Waar jou skat is… Word ‘n buitensporige gewer

[powerpress]

‘n Man loop eendag deur ‘n tweedehandse winkel en sien ‘n kat drink van ‘n potjie.

Die ou is ‘n antieke goedere ‘expert’ en herken onmiddellik die potjie waaruit die kat drink as antieke porselein pot van Sjina wat dateer na die Ming dinastie.

Dit was ‘n fortuin werd.  Hy begin toe dink hoe hy sy hande op hierdie pot kan kry sonder dat die eienaar agterkom hoeveel dit werd is.

Hy bedink ‘n goeie plan en sê vir die eienaar:

“Dit is ‘n merkwaardige kat wat jy daar het.”  “Ek sal jou $500 vir die kat gee.”

Die eienaar sê:  “Ek sal skuldig voel as ek hierdie gewone kat verkoop vir $500, ek weet wat hy werd is.”

Die antieke ou sê:  “Nee, nee, ek dring aan, vat asb. die $500.”

Die eienaar vat die geld en die ou sê toe:  “Weet jy, ek gaan iets nodig hê om vir die kat melk in te gee, wil jy nie sommer daardie pot ook ingooi vir die prys nie?”

Die eienaar:  “Oo, nee, dit is eintlik ‘n antieke pot wat dateer uit die Ming dinastie.  Dit is ‘n fortuin werd.  Dit is nogal snaaks, sedert ek daardie pot het, het ek al 18 katte verkoop.”

 

Daar’s baie slim mense daardie buite wat baie katte koop en hoop dat hulle d. pot gaan saamkry.

Ek het ‘n verrassing vir jou:  jy gaan nie die 1ste persoon wees wat nooit sal sterf nie.

Jesus die wysste finansiële adviseur het gesê:  God gaan vir jou skatte gee in jou lewe.  Miskien baie van hulle.  Om dit bymekaar te maak en vir jouself op te gaar waar dit in elk geval nie lank gaan hou nie, is nie ‘n goeie belegging strategie nie.

 

“You might think of life like this: our life on earth is represented by a dot, because it goes so fast. It’s such a short thing. You’re born and then you grow up. You think life is so long, and the more you age, the faster you realize that it’s going by, and it’s just a little dot. Picture this line that extends not just all the way across the page, but as far as you can imagine, and that’s eternity. And that’s your destiny.”  Randy Alcorn in Treasure Principle

Maar Jesus se raad is:  “Leef vir die lyn, nie vir die kolletjie nie.”

Die aarde is nie jou of jou kinders se tuiste nie.  Jy is gemaak vir veel meer as dit.

Jy is gemaak vir ‘n ewigheid.

Vrygewigheid leer my, om my skatte op die regte plekke te belê.

Deur my hande los te maak van my besittings, is om my hart los te maak sodat God my kan verander.

Luk. 12:24          “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”  1983 NAV

Jou hart sal volg waar jou skat is.

Ons dink dit is andersom.  As iets my hart gryp, dan sal ek my geld daarvoor gee.

So ons dink eintlik:  “As ek voel om te gee, as ek vrygewig voel, dan sal ek my geld gee vir dit waarheen my hart gaan.”

Jesus ken ons harte beter as wat ons dit self ken as Hy sê:  ‘Gebruik jou geld om jou hart te vorm.’  Waar ook al jou skat is, daar sal jou aandag, jou gedagtes, jou emosionele energie en jou hart ook wees.

Daarom sê Jesus, sit jou geld en jou skatte waar jy jou hart graag wil hê.

Moenie wag vir jou hart om te verander en dink dan sal jou geld volg nie.  Dit werk nooit.

Doen dit andersom, sit jou skatte waar jy jou hart graag wil hê.

As jy ‘n hart wil hê wat in lyn met God se wil is, sit jou skatte dan daar.

 

Vir enige volger van Jesus, is Hy ons rolmodel.  Nie net in lewe nie maar ook in wat Hy gesê het oor die ekonomiese realiteite van die lewe.

As jy dink waar Jesus se bediening begin het met sy dissipels.

Hulle was basies selfsugtige manne wat vir hulself gevra het, Wat is in dit vir my?

Dit was nie moeilik vir hulle om kinders, siek mense, oues en kruppel mense van Jesus af weg te hou nie.  Hulle het selfs gedink dat Jesus hulle mag sou gee of ryk sou maak.

 

Maar Jesus was presies die teenoorgestelde.  Eendag sê Jesus vir sy voornemende dissipels, Julle moet verstaan dat die Seun van die Mens nie eers ‘n plek het om sy kop neer te lê nie.  Jesus het werklik vir die lyn geleef en nie die kolletjie nie.

Oor drie jaar het Jesus die boodskap van vrygewigheid oor en oor in Sy dissipels se harte en gedagtes ingegraveer.

Van die 36 gelykenisse wat Jesus vertel het, was 16 oor besittings en geld.

Jesus het eerstens nie daaroor gepraat nie, Hy het dit gemodelleer deur vrygewig te lewe.

