Volgende Stap: Wie is genooides?

[powerpress]

Ek wil begin deur te vra: Waarvoor bestaan ’n bank?  Seker om jou geld vir jou veilig te bewaar sodat dit nie gesteel word nie.

Waarvoor bestaan ’n motor handelaar?  Seker om ’n voertuig aan jou te verkoop wat jou gerieflik binne jou begroting by jou destinasies uit kan bring.

Waarvoor bestaan die kerk?  Waarvoor bestaan Impetus gemeente?

Wat het ons om vir hierdie gemeenskap waarin ons is, te offer?

Jesus, liefde, goeie nuus van God se koninkryk.

Hand. 1:8  “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”  AFR83

Jesus het nie die boodskap van Jesus of liefde of goeie nuus vir die bank gegee of vir ’n motorhandelaar gegee nie maar vir sy kerk.  Ek en jy wat hier sit.

 

Vandag kyk ons na nog ’n stap in ons geestelike lewe: Hoe raak ons getuies of verteenwoordigers of agente van die goeie nuus?

Ek wil so paar oomblikke stilstaan by ’n vreemde dissipel van Jesus.  Matteus.

In die Bybelse tye was daar ’n groep mense waarvan niemand gehou het nie. Belastinggaarders.  Om vir Jan taks te werk is nie juis ’n gewilde werk om te hê nie.

In Bybelse tye was dit veel erger.

Hulle was baie sleg gewees in die oë van die Jode omdat hulle mense basies uitgebuit het en aan die kant van die Romeine was.  Hulle is gesien as kurrupte verrraaiers.

Hulle het hulle eie mense, die Jode basies, verneuk om ryk te word.

Matteus was ’n SARS vir die keiser.  Sy baas was Herodus Antipas.

Matteus het by ’n tolhek gesit wat deur die Romeine opgesit is op ’n pad wat altyd verniet was en toe ewe skielik deur Herodus Antipas ’n tolhek gemaak was.

Jy kan jou verbeel hoe gewild was Matteus om geld te vra vir mense by die tolhek waar hulle elke dag verby gegaan het en dit nog vir sy volksgenote.

Matteus se baas was Herodus Antipas.  Hy was die ou wat Jesus se neef Johannes die doper se kop laat afkap het en op ’n stadium ook vir Jesus wou dood maak.

En omdat die tollenaars vir die keiser gewerk het was hulle onaantasbaar.

 

En op ’n dag toe kom Jesus die Rabbi (leermeester) verby die tolhek in Galilea:

Luk. 5:27-28       “Daarna het Jesus uitgegaan en ’n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.”  Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg.”

Kan jy jou indink hoe dit Matteus se wêreld omgekeer het toe Jesus dit gesê het.

Wat meer is een van Jesus se ander dissipels was Simon.

Nou Simon het aan ’n radikale politieke party behoort wat die Yweraars of die Selote genoem was.

 

Hulle was soos die AWB in Jesus se tyd.  Hulle is deur die Romeine as terroriste beskou.

So, kan jy jou indink toe Jesus vir Matteus die verraaier van die Jode voorstel aan die AWB ou Simon wat almal wat iets met die Romeine te doen gehad het, gehaat het.

Simon sou nooit in sy lewe eers belasting betaal het aan hierdie ou nie en nou bring Jesus hom huis toe.  En Jesus sê, julle 2 ouens, julle deel ’n kamer van nou af.

Maar in Jesus se community was dit ’n boodskap van almal is welkom, niemand is perfek nie en alles is moontlik.

Tot die dag toe Matteus vir Jesus ontmoet het, was sy lewe deurmekaar.

Nou, het hy ’n nuwe lewe gekry, sy sonde is vergewe, hy kry aanvaarding, hy kan behoort

Alles het vir hom verander.  Hy los sy ou lewe net so agter, die geld alles en volg Jesus.

En sy lewe is nooit weer dieselfde nie.  Van ons het ook al sulke oomblikke gehad.

 

MAAR iets het hom begin pla en knaag aan hom, sy ander tollenaar vriende, gehaat deur almal. Hulle is die slegte ouens van hulle omgewing.

Hierdie is die korrupte skelm ouens wat die ander dissipels nooit eers mee sou praat nie.

Maar vir Matteus was hulle mense, met name en sy ou vriende.

En op ’n dag besluit hy, hy gaan ’n partytjie hou.  Hy gaan al hierdie slegte ouens uitnooi na ’n partytjie toe en hy gaan Jesus ook uitnooi.  Sy vriende hou van partytjies.

Die godsdienstige manne van Jesus se tyd het nie daarvan gehou nie.

Maar Jesus stem in. Hy het gereeld met hierdie tollenaars en sondaars gekuier.

