Deur die Kruis… is jou verlede in die verlede

[powerpress]

Vandag gesels ons oor een van die mees relevante aspekte van ons geestelike lewens.

Ons verlede.  Hoe ons verlede ons gevorm het en ook hoe ons verlede ons terughou.

Ons verlede en veral ons kinderjare het ’n geweldige invloed in ons ontwikkeling.

Sonder dat ons dit besef speel ons verlede die hoofrol in ons karaktervorming en ons temperament en persoonlikheidsvorming.

Die rol van ons omgewing, ons ouers, ons vriende is ook baie vormend op ons.

Dit is een ding om te sê dat jy wil leef los van gebeure in jou verlede, positief en negatief, dit is heeltemal iets anders om dit reg te kry.

Dit is so goed jy sê vir ’n wilde leeu hy is van nou af net op ’n vrugte en groete dieet.

In ons onderbewussyn het dinge wat ons ons kinderjare en jong volwasse lewe gebeur het ons die mens gemaak wat ons vandag is.

So, om te sê jy kan jouself daarvan losmaak is feitlik onmoontlik.

 

Fil. 3:13-14   “Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.”  NLV

“Ek maak my los van wat agter is.”

Wat Paulus hier sê is dat sy verlede nie hom terughou van dit wat God vir hom beplan het nie. Hoe vormend dit ook al was, dit kan hom nie definieer en weghou van God af nie.

 

Een van die dinge wat ek mee moes worstel in my lewe was om voor mense op te tree.

Toe ek nog jonk was, het ek in kunswedstryde en kompetisies deelgeneem in klavier.

En ek onthou hoe ek by geleentheid toe ek nie voorbereid genoeg was nie gevra is deur ’n beoordelaar om eerder nie weer aan die kunswedstryd te kom deelneem nie.

Hierdie geleentheid en ’n paar ander het my ’n absolute vrees gegee om voor mense iets te doen.  Die slegte ervarings van die verlede het my gevorm.

 

Toe ek later ’n teologiese student was, was my grootste vrees natuurlik om te preek voor ’n gehoor.  Ek sal die keer toe ek my eerste preek moes doen nooit vergeet nie.

Ek sou veel eerder ’n reis maan toe aanpak, as om voor mense te praat.

Want wat as ek nie goed genoeg voorbereid was nie?  Wat as ek my storie verloor halfpad en ek weet nie wat om te sê nie?

Dan is daar die effek van mense soos hierdie beoordelaar op my wat ons lewens raak op meer maniere as wat ‘n mens besef.

En dit is in verhoudings wat ons die meeste emosionele bagasie bymekaarmaak en dit saam met ons dra die res van ons lewens.  Omstandighede waar ons bagasie optel:

  • Teleurstellings – mense wat ons in die steek gelaat het en nie optree soos ons glo hulle moes nie. Hier dink ek bv. aan ’n goeie vriend wat sy rug op jou draai of iemand van wie jy ‘n sekere optrede verwag het en so opgetree het nie.
  • Ongeregtigheid – dinge wat met ons gebeur het wat onregverdig was. Jy het daardie promosie of prys verdien en iemand anders het dit gekry.  Sonde en ongeregtigheid van ander mense wat ’n effek op jou gehad het.
  • Selfverwyt – jou eie swak keuses en besluite wat op die ou einde baie pyn in hartseer in jou lewe ingebring het.

 

En hier is die hartseer deel daarvan:  ons wil dit gewoonlik nie laat gaan nie.

Maak nie saak of dit ons eie skuld of iemand anders se skuld of niemand se skuld was nie, ons hou aan om onsself te kasty en kruisig met hierdie gevoelens.

Ons hou gereeld ’n emosionele repetisie in ons gedagtes oor hierdie goed.

As dit nie gebeur het nie, dan sou ek ’n ander mense gewees het.  Dan sou dinge anders vir my uitgedraai het.

Maar hoekom laat ons nie hierdie dinge laat gaan nie?

Want ons seer raak ons sekuriteit.  Dit gee jou ten minste iets wat jy ken.

Daardie gebeurtenisse is vormend op ons manier van dink oor onsself, oor ander mense en oor die lewe.

 

En so raak ons self-saboteurs.  Ons raak ons eie grootste vyande.

Ons hou vas aan hierdie goed omdat dit ons identiteit bepaal.

