Die 1 ding – Jou woorde

[powerpress]

Vandag is ons by deel 3 van ons 4 weke reeks: Die EEN ding.

In die reeks praat ons oor klein verskille wat ons in ons lewe kan maak wat ’n groot verskil kan maak. En ek glo dit met my hele hart. Hierdie vier dinge is klein maar hulle kan ’n reuse- verskil maak in jou lewe.

En ons het ’n hoofgedagte herhaal daarom vas te lê is:

Dit is die klein dinge wat niemand sien nie wat die groot resultaat gee wat almal wil hê.

 

Verlede week was baie belangrik – Jou gedagtes. Want alles begin by jou gedagtes.

As jy jou lewe wil transformeer moet jy begin met jou denke en wat jy dink. Die leuens moet met waarheid vervang word. Ons moet minder reaktief wees en meer stil raak sodat ons, ons kan nadink oor ons eie reaksie en denke.

Ons het gesê dat jou lewe beweeg altyd in die rigting van jou sterkste gedagtes.

Ons gedagtes beïnvloed ons woorde, ons woorde beïnvloed ons dade, ons dade word gewoontes en ons gewoontes word ons lot of toekoms.

 

Vandag: Die krag van jou woorde.

Ons woorde is geweldig kragtig en vormend. Soveel so dat ons ons lewe skep met ons woorde. Salomo het in Spreuke gesê:

Spr. 18:21 “Dood en lewe is in die mag van die tong;” AFR53

M.a.w. die woorde wat ons spreek kan woorde wees wat lewe gee en lewe bring of lewens vernietigend wees.

 

Indien jy die lewe wat jy het, wil verander sal jy die woorde wat jy gebruik moet verander. Klein veranderinge in ons woorde wat ons praat kan ’n groot verskil maak.

Jakobus, die broer van Jesus het lank voor my al hierdie woorde gesê:

Jak. 3:3-5   “Net as ons stange in hulle bek gesit het, gehoorsaam perde ons en het ons die hele dier onder beheer. En ’n klein roertjie maak dat ’n groot skip draai net waarheen die stuurman wil, selfs wanneer sterk winde waai. So is die tong ook iets kleins, en tog kry dit groot dinge reg. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek.” NLV

’n Klein ding soos ’n tong kan geweldige groot dinge teweegbring.

Beide in ’n goeie manier en in ’n slegte manier.

Wys my ‘n plek of ’n persoon of ’n verhouding wat suksesvol is en ek sal jou ’n oorvloed van woorde wys wat opbouend, bemoedigend en lewegewend is.

Die teendeel is ook waar – wys my iemand wat sukkel, ‘n omgewing of verhouding wat sukkel en ek sal jou ’n oorvloed negatiewe, afbrekende en kritiese woorde wys.

 

Salomo die wysste man wat ooit geleef het, het dikwels woorde gebruik wat hierdie opbouende woorde teenoor afbrekende woorde afgespeel het.

Spr. 12:18  “Party mense maak ander graag seer. Hulle woorde is soos ’n skerp mes wat alles stukkend sny. ’n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe.” DB

Spr. 15:4    “Iemand wat kalm oor probleme praat se woorde maak heel. Vlymskerp woorde kan mense breek.” DB

 

Ons almal het al woorde ervaar wat breek, wat stukkend sny. Soms is dit onbewustelik wat mense iets sê, soos bv. nou hoekom het jy nog nie ’n man gekry nie?

Ander kere is dit meer direk, soos bv. ek kan jou nie verdra nie, jy is pateties, ek het jou nooit lief gehad in die eerste plek nie. – Afbrekende woorde, sny soos ’n mes.

Woorde wat jou opbou is iets wat jou lig, jou energie en lewenslus gee.

“Ek is SOOO trots op jou. Ek so dankbaar jy is in my lewe.” Dit bring genesing vir jou siel.

 

Verlede week het ons ’n gedagte oudit gedoen en vandag gaan ons ’n woorde oudit doen.

Woorde oudit:

Afbrekende woorde (ander) 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 Opbouende woorde (ander)

Afbrekende woorde (self)    1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 Opbouende woorde (self)

As jy nie ’n 10 vir beide gegee het nie, raai wat? Daar is ruimte vir verbetering.

Hoekom is dit belangrik? Want ons woorde gee lewe. Dit skep, soos God geskep het.

 

Twee belangrike reëls vir Lewegewende woorde:

Ek weet ek gaan nou soos jou ma klink, maar weet jy wat, jou ma was reg…

  1. As ek nie iets kan sê wat sal help of lewe kan gee nie – los dit!

As jy nie iets kan sê wat opbou nie, moenie enigiets sê nie.

Efes. 4:29 “Do not let unwholesome [foul, profane, worthless, vulgar] words ever come out of your mouth, but only such speech as is good for building up others, according to the need and the occasion, so that it will be a blessing to those who hear [you speak].” AMP

 

Vir sommige van ons, as ons net hierdie een vers kan onthou en begin leef, dan sal ons totale lewe begin verander.

En dit is nie nou ’n tyd vir jou elmboog om iemand langs jou te stamp nie, stamp jouself.

As dit nie kan help nie, bly stil. Zip it. Baie kort en direk.

 

  1. As jy iets dink wat goed is – sê dit!

Dit is hoekom dit begin by ons gedagtes. As jou gedagtes negatief, afbrekend en hopeloos is, sal jou woorde ook negatief, afbrekend en hopeloos wees. OF

Spr. 16:24 “Mooi woorde is soos iets lekkers. Aangenaam om te eet. Goed vir die liggaam.” DB

Ek kan mooi gedagtes oor iets of iemand hê maar as dit net by gedagtes bly, dan beteken dit niks nie is dit nie?

