Deur die Kruis – Is daar Hoop?

[powerpress]

Die afgelope week of twee is daar weer ‘n geweldige negatiewe klimaat besig om te ontwikkel in ons land.

As dit nie die standbeelde is wat hulle wil afbreek nie, dan is dit Eskom wat ons krag onvoorspelbaar afsit elke dag, dan wil die Law Commission ons vakansiedae soos Paasfees en Kersfees verander.  Of dit is die Xenofobiese aanvalle in die land.

As ek mense se opmerkings op Facebook en in geselskappe dophou dan is dit so dat baie net op die een na die ander noot van kla afgaan.

Nou, ek sê nie dat ons eenvoudig moet stilbly en alles aanvaar wat met ons gebeur nie.

Allermins, maar as jy kies om aan die negatiewe boodskappe elke dag vas te klou en die bietjie ongerief wat ons verduur jou so laat omkrap gaan jy binne ‘n paar weke een van die mees siniese en negatiefste mense word wat mense ken.  En daar is baie van hulle.

Ek dink gelowiges moet positiewe mense wees.  Hulle moet ‘n hoop hê wat nie gebaseer is op die tydelike en die gemak van hierdie lewe nie.

 

Die eerste gelowiges wat gelewe het in Jesus se tyd en kort daarna het in die mees afgryslikste tye geleef, in mense geskiedenis, en tog het hulle HOOP gehad.

Onregverdigheid en ongeregtigheid soos wat jy nog nie beleef het nie.

Siekte, hongersnood en vervolging soos wat jy nie jouself eers kan verbeel nie.

Tog sien mense mense in die N.T. wat leef met entoesiasme, met liefde en HOOP.

Veronderstel dat jy een van die skywers van die Bybel was, wat sou jou boodskap gewees het?

Een van hoop of een van pessimisme en ons moet almal groener gras iewers gaan soek?

 

1 Pet. 1:3-6;9     “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.  En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.  Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. v.9  Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.” AFR83

 

Ons het ʼn brief gelees wat geskryf is van ʼn groepie gelowiges wat verspreid woon in die Noorde en Weste van Klein-Asië – die huidige Turkye.

Hulle is uit hulle vorige godsdienste geskud toe hulle die wonderlike evangelie van Jesus

se sterwe en opstanding gehoor en dit aangegryp het.  Dit het hulle lewens verander: hulle het God nuut leer ken, hulle is vrygemaak van sonde en skuld, hulle het deel geword van die huisgesin van God, hulle het die krag van die evangelie en die opstanding fisies beleef…

 

En toe kom dit: erge diskriminasie.  Dit was nog voor die vervolging begin het.

Meeste van hierdie eerste gelowiges was ook slawe wat onder slegte base gewerk het.

Hulle gaan deur beproewing (4:12), hulle word onverdiend gestraf (2:20), hulle word gespot oor hulle toegewyde lewens (4:4), hulle ly… Nou is dit nie meer lekker nie.

Nou begin hulle wonder of dit nie maar beter was om weer terug te gaan na hulle vorige godsdienste nie. Hulle verloor iets van hulle eerste vreugde en entoesiasme.

 

Petrus sê vir hulle: “Glo! Hoop! Wees bly!” Daar is Iemand wat ʼn onbreekbare belofte van ʼn wonderlike hemelse erfenis aan julle gemaak het. En weet julle wat? Hy is volkome betroubaar. Julle kan reken op elke woord uit sy mond.

Num. 23:23        “God is nie ʼn mens dat Hy sou lieg nie…”

 

Beleef ons dit nie ook so partykeer nie.

Wanneer dit met ons goed gaan, dan is dit maklik om positief te bly en te wees.

Maar wanneer almal om ons begin kla en ons eie gemak is so bietjie ontwrig dan vergeet ons dat ons veronderstel is om as verteenwoordigers te lewe.

Nie van ons eie lewens nie maar van God se koninkryk.

Anders leef ons eenvoudig nog vir onsself.

 

Hoekom kan dinge nie net reg werk nie?  Hoekom is alles so gesukkel?

Wel, ons leef nog nie in die ewigheid nie.  Ons het nog nie die volmaaktheid bereik nie.

Hoekom is dit dat ons verwag dat alles perfek moet gaan in ons lewens?

En as dit nie gebeur nie, oo wee, dan moet almal in my koninkryk uitvind dat ek diep ongelukkig is met hierdie klomp patetiese mense wat om my leef.

My vraag is net:  Hoe goeie ligdraers en verteenwoordigers van God is ons, wanneer ons met so gesindheid elke dag leef?  Moet ons nie ‘n Hoop hê wat ander nie het nie?

 

Deur die Kruis is Hoop nie iets nie maar Iemand

Ons hoop is gebaseer op ‘n persoon.  Jesus Christus.

As ons sonder hoop lewe dan lewe ons sonder Christus en wat die kruis vir ons gedoen het.

 

Een van die bekende skilderye in die skilder wêreld is die een van Faust.

FOTO: In die skildery speel Faust met die duiwel skaak vir sy siel.  Faust het net ‘n paar skaakstukke op die bord oor en dit kom voor of hy in skaakmat is.  Sy lyftaal vertel ‘n prentjie van moedeloosheid en hopeloosheid.

Die persoon wat die duiwel voorstel lyk of hy in beheer is en wag vir sy kans.

In die begin het mense wat kom kyk het na die skildery die hopeloosheid van die skildery uitgewys en daar weggegaan met ‘n swaar gevoel in hulle.

