Deur die Kruis – Wanneer my storie Jesus s’n kruis
[powerpress]
Elkeen van ons het ‘n storie. Jou lewe en dit wat al met jou gebeur het vertel ‘n storie.
Ek het so paar jaar gelede die verassing van my lewe gehad toe ek vir ‘n 2 jaar kursus ingeskryf het en met die eerste byeenkoms het die dosent vir ons gevra om elkeen ons lewensverhaal te vertel. Die vraag was: Wat het jou die mens gemaak wat jy vandag is?
45 Minute vir elke persoon van die groep van 24. As jy nie die 45 minute gebruik nie, dan bly almal stil totdat die 45 minute verby is.
Ek het gedink, hierdie gaan ‘n lang week wees. Elkeen het tyd gehad om voor te berei en tot my absolute verbasing het nie een persoon minder as 45 min. gepraat nie.
Wat meer is, elke persoon se storie het my aandag vasgevang. Ek wou nie met een persoon voel, aggg, as hy/sy maar net kan klaar kry nie.
Donald Miller ‘n kontemporêre skrywer vertel die elemente van ‘n goeie storie is:
“A character who wants something and has to overcome conflict or difficulties to get it.”
Dink maar aan enige goeie lewensverhaal, hulle het almal hierdie elemente in.
Dink aan S.A. se storie. Dit het hierdie elemente en mense in.
Dink maar aan Jesus en God se storie met die mensdom, dit het hierdie elemente in.
Die mens wat hoop verloor het om met God versoen te word. God wat nie wil hê dat enige van sy kinders verlore moet gaan nie. Christus wat gekom het en deur die kruis ‘n feitlik onmoontlike werk kom doen het om die mensdom met God te verenig.
1 Kor. 15:53-56 “Die dood het nie meer enige krag of invloed nie. God het al die krag as oorwinnaar. Daar is net mooi niks oor van die dood se mag nie. Sal die dood ons nog kan seermaak? Nee, vir seker nie.” Sonde is die oorsaak dat ons doodgaan. En ons kan nie stry dat ons in sonde vasgevang is nie omdat die wet van God so duidelik daar is en dit vir ons wys. Maar ons is anders; ons het baie waarvoor ons vir God baie dankie kan sê. Jesus Christus het gewen en omdat Hy gewen het, het God ons saam met Hom wenners gemaak.” BDP
Groot konflik, moeilikhede en ‘n God wat sy kinders met Hom wou versoen. Christus het oorwin, Hy het die dood en sonde oorwin. Wat meer is – Hy wil jou ook ‘n oorwinnaar maak.
So wat is jou storie? Is dit ‘n storie wat dieselfde elemente het?
Wat is dit wat jy wil hê, en wat is besig om dit van jou te weerhou?
Dalk is dit ‘n suksesvolle beroep, ‘n gelukkige huwelik, goeie gesondheid, finansiële sekuriteit. Dalk is dit ‘n lewe wat betekenisvol is.
Maar sonder twyfel is daar dinge wat jy sal moet oorwin, oorkom om dit te kry.
Dalk het jou hoop so vervaag dat jy nie meer glo dat jy sal kry wat jy gedroom het jy sou kry nie. Die oorsaak is ook ‘n klomp dinge, regstellende aksie, siekte, iemand wat jou verraai het, slegte gewoontes, bose mense.
Maar op die einde is daar net twee dinge wat ons verhou van die lewe wat ons in Christus wil lewe: sonde en dood.
Sonde is die menslike tendens om ‘n gemors van dinge te maak. Ons dink aan ons eie belange eerste eerder as die van ander. Soms is dit die sonde van ander mense wat in die pad kom. En in dit alles leef ons in ‘n gebroke wêreld met boosheid.
Dan is daar dood: Maak ook nie saak hoe goed ons lewe nou is nie, ons word altyd bloot gestel aan sonde en dood wat dinge feitlik oornag in ons lewe kan verander.
Daarvan het ons hierdie week beleef toe iemand wat baie geliefd was deur haar mense koelbloedig vermoor is en sonde weer geseëvier het.
Kan jy nog die road runner cartoons onthou? Dit gaan oor Wile E. Coyote wat elke trick onder die son probeer om die roadrunner te vang en wat gebeur elke keer?
Hy kry dit nie reg nie. In honderde episodes wat ek al gekyk het, het Wile E. Coyote nog nooit die roadrunner gevang nie. Maak nie saak wat hy doen nie.
Is dit nie die mens se storielyn nie? Maak nie saak wat ons doen nie, ons sal nooit sonde en dood se greep kan breek nie.
Maak nie saak hoeveel vredes ooreenkomste die wêreld sluit nie, daar sal altyd oorloë wees iewers. Maak nie saak hoeveel goeie mense in ‘n stad is nie, daar sal nog altyd bose mense wees wat kom steel, slag en verwoes.
Dink weer aan Jesus se storie vir ‘n oomblik. Hy kom die wêreld in as ‘n nikswerd. Gebore in ‘n stal. Sy bediening begin op 30 jaar. Wonderwerk op wonderwerk gebeur.
Mense begin in hulle duisende Hom volg.
Die draaipunt in Sy bediening kom toe Hy na 3 jaar by Jerusalem inkom op ‘n donkie en die skare Hom wil kroon as koning.
Maar skielik maak Jesus se storie ‘n donker draai. I.p.v. Jesus wat ‘n rewolusie lei draai Jesus weg daarvan en begin praat van swaarkry, dood en weggaan.
Hy word verraai deur een van Sy eie vriende, Hy word skuldig bevind deur ‘n korrupte hoë priester en ‘n lafhartige politikus.
