Onthou… om te deel (Kersfees 2015)

[powerpress]

Mat. 2:1-12

“Jesus is in die dorp Betlehem in Judea gebore tydens die regeringstyd van koning Herodes die Grote. Omstreeks daardie tyd het daar sterrekundiges uit die ooste in Jerusalem opgedaag. Hulle doen toe navraag: “Waar is die pasgebore Koning van die Jode? Ons het sy ster sien verskyn en gekom om Hom te aanbid.” Toe koning Herodes hiervan hoor, het dit hom hewig ontstel; so ook die hele Jerusalem. Hy roep toe al die priesterhoofde en skrifkenners bymekaar en hoor by hulle waar die Messias gebore sou word. Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want die profeet het soos volg geskryf: ‘En jy, Betlehem, in die landstreek van Juda, jy is beslis nie die onbeduidendste dorpie in Juda nie; want uit jou sal daar ’n leier voortkom wat my volk Israel sal versorg soos ’n skaapwagter sy skape.’” Daarop het Herodes ’n geheime boodskap na die sterrekundiges gestuur om hulle na hom te ontbied. Hy het toe noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster oorspronklik verskyn het. Daarna laat hy hulle na Betlehem gaan met die opdrag: “Gaan vind alles noukeurig oor die Kindjie uit. As julle Hom kry, kom sê vir my dat ek Hom ook kan gaan aanbid.” Nadat hulle die koning aangehoor het, het die sterrekundiges vertrek. En, werklikwaar, die ster wat hulle in die ooste sien verskyn het, is weer daar en dit beweeg voor hulle uit totdat dit bokant die plek gaan staan waar die Kindjie was. Met dié dat hulle die ster sien, het ’n wonderlike blydskap oor hulle gekom. Toe hulle in die huis ingaan, sien hulle die Kindjie by Maria, sy ma, en hulle val voor Hom neer en aanbid Hom. Toe maak hulle hulle kissies met kosbaarhede oop en gee aan Hom geskenke van goud en wierook en mirre. Maar omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie weer na Herodes terug te gaan nie, het hulle met ’n ander roete huis toe vertrek.”

Ons tema vir ons reeks in Desember as Onthou… En vandag gesels ons oor die sterrekundiges / wyse manne (Afr33) in Matteus 2 en Onthou om te deel.

Die storie van hierdie sterrekykers is ietwat van ’n misterie vir ons.  Vir baie gelowiges vandag sou ons hulle nie eers genoem het nie, want sterrekykers en geloof gaan nie saam nie.

Waar kom hulle vandaan?  Ons weet nie.

Hoeveel van hulle was daar?  Ons dink meestal 3 (geskenke) maar ons weet nie eintlik nie.

Hoe het hulle geweet om die ster te volg?  Ons word nie vertel nie.

Hulle kom net half geheimsinnig in die Jesus se geboorte verhaal in en dan verdwyn hulle ook weer misterieus.

Die Bybel vertel ons nie baie van hulle nie maar die stories wat uit ander bronne kom vertel ons van hulle.  Die oorlewering sê dat hulle 3 was wat met kamele deur die woestyn gekom het.  Sommige bronne sê dat hulle name Baltezar, Melchior en Casper was.

Sommige sê dat hulle later deur Thomas gedoop was.

Interessant ook is dat ons hulle meestal assosieer met die geboorte van Jesus maar as jy mooi lees sal jy sien dat Matteus praat van die “Kindjie” en “toe hulle in die huis ingaan”.

Daar is geen melding van ’n stal in Betlehem nie.

Dit dui daarop dat hulle eers lank na Jesus se geboorte opgedaag het selfs soveel as 2 jaar later omdat ons weet dat Herodus babaseuntjies van 2 jaar oud en jonger laat doodmaak het.

Kan jy jouself voorstel, wat ’n reis van maande lank om ’n aanbidding te bring.

Maar wat sien ons in die Bybel van hierdie 3 sterrekykers of wyse manne?

1.  Hulle was gewillig om in geloof uit te waag en te gaan waar God hulle gelei het.

Hoekom het hulle die ster gevolg?  Omdat die Bybel ons nie vertel nie kan ons net raai.

