Die 1 ding – Jou gewoontes
[powerpress]
Ons maak vandag klaar net ons reeks oor die 1 Ding. Drie weke gelede het ons gesels oor die EEN ding in jou lewe waar jy ervaar God jou lei om te verander.
Dit is dikwels die klein dinge wat niemand sien nie wat die groot resultaat gee wat almal wil hê.
Twee weke gelede het ons gesels oor jou gedagtes – dat jy gedagtes jou hele lewe bepaal. Jou lewe beweeg altyd in die rigting van jou sterkste gedagtes.
Verlede week het ons gekyk na ons woorde – as dit nie kan help of kan opbou nie, los dit!
As jy iets dink wat positief is en ’n seën kan wees, moenie terughou nie – sê dit!
En hoe ons na elke sin wat ons sê, dit woorde: en dit is hoe ek dit graag wil hê, moet kan sê. Iemand vertel my in die week, dit het hom so laat dink dat hy amper niks sê nie.
Wel, dit is die gedagte, dat ons baie meer dink oor ons woorde, as wat ons gewoonlik doen. Want, ons woorde het krag, dit spreek lewe of dood oor ons lewens.
Vandag: Die krag van ons gewoontes (dissiplines). Dit is geweldig belangrik.
Hoekom? Want ons is, wat ons aanhoudend doen. Ons gewoontes bepaal wie ons is.
Voor ons begin – wie van julle sou sê dat jy ‘n baie gedissiplineerde persoon is?
Wie sou sê, – ek is geneig om in baie goed maar baie ongedissiplineerd te wees?
Ek wil vir julle wat dink dat julle nie baie selfdissipline het nie iets sê, kom ons dink effens anders hieroor – ons almal is gedissiplineerd in sekere dinge in ons lewe.
Almal het gewoontes, m.a.w. dissiplines. Sommige gewoontes help jou egter, ander gewoontes help jou nie. Maar ons almal het sekere dinge wat ons oor en oor doen.
Jy sê, nee, nee – ek het hoegenaamd niks self dissipline nie. Okay, kom ons dink hieroor.
Dalk druk jy die snooze knoppie elke liewe oggend as jou wekker afgaan om vroeg om te staan. Jy doen dit elke dag. Jy sê, my eetgewoontes is so sleg, ek kan nie ’n dag verby laat gaan sonder om iets verkeerd te eet nie. Ek het nog nie een ete in my lewe gemis nie! Bingo! Ons almal het gewoontes – ons het net nie die regte gewoontes nie.
Dissipline is eenvoudig om ’n keuse te maak tussen wat ons NOU wil hê en wat ons MEESTE wil hê.
Ons almal is suksesvol in een of ander area van ons lewe. En as jy daarna kyk sal jy konstante gewoontes vind wat jy oor en oor herhaal.
Dieselfde geld vir areas van ons lewe wat nie werk nie. Ons het dissiplines, hulle is net nie goeie dissiplines nie. Ons herhaal die verkeerde keuses ook oor en oor.
Ek het al met julle gepraat oor daardie blikkie in my kas wat sulke oë en handjies het. Ja, daardie blikkie karamel wat my roep, veral as dit laat saans is en ek alleen wakker is.
Hy roep my, Kom Braam, kom! Ek is hier vir jou, niemand gaan weet nie… J
So ek kan totaal met jou vereenselwig as dit is hoe jy ook voel.
En gelukkig is ek nie in slegte geselskap nie, want lyk my Paulus wat ’n groot deel van die Nuwe Testament geskryf het, het ook maar gesukkel met dinge.
Rom. 7:15, 18b-20 “Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.” AFR53
Julle weet wat ek bedoel – ek wil ’n appel eet laat saans. Maar die karamel hou aan om my naam te roep.
Moenie dit mis nie. Normaalweg is nie een van ons selfgedissiplineerde mense nie.
Ons sondige natuur laat ons wegdryf van wat goed is en van God af.