 

Drie gelykenisse wat Jesus vertel het:

1.  Ryk man en Lasarus die bedelaar in Lukas 16:19

Jesus vertel die storie van ‘n ryk man wat in ‘n reuse huis woon en die beste kos eet elke dag en ‘n paar tree van hom af bly ‘n bedelaar vol swere wat begeer het om net van die krummels van die ryk man se tafel af te eet.

Dit is nogal ‘n ontstellende storie wat Jesus vertel want die bedelaar hoor ons in vers 22 eindig:

Luk. 16:22          “Kort voor lank is Lasarus dood. Maar toe het hy ’n koninklike ontvangs in die hemel te beurt geval. Die engele het hom kom haal en reguit na Abraham toe gedra. “ ’n Ruk later is die ryk man ook dood. Maar daar was geen engel om hom hemel toe te dra nie. Nee, hy het sy oë in die hel oopgemaak.”  BDKP

Dan smeek die ryk man vir Abraham vir bietjie water omdat die pyn ondraaglik geword het.

Luk. 16:24          “Maar Abraham sê vir hom: ‘Dink so ’n bietjie terug. Daar op aarde het jy alles gehad wat jou hart begeer. Maar Lasarus het net swaargekry. Nou is die rolle omgekeer. Nou is Lasarus gelukkig, en jy ly baie.”  BDKP

Weereens sien ons Jesus sê, leef vir die lyn en nie die kolletjie nie.

 

2.  Vrygewige (barmhartige) Samaritaan

Ons ken die verhaal van die goeie Samaritaan.  Al die godsdienstige figure loop verby die man wat geslaan en beroof is en doen alles om hom te vermy.

Dan kom die Samaritaan.  Jesus kies juis die woord: “Samaritaan” omdat Hy geweet het die wat geluister het waarskynlik rooi in hulle gesigte geraak het.  Hulle het Samaritane gehaat.

Hoekom sou Jesus ‘n Samaritaan kies om die toonbeeld van vrygewigheid te wees?

 

Dit is amper of Jesus dit in “slow motion” vertel.  Die Samaritaan sien die man in die sloot.

Hy stap na hom toe.  Hy sit olie en verbande aan sy wonde.  Hy sit hom op sy donkie.  Hy vat hom na ‘n herberg toe.  Hy versorg hom tot hy moet gaan.  Hy gee ‘n blanko tjek vir die herbergier en sê versorg hom verder.  En dan hierdie woorde:

Luk. 10:35          “Hy sê toe vir die eienaar van die hotel: ‘Hier is ’n paar honderd rand om vir daardie siek man se verblyf te betaal. Sorg asseblief goed vir hom. As dit nodig is, kry ’n dokter. As die geld te min is, sal ek later die res kom betaal. Ek kom binnekort weer hier oorslaap. Bêre al die rekenings vir my.’  BDKP

Die woorde, Ek kom binnekort weer hier oorslaap, tref my.  Jesus sê, wil jy weet wat vrygewigheid in sy volheid is?  Kyk hoeveel is iemand bereid om op te offer.

Kyk na die Samaritaan, hy is bereid om wat ook al dit kos, vir ‘n vreemdeling te gee.

 

3.  Die Fariseërs en die weduwee in Markus 12

In Markus 12 sien ons ‘n kort beskrywing van Jesus in die tempel van Jerusalem.

Daardie spesifieke dag was die tempel vol met mense wat gekom en gegaan het.

Dit was soos spitsverkeer in ‘n besige stad.  Dan lees ons:

Mark. 12:41        “Jesus het regoor die offerkis gaan sit en gekyk hoe die skare hulle geld in die kis gooi. In die proses het baie welgesteldes groot bedrae geld ingegooi.”  NL

 

Iets tref my ook in hierdie sin – Wat maak Jesus hier?  Wat het hulle offers met Jesus te doen?  Wel, ek dink dit is hier om vir ons te wys dat Jesus eerstens weet wat ons gee en tweedens dat Hy weet hoe belangrik hierdie gedeelte van ons lewe vir God is.

Mark. 12:42-44  “Toe kom daar ’n brandarm weduwee en sy gooi net twee klein geldstukkies in. Daarop roep Jesus sy dissipels na Hom toe en sê vir hulle: “Weet vir seker, hierdie arm weduwee het meer in die offerkis gegooi as al die ander. Julle sien, almal het ingegooi vanuit hulle oorvloed, maar sy het, arm soos sy is, alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.” NL

 

Verbeel jou vir ‘n oomblik Jesus het hierdie “teaching moment” met sy dissipels.

En Hy wys vir hulle al hierdie ouens wat baie geld ingooi en dan die weduwee.

In daardie kultuur was ‘n weduwee die mees kwesbaarste, magteloos en onbelangrike persoon in die gemeenskap. Die armste van die arm was die weduwees en die weeskinders.

En Jesus sê, Kyk wat sy doen!  Haar twee kopermuntstukke is buitensporig vrygewig.

Hoekom?  Sy alles ingegooi wat sy gehad het.  Sy gee soos God gee.