 

Luk. 5:29-32       “Levi het ’n groot feesmaal in sy huis gehou ter ere van Jesus, en ’n groot aantal tollenaars en ander mense het saam met hulle aangesit. Die Fariseërs, en veral die skrifgeleerdes onder hulle, het by sy dissipels gekla en gesê: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?”  Toe antwoord Jesus hulle: “Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars.”

So hier is die grootste Rabbi van Israel, Jesus, en hy kuier met Matteus se vriende.

Kan jy dink wat dit aan Jesus se reputasie gedoen het?

Waaroor dink jy het hulle gesels?

So, Jesus waar kry jy jou geld vandaan om belasting te betaal?

Ag, ek stuur gewoonlik sommer vir Petrus af see toe om ’n vis te vang en dan haal ons sommer ’n goue muntstuk uit die vis se bek uit en dan gebruik ons sommer dit.

 

Maar Matteus se ervaring by Jesus het hom so dankbaar en opgewonde gemaak dat hy sy vriende uitgenooi het na hierdie partytjie toe saam met Jesus.

Hy het seker in die geheim gehoop en dalk gebid dat Jesus hierdie vriende van hom ook sal aanvaar en wys hoe God regtig is.

 

  1. Ken jy enigiemand wat Jesus nodig het?

Of anders gestel: Ken jy enigiemand waarna Jesus sou kyk en dink, hierdie man of vrou, hy of sy het My nie nodig nie?

Kom ons neem dit nog ’n stap verder: Jou vriend of vriendin, kennis by die werk, ma of pa, broer of suster – as jy oor hulle dink kom dit by jou op – ek is besorg oor hulle geestelike welstand.

En in jou stilligheid het jy al gedink soos Matteus – Here hoe kan ek ‘n ontmoeting met Jesus en hierdie persone reël op een of ander manier?

 

  1. As ek dit risiko neem om iemand na Jesus toe te wys, op wie kan ek reken om my te help? Die antwoord vir die vraag is God.

Die oomblik wat ek die kans vat om iemand uit te nooi, vir haar te bid, vir hom te vertel – dan is God self deur sy Heilige Gees aan die werk saam met jou in daardie persoon.

Die oomblik wat jy in die stroom ingaan sal jy agterkom dat jy nie alleen is nie.

Deur die eeue het mense hulle lewe gegee om iemand anders na Jesus toe te wys.

Baie is tronk toe omdat hulle iemand anders uitgenooi het kerk toe.

Kol. 4:2-4  “Vra God om vir my deure oop te maak sodat ek die mense van Christus kan vertel. Ek wil vir almal die geheim vertel dat Christus ook vir hulle bedoel is, al sit ek ook juis daarom vandag in die tronk.  Vra God ook om my te help om die regte dinge op die regte tyd te sê as ek vir mense van Jesus vertel.”  DB

Maar weet jy wat, ons wil dit te veilig speel.  Ons wil niemand afronteer nie.

Ons wil nie die kans vat dat iemand nie sal opdaag nie.

Vergeet ons nie dalk wat op die spel is wanneer iemand die lewe sonder Jesus aanpak nie?  Vergeet ons nie wat is die uiteinde as iemand nooit ‘n ontmoeting met Jesus kry nie?

Vergeet ons nie dat dit nog altyd deel was van God se plan met sy kerk hier op aarde nie?

Dat ons Hom moet verteenwoordig.  Dat ons lig met wees.  Dat ons ‘n teenmiddel het vir die gevaarlikste siekte wat daar is.

 

Kan ek jou vandag uitdaag?

Ek wil jou graag so oomblik vra om net saam te speel.

Jy hoef nie as jy nie gemaklik is hiermee nie.

Wie van julle het by Jesus of ‘n kerk uitgekom omdat iemand jou genooi of vertel het?

Wie van julle het by Impetus uitgekom omdat iemand jou genooi of vertel het?

M.a.w. jy het by Jesus uitgekom a.g.v. iemand wat jou genooi of vertel het, daar was iewers op een of ander manier ‘n verhouding betrokke?

Die meederheid van ons het ‘n verhouding met God begin omdat iemand ons genooi het, iemand ons vertel het, iemand ‘n pad met ons gestap het.

Annatjie en Steve was vir die laaste kwartaal by al ons omgeegroepe en ek het haar gevra om kortliks te vertel wat hulle oor en oor by al die groepe gehoor het wat hulle besoek het.

 

Nou, ek het ‘n uitdaging, ‘n challenge vir jou.

Ken jy iemand wat Jesus nodig het?  Iemand wat kerklos, kerkloos, en kerk seergekry is.

Kom ons stel net voor – elkeen van ons kan 5 mense persoonlik uitnooi na volgende week of die reeks wat volgende week afskop.

Die klem val op persoonlik – jy kan die link wat ons per sms gestuur het gebruik, op jou Facebook sit as jy wil maar ek wil jou vra om persoonlik 5 mense uit te nooi.

Ons is meer as ‘n 100 mense hier vanoggend maar kom ons sê ons was ‘n 100.

