou moontlik is nie.  As hulle genoeg kos bymekaar gemaak het vir die mense, dan het hulle nie Jesus nodig gehad nie.

Met natuurlike oë of logika lyk dit of dit onmoontlik is.  Dan weet ons Hebreërs sê,

Hebr. 11:6 “And without faith it is impossible to please God.”

 

Dan gebeur daar iets wat verbasend is. Jesus sê DANKIE vir dit wat NIE GENOEG is nie.

Mark 6:41 “Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra.”

 

Geloof is… om God te dank vir die bietjie wat ek het.

Amazing, dat wanneer ons voel dat die Here nie vir ons deurkom nie dan begin ons te kla oor die presiese goed wat die bestanddele vir ‘n wonderwerk is.  Dit is nie genoeg nie.

Ons sien nie raak wat ons reeds het nie.   Begin God dank vir die dinge waaroor jy oor kla of selfs wegwens en laat Hy jou ‘nie-genoeg-nie’ verander is ‘meer-as-genoeg’.  Geloof is om te glo, al sien ek dit nie.

 

Die wonderwerk het nie gebeur TOTDAT hulle die brood begin uitdeel het en die brood gebreek het nie.  HULLE moes die eerste stap neem.

Geloof is …om te reageer en die eerste stap te neem

Soos wat die brood gebreek is, so het die wonderwerk gebeur.

Hulle het almal geëet en was tevrede.

Gemeente ons het verlede jaar die eerste tree in geloof gegee.  En vandag staan ons hier 14 maande later en ons het R3.36 miljoen ontvang in bydraes en donasies.

Terwyl ons uitdeel, terwyl Ons Bou, is Jesus besig om ‘n wonderwerk voor ons oë te doen.

 

En dan dink ons dit is waar dit eindig.

Maar Jesus sê vir hulle dat hulle moet optel – dit is wat tussen die wonderwerke gebeur.

Geloof is… om te volhard selfs al voel ons nie so nie.

As jy die gedeelte verder lees dan sal jy sien Jesus stuur hulle vooruit en dan breek daar ‘n storm op die see uit.  En hulle dink dat hulle gaan verdrink.

Jesus gaan om te bid op die berg.  Tot so 3uur in die oggend.  Hulle is besig om van hulle koppe af te raak in die storm.  Hulle wonder waar Jesus is.   Jesus kan saam met jou in die middel van ‘n storm wees en op pad na jou toe, om jou te kom red van die storm, en jy kan Hom nie raaksien nie.

Hulle het nie besef nie – Jesus het vir hulle gevra om die 12 mandjies wat oorgebly het saam hulle in die boot te vat.  Hoekom sou Hy dit doen?

Hoekom hierdie krummels en hierdie visstukke saam hulle vat?

Hy wou hê hulle moes die bewysstukke van die wonderwerke saam met hulle in die storm saamvat want Hy wil hê hulle moet onthou dat dieselfde God wat die wonderwerk net so rukkie gelede gedoen het, is die God wat nou in hierdie storm saam hulle in die boot is.  En Hy sal sal hulle na die ander kant toe neem.

 

God werk elke dag op nuwe maniere

Hulle het Jesus eers nie herken nie.  Hulle het die Jesus geken wat die brode vermeerder het maar hulle het nie die Jesus geken wat op die water geloop het nie.

Ek weet nie watter wonderwerk jy vandag nodig het nie, maar Jesus kom elke dag in ‘n nuwe vorm en op ‘n nuwe manier.  Moet Hom nie in ‘n boks sit, van hoe Hy in die verlede gewerk het nie.  Moenie dink dat Hy altyd dieselfde werk nie.  Moenie ook nie dink dat mense altyd dieselfde is nie.

Jy het nie die Jesus nodig wat brode vermeerder wanneer in die middel van ‘n storm in die see is nie.  Jy het ‘n Jesus nodig wat op water loop.  Ons as ‘n gemeente het ‘n Jesus nodig wat ons sal ontmoet waar ons geloof nou is.

 

Jesus klim in die boot.

En Jesus is teleurgesteld nie omdat hulle nie op die water saam Hom kon loop nie maar omdat hulle nie besef het wie Hy was nie.

Ek wonder hoeveel van ons het al God al gesien wonderwerke doen maar jy het dit nog nie persoonlik gemaak nie.  Dit gebeur met al die ander kerke, dit gebeur met al die ander mense.

Het jy Hom op ‘n persoonlike wonderwerkende intieme manier ontmoet, nie 20 jaar terug nie, nee, vandag, op hierdie plek in jou lewe?

Die Here het werklik die laaste jaar ‘n groot wonderwerk vir ons gedoen.  Ons staan nou op 52% van die bedrag wat ons oorspronklik wou insamel so 14 maande terug.

Wat die wonderwerk groter maak is dat ons net 60% mense gehad het wat maandelikse beloftes gemaak het en dit gegee het op die ou einde.  So daar sou ‘n tekort wees.

So die Here het daardie 40% tekort opgemaak plus ons het ‘n tekort voorsien van R2 miljoen wat ons begroot het, ons het gesê, ons weet nie waar dit vandaan sal kom nie.