 

Dit maak my persoonlik skaam.  Want ek weet dat ek meeste van die tyd eintlik maar uit my oorvloed gee.  Ek praat nie van my tiende nie.  My tiende is die eerste deel van my inkomste wat ek vir God gee en dit behoort nie aan my nie maar aan Hom.  As ek dit vir myself hou sê Maleagi 3:10 dan steel ek by God.  Ek praat van wat ek meer as dit gee.

Nog steeds gee ek uit my oorvloed uit.  Jesus se standaard vir vrygewigheid is:  Niks is te veel, te groot of gemors as dit by finansiële offers vir Hom kom nie.

 

Buitensporig, generous gee is hoe Jesus was.  Dink maar ook aan die vrou in Matt. 26 wat daardie duur parfuum oor Jesus gooi en Hom salf.  Almal dink dit is ‘n vermorsing.

Maar nie Jesus nie, nee, nooit kan ek op God en Sy koninkryk geld vermors nie.

Net soos Jesus by die tempel gesit het, weet Hy alles wat ek vir Hom gee.

As Jesus ‘n finansiële adviseur was, watter raad sou Hy vir ons vandag gee:

1.  Dink oor jou geskiedenis met geld.

Hoe het jy grootgeword met geld?  Wat was jou ouers se siening oor geld? As jy in ‘n arm huis grootgeword het is sal vrees waarskynlik ‘n groot rol in jou lewe speel. Vrees dat jy nie genoeg sal hê nie. Vrees dat jy nie sal kan voorsien nie.

 

2.  Raak ontslae van skuld.

Met uitsondering van huis skuld, as jy rustig wil gaan slaap in die aande sonder om wakker te lê oor jou skuld, begin om jouself stelselmatig skuldvry te kry.

Moenie wag tot daai skip inkom nie, want hy gaan waarskynlik sink voor hy in jou hawe aankom.

 

3.  Moenie oor die 80% merk gaan nie.

Wyse mense met geld sal almal vir jou dieselfde ding vertel, leef met net 80% van jou inkomste.  Meeste mense leef op 100% plus om by te hou met goed wat begeertes geraak het.  Leer die beginsel van uitgestelde genot.  Spaar voor jy geniet.

 

4.  Maak voorsiening vir jou kinders se opvoeding.

Ons leef in ‘n tyd waar opvoeding alles geword het.  In meeste gevalle is jou potensiële inkomste direk gekoppel aan jou vlak van opvoeding.

Die enkeles wat ryk erf of met matriek ‘n enorme besigheid ophou is die uitsondering.

 

5.  Begin met jou tiende.

Wanneer dit by vrygewigheid in God se koninkryk kom is dit werklik die beginpunt.

Dit is soos baie ander dinge eenvoudig ‘n stap van gehoorsaamheid.

Dit is ‘n saak van vertroue dat God my sal seën met die 90% waaroor ek kan besluit.

Ek kan vir jou getuienis op getuienis gee oor my eie lewe en ook ander mense hier se lewe wat hierdie begin self begin toepas het wat sal vertel hoe God in staat is om jou 90% te rek na vêr meer as die 100% wat jy in die begin gehad nie.

 

God seën mense finansieel wat Hom eer met die eerste deel van hulle inkomste.

Niemand raak oornag vrygewig wanneer hulle nie eers sistematies begin het om elke maand vrygewig te wees nie.  Ons tiende is amper soos ‘n oefening in vrygewigheid.

 

Onthou, jou hart volg jou geld en jou besittings, nie andersom nie.

Mag God ons wys hoe oorvloedig, vrygewig en buitensporig Hy is wanneer Hy gee.

God het nog altyd niks minder as Sy beste vir jou gegee nie.

Kom ons eer Hom ook met hierdie deel van ons lewe.

Kom ons raak ontslae van die greep van materialisme wat so maklik en subtiel in ons lewe inkruip.

Mag jy ervaar hoe God jou seën as jy Hom eer met die dinge wat Hy vir jou gegee het.

Waar jou skat is… Die aantrekkingskrag van materialisme

[powerpress]

Vandag gesels ons bietjie oor die sterk aantrekkingskrag van materialisme.

Ons tema vers vir die reeks is Lukas 12:34  “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”  AFR53

Die krag van geld en besittings is so sterk dat dit bepaal waar jou hart is.  Jy kan nooit sê dat jou hart by iets is maar daar is nie ‘n groot deel van jou aardse geld en besittings ook daarby betrokke nie.  Daarom dat 16 van die 36 gelykenisse van Jesus gaan oor geld.  Feitlik helfte van Sy gelykenisse.

Jesus het geweet dat besittings en geld ‘n groot deel van ons lewe sal uitmaak.

Jim Nicodem sê dat die aantrekkingskrag van materialisme hier op aarde byna soos ‘n pendeltuig wat probeer om die aarde se swaartekrag te probeer breek.

Hier op aarde is die byna onmoontlik om die aantrekkingskrag van die aarde se materialistiese uitkyk op dinge vry te spring.  Enigiemand wat sy hart op die regte plek wil sit by God gaan die swaartekrag van hierdie aarde voel wanneer hy vrygewig wil begin word.