Dit sou beteken dat 500 mense na volgende week se diens toe uitgenooi word.

Nou, kom ons wees realisties, ek weet nie al 500 gaan hier opdaag nie.

Maar kom ons sê net 10% daarvan m.a.w. 50 mense daag op volgende week.

Dan is daar 50 mense meer in volgende week se diens of wat die reeks saam met ons doen as vandag.  Dink jy nie daar sal blydskap wees in die hemel daaroor as 1 persoon wat dalk weggedwaal het, of kerkloos of kerklos is weer terugkom na die Here toe nie?

Dink jy nie die hemel en die Heilige Gees sal saam met jou werk met daardie persoon nie?

Kom ons dink net weer aan ons eie storie – hoe jy hier gekom?

Wil jy dit nie doen vir iemand anders nie?

 

Wil jy nie ook vir iemand anders vertel van ‘n gemeente waar almal welkom is. Niemand perfek is nie.  Alles moontlik is nie. Wil jy nie glo dat God die hardste hart en grootste sondaar soos ek en jy ook kan red nie?

Sal jy die challenge aanvaar?  5 mense, persoonlik.

Indien jy nie die link gekry het nie of nie met elektroniese goed werk nie – agter in die saal is fisiete of besigheid kaartjies met ons adres, tye en die datum van die reeks.

 

Neem vir jou 5 en vertrou die Here om jou te help om die 5 regte mense uit te nooi om volgende week saam jou kerk toe te kom.  Bid en vra vir die Here wie hierdie 5 moet wees.  Gaan haal hulle by die huis as hulle vreemd of uit plek sal voel om alleen hier op te daag. Nooi hulle uit om dalk voor kerk ‘n koppie koffie saam met jou te drink. Kom ons vetrou die Here saam dat Hy groot dinge in ons lewens gaan doen die volgende paar weke. Kom ons wees soos Matteus en nooi mense uit na volgende week se partytjie toe.

Volgende Stap: Geestelike vriende of “Spiritual running partners”

[powerpress]   Spiritual Running Partners guide PDF

Ons is besig met ‘n reeks wat ons noem Volgende stap.  Ons kyk wat daardie belangrike boublokke is in ons geestelike lewe.  Een van die dinge wat verskriklik moeilik is ons is as kinders van die Here is om dit wat ons ervaar en dit wat ons besluit hier op ‘n Sondag deur te voer in die week.

Hoe kry ek dit reg om besluite wat ek gemaak het, te hou?  Sonder gehoorsaamheid of aksie nadat jy ervaar het die Here praat met jou, is dit onmoontlik om geestelik te groei.

En van die dinge wat al hoe meer belangrik word hoe meer jy groei in jou verhouding met God is verantwoordbaarheid.

Dit is een van die maniere wat jy seker kan maak dat jou goeie intensies hier op ‘n Sondag nie maar net daar bly nie maar deurgevoer word in jou lewe.

En een van die dinge wat mense wat al redelik lank op hulle geestelike reis is nog verder laat groei is geestelike vriendskappe of soos John Burke dit noem “Spiritual Running partners”.

Navorsing het gewys dat hoe verder mense groei in hulle verhouding met God hoe belangriker word ‘n een-tot-een pad met mense.

En dan wil ek miskien net sê om mee te begin, dat ons nie hier praat van ‘n vriendskap wat jy het met iemand anders wat ook die Here dien nie.  Ons praat van baie meer as dit.

Die realiteit is dat ons baie keer die Bybel lees en sekere waardes vorm a.g.v. dit wat ons leer as dissipels van Jesus MAAR waar die verskil inkom is hoe ons dit uitleef en beleef.

Anders bly die Bybel maar net ‘n mooi storieboek wat jy nader bring as jy in ‘n krisis is om ‘n vinnige antwoord te vind.  Ons het so baie om te leer by mekaar.  Jy verstaan liefde, vreugde en diensbaarheid eers as jy self saam met ander gelowiges beleef en gesien het.

As ons vanoggend ‘n meningspeiling kon doen en vra: hoeveel van julle het die Here werklik gevind en werklik ‘n lewe saam met Hom begin a.g.v. ‘n ouer of ‘n vriend wat ‘n rol gespeel het, sal dit seker 98% wees.  En bedoel ek nie net tot op die punt wat jy die Here gevind het nie maar ook hoe jy begin groei en ontwikkel het as ‘n gelowige.

Sonder dat ons dit altyd besef het die rol wat geestelike vriendskappe in ons lewe speel ons begin vorm wie ons vandag is as gelowiges.  Maar wat ek vandag oor wil praat is iets waaraan ons baie arm is in die kerk.

Juis omdat ons in so individualistiese wêreld leef waar elkeen net vir homself uitkyk.  Ek praat van ‘n verhouding met ‘n vriend(in) waar jy bereid is om al jou geheime, jou foute en slegte tye aan bekend maak.

