Die Heilige Gees – Deel 2: Persoon en werk (1)

[powerpress]
(Agv ‘n tegniese fout is die eerste paar minute van die opname swak kwaliteit.)

Verlede week het ons begin kyk na die persoon van die H.G. en gaan die week verder.  Voordat ‘n mens die werk van die Heilige Gees reg kan verstaan moet jy eers die Heilige Gees as persoon verstaan en leer ken.

Wat van grootste belang is, is dat ons die Heilige Gees sal erken as een van die persone van die Drie-eenheid wat waardig is van ons aanbidding, ons geloof en liefde.  En wat ook waardig is om ons volle oorgawe aan Hom te gee.

As ons dit nie doen nie, dan beroof ons onsself van die primêre openbaring van God wat ons op hierdie stadium in die geskiedenis beleef.

Verlede week het ons oor die drie verskillende openbarings van God gesels.

Die Vader as skepper.  Die Seun as redder.  Die Heilige Gees as Voorspraak, Trooster, Heiligmaker.  Elke keer was daar ook ‘n belofte van nog een wat sal kom.

As ons net aan die H.G. sou dink as ‘n krag of as God se teenwoordigheid dan sal ons konstante gedagtes wees, Hoe kan ek meer van die Heilige Gees kry?

 

Maar as ons aan Hom dink op ‘n Bybelse manier as een van die Godheid, sal ons gedagtes eerder wees, Hoe kan die Heilige Gees meer van my kry?

As Hy net ‘n krag of simbool is van God se teenwoordigheid dan begin dit gaan oor myself en hoe Hy my kan help in hierdie wêreld.

Maar as Hy ‘n persoon is, dan begin ek meer van myself oorgee aan Hom sodat Hy my kan verander.  Die volledige transformasie van my lewe kom nie deur ‘n teologiese verstaan van dinge nie maar deur die ervaring dat die Heilige Gees my meer soos Jesus laat dink en my meer soos Jesus maak.

Ons vra die persoon van die Heilige Gees in ons lewe om ons bewus te maak van Sy werk in ons.  Ons nooi nie die gawes in ons lewe in nie.  Ons wil bewus word van ‘n Persoon van die Drie-eenheid wat in ons lewe.

In Lukas 3 sien ons met Jesus se doop die Drie-eenheid in werking.

Luk. 3:21-22      “Eendag toe die skares gedoop word, is Jesus self ook gedoop. Terwyl Hy bid, het die hemel oopgegaan, en die Heilige Gees het fisies soos ’n duif op Hom neergedaal. En ’n stem uit die hemel het gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart.”  NLV

 

Die Vader spreek vanuit die hemel, oor Sy Seun wat mens geword het en die Heilige Gees het die vorm van ‘n duif aangeneem en op Jesus neergedaal.

Jesus was deur die Vader gestuur.  Die H.G. is deur Jesus gestuur.

Jesus het net gedoen en gesê wat die Vader vir Hom gesê het.

Joh. 7:16  “Jesus het vir hulle gesê: “Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het.”  AFR83

 

Op dieselfde wyse sê en doen die H.G. dit wat Jesus gesê en gedoen het.

Joh. 16:13-14    “Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, … Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”  AFR83

So, die Heilige Gees tree nie onafhanklik van die Vader en Seun op nie.  Hy verheerlik ook nie Homself nie maar Jesus wat Hom gestuur het.

Die werk van die Heilige Gees:

Daar is baie mense wat dink dat die H.G. se werk beperk is tot die mens.

Maar die Bybel vertel ons dat die H.G. se werk baie wyer as dit is.

  1. Die Heilige Gees was betrokke by die skepping

Ons lees in die skeppingsverhaal van Genesis 1 dat God gepreek het en daar was geskep.

Job. 33:4  “Die Gees van God het my gemaak, die asem van die Almagtige gee my lewe.”  NLV

Dit wat lewe gebring en gegee het in die Skepping was die H.G.  Elke lewende wese en ding het gebeur a.g.v. die werk van die H.G.

Die Vader werk in Sy Seun deur die Heilige Gees.

 

  1. Die Heilige Gees gee ook lewe in die heelal

Nie net was die H.G. betrokke by die skepping van alles wat lewe nie maar ook vandag nog is die H.G. die persoon wat lewe gee vir alle lewende wesens.