Wel, die feit dat ons op 52% staan beteken ook dat ons R1 miljoen van daardie tekort ingesamel het.  Selfs buite ons gemeente het meer as R400,000 ingekom.

Die Here het en is besig om groot wonders onder ons te doen.

Kan ons Hom dank en eer vir dit wat Hy gedoen het?

 

Ek wil jou uitnooi, moenie uitmis op hierdie geloofsreis nie.

Ons het ‘n stiltetyd begeleiding wat ons lees sedert verlede Sondag.  Is agter beskikbaar.

Lees dit saam met ons.  Maak tyd om alleentyd saam met God te spandeer.

 

Waar het die wonderwerk van die vissies en broodjies begin?

Jesus het vir hulle gesê, gee vir die mense kos.  En toe het Jesus het hulle gevra, wat het julle?

Hulle moes na Jesus toe bring wat hulle gehad het om te bring.

 

En dit is presies wat ons volgende Sondag gaan doen.

Ons gaan ‘n geloofoffer gee.  Vir die van ons wat reeds betrokke is, gaan dit ‘n herbevestiging wees van ons offer wat ons reeds gebring of belowe het.

Vir die van ons wat nog nie betrokke is in die wonderwerk nie – gaan ons die geleentheid kry volgende Sondag om ons offer vir die volgende jaar te bring.

 

Ons wil dan ook nou uitnooi, kom saam met ons na die tyd.  Of jy ‘n besoeker is of lidmaat.  Of jy betrokke is of nie.

Ons gaan vir julle lekker take-away koffie gee en dan gaan ons om die hoek ry na ons bouperseel toe.  Daar gaan ons vir julle details gee van wat nou gaan gebeur en ons gaan daar ook bid vir die projek en ons afhanklikheid vir die Here bely.

Kom sien met jou eie oë hoe die wonderwerk besig is om te gebeur.

Ons Bou ‘n DOELGERIGTE lewe

[powerpress]

“ONS BOU” VIDEO VERDUIDELIK:

Dit gaan vir ons oor groei, nalatenskap en ons bydraes.

GROEI

Ons glo dat die Here ons uitnooi om te groei in ons geestelike lewens in hierdie tydperk en ook dat ons as gemeente gereed moet maak vir ‘n groei tydperk.

Groei kan nie self gedoen word nie, dit word deur God gedoen en daarom glo ons ook dat organiese groei soos ‘n boom, dit vir ons die beste uitdruk.

Ons kan maar net die grond voorberei en die boom plant maar God is die een wat die groei gaan bring in ons lewens en in die gemeente.

NALATENSKAP

Soos wat die kinders in hierdie video die boompie gaan plant wat eendag ‘n reuse boom gaan word gaan ons as gemeente ‘n kerk bou wat eendag baie lewens gaan raak.

Wanneer jy dink aan ‘n kerkgebou van ‘n honderd jaar oud – hoeveel lewens het daardie gebou nie gehelp raak en jong paartjies het daar getrou en gesinne het daar kerk toe gekom nie?  Dit is ‘n legacy of nalatenskap.

‘n Groot boom het ‘n nalatenskap, stories om te vertel.  So ook gaan ons eendag baie stories hê om te vertel oor die tydperk wat ons kerk gebou het.

BYDRAES

Julle sal sien dat ons leuse vir die veldtog “elke druppel tel” is.  Dit is gebaseer op die beginsel daarvan dat ons almal gelyke opofferings kan maak maar verskillende bedrae gaan gee.

Elke druppel tel, selfs dit wat lyk soos te min.  In God se hande word die 2 vissies en 5 broodjies die bestanddele wat ‘n menigte gaan voed.

Al wat elkeen van ons kan doen is dit wat ons het, te bring en dit in God se hande te plaas sodat Hy die wonderwerk kan doen.

 

Vandag:  Ons Bou ‘n DOELGERIGTE lewe

As ek vir jou sou sê:  ‘Wat is die doel van die lewe?’ wat sou jy antwoord?

“Die doel van die lewe is…”   hoe sou jy dit klaar maak.

Jou antwoord hang alles af, van die bril waarmee jy kyk.

Efesiërs 5:15-17         “Wees baie versigtig hoe julle leef. Leef soos mense wat weet wat God van ’n sinvolle lewe verwag en nie soos mense wat niks daarvan weet nie. Moenie jou tyd mors nie. Maak die beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry, want ons leef in moeilike en slegte tye. Moenie julle lewe mors deur sonder ’n doel te leef nie, maar maak seker hoe die Here wil hê julle moet leef.”  Boodskap

 

Die lewe kan soms maar baie voorspelbaar wees.

Ek lees die verhaal van ‘n man in Los Angeles wat na 20 jaar terug na die huis toe gegaan het waar hy grootgeword het.

Vir interessantheid besluit hy om bietjie in die solder te gaan rondkrap.

En verbaas is hy toe hy ‘n ou jas van hom na 20 jaar in die solder kry.

Toe hy in die sakke voel kry hy ‘n strokie van skoene wat hy 20 jaar gelede ingegee het om reggemaak te word maar vergeet het om op te tel.

 

Vir die grap daarvan besluit hy om te gaan kyk of die winkel nog bestaan en sowaar.