Ek praat van ‘n verhouding met iemand waar jy 100% eerlik kan wees oor jou die plek waar jy op die oomblik in jou lewe is, en ook met die Here is.  Iemand wat die reg het om werklik eerlik met jou te wees sonder dat jy te nagekom voel.

Iemand wat ‘truth-telling’ in jou lewe kan doen sonder dat dit julle vriendskap sal beïnvloed.  Ek wil vir jou sê as jy al gegroei het as gelowige, het jy sulke mense in jou lewe nodig.  Iemand wat bereid is om een-tot-een in jou lewe in te spreek en jou bewus te maak van sekere blindekolle in jou lewe wat jy nie raaksien nie.

Daar is geweldig baie voorbeelde in die Bybel van geestelike vriendskappe maar die een wat seker die meeste uitstaan is opgeteken in 1 Sam. Die verhaal van Dawid en Jonatan.

Hulle het ‘n verhouding gehad wat eintlik nooit kon werk nie.

Jonatan se pa, was die koning van Israel.  En Dawid was die gesalfde nuwe koning wat sou kom.  Hulle moes eintlik aartsvyande gewees het.

Daar was baie issues gewees tussen hulle maar dan sê die Bybel ook dat hulle siele met inmekaar geweef was.

1 Sam. 20:17     “Jonatan het Dawid dit met ’n eed vir hom laat belowe vanweë sy liefde vir hom, want hy het hom liefgehad soos homself.”  ANV

Die konteks van hierdie eed was dat Jonatan ‘n belofte gemaak het nie net teenoor Dawid nie maar ook teenoor Dawid se nageslag.

Later in dieselfde hoofstuk wanneer hulle paaie vir eers moet skei lees ons:

1 Sam. 20:41-42 “Toe die slaaf weg was, het Dawid opgestaan langs die kliphoop en op sy knieë geval en drie maal vooroor gebuig. Hulle het mekaar gesoen en saam gehuil totdat Dawid baie ontroerd geword het. Jonatan het vir Dawid gesê: “Gaan in vrede omdat ons twee in die Naam van die Here trou gesweer het en gesê het: Die Here is vir altyd daarvan getuie tussen ons en tussen ons twee se nageslagte.”

As jy bietjie verder lees in 2 Sam. die 1ste hoofstuk is daar ‘n hele gedeelte wat bekend staan as Dawid se klaaglied oor Jonatan.

Dit is ‘n kragtige gedeelte waar Dawid getreur en sy hart uitstort nadat Jonatan dood is.

Tot jare later wat Dawid vra in:

2 Sam. 9:1 “Het daar nie miskien iemand uit Saul se familie oorgebly nie? Ek sou hom graag onder my sorg wil neem ter wille van Jonatan.”  ANV

Dan word Mefiboset na Dawid gebring, ‘n lam seun wat geen toekoms gehad het nie en Dawid neem hom in die paleis in en maak hom groot soos sy eie.

 

Daar is nog ‘n voorbeeld in die O.T. in die boek Rut.

Dit gaan oor ‘n vrou met die naam Naomi wat twee skoondogters gehad het wat naby aan haar was.  Maar toe Naomi se man gesterf het besluit sy om terug te gaan na die land toe waar sy groot geword het in Juda.

Die een dogter het gehuil en op die ou einde terug gedraai maar Rut het ‘n ander reaksie gehad daar in:

Rut 1:16    “Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ’n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”

Dit is wat dit beteken om ‘n geestelike vriendskap te hê.

Wanneer jy tyd met hulle spandeer voel jy geliefd maar ook uitgedaag.

In geestelike vriendskappe leer ons die dissipline van verbintenisse.

En dit gee ons dan die reg om waarheid in mekaar se lewens te spreek.

Dit is ‘n verhouding met iemand wat ons help om God te soek, wat ons help om vrae oor onsself te vra, en na ons te luister.

En hierdie geestelike vriendskappe of “spiritual running partners” vind ‘n mens net wanneer jy doelbewus sulke verhoudings met mense aanknoop of selfs betaal.

Wanneer jy doelbewus op die uitkyk vir sulke vriendskappe is, sal hulle mettertyd in jou lewe kom.  Ongeforseer en van self.

Daar is baie mense wat vra: waar kry ek ‘n geestelike vriend of “spiritual running partner”?

Die antwoord is nie eenvoudig nie.  Dit is mense wat God doelbewus in jou lewe plaas.

Maar jy moet ‘n begeerte hê om sulke mense in jou lewe te hê.

Maar hierdie mense word krities vir jou pad saam met God hoe meer jy groei as gelowige.

Joh. 1:17   “…die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.”  ANV

 

En dit bring my by ‘n punt wat ek dink baie belangrik is.

Geestelike vriendskappe het beide:  Genade en waarheid

In hierdie twee woorde lê die transformasie in ons lewe opgesluit.

Dit is in genade wat ons geïnspireer word om nooit op te hou probeer nie.