Paulus antwoord homself – wie kan my help om versoeking te oorkom? Wie kan my help sodat my sondige natuur nie die oorhand kry in my lewe nie? Die antwoord is nie ’n beginsel nie – dit is ’n Persoon. DEUR Jesus Christus ons Here.
MET SY HULP – kan ek anders wees. MET SY HULP kan ek my slegte gewoontes oorwin.
Ons het in hierdie reeks al gepraat oor die EEN stelling wat jy vir jouself oor en oor herhaal. Nou hier is my sin en dit is baie persoonlik:
Christus IN my is sterker as enige vrees wat ek het! Nie ek in my nie, Christus IN MY.
Christus IN My is sterker as enige vrees wat ek het!
Hierdie EEN stelling herhaal ek vir myself weer en weer elke dag. Dit het die angstigheid wat ek het oor dinge geweldig verbeter.
Nie omdat EK gedissiplineerd is nie, maar Christus IN MY.
EK is nie selfgedissiplineerd nie, maar ek word GEES gedissiplineerd in my lewe.
Die HEILIGE GEES in my, gee vir my die vermoë wat ek nie kon doen op my eie nie.
En Hy het my gehelp om te kies oor dit wat ek MEESTE wil hê, teenoor dit wat ek NOU wil hê.
Luister: JY gaan nooit self-gedissiplineerd wees nie. Want die SELF neig na sonde toe.
Maar wanneer die GEES oorneem – werk Hy God se krag in my lewe om dit te doen.
“Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”
Deur die krag van Jesus, die H.G. kan ons kies tussen wat meeste wil hê teenoor wat ons nou wil hê. Ons leer ons liggame om geoefen te raak in dit wat meeste saak maak.
Ek wil ’n gedeelte lees wat Paulus geskryf het vir die Korintiese gemeente oor ’n resies. Nou toe Paulus hierdie vir hulle geskryf het, het hulle die agtergrond gehad van die Istmiese spele wat amper soos ’n Olimpiese Spele wat vir musiek en atletiek.
Daar was geweldige trots daarin om aan die spele deel te neem.
1 Kor. 9:24-25 “Julle weet dat al hardloop ’n klomp mense in ’n resies daar net een wenner kan wees. Moenie die spel van die lewe speel met die doel om tweede te kom nie. Leef jou lewe so dat jy wen. As iemand ’n resies wil wen, oefen hy eers hard (gedissiplineerd). Met ’n gewone resies is die prys vir die wenner klein, maar in die resies van hierdie lewe is die prys vir die wenner baie groot en dit hou vir altyd.” DB
M.a.w. jy hardloop nie vir ’n plek nie – jy hardloop vir goud. Maar dit is die goud vir jou lewe.
Om die heel beste vir jou lewe te kry. En daarvoor moet jy jouself allerhande dinge ontsê.
Hierdie atlete in die Istmiese spele het aan ’n 10 maande oefenkamp deelgeneem waar hulle net die regte kos geëet het, geoefen het in baie warm en koue kondisies EN om hulle die edge te gee het hulle kaal gehardloop. Ja, julle het reg gehoor. J
Uitstekende motivering om voor te hardloop! So toe Paulus vir die Romeine skryf daar in Rom. 12 het hulle weereens geweet waarna hy verwys.
Rom:12:1 “Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry.” NLV
En as hulle gewen het, raai waarvoor het hulle gehardloop. ‘n Kroon met blare. Ta-da!
Maar as volgers van Jesus leef ons nie vir ’n kroon met blare nie – vir ’n ewige kroon.
So, skielik is ons nie net self-gedissiplineerd nie – ons is GEES gedissiplineerd.
Die GEES IN ONS help ons om die krag van sonde te oorwin.
Prys die Here dit is IN HOM wat ons die krag kan kry! Hy het die krag.
1 Cor. 9:26-27 “So I run with purpose in every step. I am not just shadowboxing. I discipline my body like an athlete, training it to do what it should.” NLT
My liggaam wil doen wat hy nie moet doen nie. Maar ek het dit gedissiplineer soos ’n atleet. Ek het my liggaam geleer om te doen wat hy moet.
