Deur die Kruis – ‘n nuwe identiteit

[powerpress]

Alhoewel die tradisionele Paastyd laas naweek verby is, word die daaropvolgende 6 weke eintlik op die Christelike kerkkalender gesien as die Paastydperk tot en met die hemelvaart wat gevier word 40 dae na die opstanding.

Daarom gaan ons vir die volgende paar weke gesels oor die implikasies van die opstanding en wat Christus se kruis regtig vir ons beteken 2000 jaar later.

Of ons dit erken of nie, daar is ‘n klomp dinge wat ons in die lewe glo sonder dat ons dit besef.  Een daarvan is wie jy glo jy is.  Jou identiteit.

Sosioloë sê dat identiteit die sterkste krag is in die menslike persoonlikheid.  Ons almal het ‘n diep behoefte om konsekwent op te tree volgens die beeld wat ons van onsself het.  Transformasie is dan die vermoë om nuwe dinge te begin glo oor jouself.  M.a.w. nuwe oortuigings het die vermoë om jou lewe drasties te transformeer.

Gal. 2:15-21

“Ons wat van geboorte Jode is en nie sondaars uit die nie-Joodse nasies nie, weet dat niemand deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie. Net deur die geloof in Jesus Christus kan dit gebeur! Selfs ons het tot geloof in Christus Jesus gekom sodat ons deur geloof, en nie omdat ons die wet onderhou nie, deur God vrygespreek kan word. Niemand sal mos deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie! Dit is eers as ons deur Christus God se vryspraak soek dat ons raaksien dat ons self ook sondaars is. Beteken dit nou dat Christus in diens van die sonde staan? Natuurlik nie! Dis eerder ék wat van myself ’n oortreder maak. Dis nou as ek weer begin leef volgens ’n stelsel wat ek klaar verwerp het. Deur die wet het ek die wet afgesterf. Gevolglik leef ek nou vir God. Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf. Ek verwerp nie dié genade van God nie. As dit moontlik was om deur God vrygespreek te word deur die wet te onderhou, het Christus mos verniet gesterf!”  NLV

 

Paulus, skrywer van groot dele van die N.T. probeer aan sy lesers verduidelik – julle is nou vry.  Julle het ‘n nuwe identiteit.  In Galasië het baie nie-Jode ook tot die geloof gekom en saam met die Joodse gelowiges begin om Christus te aanbid.

Maar die jong gelowiges, die nie-Jode het minderwaardig gevoel teenoor die Jode wat eeue oue tradisies en gebruike gehad het in hulle geloof.

Kort voor lank het hulle begin om hulself te vergelyk met mekaar.

Het ek genoeg gedoen?  Is ek aanvaarbaar voor God?  Hierdie Jode het eeue lange tradisies, hulle is soveel meer volwasse in hulle geloof.  As ons na ons lewens kyk, dan kom ons vêr te kort.

 

Hierdie klomp mense in Galasië het begin om hulle geloof te beoefen soos baie gelowiges vandag nog hulle geloof beoefen:  In boeie, die verdienste godsdiens waar ek myself moet bewys dat ek goed genoeg is.  In hierdie realiteit sê Paulus aan hulle in baie sterk woorde:

Gal. 2:19-20       “Deur die wet het ek die wet afgesterf. Gevolglik leef ek nou vir God. Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.”  NL

Gal. 2:21   “If a living relationship with God could come by rule keeping, then Christ died unnecessarily.”  MSG

As jy die begin van die volgende hoofstuk lees dan sien jy Paulus vertel vir hulle mooi dat hulle besig is om hulle koppe te verloor.  Hy is hoogs ongelukkig met hulle oor hulle nie hierdie nuwe identiteit van hulle kan verstaan en daarvan af leef nie.

 

Dink maar hoe word ons identiteit deur die jare gevorm.  Jy is eerstens deel van ‘n volk, ‘n land.  Dan is jy deel van ‘n familie met ‘n geskiedenis.  Dan is jy deel van ‘n gesin.  En so goed bedoelend soos ons is vorm ons ons kinders se identiteit meestal gebaseer op prestasie.  As jy op ‘n sekere manier optree, is jy aanvaarbaar.  As jy gehoorsaam is en doen wat jy moet word jy beloon.  Op skool, word jou waarde gemeet aan jou vermoëns en jou prestasies.

Wanneer ons by die Kruis en die werk van Christus uitkom besef ons dat ons beste pogings is nie genoeg nie.

Dit is drek volgens Paulus in Fil. 3:8.  Skubalon in Grieks.  Letterlik uitwerpsel, ‘dung’ in Engels.

My geregtigheid kom nie van my eie pogings af nie maar van geloof in Jesus af.  Ek kan nooit hard genoeg werk om God te ‘please’ nie.  Iets wat daarmee saam gaan: Ek nooit hard genoeg werk om mense tevrede te stel nie.  Die enigste manier om in ‘n goeie verhouding met God te leef is deur geloof in Jesus.  Nie Jesus + goeie werke nie.  Nie Jesus + nie sonde doen nie.  Jesus plus niks anders.

 

Maar dit moet ook ‘n stap verder gaan: Die woorde wat die satan gebruik om my minderwaardig te maak:  ‘Jy is nie goed genoeg nie.’  Dit is die woorde wat God gebruik om my vry te maak:  “Jy kan nie goed genoeg wees nie.  Daarom moet ek op Hom vertrou en Hom alleen.”  En dit haal al die druk af.  Dit verander alles.