Die Bybel sê dat hulle gekom het van die Ooste af.  Die groot moondhede in die Ooste van daardie tyd was die Babiloniese ryk en die Persiese ryk.

Ons weet ook dat die Babiloniërs gespesialiseer het om sterre te bestudeer.

Dit is ook moontlik dat hulle die O.T. profesieë kon gelees het wat deur Daniel in ballingskap aan die Babiloniërs en Persiërs oorgedra is.

 

Soos die Israeliete met ’n wolk en vuurkolom gelei was, was hierdie sterrekykers gelei deur ’n ster wat hulle gesien het tot by Christus.

Miskien lei die Here ons nie op sulke dramatiese maniere nie maar Hy belowe dat Hy ons sal lei indien ons Hom vra.

Die oë van geloof is iemand wat bereid is om die volgende stap te neem en om God te vertrou vir daardie volgende stap.

Ons weet nie wat môre bring nie, wat volgende jaar bring nie maar ons weet dat ons in Sy hande is en dat Hy ons sal lei indien ons Hom toelaat om dit te doen.

2.  Hulle het geweet dat hulle moes gaan om te aanbid en te gee.

Waaroor gaan Kersfees vandag vir meeste?  Wat kan ek kry?

Mense aanbid baie verskillende dinge vandag.  Sommige aanbid mense.  Ander dinge.  Baie aanbid verkeerde dinge in hulle lewe vandag.  Maar die sterrekykers was anders.

Hierdie sterrekykers was bereid om hulle lewe op sy te sit vir moontlik 2 jaar om te gaan GEE aan die Koning van alle konings.

Die wyse manne het geweet dat hulle nie Betlehem toe gekom het om geskenke te kry nie, hulle het gekom om geskenke te GEE.

Hulle was nie Israeliete nie, hulle was heidense manne.  Ten spyte van alles wat hulle gehad het , rykdom, aansien en mag, kom hulle om van hulself te GEE aan hierdie Kind.

 

Alles wat jy het, kom van God af.  Jou gesondheid, jou gawes en talente, jou vermoëns, jou besittings, jou eiendom.

Hoeveel daarvan gee jy vir Hom?  Of gaan alles vir jou nog steeds oor hoeveel jy kan KRY en hoeveel Hy vir jou kan gee?

1 Kron. 29:14     “…want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het.”  Afr.83

Spr. 19:17          “Wie hom oor ’n arm mens ontferm, gee ’n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.

Ek gee nie om hoe min jy dink jy vanoggend het nie.  As jy hier voor my sit, dan het jy meer as meerderheid mense in die wêreld.

Hoekom is ek en jy hier op aarde?

Ps. 100:4-5         “Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.”  Afr.83

Dankliedere – wat het Hy vir jou gedoen?

Prys – om Hom te prys vir wie Hy is, dit is meer as wat Hy vir jou gedoen het.

Aanbidding – dit is wanneer my lewe ’n offer vir Hom begin word.

Ps. 150:6            “Laat alles wat asem het, die Here loof! Halleluja!”  Afr. 53

Ons is gemaak om Hom te aanbid met ons lewe hier op aarde.

Die wyse manne het dit besef toe hulle by Jesus uitgekom het en Hom begin aanbid het.

Liefde bestaan nie uit woorde nie.  Liefde soos God s’n gaan altyd oor tot aksie om weer vir ander te gee.

God se liefde kan nie stil sit en vir ander wag nie.  Sy Liefde gee wat daar ook al beskikbaar is om te gee.  Ons moet leer om dieselfde te doen.

Is dit nie verstommend dat ons vir baie gee oor Kerstyd nie, behalwe vir die Een wie se geboorte ons vier?  Ons het oorvloed, ons vermors.

En dan is ons nog ongelukkig oor iets wat ons nie aangaan nie.

Die sterrekykers was GEWERS van aanbidding en gewers van wat hulle gehad het.

Wat is dit wat Hy meer as enige geskenk of offer van ons wil hê?

Hoe hartseer is dit nie dat ons dikwels vir God wil gee wat Hy nie in die eerste plek wil hê nie.  Ons wil vir Hom goeie werke gee.  Ons wil vir Hom offers gee.  Ons wil Hom beïndruk met dit wat ons vir ander doen.  Ons wil hard werk vir ons redding en aanvaarding.