Daar is die winkel en die oom wat daar gewerk het is nog steeds daar.

Die ou haal die strokie uit en gee dit vir die oomie.

Hy verdwyn agter in die winkel en kom na so 5 minute uit en sê vir die ou:  “Hulle sal volgende Vrydag reg wees.”

 

Maar soms kan die lewe ook baie onvoorspelbaar wees.

Ons weet nooit wat kan môre gebeur nie.

Ons leef nie vir altyd nie.  Selfs nie as jy jonk is en jy dink jy het nog baie jare voor jou is jy gevrywaar teen slegte nuus of ‘n tragedie nie.

Daarom skryf Paulus in Efesiërs: “Moenie julle lewe mors deur sonder ’n doel te leef nie, maar maak seker hoe die Here wil hê julle moet leef.”

 

Ons begin hierdie week vir 2 weke lank ‘n tydperk waar ons weer gaan toelaat dat die Here ons lei om betrokke te raak in die grootste beweging van alle tye op aarde.

Die Here se kerk, en meer spesifiek ons gemeente wat besig is om ‘n tuiste te bou wat sal dien as platform sodat ons die Here se koninkryk verder kan neem.

Hoekom is jy hier?  Hoekom is ons hier?  Hoekom is Impetus hier?

 

Wat vir ons belangrik is, is natuurlik sigbaar nie net in wat ons sê nie, maar eintlik eerder in hoe ons lewe.  Ek kan tog nie sê dat my geloof my anker is maar ek het nie ‘n daaglikse lewende verhouding met God en ek praat nooit met Hom nie.

 

“Maak seker hoe die Here wil hê julle moet leef.”  Wat sal dit beteken?

Wel, ek dink nie dit kom natuurlik of maklik nie.

Ons is nie ingestel om te dink wat iemand anders dink wanneer dit kom by ons eie lewe nie.

Ons sien dinge soos ons dit sien.  Nie soos iemand anders dit sien nie.

 

As ek dink die lewe gaan daaroor dat jy alles net moet geniet en doen waarvoor jy lus is, dan word God net ‘n groot pretbederwer as Hy iets anders van my vra wat opofferend van aard is.  En tog is dit die kern van die evangelie.  Dat ons, ons lewe moet aflê.

Dat ons ons eie belang en eie begeertes moet aflê.

 

Mark. 8:34-37    “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis opneem en agter My aan kom. As julle probeer om julle lewe selfsugtig vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My en ter wille van die Goeie Nuus prysgee, sal julle dit juis red. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade? Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie.”  NLV

So wat sê hy hier?  Maak seker jy lewe vir die regte doel.

 

Doen ‘n voorraadopname

Enige besigheid moet elke jaar ‘n voorraadopname doen en ‘n finansiële jaareinde hê.

Besighede doen dit om te sien wat die werklike stand van sake in die onderneming is.

Wanneer laas het jy ‘n geestelike voorraadopname gedoen?

Ek kom nogal agter hoe ouer ek word hoe maklik dit is om een ding te sê of selfs te glo en om dan ‘n ander ding te doen.  Ons verwar intensie met aksie.

Ek wil graag iets doen, is nie, ek is besig om iets te doen nie.

 

En heel dikwels wanneer dit kom by ons geloofsake is daar baie meer intensies as ware aksies en woord by die daad voeg.

Jak. 2:21-24       “Ons voorvader Abraham se geloof het dade geword: Hy het sy seun Isak op die altaar gelê en God het hom vrygespreek. Jy sien dus dat sy geloof gepaardgegaan het met sy dade, en die geloof uit die dade volmaak geword het. Dit het dus presies gebeur soos dit in die Skrif staan: “Abraham het tot geloof in God gekom, en God het hom vrygespreek.” Hy is selfs “vriend van God” genoem. Julle sien dus dat ’n mens óók op grond van sy dade vrygespreek word en nie net op grond van sy geloof nie.”  NLV

Abraham is ‘n interessante karakter:

In die Bybel lees ons nie veel van Tera nie maar wanneer ‘n mens Joodse geskrifte gaan opkyk sien mens bietjie meer van hom.

Tera was een van die Babiloniese konings se minister.  Later word daar vertel dat hy ‘n hoë priesters was van die afgode aanbidders, in koning Nimrod se paleis.

 

Die koning het vroeg al waarskuwings gehad dat Tera se seun Abram ‘n bedreiging vir sy koninkryk sou wees.  Daarom het die koning probeer om Abram op ‘n baie vroeë ouderdom as baba al dood te maak maar Tera het hom uitoorlê en ‘n slaaf se baba is doodgemaak wat op dieselfde dag gebore is.

Abram het gevlug saam sy ma en het in ‘n grot weggekruip tot hy 10 jaar oud was.

 

Tradisie beweer dat Abram op vroeë ouderdom al besef het dat die skepping nie deur afgode gemaak is nie en het hy by sy groot oupa grootjie Noag en Sem geleer van die vloed en die ware God, ‘Yahweh’ wat alles geskep het.

Op ‘n stadium het Tera, Abram se pa, die afgode en die die Babiloniese koning verlaat en het besluit om na Kanaän toe te reis waar die beloofde land van die Jode was.