Dit is in waarheid wat ons leer om nederig en naby aan God se voete moet bly.

Om mense te dien en soms om gedien te word is nie deel van ons ‘makeup’ nie.

Maar dit is soms die manifestasie van God in ons lewens.

1 Sam. 20:14-15 “En as ek dan nog lewe, moet jy die trou van die Here aan my betoon, sodat ek nie sterwe nie, en jy moet jou trou nooit aan my familie onttrek nie.”

Wat sê Jonatan eintlik vir Dawid?  Elke keer as ek jou goedheid en liefde ervaar is dit nie net medisyne vir my siel nie, dit help my ook om die bron van die goedheid, God self te verstaan.

 

En dan kom Paulus in Efes. en sê:

Efes. 4:32 “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.”  ANV

Dit is deur dit te doen wat ons God se karakter in mekaar vaslê.

Genade wat kom in ‘n vriendskap kan ons lewe transformeer soos niks anders nie.

 

Maar waarheid is net so belangrik in ons verhoudings.

Ons het mense in ons lewe nodig wat bereid is om eerlik te wees, wat ons aanmoedig om alles te word wat bedoel is om te wees, wat ons help as ons onsself vernietig.

Ons het mense nodig wat ons toelaat om ons sonde te bely, wat ‘n veilige spasie skep waar ons kan sê:  ‘Ek was selfsugtig vandag.  Ek was ongelooflik ongeduldig.  Ek het ‘n begeerte om soos iemand anders te wees. Ek sukkel met versoekings.”

Ons het mense nodig wat ons kan bemoedig maar ook vermaan.

Wat ons kan uitdaag om in waarheid en in opregtheid te leef.

God doen van Sy beste werk in ons wanneer ons bereid is om area’s van ons lewe wat donker is, waarvan niemand weet nie, waaraan niemand mag vat nie, in die lig kom.

Mense wat ons uitdaag om te leef wat ons sê ons glo.

Spr. 27:6   “Op ’n vriend wat jou seermaak, kan jy reken…”  ANV

Ons het mense nodig wat ons kan uitdaag om te dink:  ‘Ek moet die waarheid in dit oorweeg.’

 

Ek wil afsluit met ‘n paar opmerkings wat baie prakties is:

Wat is ‘n geestelike vriend of ‘Spiritual Running Partner’?

Dit is iemand wat bereid is om langs te kom staan en jou te help om God se stem te hoor in jou lewe.

Dit is iemand wat waarheid in jou lewe kan inspreek en jou kan uitdaag om beter te doen.

Dit is iemand wat die plek waar jy is in jou geestelike lewe kan raaksien en jou deur dit te help.

 

Waar kry ‘n mens geestelike vriende of ‘Spiritual Running Partner’?

Deur eers weg te beweeg van ‘n lewe wat net oor jouself gaan en bewus te raak van die mense wat God reeds in jou lewe geplaas het.

Wanneer jy biddend die Here vra om die regte mense in jou lewe te plaas, sal Hy dit doen

Maak commitments om deel ‘n selgroep, dissipelskapgroep, ‘n geestelike vriendegroep te word.

Ons ons gemeente het ons opgeleide geestelike begeleiers.  Dit is mense wat ‘n 2 jaar kursus gedoen het, hoe om ‘n geestelike pad saam met iemand te stap.  Bladjie agter.

 

Wat doen ‘n mens saam met ‘n geestelike vriend of ‘Spiritual Running Partner’?

Jy moet besef dat jy die een is wat moet groei, daarom moet jy met die vrae, die gevoelens, die worstelinge kom en die persoon toelaat om te luister.

Iemand wat nie goed na jou kan luister nie en te maklik en vinnig net vir jou antwoorde kan gee is nie die regte persoon nie.

Dit moet eerder iemand wees wat jou kan help om self te ontdek eerder as om raad vir jou te gee. “To blow the dust out of some else’s eyes.”

‘n Lone Ranger houding gaan jou nie laat groei nie en dit baie keer hoekom die kerk so vol mense sit wat nooit verander nie.

Ek het vir jou ‘n riglyn gegee want geskryf is deur John Burke, die outeur van die boek Soul Revolution. Lees dit deur.  Gebruik dit wanneer jy saam met jou Spiritual running partner bymekaar kom.

 

Die laaste opmerking wat ek wil maak is dit:

Die verhouding of vriendskap wat jy het met iemand kan nooit die leemte wat daar in jou lewe is, vir ‘n intieme verhouding met God vul nie.

Tyd saam met ‘n geestelike vriend / in, is nie tyd saam met God nie.

Ja, hulle kan ‘n geweldige groot invloed speel in jou geestelike groei.

Maar, hulle kan nooit jou verhouding met God vervang nie.

Hy is en bly die perfekte vriend vir jou wat jy nooit op aarde sal kan hê nie.