En wat sê hy, wat soek Hy?

Mat. 15:8   “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.”  AFR53

Hosea 6:6 “I don’t want your sacrifices — I want your love! I don’t want your offerings –I want you to know Me!”  LB

Hy soek jou hart, jou lewe.

Maar die moeilike deel daarvan is dat ons dikwels te blind is om te sien dat ons harte net halfpad aan Hom oorgegee is.

Die moeilike deel is dat ons dikwels nie wil loop waar Hy lei nie.

Die hartseer deel is dat ons ander dinge aanbid met ons lewe as wat ons aanbid met ons lippe.

Dit is verstommend om te dink hoe blind die Fariseërs en Skrifgeleerdes was.

Jerusalem waar meeste van hulle was, was net 9.5 km van Betlehem af en tog kon geeneen van hulle die tekens lees waar die Messias was nie.

Hulle het die 332 profesieë oor die Messias geken, wat praat van Betlehem maar hulle was te blind om God se grootste geskenk aan die mensdom daar te gaan soek of aanbid.

En God stuur heidense sterrekykers met ’n ster uit die Ooste wat maande lank moes reis.

Mag ons nie so blind, afgestomp en onvergenoegd raak dat ons nie meer God se tekens in die wêreld, in mense en in mekaar raaksien nie.

Mag ons nooit vergeet dat Hy’t gekom het omdat Sy liefde Hom beweeg het om te GEE nie.

Mag ons ook nooit vergeet dat Sy liefde ons vir ewig moet verander in mense wat Hom verteenwoordig hier op aarde nie.

En mag daardie liefde ons ook beweeg om oor te gaan tot aksie en te GEE wat ons ookal tot ons beskikking het om te gee en nie net hier op Kersdag vir ons geliefdes nie.

Onthou… om hoop te hê

[powerpress]

‘n Mens hoef seker nie te veel te sê of te ver te gaan om te sien hoe min hoop mense deesdae het nie.  Daar is soveel negatiwiteit om ons vandag.

As jy enigsins die nuus so nou en dan kyk of lees sal jy weet dat die politieke, ekonomiese klimaat en rasse spanning iets is wat jou vinnig depressief maak.

Ek het toenemend met mense te doen wat depressief is omdat dinge om hulle nie uitwerk soos wat hulle gedink het dit sou nie of soos hulle graag wil nie.

As jy nie vandag met ware hoop lewe nie, sal jy baie gou negatief, moedeloos en hopeloos raak.

Maar waar vind jy hoop?  As iets met jou gebeur vandag wat jou plat slaan en onkant vang, wat doen jy om môre weer op te staan met nuwe hoop dat dinge gaan uitwerk?

Kom ons wees eerlik, ons almal kry dae, partykeer weke wat ons depressief raak en dinge nie vir jou uitwerk nie.  Wat maak jy dan?

 

Ps. 42:6     “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?”  Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!”  AFR83

Mens kom partykeer op hierdie plek en dan moet jy vir jouself preek en jouself regruk anders gaan jy afsak in ‘n donker diep gaan waar jy baie moeilik gaan uitklim.

Maar hier is die dilemma:  Om op God te hoop kom nie natuurlik vir ons nie.

Hoop is nie ons default of verstek opsie nie.  Negatief, krities en moedeloos is die gevalle natuur wat ons het se default opsie.  Dit is ‘n stryd, dit is ‘n geveg.

En party dae wen jy die geveg en ander dae verloor jy die geveg.  John Piper praat van:

 

Hoop is ‘n reservoir vir emosionele sterkte

– Wanneer iets sleg of onaangenaam gebeur kyk ek in my emosionele reservoir vir hoop en krag om die slegte ervaring te absorbeer met goeie gedagtes.

As ek dit nie doen nie dan verval ek in selfbejammering of selfregverdiging.

– Wanneer my beplanning nie uitwerk nie – Ek raak siek, dinge gaan nie soos ek dit beplan het nie dan kyk ek in my emosionele tenk vir hoop of krag om aan te gaan en nie op te gee nie.