 

Dit was nie vir hulle maklik om uit Ur pad te gee nie. Hier is hulle gebore, dit was die bekende.

Dit is ook die plek waar Abram se broer begrawe is.

Tog het hulle alles opgepak en die lang reis aangepak na die onbekende Kanaän toe.

Mense wat leef met ‘n doel weet daar kom ‘n tyd wat die bekende gelos moet word en ‘n onseker reis in die onbekende aangepak moet word.  Dit is nooit maklik nie.

 

Op pad Kanaän toe het hulle eers vertoef by Haran.

Wat net ‘n paar dae sou wees het later maande en jare geword.

Tera, Abram se pa, het gemaklik hier begin raak en nie meer kans gesien om die onbekende in te gaan nie.

Alhoewel Abram al oud was het hy waarskynlik elke jaar vir sy pa gevra, “Pa gaan ons hierdie jaar verder trek na die beloofde land toe?” en dan was die antwoord, “Nie hierdie jaar nie my seun, dalk volgende jaar.”

 

Dit het so aangegaan vir jare lank.  Elke keer sê Tera, nie hierdie jaar nie.

En dan as ons die bekende roeping van Abram lees in Genesis 12 is Abram omtrent 75 jaar oud.

Abram kon by sy gemak en die bekende bly het.  Hy het gehad wat hy nodig gehad het.

Hy was getroud, sy pa het tot inkeer gekom en die ware God begin aanbid.

 

Maar iets het hom laat voel daar moet meer wees.  Daar is ‘n groter doel met die lewe.

Hy het ‘n roeping ontvang en dit sou by hom bly vir die res van sy lewe.

Luister:  mense wat leef met ‘n roeping is nie tevrede met ‘n gemaklike lewe en middelmatigheid nie.  Hulle leef vir iets meer as hulself.  Hulle leef met ‘n groter doel.

 

Abram pak die pad Kanaän toe aan.  Sy hart seker seer en verskeurd.  Aan die een kant los hy sy ouers agter en hy weet nie of hy hulle ooit weer sal sien nie.

Aan die anderkant – opgewonde maar bang.  God het met hom gepraat en hy moet gehoorsaam wees.  Hy moet glo dat God ‘n plan het, al verstaan hy dit nie nou nie.

Soms moes vertwyfeling hom oorval, moes hy gedink het, wat het ek nou aangevang?

Moet ek nie maar terug na die bekende toe nie?

 

Dalk was hierdie belofte en woord van God maar net praatjies in sy kop.

Maar die oortuiging dat God gepraat het en dat God hom ‘n roeping gegee het was groter as die twyfel wat daar soms was.

Hierdie God wat hom geroep het en hom ‘n doel gegee het om uit te leef, het hom nie alleen gelos nie.  Hy was saam met hom.  Die Here het sy geloof versterk.

 

As jy met tye begin twyfel in die Here se roeping op jou lewe, weet een ding – God los jou nie alleen nie.  Soms is dit ‘n lang reis, soms is die teenstand groot.

Maar mense wat deur God geroep is leef altyd met ‘n innerlike sterkte dat hulle sal uitkom by God se beloftes al neem dit hoe lank.  God maak nie foute nie.

Maklik is dit nie.  In ‘n onbekende reis is daar nooit waarborge nie.

Kyk bv. na Abram se pa Tera, hy kon dit nie regkry nie.

Lank gelede het hy besluit om Kanaän toe te trek en hy kon dit nie doen nie.

 

Wat het Abram anders gemaak as sy pa?  Hoekom het hy gedink hy sou dit kon doen?

Maar hy moes ‘n moeilike keuse maak:  Gaan hy in die werklikheid vas staar of gaan hy in geloof hierdie reis aanpak wat God vir hom gegee het?

Dit sou letterlik beteken dat hy alles op die spel sou plaas.

Sy lewe, sy vrou se lewe en sy nefie Lot se lewe.  Al hulle besittings. Dit was alles of niks.

 

Vir omdraai was daar nie meer kans gewees nie.

Die veilige hawe is verlaat en nou was die groot oop onbekende wat vir hom gewag het.

‘n Reuse avontuur het op hom gewag.  Dit is ‘n geloofsreis.

Dit is ‘n opgee van alles wat hom sekuriteit en identiteit gegee het en veilig laat voel het.

 

As jy doelgerig en met ‘n roeping wil lewe, dan is daar nie plek vir agterdeure nie.

Daar is nie plek vir omdraai of ander planne of ‘n shadow missie nie.

God wou hom deel maak van die groot nalatenskap wat sou kom.

Hierdie stap van gehoorsaamheid het veroorsaak dat miljoene hom sien as die vader van geloof.

Dit moes onwerklik gevoel het, met tye dom.

Maar God het vir Abram uitgenooi om deel van Sy storie op aarde te word.

 

Daar is ‘n God wat JOU uitnooi om deel van Sy storie te word.

As Jesus vir Petrus sê in:

Mat. 16:18 “En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”

Dan nooi Jesus ons ook uit om deel te raak van die grootste beweging op aarde.

Vir eeue al is daar manne en vroue wat groot gewaag het vir God se koninkryk omdat hulle besef het dat hulle moet leef vir meer as net hulself.