 

Die teks waarby ons vandag gaan stilstaan is:  Lukas 12:13-21

“Iemand uit die menigte sê toe vir Jesus: “Meneer, sê vir my broer hy moet die erfenis met my deel.”  Maar Hy antwoord hom: “Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?”  Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”  Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: “’n Ryk man se grond het goed gedra. Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”

 

So paar opmerkings rondom die swaartekrag van gierigheid in ons lewe:

1.  Gierigheid veroorsaak konflik in verhoudings.

Die oomblik wat daar geld betrokke is by ons verhoudings is die oomblik wat daar ruimte vir konflik is.  Daarom dat die Bybel dan sê in Rom. 13:8  “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê…”  AFR53

Die verhaal begin met die woorde: “Iemand uit die menigte sê toe vir Jesus: “Meneer, sê vir my broer hy moet die erfenis met my deel. Maar Hy antwoord hom: “Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?”  Luk 12:13

 

Iemand wat kwaad is roep in die skare uit na Jesus toe.  Dit kom voor of sy ouers oorlede is en ‘n erfporsie gelos het en nou is sy ouer broer onwillig om dit te deel.

En nou vra Hy vir Jesus om hierdie familie dispuut of konflik op te los.

Dit was nie ongewoon vir Rabbi’s in daardie tyd om in mense se persoonlike sake betrokke te raak om advies te gee of skeidsregter te speel nie.

Maar Jesus maak dit duidelik dat Hy nie in hierdie familie twis betrokke gaan raak nie.

 

Maar dit vorm die agtergrond vir die gelykenis wat Jesus dan vertel.

Nie net veroorsaak geld in gesinsverhoudings, familieverhoudings of besigheidsverhoudings konflik nie selfs in ons verhouding met God.

Ek is deeglik bewus daarvan dat so onderwerp by party mense weerstand veroorsaak en ook dinge buite perspektief laat sien.

Maar wat ek sonder twyfel wel vir jou kan sê is dat vrygewigheid ons vrymaak om weg te kom van die swaartekrag van hierdie lewe se materialisme af.

Gierigheid gaan verseker ons ook terughou in ons verhouding met God want soos ek verlede week ook gesê het is ons harte in plekke waar ons skatte is.

 

2.  Gierigheid het baie vorme

Luk. 12:15          “Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”  AFR53

Wanneer mens oor so iets praat dan raak ons meestal op ons gemak want ons dink, sjoe Hy praat darem met die ouens wat baie geld het.  Hulle wat rol in die geld, hulle is die gierige ouens wat net meer en meer wil hê.

Materialisties?  Ek?  Natuurlik nie.  Maar dit is nogal baie soos arrogansie.

Dit is feitlik onmoontlik om dit in die spieël raak te sien maar vir ander is dit meer sigbaar.

Maar Jesus sê dit nie verniet so nie: “Pas op en wees op julle hoede.”

 

Ek het bietjie gaan kyk na verskillende vorme van gierigheid, dalk tref dit glad nie ‘n snaar in jou nie, dalk moet jy bietjie daaroor gaan dink.

  • Vrees gierigheid

Dit is wanneer ek huiwer om te gee omdat ek bekommerd is dat ek nie in my behoeftes sal kan voorsien nie.  Ek moet kos op die tafel sit, ek moet my huis en kar betaal, ek moet skoolfonds betaal.  Ek kan nie bekostig om te gee nie.  Ek kan nie bekostig om my tiende vir God te gee nie.  My reaksie is gewoonlik dat ek al in my lewe ontdek het dat ek nie kan bekostig om nie my tiende te gee nie.  Die Here sê dit duidelik in Sy woord dat 10% van my inkomste aan Hom behoort.  Daarom kan ek nie bekostig om nie God se seën op my finansies te hê nie.  Dit is eenvoudig ‘n stap van gehoorsaam en vertroue op Hom dat Hy sal voorsien in die 90% wat ek nodig het, al dink ek dit is te min.

 

  • Begeerte gierigheid

Navorsing is gedoen 30 jaar terug – basiese behoeftes waarsonder ons nie kan leef nie.

Hulle het op 6 goed afgekom.  20 jaar later is daar 36 basiese behoeftes. Wat het gebeur? Begeertes het behoeftes geword. Ons onderskei dikwels nie tussen die twee nie.

Almal het ‘n nuwe iPhone 6, ek meen, jy sal nie oorleef as jy hom nie het nie.

Almal het ‘n tablet, as ek nie een het nie kan ek nie e-boeke koop nie, ek kan nie studeer nie, dan sal almal dink ek is outyds. My image is belangrik, dit kan tog nie gebeur nie.

 

  • Familie gierigheid

Het jy al daardie Michelin bande advertensie gesien.  Die agtergrond stem sê, “We sell expensive tires, but they’re high quality so you should buy them.”

Dan wys hulle ‘n ma wat op ‘n gevaarlike pad in ‘n storm inry met twee klein kindertjies vas aan die slaap op die agtersitplek.