 

Nou, die groot vraag:  Wat is die bron van jou HOOP?

M.a.w. wat gebruik jy om daardie emosionele tenk van jou vol te maak met HOOP?

Vir meeste mense is dit tydelike goed.  My gemak, iets wat ek koop en my lekker laat voel, iets wat ek doen en my genot gee, iemand wat ek mee praat en my weer positief maak.

Hier is die dilemma daarvan:  As dit iets tydelik is dan gaan dit nie hou nie of dit sal later nie meer genoeg wees om jou tenk vol te maak nie.

HOOP lek uit jou emosionele tenk uit.  Dit is amper soos Simson se hare wat gesny word en hy sy krag verloor en dit vat lank voor dit weer terug groei en weer vol is.

“Ons besit nooit hoop nie. Dis iets wat ons elke dag nuut en vars moet leer. Ons bly beginners vir wie God elke oggend uit genade ons ʼn nuwe kwota hoop moet gee”

Wat is Bybelse HOOP dan?

‘n Vaste verwagting en begeerte vir iets goeds in die toekoms.

Hoop is nie wiskundig of logies verstaanbaar nie.

As jy twee appels het en nog twee bysit dan sal jy sekerheid hê dat daar logies vier appels sal wees.

Maar wanneer dit kom by HOOP dan werk dit nie op logika nie.

Hoop werk op ‘n morele sekerheid nie ‘n logiese sekerheid nie.

HOOP is gebaseer op aksies van jou wil.

Morele sekerheid is gebaseer op die commitment van mense se wil.

Wat ook al te doen het met ons wil, raak is saak van morele sekerheid en dit skep hoop in ons lewe.

Illustrasie:  Ek en my vrou Vanessa het feitlik 16 jaar van bewyse van die commitments van ons wil en God se genadige wil dat ons getroud is.

Wanneer ons praat van ons toekoms, dan praat ons nie van gewone hoop as ons sê ons hoop dat ons getroud sal bly nie.  Ons praat van ‘n vertroue en sekerheid.

En hierdie sekerheid is nie gebaseer op iets tydelik nie maar op God se karakter en ons eie karakters.  Maar iets kan fout gaan, is dit nie so nie?

Daarteenoor kan ek sê dat ek HOOP dat elke oorlog wat nou op aarde aan die gang is môre sal stop en mense in vrede sal saamleef.

Is dit moontlik?  Ja, dit is wiskundig moontlik maar onwaarskynlik.  Hoekom?

Want ons weet iets van die mens se karakter af en van die menslike wil.

Daar is ‘n sekerheid wat kom wanneer ek die karakter van iemand ken of van ‘n groep mense ken.  Dit is nie onfeilbaar nie, maar daar is sekerheid en vertroue.

Dit dra jou deur die rowwe tye in die lewe.

Bybelse HOOP is nie net ‘n begeerte vir iets goeds om te gebeur nie.

Dit is ‘n versekerde verwagting en begeerte vir iets goed in die toekoms.

Ps. 39:8     “En nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op U.”  AFR53

 

Wanneer ons sê, “My hoop is op God.” Beteken dit nie my vingers is gekruis en ek hoop vir die beste nie.  Nee, my hoop is gebaseer op God se karakter deur die eeue dat Hy sy kinders dra deur enige storm in die lewe.

Dit beteken in die woorde van William Carey: “Verwag groot dinge van die Here.”

“Moenie aan jou hoop vashou nie. Hou aan Christus vas, die Bron van Hoop.” C. Spurgeon.

So die vraag dan aan my en jou is:  Hoe hou jy aan Christus vas?

As iemand jou sou vra?  Wat doen jy om aan Christus die bron van jou HOOP vas te hou, wat sal jy antwoord?

En dit is waar ek jou vandag wil uitdaag.

Dit is een ding om te sê Christus is die belangrikste persoon in my lewe maar hoeveel tyd spandeer ek met die belangrikste persoon in my lewe?

Dit is een ding om te sê ek glo in ‘n geestelike familie maar maak ek enige moeite om saam met my geestelike familie te wees op ‘n Sondag?  Glo ek God werk op ‘n manier deur Sy liggaam wat ek nie op my eie kan beleef nie?