Wat iets nagelaat het wat ewige waarde het.  ‘n Groot legacy gelos het.

 

Vir eeue al roep God mense om hulle eie koninkryke te los en deel te word van die Koninkryk wat alle koninkryke sal oorleef.

Vir eeue al fluister die Heilige Gees saggies om mense se ore net soos hy in Jesaja se oor gefluister het in:

Jes. 6:8     “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.”

 

Ek wil vandag vir jou sê dat die Here JOU ook GEROEP het.

Wat daardie roeping is weet ek nie maar jy moet dit uitvind in jou reis saam met God.

Maar Hy het ook ‘n roeping vir ons as Impetus as geloofsfamilie gegee.

En ons moet gehoorsaam wees aan daardie roeping.

Ons kan nie doelloos leef en net doelloos kerkhou nie.

Ons moet die onbekende ingaan met net een wete, God het gesê, GAAN.

God het geroep en Hy soek manne en vroue wat ook “ja” sal sê as Hy roep en vra: “Wie sal vir my gaan?” “Wie sal My help om my kerk en my koninkryk te bou?”

“Ek het jou in hierdie liggaam gesit vir ‘n rede.  En Ek wil dit wat ek vir jou gegee het, jou talente, jou energie, jou gawes, jou besittings en geld gebruik om My kerk verder te bou.”

Mag ons antwoord en sê, “Hier is ek Here, gebruik my, stuur my!”

Ons Bou 2015 – Ons bou ‘n lewe van gehoorsaamheid

[powerpress]

Verlede jaar het ons as gemeente in gehoorsaamheid ‘n reuse stap van geloof geneem. Met die Ons Bou – elke druppel tel – veldtog het ons in gehoorsaamheid begin om te bou en geld in te samel vir die gebou.  Die Here het vir ons as gemeente ‘n opdrag gegee in:

Nehemia 2:18    “Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het.  Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak.”

Verlede jaar April het ons die goeie werk amptelik aangepak.  Die van julle wat hier was sou onthou het dat ons gesê het dat ons as gemeente ‘n fase 1A wil aanpak wat ongeveer R8.5 miljoen rand gaan kos.  Die projeksies was dat ons die geld met die Here se hulp oor ‘n 2 jaar tydperk sou insamel.  Ter selfde tyd het ons gesê dat ons met geld wat gespaar is in die verlede en dit wat ons glo ons kan insamel, so R6.5 miljoen kan insamel.

 

Dit het ons met ‘n tekort gelos van 2 miljoen oor die 2 jaar tydperk.  Wel, hier is ons vandag 13 maande later en ons staan op 52% van daardie bedrag; wat beteken dat daar reeds meer as R4 miljoen ingekom het in hierdie jaar.

Dit is ‘n wonderwerk!  In vandag se tye is dit ‘n reuse wonderwerk! Alle eer aan die Here.

Ons het ook gesê dat ons nie aanhoudend gaan terug kom na die gemeente toe met fondsinsamelings inisiatiewe nie.  Ons gaan ‘n 2 jaar commitment maak en dit weer re-commit na ‘n jaar.  Ons kan nie met Basaars, pannekoeke en ander inisiatiewe verwag om sulke groot bedrae in te samel nie.  Daarom is ons nou 13 maande later besig met ‘n 2015 weergawe van Ons Bou – elke druppel tel.

Intussen gaan die bouwerk voort – hierdie week wat kom gaan hulle met ‘n hyskraan die staal van die dakkappe oprig en die tenders vir die bouwerk sal voor die einde van die maand uit wees.  Sommige van ons dakmateriale word ingevoer en dit is ook Vrydag op ‘n skip gelaai, en is op pad na Suid-Afrika toe.

 

‘n Mens romantiseer baie keer ‘n opdrag of ‘n roeping wat jy van die Here ontvang.  Ek weet ek doen, dit is exciting.  Mens voel jy is deel van iets groot.  Jy kry ‘n ervaring dat die Here saam jou in hierdie opdrag is en die aanvanklike opwinding is iets wat ons mens gryp en met jou loop.

Soortgelyk het baie van ons al begin om ons roeping uit te leef en in die begin is dit opwindend maar later raak dit moeilik om die commitment vol te hou. Veral as die opdrag wat jy ontvang het, moeilik is en nogal baie opofferings van jou vra.  Jeremia was so iemand.

Jeremia – is ’n jongman, meeste skat hy is in sy laat tiener jare, so 17-18 jaar oud.

Jer. 1:7-8  “Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.  Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red. Dit is wat die Here gesê het.”

Jeremia is bietjie huiwerig en hy wonder:  teen wie gaan die Here my red?  Hoe moeilik gaan hierdie geveg wees?  Hy het allerhande vrae.  En Jeremia is jonk en avontuurlustig en God sê ek sal jou red, jy hoef nie bang te wees nie.

 

Hy besluit om die offer te aanvaar en begin te werk in die Here se diens as profeet.

So vinnige voetnota:  Party van ons sal die dag onthou, die plek onthou dalk selfs die preek onthou toe ons uitgedaag is om ’n opdrag van die Here te aanvaar en iets in jou sê ‘ja’ en jy besluit, ek is in.  Ek is heeltemal in van hierdie dag verder.  Ander kan dalk nie die spesifieke geleentheid onthou nie, want dit het meer as ’n proses gebeur.