As ek my voorbeeld kan gebruik: Ek is nie goed met publieke optredes nie. Ek is ‘n introvert en sal eerder terug staan. En om die seer te laat gaan, is om jouself te laat gaan.

Wat lê dan aan die ander kant daarvan?

So wat gebeur?  Die ding wat ek die meeste vrees, waarvan ek die meeste probeer wegkom in my lewe gebeur oor en oor met my.

Ek glo bv. dat mense nie van my hou nie en dan tree ek ook so op asof mense nie van my hou nie.  En dit steek ek weg agter ‘n storie van iets.

Dit is soos ’n selfvervullende profesie.  Ek glo bv. dat niemand my sal aanvaar soos ek regtig is nie, maar hierdie onsekerheid projekteer ek op ander mense.

Daarom beland ek gereeld op ’n plek waar mense my verwerp, wat vir my sê, ek is nie goed genoeg nie.

 

Wat meer is, hierdie emosionele bagasie het sy voordele.

Mense wat bv. onregverdig behandel is, het ’n manier om bymekaar uit te kom.

Die stories van onregverdigheid bind hulle aan mekaar maar dit is ’n baie ongesonde verbintenis.  Want die feit dat jy my verstaan en dat ek jou verstaan beteken nie dat ons mekaar gesonde heel mense gaan maak nie.

Die feit dat jy deur jou baas sleg behandel is en dat ek deur my baas sleg behandel is skep gemene grond in ons lewe maar dit maak ons nie los van ons verlede nie.

 

So, hoe deel ek met my verlede?

Baie moeilik, want ons verlede is soos ‘n skaduwee.  Dit is nie ons nie, maar dit is altyd daar.  As jy omkyk is hy daar.

Gal. 6:14   “I have been crucified in relation to the world, set free from the stifling atmosphere of pleasing others and fitting into the little patterns that they dictate.  It is what God is doing, and he is creating something totally new, a free life!”  MSG

Deur die kruis is my verlede in die verlede en mag dit nie ‘n houvas op my toekoms hê nie.  Deur die kruis kan my identiteit deur Christus gevorm word en nie my seerkry in die verlede nie.

 

  1. Laat enige wrokke en hartseer gaan.

Dit is seker een van die moeilikste dinge wat ons kan doen in ons lewe.

Hoe kan ek dit wat met my gebeur het net laat gaan.

Ons voel:  hoe kan ek die oortreder in my lewe net vrylaat?

Maar ons het dit verkeerd, dit is nie die oortreder wat vry moet kom nie, dit is ons.

Wrokke maak van ons gebonde mense.  Ons het iemand anders op die hoek.

Hartseer is iets wat ons terughou want ons kan nie aan beweeg nie.

Hier is die ding van die verlede.  Dit is staties.  Dit staan stil.  Dit beweeg nie.

En die toekoms is iets wat die hele tyd aanhou beweeg.

So dit is soos iemand wat met een voet stil staan en die ander voet hou aan beweeg.  Kort voor lank gaan dit te ongemaklik raak en nie een van ons is ballerina’s wat kan split nie.

 

Nou, dit is maklik vir my om dit hier te sê maar in realiteit is dit geweldig moeilik.

En dit is nie ‘n eenmalige geleentheid nie.  Ons vergewe, en treur, ons rou oor en oor totdat ons genesing ontvang.  Die oomblik wat die insident, die persoon weer in ons gedagtes kom, dan stry ek nie daarteen nie.  Ek sê ook nie, ek het al daarmee gedeel nie.  Nee, ek doen dit weer.  ‘I embrace the emotion and let it go again.’

 

Ephesians 4:31 “Get rid of all bitterness, rage and anger, brawling and slander, along with every form of malice.  Be kind and compassionate toward one another, forgiving each other, just as in Christ, God forgave you.”  NLT

Hoe begin hierdie vers?  Git rid, raak ontslae.  Gooi dit weg.  Elimineer dit.

Daar is min dinge is die lewe wat meer skade aan al jou verhoudings kan doen as bitterheid

Om iets teen iemand anders te hou maak nie hulle seer nie, dit maak jou seer.

Maar meer as dit:  dit is waardeloos.  Dit bereik niks.

Sal enigiets wat ek teen jou hou die verlede kan verander?  Nee.

Dit is ook om die beheer van jou lewe oor te gee aan iemand anders. Sommige van ons laat nog steeds toe dat mense uit ons verlede ons beheer.  Raak ontslae daarvan, laat dit gaan.  Die verlede is die verlede.