Hy wil in die 1ste plek dié Persoon wees wat alles van jou weet en wat self ‘n pad saam met jou wil loop.

Joh. 15:15-17     “Die werker ken mos normaalweg nie die baas persoonlik so goed dat hy alles weet wat die baas dink of beplan nie. Nee, ons verhouding is baie anders. Ons is soos vriende onder mekaar. Vriende steek niks vir mekaar weg nie. Daarom het Ek alles wat die Vader vir My gesê het, net so vir julle vertel. Dit is belangrik om te weet hoe Ek oor ons verhouding voel. Julle het Mý nie gekies nie. Dit was Ek wat julle gekies het. En Ek het julle met ’n doel gekies: julle moet vrugbare lewens vir God gaan leef. Ja, julle moet ’n permanente verskil in hierdie wêreld gaan maak. Vra God om julle daarmee te help en Hy sal dit doen. Onthou wat die verskil maak: julle moet mekaar liefhê.”  Boodskap

GEBED   Spiritual Running Partners guide PDF

Volgende Stap: Die Krag van Behoort

[powerpress]

Ons is besig met ‘n reeks – Volgende Stap.  Ons kyk na daardie onmisbare dele van ons groei as gelowiges en wat die volgende stap dalk in jou geloof is om te groei.

Luk. 6:12-13      “In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God.  Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies…”

En dan gaan Lukas voort om al hulle name te gee.

Luk. 6:17-19       “Hy het saam met hulle van die berg afgekom en op ’n gelykte by ’n groot aantal volgelinge gaan staan. Van die hele Joodse land en Jerusalem en van die kusgebied van Tirus en Sidon af was daar ’n menigte mense wat gekom het om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook dié wat onder onrein geeste gely het, is gesond gemaak.  Al die mense het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan het en Hy almal gesond gemaak het.”

Ons kan in hierdie gedeelte en ander ‘n baie definitiewe patroon in Jesus se lewe agterkom:

Hy spandeer tyd wanneer dit donker is alleen saam met Sy Vader.  In die oggend stel Hy sy dissipels aan en spandeer tyd met hulle. Hy kry ‘n groepie mense om saam met Hom Sy bediening te doen. Dan gaan Hy saam met hulle om te werk en te bedien.

Daar’s ‘n liefde vir God, liefde vir mense, en ‘n werk om te doen. En dit is hoe ons as kerk ook wil wees.  Dit was die ritme in Jesus se lewe.

En vandag kyk ons na een van die volgende treë in ‘n volger van Jesus se lewe – om te behoort.  Daar was baie wat geïnteresseer was in Jesus maar ‘n paar was sy dissipels.

 

Ek dink seker ‘n geldige vraag om te vra as dit by Jesus kom is: ‘Hoekom het Hy hierdie stap geneem om ‘n klein groepie bymekaar te maak?’

Hoekom het Hy hulle nodig gehad?  Het hulle enige waarde toegevoeg tot Sy bediening? Nee, hulle het meeste van die kere nie verstaan wat Hy geleer het nie.

Hulle het baie onder mekaar gestry.  Soos bv. wie is die grootste? Wie gaan aan Sy regterhand en aan sy linkerhand sit?  Dit het ‘n ‘fight’ onder mekaar veroorsaak.

Hulle het die kinders van Jesus af gehou.

Hulle het belowe dat hulle saam met Hom in Sy donkerste uur te wees en toe dit kom toe hardloop hulle weg.  Jesus bid dat Sy sweet soos bloed word en hulle slaap.

Daar in Lukas 9 gaan hulle deur ‘n Samaritaanse dorpie en hulle vra Hom:

Luk. 9:54   “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?”

 

So hoekom sou Jesus moeite doen met hierdie spul kleingelowiges, diewe, belastinggaarders, geweldenaars wat sommer ore af kap?

Waar kom Jesus aan hierdie ouens? Afsondering, ek meen dit maak sin.  Hy moet tyd met Sy Vader spandeer. Maar hierdie klomp ‘loosers’ wat niks reg kan doen nie…?

 

Ek dink daar is net 2 moontlike antwoorde: Hy het ‘n langtermyn plan gehad EN… Hy’t mense nodig gehad om lief te hê.  Om te behoort.

Hy was nie onseker van homself of emosioneel onstabiel nie maar die kern waaroor alles gegaan het vir Hom is nie iets ingewikkeld nie, dis een woord: liefde.

As hulle vir Hom gevra het waaroor gaan alles in God se koninkryk dan antwoord Hy:

Mat. 22:37-39     “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

 

Jesus sê, as dinge so bietjie onduidelik vir julle word, waaroor gaan alles? Wees lief vir God met alles (ALLES) en wees lief vir hierdie klomp onvolmaakte mense om jou.

Dit het ook nie beteken dat Hy net saggies oor die weg met Sy dissipels gekom het nie. Nee, juis omdat Hy hulle lief gehad het, het Hy hulle gedruk en uitgedaag.