 

So gee God vir Jeremia sy spesifieke opdrag.  En dit is nie ’n maklike opdrag nie.  Sy opdrag is om die draer van slegte nuus te wees.  Verskriklike slegte nuus.

Die Here wil hê die jong Jeremia moet van dorpie na dorpie gaan en aankondig:  “Omdat julle God vergeet en nie luister na Hom nie, omdat hulle die weduwees en die wat nie vir hul self kan sorg nie, vergeet het, gaan vyandige nasies inkom julle vernietig en wegvoer na vreemde lande toe.”

Hoe sou jy daarvan hou om die draer van nuus soos hierdie te wees?

Hoe sou jy daarvan hou om elke dag aan deure te klop en vir wie ook al oopmaak sê, “Môre mevrou, dit behoort net so oomblik te neem.  Slegte goed gaan met julle gebeur, God het genoeg gehad van julle ongehoorsaamheid, alles gaan van hier af sleg met julle gaan, geseënde dag verder…”

Maar dit is presies die tipe boodskap wat Jeremia moes oordra.  Nie vir twee of drie mense nie, maar elke dag, heeldag lank, vir maande en maande.

Soos jy jouself kan indink het Jeremia se gewildheid aan aansien as tiener so bietjie skade gely.  En as hy in die straat afgekom het, het mense vir Hom gesê, ons ken jou storie, gaan verby, ons het nie tyd vir jou ‘doom en gloom’ nie.

Wie dink jy is jy?  Raak weg.  Dit het so bietjie van ’n effek op Jeremia gehad.  Hy het geweet God het hom hierdie opdrag gegee maar die opdrag is was belaglik.  Om gehoorsaam te wees aan die Here is nie altyd ‘n maklike taak nie.  Veral as dit jou gemak wegneem en jou beeld laat skade lei.  Toe kom God na hom toe en sê iets baie vreemd vir hom daar in Jeremia 19.

God sê gaan na ’n pottebakker toe en koop ’n groot pot en dra dit saam met jou rond.  Daarna moet jy wag tot daar ’n groot groep mense bymekaar is en dan moet julle funksie onderbreek en vir hulle vertel wat Ek vir jou gaan sê.

En wanneer die groot skare bymekaarkom en jy maak hulle stil om na jou te luister, raai wat moet jy doen met hierdie groot pot wat jy ronddra?

Kyk wat sê die Bybel?

Jer. 19:10-11      “Jy moet dan die pot breek voor die oë van die mense wat met jou saam is, en jy moet vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige: Soos hierdie kleipot gebreek het en nie heelgemaak kan word nie, so sal Ek hierdie volk en hierdie stad breek.”

Dink net jouself in vir ’n oomblik.  Wat as ek hier staan vanoggend en ek sê vir julle met ’n pot in my hande:

Ons het julle gevra vir komberse vir die armes en wat doen julle?  Julle vergeet.  Nog net 20 komberse het ingekom.  Ek het julle gevra vir gevriesde kosbakkies.  En wat doen julle?  Julle laat die armes honger gaan slaap.

En ek breek hierdie pot en ek sê vir julle, dit is wat die Here sê, Hy gaan dit met julle doen.

Kyk, ek dink helfte van julle sal nie volgende Sondag weer terugkom nie.

 

Jeremia is nie ’n dom nie, hy het presies geweet wat gaan gebeur as hy dit sê.

Hy sê vir God, hulle gaan nie hiervan hou nie!  Maar hy is so halfpad in die ding en voel hy moet dit nou maar deursien en nadat hy dit gedoen het, was die mense woedend oor sy optrede.

Voor die stukke opgetel kon word; het ’n groep manne hom eenkant geneem en hom geslaan tot ’n hy byna dood is.

As dit nie erg genoeg was nie, maak hulle hom vas voor die ingang van die stad sodat mense wat in en uit die stad kom, hom in die gesig kan slaan en spoeg en sê, bly stil Jeremia!  Genoeg is genoeg.  Ons het nou genoeg van jou gehad.

 

Later word Jeremia vrygelaat en Jeremia gaan feitlik van sy kopaf.  Hy raak woedend nie vir die mense wat hom vasgemaak of geslaan het nie, hy raak van sy kopaf van woede vir God.  Luister wat hy sê, van die sterkste taal wat enigiemand in die Skrif vir God ooit sê:

Jer. 20:7-8          “Here, U het my omgepraat en ek het my laat ompraat. U is baie sterker as ek, U het my oorweldig. Nou bespot hulle my heeldag, almal lag vir my.  As ek praat, moet ek elke keer net uitroep: “Geweld en vernietiging!” Die boodskap wat die Here vir my gegee het, veroorsaak dat almal my aanhoudend spot.”

Om gehoorsaam te wees aan God se opdrag is nie maklik nie.  Nadat hy dit van sy bors af het vertel hy vir God hoe hy werklik voel oor sy opdrag.