Hy word in die openbaar verneder, gemartel en uiteindelik moet Hy sterf aan ‘n misdadigers kruis. Sy volgers is te bang om hulle gesigte in die openbaar te wys.
Dit lyk soos ‘n wonderlike held maar sy gewildheid het gou afgeneem.
Maar op die derde dag het ‘n paar brawe en lojaal vroue na die graf toe gegaan om afskeid te neem. Maar wat hulle kry is ‘n graf wat oopgebreek is en ‘n liggaam wat nie meer daar is nie. Die engele kom vertel hulle dat Hy nie meer daar is nie.
MAAR hulle hoef nie moed te verloor nie want Jesus is weer lewendig, Hy sal hulle ontmoet en alles vertel. Hy het die dood oorwin.
En so is die storie toe nie verby nie. 2000 jaar later word hierdie storie nog steeds vertel.
‘n Merkwaardige ware verhaal en alhoewel ons dit al baie gehoor het, verstom dit ons nog steeds en maak dit ons nog steeds opgewonde dat so iets kon gebeur.
Terug na ons definisie van ‘n goeie storie:
“A character who wants something and has to overcome conflict or difficulties to get it.”
Wat wou Jesus gehad het? Ons kan seker ‘n klomp dinge opnoem. Hy wou God bekend maak. Hy wou Israel herstel. Maar daar is seker twee tekste wat ek aan kan dink wat Sy missie duidelik uitspel:
Joh. 10:10 “’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” AFR83
Luk. 4:18-19 “Die Gees van die Here is op my. Hy het my baie sterk gemaak. Daarom bring ek nou goeie nuus vir daardie mense op wie almal neersien — van nou af is hulle vir God baie spesiaal. God het my gestuur om vir die gevangenes te sê dat hulle vonnis vir altyd verby is; en om die blindes weer te laat sien, om almal wat verdruk word te kom bevry, en om aan te kondig: ‘God se bonusjaar is hier, sy jaar om stukkende mense se lewe heel te maak.’” BD
Wat moes Hy oorkom het? Dieselfde twee dinge wat ek en jy ook moet oorkom: Sonde en dood.
Jesus se laaste vyand was die dood, en Hy het dit ook oorwin.
Sy lewelose liggaam is in die graf neergelê en drie dae later het God die klip weggerol en Jesus het uitgestap in die ewigheid wat nie meer ‘n mag oor Hom het nie.
So 15 jaar later skryf Paulus die woorde:
1 Kor. 15:55-57 “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.” AFR53
Daar was nie nog so verhaal in die mens se geskiedenis nie. Geen wonder baie vind dit moeilik om te glo nie. Ons kan nie vandag na al die bewyse kyk nie maar hier is net drie:
1. Fisiese bewyse dat die graf leeg is. Verskeie getuies het by Jesus se graf aangekom en bevestig dat Hy nie meer daar was nie.
2. Menslike getuienisse. Die lewensverandering wat in die dissipels se lewens gebeur het. Iets het met hulle gebeur van hierdie klomp wat weggekruip het en bang was om gesien te word na mense wat later bereid was om hulle lewe te gee om die nuus te gaan vertel.
3. Historiese bewyse deur die opkoms van Christendom. Die radikale groei van die kerk na Jesus se opstanding, die wegbeweeg van Judaisme en die begin van ‘n geestelike beweging in die wêreld soos daar nog nooit was nie.
Hier is waar God se storie met jou storie kruis:
Jy kan ook ‘n oorwinnaar wees. Hy het gekom sodat jy lewe en lewe in oorvloed kan beleef.
En terloops as dit is dat jy gemak in hierdie lewe soek, dit is nie wat Jesus kom doen het nie.
Mense met Hoop in ‘n hopelose wêreld.
Mense wat lig is in ‘n donker tyd in ons land se geskiedenis.
Mense wat bereid is om ophou pessimisties te wees en te doen wat hulle kan om duisternis te verdryf uit ons stad en ons land.
Mense wat ‘n verskil wil maak en ook soos Jesus goeie nuus te bring vir die mense waarop almal neersien, vrylating aan die gevangenis, sig vir die blindes.
Die kruis kan jou lewe ook verander: As Jesus se twee grootste struikelblokke vir jou oorwin het, sonde en dood, en Hy nooi jou uit om die oorwinning saam met Hom te vier, dan is dit goeie nuus vir jou vandag.
Dalk het jy soos Jesus ‘n konflik of moeilikhede om te oorkom, maar weet jy wat – jy hoef dit nie meer in jou eie krag te doen nie.
Met Jesus se hemelvaart het Hy sy Gees op elke mens uitgestort en woon Sy Gees in jou lewe indien jy Hom uitnooi om in jou lewe te kom woon.
So moedeloosheid is nie meer jou deel nie, want die lewende hoop leef in jou. Magteloosheid is ook nie meer jou deel nie, want jy het ‘n lewende God vir wie jy kan vra om iets te doen aan die onreg. Wat ook al jou hindernis is, die lewende Christus het die dood oorwin en leef nou in jou om jou te help om ‘n lewe van oorwinning te leef.
Hulle sê elke goeie storie het ‘n kritiese draaipunt. ‘n Kritiese oomblik wat die uitkoms van die karakter se lewe bepaal. Ek wonder of vandag nie dalk so dag vir jou is nie. ‘n Besluit wat jy hier gaan maak wat jou lewensverhaal totaal en al gaan verander. Dalk is die eerste struikelblok wat jy gaan oorkom, om net vandag ‘n besluit te maak.
Gaan jy Hom innooi? En gaan jy Hom toelaat om jou te lei met Sy liefde en genade?