En het hulle seker so bietjie gewens dat Hy hulle minder liefgehad het.

 

Net voor Hy gesterf het a.g.v. hierdie liefde vir onvolmaakte mense roep Hy hulle en sê:

Joh. 13:34-35     “Ek gee julle ’n nuwe gebod (Rabbi’s): julle moet mekaar liefhê.(Niks nuut) Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. (dit was anders) As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Jesus sê vir Sy dissipels – julle moet die mees liefdevolle groep mense op aarde wees.

Is dit wat my en jou beskryf?  Die mees liefdevolle persoon by die werk?  Die mees liefdevolle persoon in jou vriendegroep?  Die mees liefdevolle persoon by die huis?

 

Dit is wat Hy vir ons wil hê?  Dit is wat Hy vir Impetus Gemeente wil hê.  Nie dat ons die slimste, rykste en mooiste moet wees nie, maar die mees liefdevolste groep.  As julle liefhet soos Ek lief het, sê Jesus, dan sal julle onkeerbaar wees.

Ek wil in die tyd wat oorbly 3 beginsels met julle deel wat deel is ‘n groep volgers van Jesus:

Is dit die gevoel wat mense kry wanneer hulle by jou is, by ons gemeente is?

 

  1. Almal is welkom

Jesus het homself die onderwerp van ‘n skandaal gemaak deur Sy optrede.

Het almal wat na Hom toe gekom het verwelkom, lief gehad, aanvaar en omhels.

Dit het nie saak gemaak nie.  Prostitute, Samaritane (ander rasse), heidene, Romeine, slawe.

En die kerkmense van Jesus se tyd het dit van Hom gesê:

Luk. 15:2   “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”

Dit was nie bedoel as ‘n kompliment nie, geen kerkleier doen dit nie.

 

Dit was asof Jesus ‘n bord om sy nek gehad het – almal is welkom.

Sondaars, uitgeworpenes, melaatses.  En sy dissipels was bietjie verneder hierdeur.

Maar nadat Jesus gesterf het en die Heilige Gees uitgestort is het ‘n baie vreemde ding met hierdie groepie gebeur… nog nooit in hulle lewe het hulle dit ervaar nie.

Hulle het ook hierdie liefde vir almal (alle rasse en kulture) gehad.

 

Nog nooit van tevore was daar ‘n gemeenskap wat mense net aanvaar het soos hulle is nie.

A.g.v. die sondeval het ons hierdie ingeboude vermoë om te oordeel.

Ons is almal besig om onsself op te weeg teen ander en hulle te oordeel.

En die wêreld het nog altyd mense wat op die rand van die samelewing was weggestoot.

Maar toe was daar hierdie groepie mense wat hulle leier se voorbeeld onthou het wat voor hulle neergekniel het en hulle voete gewas het soos ‘n slaaf.

En toe het Hy gesê:  Soos Ek julle liefgehad het, moet julle mekaar ook liefhê.

 

Nog nooit was daar so gemeenskap nie. Hoekom sal ‘n mens slawe en uitgeworpenes liefhê?

En dit was een van die mees beskrywendste eienskappe van die eerste Christene.

Hulle het kinders, siekes, oues, verstotenes, liefgehad nog voor hulle van Jesus vertel het.

T.s.v. vervolging en sommige wat hulle lewe verloor het het hulle liefgehad.

Statistiek sê vir ons dat die Christelike kerk die eerste 5 eeue die vinnigste ooit gegroei het.

 

Wanneer jy iewers behoort, wanneer liefde deel van jou lewe word, dan word jy letterlik en selfs fisies gesond.

Verskeie studies het al gevind dat geïsoleerde mense 3 keer makliker sterf as mense met sterk verhoudings.

 

Wat hulle ook gevind het is dat mense met slegte gesondheidsgewoontes soos rook, alkohol, baie stres, geen oefening maar wat sterk interpersoonlike verhoudings het langer leef as mense met goeie gesondheidsgewoontes maar min verhoudings.

M.a.w. dit is beter om ‘n chocolate met goeie vriende te eet as ‘n groente alleen by die huis.

 

Gal. 3:28   “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”

Vraag:  dink jy God kan vandag nog steeds so iets doen?  Of het die Gees van die Here sy krag verloor?

Dink jy dit is vandag nog moontlik dat mense ander lief kan hê maak nie saak wie hulle is en waar hulle vandaan kom en wat hulle gedoen het nie?

Dink jy God kan so iets in jou doen?  Dink jy God kan so iets hier doen?

 

  1. Niemand is perfek nie

Hou jy nie van hierdie stelling nie?  Almal hier het al baie droog gemaak.

Almal hier is maar plat op die grond by die kruis.

Die bloed van Jesus is vir elkeen van ons gestort.  So, daar is vergifnis vir almal.