 

Dan sê die agtergrond stem weer, “Don’t you want the best tires on your car at a time like this?”  So elke ma en pa wat hierdie advertensie sien dink, ek het gedink om goedkoper bande op my kar te sit maar my vrou en kinders se lewens is op die spel.  Ek moet die beste bande wat ek kan bekostig opsit.

Iewers het ons familie ‘n god in ons lewens gemaak.  As jy ‘n waterdigte argument vir enigiets wil maak vandag, sê dat jy dit vir jou familie doen.

Dan word daar nie eers verder geredeneer of gestry nie.

 

Ons aanvaar dat enige uitgawe geregverdig is as dit die familie bevoordeel.

‘n Groter kar, ‘n privaat skool, ‘n 3 meter TV vir die TV kamer, ‘n duur vakansie.

Moet my nie misverstaan nie, ek sê nie enige van hierdie dinge is outomaties sleg nie.

Ek het al baie geld op sulke luukshede gespandeer.

Maar wat ek sê is dat hulle ook nie outomaties goed is net omdat dit vir die kinders is nie.

Daar moet ‘n limiet weer op sulke dinge anders sal jy feitlik enigiets kan regverdig wat jy koop.

 

  • Aftrede gierigheid

Miskien is die rede hoekom jy nie meer vrygewig kan raak nie omdat jy soveel as moontlik wil spaar vir jou oudag.  Spaar vir jou aftrede is wys, maar nie sonder limiete nie.

Jy kan so angstig raak om te dink dat jy nie genoeg gaan hê nie dat jy so suinig word dat jy vergeet wie die bron is van alles wat jy het nou en ook eendag in jou lewe.

Daar is nog baie ander ook.  Goeie lewe gierigheid, impulsiewe gierigheid ens.

3.  Gierigheid gee ‘n valse sin van veiligheid (sekuriteit)

“Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.” Luk. 12:19-21

 

Dit kom voor of hierdie ou ‘n hardwerkende eerlike besigheidsman is.  As ons so ou geken het, het ons hom waarskynlik bewonder.

Hoekom noem Jesus hom dan ‘n dwaas?  1.  Hy het nie erken wie die bron van sy rykdom is nie.  Gaan kyk bietjie hoe baie keer kom die woord EK in hierdie gelykenis voor.

God was nie deel van hierdie boer se sukses nie.

Hy het vergeet dat God die een is wat die son laat skyn, wat die water voorsien, wat peste weghou, wat die gewasse laat groei.

Hoe baie of min jy ook het, as dit jou veilig laat voel dan is dit valse sekuriteit. Want mot en roes en wêreldmarkte kan dit vernietig en dan is al jou beleggings op vir verkeerde plek.

 

4.  Gierigheid maak ons arm by God

Wanneer daardie aantrekkingskrag van materialisme sterk op ons is dan maak dit ons arm by God.  Ons besittings en geld wat ons in God se koninkryk belê maak ons ryk by God.  Jesus is baie duidelik hieroor.

Hoekom is dit dat ons allerhande ander dinge vir God wil gee en dat ons geld en besittings dikwels van die laaste dinge is wat ons bereid is om aan Hom oor te gee?

 

Jesus gee ons ‘n duidelike keuse in hierdie vers Luk. 12:21

“So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”

Dit kan so maklik met ons gebeur.  Meer klere, meer naweke weg, beter van alles.

OF ons kan ryk word by God.  Jesus impliseer dat dit moeilik is om albei te doen.

Hoekom?  Want ons hart gaan ons skatte volg?  Waar jy groot beleggings maak, sal wees waar jou hart is.

 

“In ancient days when the king of Siam had an enemy he wanted to torment and destroy, he would send that enemy a unique gift, a white elephant, a live, albino elephant. These animals were considered sacred in the culture of that day. So the recipient of that elephant had no choice but to intentionally care for the gift. This elephant would take an inordinate amount of the enemy’s time, resources, energy, emotions, and finances. Over time the enemy would destroy himself because of the extremely burdensome process of caring for the gift. Our spiritual enemy uses the same strategy on us. He’d love to distract and stop us. He’d love to keep us from engaging in God-honoring pursuits. And so he leads us to spend our money on things that take a lot of time, a lot of energy, away from these God-honoring pursuits.”  Gordon MacDonald.

 

Dit is net so, as jy ‘n belegging maak, dan neem daardie belegging jou aandag energie en fokus ook op.  Of dit sport is wat jy ernstig opneem, of dit ‘n vakansiehuis of plaas is wat jy koop.  Daardie belegging net ons aandag en tyd in beslag.

Die effek is dikwels (nie altyd nie) dat ons nie tyd het vir God, sy kerk en sy koninkryk nie.

Dan maak daardie belegging ons eintlik armer by God.  Want ons hart is by die belegging en nie by Hom nie.

 

Deur die krag en wysheid wat God jou gee, word ‘n wyse belegger of gewer.

Word ryk op die plek waar dit werklik saak maak.  By God.