Jer. 20:14-16     “Ek verwens die dag wat ek gebore is! Mag niemand my geboortedag ooit as gelukkig beskou nie.  Ek verwens die dag toe iemand vir my pa die nuus gebring het: “Geluk, jy het ‘n seun!”  Mag dié man wees soos die dorpe wat die Here sonder genade vernietig het. Mag hy in die oggend weeklag hoor, en smiddags oorlogsgeskreeu omdat hy my nie voor my geboorte doodgemaak het nie. Ag, kon my ma se liggaam vir ewig my graf gewees het! Hoekom is ek ooit gebore om al die swaarkry en pyn te sien? Moet ek my lewe lank vernedering ervaar?”

Dit is slegte dag vir Jeremia….?

Wat onderliggend lê aan die dinge wat hy hier sê is die begin van hierdie gedeelte.

Jer. 20:7    “U het my omgepraat en ek het my laat ompraat.”  “You pushed (misled, deceived) me into this, God, and I let you do it. You were too much for me. And now I’m a public joke.”  Message

Hy sê, “Ek het U geglo.  Ek was jonk en ek was gretig en naïef en U het dit gebruik om my te mislei vir hierdie verskriklike werk wat U vir my gegee het.”

“Ek voel mislei, in die rug gesteek en misbruik.  U het my bedrieg en ek kan nie sê hoeveel ek dit berou nie.”

 

Vraag:  Het jy al so gefrustreerd teenoor God geraak, dat jy afgegaan het teenoor God soos Jeremia het?

Net voor jy heilig begin raak en sê ‘nee’ ek sal nooit so iets doen nie.

Kan ek jou sê wat ek dink meeste mense doen i.p.v. afgaan teenoor God?

Hulle kry ’n moeilike opdrag en hulle gee eenvoudig op.

Hulle stap weg, hulle loop weg van die opdrag wat die Here vir hulle gegee het.

In stilte sê hulle, hierdie is te moeilik, en hulle blameer iemand anders of hulle dink ‘n verskoning uit hoekom hulle nie verder gehoorsaam hoef te wees nie.

 

Ons as gemeente is besig om ‘n gemeente te bou.  Ook ‘n kerkgebou te bou.

En in die begin is dit maklik want ons is opgewonde.  Maar dan kom die harde werk.

Dan kom die opofferings.  Dan kom vat hierdie gehoorsaamheid aan die vlees en dit raak vir ons moeilik om aan te hou met dit wat die Here vir ons gegee het.

 

Maar ek wil vir jou sê dat ‘n opdrag of roeping van die Here iets kosbaar is.  Om iets vir die Here te doen wat op geslagte na jou nog ‘n impak gaan maak is nie klein nie.

Ek dink partykeer ons ag dit wat die Here vir ons gegee het om vir Hom te doen te gering.

Hoe bevoorreg ons is om hierdie opdrag van die Here gekry het om vir Hom ‘n kerk te bou nie.  Hierdie tipe opdragte kry mens net 1 of 2 keer in jou lewe.

Nou, Jeremia se metertjie (julle weet watter een) is in die rooi verby soos wat hy kwaad vir God is.  Hy is verneder ens., maar let op wat hy NIE DOEN NIE.

Hy gee nie op nie.  Hy stap nie weg nie.  Inteendeel, as hy daaraan dink dat hy wil opgee dan kom hierdie woorde by hom op:

Jer. 20:9    “And I can’t stop! If I say I’ll never mention the Lord or speak in his name, his word burns in my heart like a fire. It’s like a fire in my bones! I am weary of holding it in!”  NLT

 

Wat hy sê, is iets wat enige ware volger van Jesus sê:  Die enigste ding wat erger is as om iets wat moeilik is vir die Here te doen, is die opsie om weg te stap en te besef dat Hy jou meer gebruik nie.

Die ongelukkigste mense op aarde dink ek is die wat dit gesmaak het om deur God gebruik te word en dan wegstap en niks met Hom te doen wil hê nie.

Moenie dat dit jy wees nie.

Moenie ’n ‘onthou-jy-die-dag’ persoon wees nie.  Onthou toe ons…  en dan praat jy van iets vêr in die verlede asof dit nooit weer kan gebeur nie.

Wat van vandag?  Wat van môre?

Doen eerder wat Jeremia gedoen het, gaan af teenoor God, word miskien kwaad vir Hom, omdat dinge nie werk soos jy dit graag wil hê nie en dan… begin dink hoe jy dit sal mis om vir die Here iets te doen.  Begin dan weer waar jy opgehou het soos Jeremia.

Doen die laaste ding wat Hy vir jou gegee het om te doen.

 

Jer. 20:13 “Sing to the LORD! Praise the LORD! For though I was poor and needy, he rescued me from my oppressors.”

Dit is amper of Jeremia in die spieël kyk nadat hy geslaan is en hy sê, sjoe, ek lyk sleg, hulle het my lelik geslaan, het so paar knoppe MAAR ek leef nog, ek het nog my arms en my bene, ek het nog ’n stem.

Miskien is ek beskerm soos die belofte met my roeping in die begin was, miskien moet ek sing ‘how great is thou faithfulness’ in plaas daarvan dat ek ’n bedankingsbrief begin uitskryf.

 

Raai wat gebeur met hom, net na hierdie verskriklike pak slae wat hy gekry het en hy pimpel pers geslaan is?  Julle almal sit nè?