Tot eendag, toe daar ‘n Skaak meester daar uitgekom het en vir ure na die skildery gekyk het.  Uiteindelik met ‘n skree wat almal gehoor het, het die skaak meester uitgeskree:

“It’s a lie, the King and the knight still have moves left.”

 

Dit is wat die kruis en die opstanding vir ons beteken:  Ons staan en kyk na ons lewens en dit wat aangaan in ons land en ons voel ons is in skaakmat.

En dan kom Jesus van Nasaret wie God uit die dood laat opstaan het na ons toe en sê: “Dit is ‘n leuen, julle het nog skuiwe oor.”

Hoop nie iets nie maar Iemand.  Die kruis, Paasfees is ‘n teken van HOOP.

 

1 Pet. 1:3  “…het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.”

M.a.w. ons HOOP kom van die feit dat ons nie meer dieselfde mens is as wat ons was voordat ons Christus ontmoet het nie.

Die historiese opstanding van Jesus uit die dood word gekoppel aan my nuwe lewe wat ek ontvang het toe ek tot wedergeboorte gekom het.

Want, Christus IN MY is die lewende HOOP wat ek het.  Dit is my bron van HOOP.

Hoop is nie iets nie maar Iemand.

Nie enige ding wat in hierdie wêreld vandag daar is en môre nie meer daar is nie.

 

Dit beteken dat elke oortreding van my kant af nie hierdie HOOP kan blus nie.

Dit beteken dat elke vervolging en diskriminasie in hierdie wêreld nie die HOOP wegneem nie.

Dit beteken dat ek nie ‘n arme sondaar is wat worstel hier op aarde nie maar ‘n koningskind wat tydelik deur Hom gebruik wil word hier op aarde.

“God se ontferming en genade gee vir my hoop – vir myself en die vir die wêreld.”Billy Graham

 

Klaagliedere 3:21-23 “Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.”  AFR83

 

Jy het ‘n nuwe geboorte gehad toe jy besluit het om Jesus Christus te volg met jou hele lewe.  Dit beteken dat hierdie onverganklike saad.  Saad van HOOP binne in jou is.

Niemand kan dit by jou steel nie.

Dit beteken dat dit nie onseker is nie, dat daar volkome sekerheid en vaste sekerheid is dat Christus nou deur sy Heilige Gees in jou woon.

Volkome sekerheid dat die bron van HOOP nie iets is nie maar Iemand wat in my woon.

As dit jou nie op gewonde maak nie, is daar iets fout met jou.

 

Ek het dit al voorheen so verduidelik en ek wil vandag weer:

Ons het ‘n Hoop tenk in ons lewens.  En die krag wat al weer af gaan en die mense wat onregverdig behandel word en die siekte wat jy nou weer moet hanteer en die kar wat weer gebreek het TAP hierdie hoop uit jou Hoop tenk uit.

 

As jy nie soos die Israeliete elke dag uitgaan en manna optel wat God vir jou laat val het deur sy genade nie gaan die stampe en stote van hierdie lewe jou gou leeg tap.

Dit is een van die redes hoekom ‘n mens myns insiens nie ‘n Sondag diens kan mis nie.

Dit is weer ‘n geleentheid om vol te raak, weer ‘n geleentheid om Hoop te kry.

Die lewende brood wat God vir ons gee verander ons in ander mense.

 

St. Francis van Assisi, ‘n man met ‘n ongelooflike geskiedenis het ‘n gedig geskryf:

Lord, make me an instrument of Thy peace;

 where there is hatred, let me sow love;

 where there is injury, pardon;

 where there is doubt, faith;

 where there is despair, hope;

 where there is darkness, light;

 and where there is sadness, joy.

 

Hoop is nie iets nie maar Iemand

Ons is die draers van lig in die donker wêreld waarin ons lewe.

Ons kan nie dankbaar wees en kla in dieselfde asem nie.  Dit is onmoontlik.

Ons probleem is baie keer dat ons leef soos mense wat hulle permanente tuiste hier gemaak het op aarde en nie soos pelgrims wat net trek deur hierdie lewe soos reisigers nie.

Die kruis is God wat vir ons sê: “Jy het nog ‘n skuif, nog ‘n kans.  Maak ‘n skuif om die lewende Christus te omhels en laat Hom toe om jou HOOP te wees en jou van binne af ‘n nuwe positiewe mens te maak.

 

So nou en dan kry ek dit nie reg nie maar ek het besluit dat ek nie op enige bandwagon van negatiwiteit spring nie.  Ek wil nie in blend in hierdie lewe nie, ek wil uitstaan.

My hoop is nie eskom krag 24/7 nie.  My hoop is nie alles wat my hart begeer nie.

My Hoop is Iemand.  En my gedagtes en fokus is op Hom.

 

Rom. 8:24-25     “Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.”  AFR83

“Die Christelike hoop is nie dieselfde as “the power of positive thinking” nie; die Christen se hoop lê in die wete: Selfs in my uiterste nood is God steeds daar; selfs in my diepste eensaamheid is ek nie alleen nie, want Hy is deur sy Gees by my. Ek weet dat my lewe opgeneem is in God se groter verhaal. My pyn, my verlies… is in God se hande – nie omdat Hy dit bewerk het nie, maar omdat Hy dit in sy hande neem en daarmee werk sodat daaruit iets goeds kan voortkom. Wát die goeie is wat God vir ons bewerk, dit verstaan ons nie altyd nie. Baie keer weet ons dit eers heelwat later, en soms nooit nie. Maar Christelike hoop is om te weet dat my lewe en my lotgevalle in die goeie Vader-hande van God is – dieselfde hande waarmee Hy besig is om ‘n nuwe, beter wêreld tot stand te bring.”  Andre Bartlett