Ons sê nie vergeet daarvan en ly aan geheueverlies nie.  Ons sê moenie langer dat dit jou beheer nie.

 

Job 18:4       “You are only hurting yourself with your anger.”

Jy sien hier is die probleem, die gevoel bly by jou.  Daardie persoon kan al dood wees en dan is die gevoel nog steeds joune.

So wie is gebind?  Die ander persoon of jy?

 

In 2 Sam. 12 is daar ’n verhaal van Dawid wat geworstel het met hartseer.

Hy het ’n buite-egtelike kind by Batseba gehad nadat hy haar man laat vermoor het.

Nadat hierdie kind gebore was, het hy baie siek geword en Dawid het die Here gesmeek om die kind te spaar.

2 Sam. 12:16&18                 “Dawid het tot God gebid vir die kind. Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê. Op die sewende dag het die kind gesterwe, en Dawid se amptenare was bang om hom te vertel dat die kind dood is.”  ANV

 

Maar ek sien iets in Dawid se lewe wat vir ons ‘n voorbeeld kan wees.

2 Sam. 12:23     “Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.”  ANV

 

  1. Aanvaar wat nie verander kan word nie.

Dawid sê daar was ’n tyd wat ek kon huil en God gesmeek het, maar dit is verby.

Nou moet ek aangaan met my lewe.  Hy’t aanvaar wat hy nie kon verander nie.

Die sleutel tot oorwinning en vrede is een woord:  aanvaarding.

Aanvaarding van God se wil in jou lewe.  God is nog steeds op die troon en Hy is steeds in beheer en ek moet aanvaar wat nie verander kan word nie.

Onthou die voorbeeld van die persoon wat ‘split’.  Hoe langer dit neem, hoe meer sal dit ons toekoms beïnvloed.

En daarmee sê ek glad nie dat ons moet vergeet nie.  Die Here het vir ons te wonderlike breine gegee om te vergeet.  Nee, dit is aanvaar wat nie kan verander nie.

 

2 Sam. 12:20     “Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid.”

  1. Moenie oordryf of vergroot nie

Ons is geneig om ons huidige realiteit as die grootste en enigste in die heelal te maak.

Alles is nie verlore nie.  Die wêreld het nie tot ’n einde gekom nie.

Neem dit eerder in gebed na die Here toe en praat met Hom daaroor.

Wat het Dawid met sy hartseer gedoen?  Hy het kerk toe gegaan en God aanbid.

Kort daarna het die Here weer vir Dawid voorsien.  Hy het weer ‘n seun by haar gehad.

Maar hy moes aanvaar dat sy eerste seun by Batseba nooit weer terug sal kom nie.

 

  1. Fokus op wat jy het en nie op wat verlore is nie.

2 Sam. 12:24     “Daarna het Dawid sy vrou Batseba getroos. Hy het by haar slaapkamer ingegaan en by haar geslaap. Sy het ’n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad…”

Hy het nog vriende gehad, familie, geliefdes.  Moenie fokus op wat jy verloor het nie.

Moenie fokus op die persoon wat jou gewond het nie.

Dit is om die mag van jou lewe in hulle hande oor te gee.

Selfbejammering is baie sleg vir ons omdat dit dinge glad nie in perspektief sien nie en die pyn veel langer maak as wat dit moet wees.  Fokus op die Here, praat met Hom.

 

Dalk voel jy – God het ’n A-plan vir my lewe gehad en ek het dit opgemors en nou moet ek maar met die B-plan leef.  Ek kan nie langer God se beste vir my lewe hê nie, want ek het dom foute gemaak.  As dit is hoe jy voel, dan is jy verkeerd!

Daar was ‘n kruis – Jesus het goeie nuus kom bring nie net vir die wat al hulle eendjies in ’n ry het nie maar ook vir hulle wat sleg drooggemaak het.

God wil vir elkeen van ons nog ’n kans gee maar dan moet ons aan Hom oorgee.

Dit is nie die einde nie.  Net soos Jesus nie finaal gesterf het nie, is daar ook nie ‘n einde as ons kind van God is nie.

Mat. 5:3-4  “You’re blessed when you’re at the end of your rope. With less of you there is more of God and his rule. You’re blessed when you feel you’ve lost what is most dear to you. Only then can you be embraced by the One most dear to you.”

With less of you there is more of God and his rule.