So hier was ‘n groep mense wat nie gepla is oor hulle reputasie nie, wat nie ander wil beïndruk nie, almal is net sondaars, gered en leef deur die genade van God.

 

Niemand is perfek nie.  As jy is, het jy die reg verdien ons ander mense te oordeel.

As jy nie perfek is nie, dan het jy nie die reg om ander te oordeel nie.

Jesus het die hard en duidelik gesê:

Mat. 7:1     “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie.”

Elkeen van ons is ook anders inmekaar gesit.

 

Party van ons se temperament is waaghalsig en hou daarvan om kanse te vat.

Ander van ons het ‘n hoë sensitiwiteit vir risiko.  Dit is hoe ons inmekaar gesit is.

En om te gaan dink of sê iemand anders het nie genoeg geloof omdat hy nie wil uitwaag en iets doen nie, is om te oordeel.

Van ons is mense wat dinge voel, ander is weer mense wat dinge bedink.

Om te sê die ou wat nie op sy intuïsie kan regeer en eers vir dinge goed oordink is kleingelowig is om hulle te oordeel vir wie hulle is.

 

Daar is mense vanoggend hier wat ‘n enorme stap van geloof moes neem net om hier te wees en hulle angstigheid vlakke tussen ‘n klomp mense wat hulle uitkyk is geweldig hoog

Ander hou weer van mense, hoe meer, hoe beter en voel weer niks gebeur as daar nie ‘n duisend mense is nie.

Almal is verskillend, maar wanneer ek iemand anders in my gedagtes laer as myself plaas is ek besig om te oordeel.

 

Jesus, Seun van God het nooit afgekyk op mense nie.  Dit is nie God se hart nie.

Ja, ons spreek waarheid teenoor mekaar.  Ons noem sonde, sonde.

Ons bely ons sonde as ons eerlik met onsself en ander is – dit is alles deel van fellowship.

As ons nooit vir mekaar vergifnis vra of gee nie, dan beteken dit ons is nie eg nie.

Dan maak ons ook nie ruimte vir mekaar, om foute te maak nie.

 

Ware community het konfrontasie, anders is ons ‘n klomp ‘fake’ mense bymekaar.

Maar ware community het ook vergifnis en laat nie onopgeloste konflik net gaan nie.

Dissipels van Jesus besef – niemand is perfek nie.

Hoe meer ek wegkruip, hoe minder betrokke ek is – hoe meer beskerm ek myself teen seerkry en teleurstelling, Ja.

Maar hoe meer ek vuil word, hoe meer ek houe kry soos Jesus, hoe meer verstaan ek ook van God se liefde en genade.

Hoe meer voel ek ook ek behoort iewers as is dit nie perfek nie.

Want daar is nie perfekte mense nie, perfekte plekke nie, daar is nie perfekte kerke nie.

 

  1. Alles is moontlik

Weet jy hoe het die dissipels geleer? Deur eers ‘n klomp kleingelowige nikswerds te wees.

Ons kry partykeer die idee dat hulle sy slawe was, sy gevangenes was.

Maar dit is nie waar nie, enigeen van hulle kon op enige stadium wegstap.

Maar hulle het nie.  Hulle het besef dat hulle moet behoort.

Hulle het besef dat al maak hulle droog, liefde altyd groter moet wees.

Daar was nie ‘n ander kerk of Rabbi by wie hulle kon aansluit as iemand hulle te na gekom het nie.

Hulle het besef dat as hulle wil deel in die oorwinning saam met Jesus, hulle ook eers moet voete was, geslaan word, en dien soos Hy gedien het.

Hierdie dissipels het ‘gestick’.  Hulle het hulself blootgestel vir teleurstelling.

Maar die uiteinde was wonderwerke, die een na die ander.

 

Wanneer God sy transformerende krag in ‘n groep mense begin is daar geen keer aan nie

Dan word Simon, ‘n shaky impulsiewe ou, Petrus, Petra die rots.

Dit is wanneer Saul, ‘n Joodse fanatikus, wat almal behalwe Jode haat, iemand word wat sy energie, sy vryheid en uiteindelik sy lewe gee vir elke ongelowige wat hy ontmoet.

Want waar mense liefde laat heers is enigiets moontlik.

 

Jy sien God sien onder die oppervlak, Hy werk agter die skerms.

Toe Hy op die kruis hang roep Hy nie ‘n weermag van engele af om hulle in as te verander nie.

Hy weet, alles is moontlik.  Maar daar is ook ‘n tyd vir alles.

En dit is hoe daar ‘n groep mense begin wat ‘n gemeenskap vorm.

Wat brood in mekaar se huise breek en saam bid en weet hulle is hier vir ‘n doel.

 

Waar Jesus is, is ‘n gemeenskap van mense wat hulle lewe met mekaar deel.

Daar is almal welkom.  Daar is niemand perfek nie.  Daar is enigiets moontlik.

Dit is eenvoudig om sê, maar baie moeilik om te leef.