Maar as ek dit sê, dan kan dit seën. Dan kan dit moed gee. Dan kan dit lewe gee.

Elke keer wat jy iets goed dink, sê dit! Nie almal is narsisties met groot ego’s nie.

Die lewe het ’n manier om ons te slaan met afbrekende goed, goed wat ons moedeloos maak. Meeste van ons kan doen met elke stukkie bemoediging en opbouende woorde.

 

Twee sielkundiges wat ‘n boek geskryf het, Words can change you brain, beweer dat EEN positiewe woord wat oor en oor herhaal word die krag het om letterlik jou brein te verander.

“A single negative word can increase the activity in our amygdala (the fear center of the brain). This releases dozens of stress-producing hormones and neurotransmitters, which in turn interrupts our brains’ functioning. (This is especially with regard to logic, reason, and language.) “Angry words send alarm messages through the brain, and they partially shut down the logic-and-reasoning centers located in the frontal lobes,” write Newberg and Waldman.”

MAAR daar is darem goeie nuus ook…

“Positive words, such as “peace” and “love,” can alter the expression of genes, strengthening areas in our frontal lobes and promoting the brain’s cognitive functioning. They propel the motivational centers of the brain into action, according to the authors, and build resiliency.” Andrew Newberg, and Mark Robert Waldman: Words can change you brain.

Eenvoudige taal: Afbrekende woorde maak jou dom en skep stress en vrees.

Opbouende woorde hou jou gemotiveerd en gee vir jou uithouvermoë en hoop.

En kan ek byvoeg: Nie net vir ander nie maar ook vir jouself.

Woorde is so kragtig! Maak dit ’n reël. Moenie ’n woorde van seën terughou nie.

Hoekom sal ons dit doen? As jy na jou woorde oudit kyk, waar was jy?

Begin hier, gaan oor tot aksie. As jy iets goed dink, sê dit terwyl jy kans het.

 

Ek weet nie van jou nie, maar ek moet myself gereeld in die Here versterk want negatiewe dinge gebeur in en om my elke liewe dag.

1 Sam. 30:6        “En Dawid het dit baie benoud gehad, want die manskappe het gepraat om hom te stenig; …maar Dawid het homself versterk in die Here sy God.” 53

Here, gee vir my geloof hiervoor… Here, ek glo U hand is op my… Here, ek weet alles sal ten goed meewerk want ek is lief vir U en ek is geroep…

Praat met jouself! Nie net dat JY dit kan doen nie, maar dat God groot dinge DEUR jou kan doen.

 

As jy dit wil sien… Sê dit! In Esegiël het die Here vir hom gesê dat Hy met die dooie bene moet spreek. Die Here het nie gesê praat oor die dooie bene moet praat nie.

Eseg. 37:4-5,7   “Hy sê toe vir my: “Profeteer vir hierdie bene en : ‘Droë bene, luister na die woord van die Here! So sê die oppermagtige Here: Kyk, Ek gaan in julle blaas en julle weer lewend maak! Ek het gesê soos Hy my beveel het. Skielik was daar ’n gedreun terwyl ek praat. Die bene van elke liggaam het bymekaargekom soos dit voorheen was.” NLV

Die Here het vir hom gesê , praat dit en dit sal waar word. Nie dink dit nie, praat dit!

Vriende, ek dink ons het nodig om God se woord en positiewe woorde oor onsself en ander en ons land en ons universiteite en ons skole te spreek.

Ons het nodig om van God se goedheid en Sy liefde en Sy getrouheid te getuig.

As ons dit nie doen nie, dan sal die klippe dit doen sê Lukas 19:40.

 

Hier is ’n eenvoudige toets wat jy vir elke stelling wat jy maak kan toepas:

Nadat jy iets gesê het… sê,… en dit is wat ek graag wil hê.

Bv. Ek voel nie dat ek enigiets beteken vir iemand nie… en dit is wat ek graag wil hê. NEE

My huwelik is nie meer die moeite werd nie… en dit is wat ek graag wil hê. NEE, werk nie.

Hierdie land van ons is in die afgrond in… en dit is wat ek graag wil hê.

Nee, jy sien, jou woord het krag. As jy dit sê, dan skep dit, dood of lewe.

As jy die woorde: En dit is wat ek graag wil hê, kan voeg by elke stelling wat jy maak dan sal jy lewe spreek.

Ek is diep in die skuld, maar ons gaan begin om binne ons vermoë te leef, en God se beginsels toe te pas vir gesonde finansies… en dit is wat ek graag wil hê.

 

Jou gedagtes word jou woorde en jou woorde word jou aksies en jou aksies word jou gewoontes en jou gewoontes maak saak wat dit word wie jy is.

Wat jy aanhoudend doen, is wie jy gaan word.

As jy klein veranderinge in jou woorde maak sal dit groot verandering in jou lewe bring.

Nou: Verlede week het ek jou uitgedaag om een gedagte te kry waarop jy kan fokus in jou gedagtes. Daardie vers of gedagte het jy vir jouself oor en oor herhaal.

 

Die week: EEN stelling wat jy nie net gaan dink nie, maar gaan sê, weer en weer.

So dit kan dieselfde gedagte wees as wat jy verlede week gehad het, soos bv.

Jes. 40:31 “maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”

MAAR die wat op die Here wag, kry nuwe krag. (Herhaal).

Maar jy gaan dit nie net dink nie, jy gaan dit hardop sê, vir jouself.

 

Dit is die klein dinge wat niemand sien nie wat die groot resultaat gee wat almal wil hê.

EEN Stelling wat jy gaan dink en sê, leef en herhaal vir jouself…

As dit nie kan opbou nie, bly stil!

As dit kan opbou en lewe gee, sê dit! Vir jouself, vir ander.

en dit is wat ek graag wil hê.

GEBED