Ek het nie selfdissipline nie, ek het GEES dissipline in my.
Christus IN MY is die krag wat ek nodig het. Ek hardloop met ’n doel.
Ek wil God verheerlik met my liggaam. My liggaam is sy tempel, Hy woon in my.
En omdat Hy in my woon kan ek dit doen DEUR SY KRAG, wat ek nie op my eie kan doen nie.
As jy IN CHRISTUS se krag beweeg kan jy nee sê vir dit wat jy nóú wil hê, teenoor wat jy meeste wil hê. Elke tree het ‘purpose’ of doel.
Ek sê nee vir die kos versoeking sodat ek ’n gesonde liggaam kan hê.
Ek sê nee vir die finansiële versoeking om iets nou te hê sodat ek uit die skuld kan kom.
Ek sê ja vir liefde vir my man of vrou omdat ek haar of hom sal liefhê soos Christus die kerk lief het.
Ek is swak – ek wil hê wat maklik en gemaklik en lekker nou is. Maar meer as dit wat my verlei en my wegtrek is dat ek soos Jesus wil wees en God wil verheerlik in alles wat ek doen dit.
Nou, jy sê – ja jy is iemand wat natuurlik gedissiplineerd is en ’n pastoor. Jy is goed met die goed. Luister – die krag van my sondige natuur is net so sterk in my as wat dit in jou is.
Vra vir Vanessa my vrou – sy sal getuig. Maak geen fout nie.
MAAR die krag van God se GEES in my is ook dieselfde GEES in jou en dit is ook dieselfde GEES wat Jesus uit die dood opgewek het. AMEN!
Twee toepassings vrae:
- Wat wil jy die meeste hê?
Dit behoort maklik vir jou te wees. Vir sommige van julle gaan dit oor jou liggaam.
Vir ander van julle gaan dit oor verhoudings. Vir ander gaan dit oor jou kinders.
Vir ander gaan dit oor jou finansies. Vir ander gaan dit oor jou stiltetyd.
Vir ander gaan dit oor ’n verslawing wat jy het. Wat dit ook al is, skryf dit neer.
Wat wil jy die meeste hê?
Dan, Een dissipline. Elke week het ons een ding gehad. EEN gedagte, EEN woord, die week, EEN gewoonte of dissipline.
- My EEN dissipline: Wat moet ek NOU doen, sodat ek kan kry wat ek MEESTE wil hê?
Dink daaroor. Dalk is dit dat jy “accountability” moet kry. Iemand waarmee jy ’n afspraak het sodat hy/sy jou kan help om te groei.
Ons almal het ’n struktuur buite onsself nodig om sukses met iets in ons lewe te hê.
As jy gewig wil verloor, moenie jou eie ding doen nie. Kry iemand saam jou, kry ’n verantwoordbaarheid plek waar jy gaan weeg.
As jy finansieel uit die moeilikheid wil kom, moenie dit alleen aanpak nie, kry iemand wat weet en praat deur jou finansies.
Dalk moet jy ophou om jou geestelike reis op jou eie te doen, want dan kan jy lui raak en jou verhouding met God laat agteruitgaan. Kry ’n geestelike vriend of begeleier.
Wat moet ek NOU doen, sodat ek kan kry wat ek MEESTE wil hê?
En kan ek net dit sê, daar is sekere gewoontes of dissiplines wat soos ’n hoeksteen of in Engels ’n keystone is. As hulle in plek is, dan sal die ander makliker volg.
Nou jou verhouding met God, jou tyd elke dag met Hom is ’n hoeksteen. As dit in plek is, dan is daar ’n klomp ander gewoontes wat daarop bou wat baie makliker sal wees indien jy jou hoeksteen dissipline in plek het.
Wat moet ek NOU doen, sodat ek kan kry wat ek MEESTE wil hê?
Jy het nie die vermoë om dit te doen nie. Maar dank die Here dat God se GEES in jou woon en dat Hy jou die vermoë kan gee om dit te doen.