As jy die res van Lukas 12 lees dan sien jy hoe Jesus verder gaan en vertel hoe ons nie besorg moet wees oor die sorge van hierdie lewe nie.  Lees gerus die hele Lukas 12.

As Hy dan vir die hele skepping sorg, hoekom sal Hy dan nie vir my en jou sorg nie.

Waar jou skat is… God verdien jou beste

[powerpress]

Vandag begin ons ‘n nuwe reeks oor ons harte en die temavers vir die reeks is:

Mat. 6:21  “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”  AFR53

En vandag gesels ons meer spesifiek oor:  God verdien jou beste.

Rom. 12:11        “Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here.”  NLV  “Moenie vir een enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here met groot oorgawe.”  DB

Die woord entoesiasties kan ook vertaal word met: intense passie.

In ons eie woorde beteken dit: wees ten volle uitverkoop aan God.  Volle oorgawe.

1.  Is volle oorgawe / ‘aan die brand’ vir God regtig so belangrik?

2.  Wie se werk is dit op jou entoesiasties of aan die brand te hou?

3.  Watter dinge kan jy doen om geestelik warm te bly?

 

1.  Wat beteken dit om geestelik warm te wees en maak dit regtig saak?

Ek is hier om vir jou te vertel dat dit vir God saak maak.  Meer as wat ek en jy heeltemal verstaan.  Die klassieke gedeelte in die Bybel hieroor is:

Open. 3:15-16   “Ek ken jou handel en wandel. Ek weet dat jy nie koud of warm is nie. Was jy tog maar net koud of warm. Omdat jy so louwarm is, nie warm nie en ook nie koud nie, is Ek op die punt om jou uit my mond te spoeg.”

Die frase “uit my mond spoeg” beteken letterlik uitbraaksel / opgooi.

Die vers beteken dat geestelike louwarmheid, neutraliteit, is iets wat God naar maak.

Hoekom?  Wat is die probleem dan?

Want dit gee aanstoot vir ‘n God wat passievol en met volle oorgawe Sy kinders lief het.

God se liefde is ‘n selfopofferende, persoonlike, entoesiastiese liefde vir jou.

God se reddende offer vir ons, het die bloed van Sy eie Seun gekos.

Toe Jesus se woorde: “dit is volbring” uitgespreek het, was deel daarvan dat daar geen groter offer kan wees om God se liefde vir ons te bewys nie.

Wat meer kan die hemele sê, doen of wys as dit?

En vir enige ware kind van God wat reageer op daardie liefde met ‘n neutrale gees, van ek sal sien of ek daarby kan uitkom, ek sal sien of ek daarvoor tyd het – maak God siek.

Dit pas net nie die belegging, die uitstorting van genade, wat Hy gemaak het nie.

Ek dink ons verstaan dit ook op ‘n menslike vlak.  Soms is daar is geskenk wat ons weet ons kinders of kleinkinders se harte baie bly sal maak.  Partykeer is dit duur of moeilik om in die hande te kry.  En ons doen partykeer geweldige moeite om daardie item vir hulle in die hande te kry, daarvoor te spaar, dit toe te draai…

En wanneer jy daardie geskenk vir hulle gee en hulle kyk net met so traag-my-nie-agtige ondankbaarheid… hoe voel / reageer jy?  WAT???  Regtig?  Dit is soos ‘n mes in jou rug.

 

Soms vergeet ons dat God ook gevoelens het.  En wanneer Hy homself heeltemal vir ons gee en nie spaar nie EN ons reaksie is….  AAGG! en ons gaan maar net aan met ons dinge waaroor ons opgewonde is en wat ons aandag het – kan dit God se hart breek.

Dit is hoekom Openbaring sê, wees eerder koud, maar daardie middelmatigheid, dit is wat God nie kan staan nie.  Nooit nie.

Nog ‘n gedeelte wat vir my dien as ‘n waarskuwing vir geestelike apatie is Maleagi 1.

God is kwaad vir hulle oor die tipes offers wat hulle bring toe die geleentheid daar is om vir Hom offers te bring.

Die Here het dit glashelder vir hulle gemaak vroeg in hulle geskiedenis dat die enigste lam wat vir Hom aanvaarbaar sou wees, die eerste lam is wat perfek is.

Die lam wat die meeste werd is en wat die hoogste prys op ‘n veiling sou kry.

Die simboliek was daar in die O.T. dat God hulle wou wys dat Hy eendag ‘n perfekte lam, die eerste lam, die kosbaarste, waardevolste, Sy eie Seun sou gee.

So God het hulle honderde jare voordat Christus gekom het ‘n simbool of skadubeeld gegee dat die kwaliteit van die lam, werklik vir Hom belangrik is.  A.g.v. die Lam wat later sou kom.  Onthou jy wat die mense in Maleagi se tyd gedoen het?

Wanneer dit offer tyd was en hulle moes gaan kyk het vir die eerste, perfekte lam, dan het hulle in die trop gaan kyk vir die swakste en gebreklikste lam.