Jy sien, dit help eenvoudig nie jy weet iets sal jou help en iets is vir jou belangrik maar jy maak nie keuses en besluite om daardie dinge konstant in jou lewe te bou nie.

Ons het vroeër gesê, Hoop lek uit.  Daarom moet jy daagliks by die bron van hoop uitkom.

Ons het ook gesê dat Hoop ‘n aksie van jou wil en karakter is.

Daarom is ‘n intensie om HOOP in jou lewe te bou nie genoeg nie.

Jy moet besluit om dinge te doen sodat jy hoop in jou lewe kan inbou.

Jak. 2:17            “So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit

                             sonder meer dood.”  AFR53

Iets wat vir jou belangrik is gebeur nie vanself nie, dit kos ‘n besluit om tyd daarvoor te maak sodat die effek daarvan oor die langtermyn op jou lewe kan wees.

Dit geld vir verhoudings, vir jou gesondheid, vir jou finansies, vir alles wat die moeite werd is in die lewe.

En as dit nie vanself gebeur nie, hier is wat ek geleer het:  Dit gaan nie vanself gebeur nie.

Jy gaan dit moet hanteer soos ‘n afspraak elke dag.  Elke week.

As jy ‘n houding het van, ek sal kyk of ek vandag tyd kry om daarby uit te kom.  Raai wat?

As jy ‘n houding het van, dit is vir my belangrik maar ek daar is dinge wat meer dringend is op hierdie stadium in my lewe.  Raai wat?

As iets vir jou belangrik is, moet jy ‘n afspraak maak om elke dag / week daarby uit te kom.

Anders gaan jy eenvoudig nie daarby uitkom nie.

“Daar is geen hopelose situasie nie, net mense wat hoop verloor het met die situasie.” W Barckley

Mense wat hoop verloor.  Het dit nie baie alledaags geword nie?

Ons kan selfs hoop met onsself of ons omstandighede verloor.  (My eie situasie).

Die hoop dat ons nog kan verander.  Die hoop dat daar vir ons ’n goeie toekoms is.

Die hoop dat dinge vir ons sal uitwerk, maar net God weet waar om in ons lewens te werk.

Charles Steinmetz was een van die wêreld se slimste mense in die veld van elektrisiteit.  Niemand het in sy dag meer geweet as hy nie.  Hy het die eerste generators gebou vir Henry Ford in sy eerste motorfabriek.  Toe alles in plek was, het alles prefek gewerk. Danksy die elektriese genie van Charles Steinmetz het karre van die produksielyn gerol en het die profyt vir Henry Ford begin inrol.  Dinge het vir ’n paar maande glad verloop.

Tot op ’n dag wat alles sonder waarskuwing tot ’n stilstand gekom het. Die Ford aanleg het donker geword.  Hulle het geld by die uur verloor tot Ford se groot frustrasie. Toe kontak hulle  vir Steinmetz, die brein agter die sisteem. Hy het opgedaag en onmiddellik begin werk. Hy het aan ’n paar skakelaars gewerk, ’n paar metertjies. Hy het gekyk na ’n paar van die motors, ’n paar knoppe gedruk en ’n paar drade verander. Toe sit hy die hoofskakelaar aan, die ligte het aangekom en die masjiene het weer begin werk.  Alles was terug na normaal.

’n Paar dae later het Henry Ford ’n rekening van Steinmetz gekry van $10,000. Alhoewel Henry Ford ’n ryk man was teen die tyd kon hy sy oë nie glo nie. So verskriklike bedrag geld gaan hy nie betaal nie, die was buite die kwessie. Hy het agterop die rekening vir Charlie ’n boodskap geskryf: “Charlie, isn’t this bill just a little high for a few hours of tinkering around with a few wires and switches?”

Steinmetz het ook op die rekening geskryf en dit terug gestuur.  “For tinkering around on the motors: $10. For knowing where to tinker: $9,990. Total $10,000.”

Henry Ford het die rekening betaal.

