‘n Lewe Onder God se Heerskappy

Laai die mp3 van die boodskap hier af.

Die Koninkryk het naby gekom

Laai die mp3 van die boodskap hier af.

God se Belofte

God wil die mens terug bring onder sy heerskappy

Laai die mp3 van die boodskap hier af.

As jy die boodskap geluister het kan jy die volgende riglyne volg vir verdere nadenke (Saamgestel deur Deon Loots):

“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. God het nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te oordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.” (Joh. 3:16-17).

Wat hoor jy in die verse? Net dat jy moet glo wat Jesus in die laaste paar dae van sy lewe “vir jou” gedoen het, sodat jy vergifnis van jou sonde kan kry en dan “hemel toe kan gaan”? Hoe jammer tog as dit waar is? Hoe maklik hoor ek nie net wat ek wil hoor nie? Hoe laat dit my dan nie toe om aan te gaan “met my eie lewe, op my eie manier” nie? Ek het nog my eie opvattings, maar nou “glo ek in die Bybel” en soek tekste wat my standpunte ondersteun en daarmee val ek ander aan wat van my verskil.

Hoe meer ek tekste opspoor wat my pas, hoe minder word ek soos wat Jesus was en hoe minder kan Hy in my lewe gesien word.
Wat beteken dit om “in Hom te glo?” Dit is om te glo dat Hy die Koning van die heelal is wat oor alles heers. Dit is om te glo dat Hy my geskep het as sy verteenwoordiger, wat namens Hom moet optree en regeer op aarde (in sy Naam soos wat Hy dit sou doen). Dus, in absolute gehoorsaamheid aan Hom. Dit is om te glo dat Hy gesag het oor alle lewe, ook oor my lewe, oor alles wat ek sê, doen en by betrokke is. Oor wat ek doen, waar ek woon, hoe ek leef en met ander omgaan as sy verteenwoordiger. Dis om te glo dat Jesus vir my kom wys het hoe lyk so ‘n lewe; asook alles kom verwyder het wat dit vir my onmoontlik gemaak het om so ‘n lewe te leef.

Dis om te glo dat Hy, deur die werking van die Gees, besig is om van My ‘n mens te maak soos wat Jesus was. Iemand wat omgee vir mense, alle mense, maar veral hulle in nood; iemand wat ander se belange hoër ag as my eie; iemand wat kan dien sonder om iets terug te verwag – wat nie net dien nie, maar ‘n dienaar is; iemand wat met genade leef teenoor almal; iemand wat liefhet en mense met liefde versorg; iemand wat nie gedrewe is om vir myself ‘n naam te maak of koninkryk te bou nie – en daarom met “sagte oë” na ander kan kyk.

So, maak Hy my deel van sy koninkryk, iemand wat leef onder sy heerskappy. Sy koninkryk is nie “‘n hemel wat iewers op my wag” nie, maar om hier en nou onder sy heerskappy te leef. Die “ewige lewe” is ook nie iets wat ek eendag sal ontvang nie, maar die kwaliteit van lewe wat van Hom uitvloei, wat onvernietigbaar is, wat vol van liefde, genade en omgee is, wat die Bron is van alles wat goed en reg is, wat hier en nou met my gedeel word.

Waarvan het Hy gekom om te verlos? Van ‘n lewe wat net om die self draai; van die neiging om net my eie koninkryk te bou; van ‘n lewe vol van oordeel en kritiek; ‘n lewe wat ander in boksies plaas en beoordeel; ‘n lewe waar ek my aanmatig om mense volgens my opvattings (en tekste) af te skryf en te verdoem; ‘n lewe sonder liefde en genade; ‘n lewe wat my opvattings verhef tot “die waarheid” waaraan almal en alles gemeet word; ‘n lewe sonder tyd, respek en omgee vir ander; ‘n lewe van arrogansie en meerderwaardigheid; ‘n lewe wat bestaan uit “ons en hulle”; ‘n lewe wat hard en ongenaakbaar is, veral teenoor hulle wat van my waarheid verskil.

Sulke mense is alreeds “verlore”. Hulle is verlore vir die doel waarvoor God hulle geskep het, naamlik om Hom te verteenwoordig, omdat hulle “soos Hy” is en word.

Verloste mense trek mense aan na God toe, na sy lewe, die ewige lewe, ‘n vol lewe, ‘n lewe van oorvloed. ‘n Oorvloed van liefde, genade, goedheid, sorg, omgee, ontferming, versorging, diens, sagtheid en weerloosheid…. ‘n Lewe soos wat Jesus geleef het!
Juis daarom het die “tollenaars en die sondaars” die gewoonte gehad om na Jesus te gaan luister! (Luk. 15:1).