Hulle houding was, daar is sommige mense wat niks vir God gee nie.  Ek gee ten minste iets vir God, Hy kan bly wees en gee Hom darem iets.

Mal. 1:8-9 “Is daar niks mee verkeerd as julle ’n blinde of ’n lam of ’n siek dier vir My kom offer nie? Probeer ’n bietjie so iets met julle goewerneur en kyk hoe baie hy daarvan gaan hou. Tog hou julle aan vra dat Ek, die Here, vir julle goed moet wees, maar solank julle so aangaan, sal Ek nie julle gebede verhoor nie, en dis net julle eie skuld. Ek wens iemand wil liewer die tempel se deur toesluit. Dan kon julle ten minste nie al hierdie nuttelose offers vir My bring nie. Ek is nie beïndruk met wat julle doen nie. Moenie dink dat Ek maar met enigiets tevrede moet wees nie. Onthou, Ek is die Here, die enigste God.

Het die gedagte al ooit by jou opgekom dat God jou beste wil hê?

Of is jou idee nog altyd, dat die Here bly moet wees vir iets wat ek gee, dit is sekerlik beter as niks.

Hierdie teks sê dit in geen onduidelike terme dat God nooit geïnteresseerd is in jou “leftovers” of wat jy oor het van jou tyd, jou talente, jou liefde, jou geld nie.

Dit pas eenvoudig nie. Nie as jy die grootheid van die offer wat vir jou gebring is verstaan nie.

Eintlik, as dit jou houding is – dan sê God, Ek neem aanstoot vir die sporadiese been wat jy vir My gooi en dink dit is ‘n offer vir My.

Sluit dan liewers die kerk se deure, dat mense nie halfhartige, louwarm offers vir My kan bring nie.  Stop, moenie met My speletjies speel nie, sê God.  Jy breek my hart.

Ek weet nie of jy al hierdie raakgelees het nie.  Maar die eerste keer wat ek dit gehoor het, het dit my so geskok dat ek geskrik het.  95% vir God is nie goed genoeg nie.

Hoekom myself en dit wat ek gee, vergelyk met mense wat vêr minder passie vir God het as ek.  My 95% is tog beter as Piet se 60%.  God moet baie in sy noppies wees met my.

Wie probeer ek fool?  95% is 5% kort van wat God van my begeer.

God verwag my 100%, Hy begeer my 100%.  Ek moet eintlik op daardie altaar wees.

 

Het God al ooit minder as Sy absolute beste vir jou gegee?

Toe ek dood was in my sonde.  Toe my oortredings ‘n doodsvonnis oor my voltrek het, toe het Hy nie ‘n been my kant toe gegooi nie, Hy het sy duurste, absolute beste vir my gegee.

Toe die tyd gekom het wat Hy die aarde verlaat het, het Hy ‘n afgewaterde weergawe van Homself vir my gegee?  Nee, Hy het die 3de persoon in die Drie-eenheid vir my gegee.

Sy Heilige Gees.  Dit is SY beste.

En in die volgende lewe wat kom, het God vir jou ‘n klein shack sonder ‘n venster belowe?

Nee, ‘n plek en omgewing wat ons gedagtes nie eers kan bedink nie.

1 Kor. 2:9 “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.”

 

Jy gaan wanneer jy jou oë toemaak hier, geneem word na God se wêreld waar jy in Sy beste gaan wees tot in alle ewigheid.  As dit jou nie raak nie, dan weet ek nie.

Hy het nog altyd, Sy absolute beste vir jou gegee.

Die minste wat ek en jy kan doen is om ten minste te probeer om ons beste vir Hom te gee. Dit is nie hierdie werke wat ons red nie, dit is wat hierdie dinge verteenwoordig.

Jou tyd, energie, talente, geld verteenwoordig jou hart.  En dit is wat Hy wil hê.

Harte wat 100% volkome op Hom gerig en gefokus is.  Nie op ander dinge nie.

Wat jy elke dag vir God gee, maak regtig saak!

Kom ek vertel jou hoe dit op praktiese maniere in my lewe uitspeel.

Wanneer ek op ‘n Sondag kerk toe ry, dan het ek ‘n ritueel.  Terwyl ek in ons straat afry en ek die see in die vêrte kan sien sê ek Here, dankie vir die voorreg om vandag na hierdie gemeente toe te gaan.  Ek gaan vandag preek asof dit my laaste preek is wat ek gaan preek, want dit kan dalk my laaste preek wees wat ek preek.

Ek vra die Here om my te help, want ek weet daar is menselewens op die spel.

Ek vra Hom om my te help om my absolute bes te gee want Hy het Sy absolute bes vir my gegee.  En dan bid ek vir elke persoon wat vandag hier gaan sit.

 

Partykeer sal ek by iemand stil staan, dalk moeg of nie werklik lus vir die afspraak nie.

En dan sal die Heilige Gees fluister, Braam, is hierdie jou beste?

Dink jy nie hierdie persoon verdien jou volle aandag en dalk jou gebede nie.