Wanneer jy jou lewe vir God oopmaak sodat Hy aan jou kan werk is dit baie soortgelyk.  Om jou te laat groei is nie die moeilike deel nie.  Maar net Hy weet presies waar in jou lewe jy nou iets nodig het wat net Hy kan herstel of genees.  Jesus is die groot Geneesheer wat presies weet hoe om te diagnoseer en jou op ’n nuwe pad van groei te sit, as jy Hom toelaat.

 

Rom. 15:13        “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”

Wie of wat is jou bron van Hoop?  God is!  Hy is jou bron van HOOP.

Hierdie tyd van die jaar is daar baie mense wat hopeloos lewe.

Hulle lewe het nie uitgewerk soos hulle gedink het nie en dan verloor hulle hoop.

Maar ek en jy moet hoop hê.  Hoekom, want ons ken die bron van hoop.

As jou vertroue in die ware bron van hoop is dan sal jy besef dat tydelike goed of selfs mense jou altyd gaan teleurstel of eendag nie meer daar wees nie.

Ons moet draers van hoop wees.  Hierdie Kersfees, moenie net saam al die doemprofete net verdoemenis uitspreek oor ons land en oor jouself nie.

Daar is net mense wat hoop verloor met ’n situasie.  Maar as God aan jou kant is, dan is daar ’n toekoms.  Dan is daar hoop, al sien jy dit nie nou met jou oë nie.

Hebr. 11:1 “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”  AFR83

Onthou… om dankie te sê

Vandag gesels ons oor die tema – Onthou om dankbaar te wees.

Ons het simbole en tekens om ons te help onthou dat iets gebeur het.

Dit is dan ook hoekom daar standbeelde is, ikone is, sigbare tekens is soos kruise – om ons te help onthou dat daar iets gebeur het in die verlede wat ons nie moet vergeet nie.

So het ons bv. ook in die kerk twee simbole, die doop en die nagmaal, om ons te help onthou dat daar iets gebeur het in ons verlede wat ons nie moet vergeet nie.

So sien ons bv. regdeur die Bybel ook dat daar tye was wat die Here vir hulle gesê het dat hulle moet tekens of simbole hê om iets te onthou of wat iets verteenwoordig.

Dink bv. aan die ark wat die O.T. priesters moes dra toe die Here se mense moes trek deur die woestyn.

Hoekom so iets doen, die ark was ook swaar gewees omdat dit van goud gemaak was.

Dit was vir die Here belangrik dat hulle nooit moet vergeet dat Hy oral saam met hulle was nie, die ark was ’n simbool van die Here te teenwoordigheid.

 

Die Bybel is vol sulke simbole.  In Josua 3 bv. kom die Israeliete voor die Jordaan rivier te staan wat oorstroom het en hulle kan nie deur nie.

Die Here praat met Josua en Hy sê vir hom dat hulle moet voorberei want Hy gaan ‘n wonderwerk doen.  Dan gee Hy vir hulle duidelike instruksies oor hoe hulle moet trek.

Die priesters moes eerste instap in die water met die ark en daarna sal die wonderwerk begin gebeur.  Die volk het oop droë grond deur die magtige Jordaan rivier getrek.

Toe almal deur is en die priesters hulle voete op grond sit aan die oewer aan die ander kant het die waterskeiding weer toegegaan.

Dan lees ons die volgende in Josua 4.

Jos. 4:1-7

“Nadat die hele nasie deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê: “Neem nou die twaalf man uit die volk, een uit elke stam, en sê vir hulle: Vat hier uit die Jordaan, op die plek waar die priesters gestaan het, twaalf klippe en neem hulle saam met julle deur en sit hulle neer op die plek waar julle vannag oorbly.”  Josua roep toe die twaalf man wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam,  en hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan en tel elkeen ’n klip op die skouer, in ooreenstemming met die getal stamme van die Israeliete.  Dit moet onder julle as ’n teken dien. Wanneer julle kinders julle eendag vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir u?’  moet julle vir hulle sê die Jordaan se water is voor die verbondsark van die Here afgesny; toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die rivier se water afgesny; daarom is hierdie klippe vir die Israeliete ’n blywende herinnering daaraan.”

 

Die klip altaar was hulle herinnering dat die Here ‘n wonderwerk vir hulle gedoen het.