 

Dit is amper soos wanneer jy iemand nooi om saam met jou te gaan uiteet en wanneer dit by die betaalslag kom besef jy dat jy jou beursie by die huis vergeet het.  Jy het geen manier om te betaal nie.  Dit voel of die aarde jou kan insluk.  Dit maak nie saak of jy R10 of R10 000 in jou beursie gehad het nie. Jy kan nie betaal nie.  Jy het nie die vermoë om te betaal nie, iemand anders sal moet.  Jy is in groot skubalon.  Jy’s nie goed genoeg nie.

 

En i.p.v. dat dit my angstig maak is dit iets wat my moet vry maak om onder God se genade dinge te doen nie vir Sy aanvaarding nie maar omdat Hy my aanvaar het.  Vir die eerste eeuse gelowiges was dit rewolusionêre woorde:

Jy gaan nie regverdig gemaak word deur dit wat jy DOEN nie maar deur dit wat Christus GEDOEN het.  Jy hoef nie te verdien nie.  Jy hoef nie te perform nie.  Jy is vry.

 

MAAR jy moet weet dat jy vry is omdat jy DOOD is.  Nou wil ek dinge so bietjie deurmekaar krap.

Gal. 2:19-20       “Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.”  NLV

Jy is saam met Christus gekruisig.  Nie letterlik nie maar figuurlik.

As ek saam met Hom dan gesterf het, dan is dit mos nie ‘n mooi prentjie nie.

 

Nee, dit is nie.  My prestasies beïndruk God glad nie.  Dit onderskei my nie eers nie.  Hier is die ding van geestelike trots.  Dit sê nie “ek is perfek nie”. Want ons weet ons is nie.  Dit sê net, ek is darem beter as jy.  Ek sal darem nie so optree nie.  Maar as jy dood is, dan beteken jou prestasies niks nie. Dooie mense kry nie mooi rapporte nie, hulle word nie raakgesien nie, hulle bereik niks meer nie.  Hey, jy is veronderstel om dood te wees.  Gekruisig saam met Christus.

 

Maar dit beteken ook dat jy nie hopeloos of verlore is nie.  Dooie mense kry nie boetes nie.  Dooie mense kom nie in die moeilikheid nie. Net soos ons goeie werke ons nie definieer nie, definieer ons mislukkings ons ook nie.  Ons foute en mislukkings vernietig en veroordeel ons nie.

Foute tel nie, prestasies tel nie.  Wat tel, is dat jy DOOD is.

 

Dood maar lewendig IN CHRISTUS

Gal. 2:20   “Indeed, I have been crucified with Christ. My ego is no longer central. It is no longer important that I appear righteous before you or have your good opinion, and I am no longer driven to impress God. Christ lives in me. The life you see me living is not “mine,” but it is lived by faith in the Son of God, who loved me and gave himself for me.”  MSG

 

Vraag:  As jy dood is en Christus is lewend in jou, wie se identiteit het jy?  Jesus Christus.

Dis die punt. Daar het ‘n internasionale aanneming plaasgevind. Jou naam en van het verander.

Daarom sê Paulus in:  Fil. 1:21    “want om te lewe, is vir my…. Christus”  AFR83

Iemand anders se identiteit het joune geword.

Dit is een ding om dit met jou kop te verstaan maar iets heeltemal anders om met jou emosies en jou hart te verstaan.  Daar is nie wiskunde vir hierdie som nie.  Dit is hoekom ons sing Amazing Grace – genade onbeskryflik groot.

 

Maar dit is nog nie die einde van die storie nie.

Gal. 2:20   “Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe… in my.”

Dit beteken dat dieselfde krag wat Jesus uit die dood uit laat opstaan het nou in my en jou werk.  Daarom kan sonde nie meer my baas wees nie.  Sy krag is in my lewe.  Jy is getransformeer geestelik.

 

Daar is tye wat ons na die satan se leuens luister wat sê, “jy kan dit nie help nie, jy kan nie verander nie, jy kan nie herstel word nie.”  En God sê vir elkeen van hierdie, dit is ‘n leuen.  Groter is Hy wat in jou is as hy wat in die wêreld is.  Daar is ‘n realiteit, Jesus Christus wat nie sigbaar is vir hierdie wêreld nie.  Maar dit is so goed ek sê dat daar nie iets soos radio, TV of klankgolwe is omdat ek hulle nie kan sien nie.

 

Nee, Hy het opgestaan.  Hy leef in elkeen van Sy kinders.  En ons het ‘n keuse seker ‘n paar honderd keer elke dag:  gaan ek glo in my krag, my prestasies, my vermoëns.

OF gaan ek glo in Sy krag, Sy werk, en Sy liefde.

Daarom kan ek verander, want ek het ‘n nuwe identiteit ontvang.

 

Wat beteken dit?

Dit beteken dat môre nie soos gister hoef te wees nie.

Dit beteken dat ware verandering in elkeen van Sy kinders se lewens moontlik is.

Dit beteken dat daar weer hoop is, al voel dit of almal hoop verloor het.

Dit beteken dat Hy my nie haat vir my foute nie maar dat ek lief gekry word deur Iemand wat nie net liefde het nie maar liefde is.

 

Dit beteken dat sonde nie oor my hoef te heers nie.

Dit beteken dat ek vrygekoop is deur die Kruis van Jesus.

Dit beteken dat Christus IN MY LEEF.

En as ek dit glo, dat verander dit ALLES.