Hy tree net aan, vir sy volgende opdrag van God af.  Hy bid ’n gebed en sê Here, kom ons doen dit weer.  Ek is reg.

Hy is so effens minder naïef die keer, hy weet deur gehoorsaam aan God te wees beteken dat hy soms wil opgee langs die pad, maar hy maak net weer ’n ‘commitment’.

 

En wat gebeur?  Nog teenstand kom.  Hy hou aan om die boodskap wat die Here vir hom gegee het te verkondig en hulle raak weer geïrriteerd met hom en die keer wil hulle hom vir altyd stilmaak.  Lees maar in Jer. 38.

Hulle soek ’n ou put wat nie meer water in het nie, net modder en hulle gooi hom daarin.  Hulle maak dit toe en los hom daar om van die honger en koue te sterf.

Hy moes seker by homself gedink het, rondte twee, dit gaan soveel beter…? (Sarkasties)

Hy doen net wat God vir hom gevra het om te doen en kyk waar bring dit hom?

Ek dink hier is die oomblik wat Jeremia besef het, dat dinge dalk nooit beter sal raak nie.  Vir hom om gehoorsaam te wees aan sy opdrag gaan nooit groot sukses hê nie, gaan dalk nooit groot deurbrake hê nie, daar gaan nie ’n herlewing kom nie.

Kan jy jou indink dat al beloning wat jy kry, is die feit dat hy gehoorsaam is aan die Here.

Hoe moeilik moet dit nie wees nie?  Ek weet van mense wat in dele van die wêreld werk waar hulle in hul leeftyd dalk nooit ’n groot deurbraak sal sien nie.

Hulle missie is soveel moeiliker as wat myne en joune is.  Die struikelblokke en opofferings wat hulle families moet maak om vir God te werk is ’n 1000 x meer as wat ek en jy ooit sal maak.

 

So hier is Jeremia in die put en hy dink dat hy seker hier gaan sterf, maar toe kom ’n regerings verteenwoordiger in die nag en laat hom vry.

En wat dink jy doen hy volgende?      Sekerlik dink mens, nou sal hy sy les geleer het.

Sekerlik sal jy nou wegstap van hierdie belaglike opdrag om te wat die Here vir Hom sê. Net ’n totale mal mens sal nog aangaan en aanmeld vir rondte 3.

 

Reg?  Noem dit wat jy wil.  Hy gaan terug na God toe en sê rondte 1 was nou nie my beste nie, rondte 2 was nie eintlik beter nie.  Maar ek sal aanhou om U woorde te vertel, ek sal nie opgee op die missie wat U vir my gegee het nie.  U sê net waar en ek sal gaan.

En hy gaan uit vir ’n derde keer en verkondig die boodskap wat die Here vir hom gee.

 

Op die ou einde, het die voorspellings en waarskuwings van Jeremia waar geword.

’n Vyandige nasie het gekom, hulle oorweldig en alles vernietig.  Almal is ontvoer om slawe te wees vir geslagte wat sou volg.

Jeremia word saam met hulle weggevoer, hy kry nie ’n ‘kom gratis uit die tronk’ kaartjie nie.

Eendag in ’n vreemde land sit hy by ’n rivier en hy skryf ’n boek wat in die Bybel is: Klaagliedere.

 

In die middel van hierdie boek, sien ons ’n Jeremia wat oud en vol skrape is van sy gehoorsaamheid aan God.

Lamentations 3:21-26        “Yet this I call to mind and therefore I have hope: Because of the Lord ’s great love we are not consumed, for his compassions never fail. They are new every morning; great is your faithfulness. I say to myself, “The Lord  is my portion; therefore I will wait for him.” The Lord is good to those whose hope is in him, to the one who seeks him; it is good to wait quietly for the salvation of the Lord.”  NIV

Na ’n leeftyd van slegte dinge, teleurstelling en mislukking kry hy dit steeds reg om ’n mens te wees wat kan bely:  ‘Great is Thy faithfulness.’

Toe ek so twee weke gelede begin bid het vir vandag se diens, het hierdie boodskap by my opgekom.  Om enduit gehoorsaam te wees, is nie maklik nie.

Daar is baie wat uitgeklim het in die verlede en bitter by die huis sit.

Ek wil maar eerder dom genoeg wees om aan te tree vir ‘n 2e en ‘n 3de en ‘n 4de rondte.

Ek wil maar soos Jeremia wees wat gehoorsaam is, al is dit al beloning wat ek kry.

Maar ten minste weet ek dat God my gebruik vir die doel waarvoor Hy my op aarde geplaas het.

 

Ek wil nie krities en bitter raak nie.  Daar is genoeg sulke mense.

Ek wil maar eerder aantree as die Here nog uitdagings vir my het.

En een daarvan is ons bouprojek waarin ons betrokke is.

Van volgende week af gaan ons weer vir 2 weke bid en die Here vra om ons te lei in ons boufonds commitments.

Maklik is dit nie.  Maar die Here soek gehoorsaamheid meer as ons offers.

Hy soek ons.  Ons harte.  Ons toewyding.  Ons geloof in aksie.  Ons beskikbaarheid.