Ons het ook met ons bouprojek begin om dieselfde te doen.

Elke keer wat die Here ‘n wonderwerk vir ons as gemeente, en vir jou persoonlik ook doen gaan ons dit neerskryf en ‘n klip op hierdie stapel sit.

Hoekom doen ons dit?  Ons wil onthou van die Here se goedheid.

Verlede Sondag het ons weer daar gaan kyk hoe hulle gevorder het en ons het weer vir die Here dankie gesê dat ons sovêr kon kom.

Ons het onthou van die Here se goedheid oor ons dat ons struktuur staan, ons dak op is en hulle hierdie week al begin het om die vloer te gooi in die binnekant.

Ons onthou hoe ons amper 2 jaar gelede gesê het dat ons die punt bereik het dat ons die Here moet vertrou en dat die Here vir ons gevra het om te bou en dat Hy ons 2 vissies en 5 brode in Sy hande sal vermeerder.

Dit wat ons tot dusvêr gesien het met R              miljoen wat ingekom het oor die 19 maande is voorwaar ’n wonderwerk.  Ons klippe is die teken van die Here se voorsiening en wonderwerke wat reeds gebeur het.

 

Dan het ons ’n goeie gewoonte, ’n gebruik, om elke jaar ’n dankbaarheidsfees te hou om vir die Here en ook vir mekaar dankie te sê vir dit wat ons ontvang het.

Wanneer jy lees soos bv. in Ps. 95 hoe dit die Here gegrief het wanneer sy mense nie dankbaar is nie.

Ps. 95:9     “Hulle het die goeie dinge gesien wat Ek vir hulle gedoen het maar hulle nogtans nie daaraan gesteur nie.  Hulle het probeer kanse waag en probeer kyk hoe ver hulle My kon dryf voor Ek my geduld verloor.”  DB

Dit is dan wat jy besef dit is vir die Here ontsaglik belangrik dat ons Hom moet erken as bron en voorsiener van alles wat goed is in ons lewe.

Jak. 1:17   “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo.”  AFR83

Dit is ’n ingesteldheid, dit is ’n manier van dink, dit is ’n keuse wat ek elke dag moet maak.  Want dit is onmoontlik om dankbaar te wees en te kla op dieselfde tyd.

Ons kyk meestal na DIT WAT ONS NIE HET NIE as WAT ONS HET.

En daaroor is ons onvergenoegd en ondankbaar, al sal ons dit nie erken nie.

 

Ware dankbaarheid is nie afhanklik van goeie omstandighede en baie goed nie.

1 Thes. 5:18       “Julle dankbaarheid is nie afhanklik van julle omstandighede nie. Wees altyd tevrede, want dan stap julle op die pad wat God vir julle beplan het toe julle in Christus Jesus begin glo het.”  DB

So waarvoor is jy dankbaar vandag?  Is jy dankbaar vir omstandighede wat goed is of is jy dalk nie dankbaar nie omdat jy omstandighede nie so goed is nie.

Ware dankbaarheid word gemeet in wat ek maak met dit wat vir my gegee is en nie net wat ek daaroor sê nie.

Ps. 95:1-7; 9

“Die Here is ons God en ons is sy mense.

Kom, laat ons ons Here eer.

Laat ons lofliedere uit volle bors sing, want Hy het ons gered.

Laat ons na Hom toe gaan met al die dankies wat uit die diepte van ons hart kom.

In ons mooiste liedere moet ons dit vir Hom sê.

Want die Here is God; Hy is die sterkste van die sterkstes.

Soos ’n onoorwinbare Heerser staan Hy in die pad van enigiemand wat sy plek wil vat.

Gaan staan jy op die hoogste berg of in die diepste plek op aarde—dit is die Here s’n.

Die see het Hy gemaak en soos ’n kunstenaar het Hy die aarde met sy hande gevorm.

Kom ons buig voor God en erken Hom vir hoe groot Hy regtig is.

Kom ons kniel nederig voor die Heer wat ook vir ons gemaak het.

Want Hy is ons God en ons is sy mense.

Hy beskerm ons soos ’n herder sy skape versorg en beskerm.”