En dan moet ek bely en erken, ja Here, ek moet my hart regkry.  Hierdie persoon verdien my beste, hierdie persoon het my gebede nou nodig, hierdie persoon het U nou nodig.

Elkeen van ons het geestelike gawes of talente.  Eendag moet ons rekenskap daarvan gee aan God.  As jy dink aan jou gawes wat dit ook mag wees, herderskap, intersessie, gasvryheid, vrygewigheid – doen jy jou beste om daardie gawes te ontwikkel en te gebruik vir God en Sy koninkryk?

Partykeer as jy by die werk is en jy dink, ek werk maar net by ‘n gewone besigheid, ons maak maar net motoronderdele.

 

Fluister God ooit in jou oor, maar doen jy jou beste daar, asof jy dit vir Hom doen?

Selfs al doen niemand anders hulle beste nie, doen jy jou werk so asof jy eintlik vir God werk en nie ‘m aardse baas nie?

Baie van ons het dalk die afgelope jaar as dit kom by bydraes gedink, daar is soveel ander wat dalk glad nie gee nie, kyk wat ek darem gee as die mandjie verby kom of my EFT maak dit einde van die maand.

Is dit jou beste?  Is dit die eerste deel van jou inkomste?  Is dit jou volle tiende?

Wel, God of die kerk moet darem bly wees vir dit wat ek gee, dit is beter as niks nie.

Wat dink jy?  Ek gaan dit net nog een keer sê – God het nog nooit minder as Sy absolute beste vir jou gegee nie.  ALLES wat jy het, ek sê weer, ALLES wat jy het, is deur Hom vir jou gegee.

 

2.  Wie se werk is dit op jou entoesiasties of aan die brand te hou?

Judas 1:20        “Maar julle, geliefdes, moet aanhou om julleself op te bou op die fondament van julle allerheiligste geloof. Hou aan om te bid terwyl julle heg verbind bly aan die Heilige Gees.”

Wie se werk is dit?  Dit is elke persoon se eie werk om dit te doen.

Sou dit nie lekker gewees het as dit my werk was nie?

Dan kon jy ten minste iemand blameer.

 

3.  Watter dinge kan jy doen om geestelik warm te bly?

Dit is vir verskillende mense verskillende dinge.  Maar hier is ‘n paar wat deel van my lewe geword het lank voor ek nog ‘n pastoor geword het.  Om ‘n pastoor te word het nie eers my gedagtes gekruis toe ek eers ‘n kind van God geword het nie.

 

Plekke.  Ek moet na sekere plekke toe gaan om my geestelike aan die brand te hou.

Vir my is dit kerk toe.  Wie van julle het meeste van die tyd meer opgebou en aan die brand hier uitgestap as wat jy hier ingekom het?  Meeste?

Mense.  Daar is sekere mense met wie ek weekliks kontak moet hê om daardie ywer, entoesiasme en passie vir die Here en sy dinge warm te hou.

Ek praat van tyd tot tyd met van ons kinderkerk personeel en weet jy wat is van die dinge wat hulle vir my sê, dit is verskriklik moet om met ‘n groep kinders te werk en iets in hulle lewe te probeer inbou as hulle net so 1x ‘n maand daar is.

Dit is net of hulle nie op hulle gemak raak nie, hulle maak nie vriende nie.

En hulle probeer hulle bes om iets blywend in die kinders se lewe te doen maar as hulle een keer in 6 weke daar is, kan jy maar dit sommetjie self maak.

As jy dit nie vir jouself kan uitsorteer om kerkbywoning ‘n prioriteit te maak nie, asb. ek vra dit op die mooiste manier wat ek kan, doen dit vir jou kinders.

Sal jy hulle eerste stel en hulle bring sodat hulle dalk die geleentheid het om deur die Here aangeraak te word op ‘n Sondag oggend.  Sodat hulle vir die liggaam Christus lief kan raak?  Hoe sal hulle ooit kerk toe gaan as volwassenes as hulle nooit as kinders gesien het dat dit ‘n plek is waar hulle God kan ontmoet nie?  Hulle kan nie hulle self hier uitbring nie.  Sal jy daaraan dink volgende keer?

As daar nie daagliks tyd saam met God gespandeer word nie, hoe kan ek ‘n lewende verhouding met Hom hê?  As Sy Woord, nie feitlik daagliks in my gedagtes en my lewe leef nie, hoe sal ek enigsins verander na die beeld van Sy seun?

 

Ek wonder of jy toelaat dat die Here jou besluite in jou lewe maak?

Ek wonder of jy al besluit het of gebede bid wat jy vir die Here sê, Here help my om ten volle oorgegee, 100% committed aan U te wees.

Ek is klaar met halfhartigheid, met middelmatigheid, met louwarm.

Ek gaan myself aan die brand hou.  Wat ook al moet gebeur in my lewe om geestelike aan die brand te bly, ek gaan dit doen.  Ek gaan ophou verskonings uitdink vir myself en vir die mense in my lewe.  Ek gaan ophou om iemand anders te blameer vir my louheid.

Ek gaan van hierdie dag verder, alles vir U gee, want U het alles vir my gegee.