Ps. 104:29-30    “Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle, as U hulle asem wegneem, is hulle dood en word hulle weer stof. U gee die lewensasem en daar is lewe; ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit.”  AFR83

 

Dit wat bestaan, het gekom a.g.v. die Heilige Gees en dit voorbestaan in die heelal is a.g.v. die werk van die Heilige Gees.

Dit beteken nie dat God die heelal is nie.  Dit is ‘n panteïstiese of boeddhistiese siening.

Nee, die Bybel sê, die heelal bestaan a.g.v. God en Sy teenwoordigheid in die heelal deur die Heilige Gees.

 

  1. Die Heilige Gees bring oortuiging

Enige oortuiging dat daar ‘n God is, in die eerste plek, dat ons verlore is sonder Hom, dat ons in Hom moet glo – kom deur die werk van die Heilige Gees.

Joh. 16:7-11      “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.”  AFR53

 

Die H.G. het gekom soos Jesus belowe het.  En die H.G. het die wêreld kom oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel.

Die H.G. bring oortuiging in mense se harte.  Net die H.G. kan ‘n mens oortuig van sonde.  Ons eie hart is bedrieglik en mislei ons heel gereeld.

 

Dink maar net hoe maklik en natuurlik is dit nie om ander se foute raak te sien en uit te wys nie.  Maar wanneer dit by ons eie foute kom, is ons blind en ontken ons dikwels ons eie tekortkominge.

Hoe meer ‘n mens met die menslike natuur te doen kry, hoe meer besef jy hoe hopeloos dit is om ander te wys op hulle foute.  Ons kan dit nie doen nie en God wil ook nie hê dat ons dit moet doen nie.  Hy plaas hierdie werk in die hande van die H.G. wat meer as weet, hoe om dit te doen.

Die Heilige Gees kan die mees verharde en geestelike blind persoon oortuig van sonde.

Wat is hierdie sonde?  Die sonde van ongeloof in Jesus Christus.

Joh. 16:9  “Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie…”  AFR8

Die H.G. kan ‘n mens verander van iemand wat net glad nie omgee nie (indifference) na iemand wat ‘n oorweldigende behoefte het aan ‘n Redder.  Iemand wat hulle kan red van hul verlorenheid.

 

Hoe gereeld is ons nie ook dalk skuldig aan hierdie sonde nie?  Dat ek Hom nie glo vir dit wat Hy vir my sê nie?

God se raad, “plaas My eerste, dan sal jy sien hoe jou verhoudings, jou finansies, jou emosies, jou gesondheid reg kom.”

Maar wat doen ons?  Ons vertrou Hom nie 100% nie.  Hoe kan God se raad vir verhoudings, vir finansies, vir gesondheid reg wees?  Hy weet tog nie beter as ek nie?

Daardie oortuiging, daardie geloof en vertroue kom deur die H.G.

En ons hoef nie moedeloos te raak as ons na mense kyk nie.  Maak nie saak hoe hard, hoe “don’t care” hulle is, hoe selfgerig hulle is – Die H.G. kan mense oortuig van sonde.

 

  1. Die Restourasie (vernuwings-) werk van die Heilige Gees

Die H.G. vernuwe ons, Hy maak ons nuut, en reinig ons deur wedergeboorte.

Titus 3:5   “Hy het ons verlos, nie op grond van wat ons gedoen het vir ons vryspraak nie, maar slegs op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy vermag deur die reiniging van die weergeboorte en deur die Heilige Gees wat ons vernuwe.”

Wat is hierdie restourasiewerk wat die H.G. doen?

Die vernuwing is die meedeling (impartation) van lewe, geestelike lewe in hulle wat geestelik koud of dood geraak het.

Efes. 2:1   “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes.”  AFR53

Hierdie transformasie, verandering of vernuwingswerk kom deur die H.G. wat in ons lewens werk.  Die Here se Woord is die primêre instrument wat die H.G. gebruik om ons te vernuwe en te verander.

Daarom, as jy nie in die Woord is elke dag van jou lewe nie, kan die vernuwingswerk wat die H.G. wil doen nie gebeur nie of die pas waarteen die H.G. sy werk kan doen is soveel stadiger.

1 Pet. 1:23          “Die nuwe lewe wat God gegee het, is vir ewig, want dit kom van die ewige en lewende woord van God.”  NLV

Die Woord is die instrument wat God gebruik vir vernuwing.  Maar die H.G. is die persoon wat die instrument gebruik om die restourasie of vernuwing te bring.

Die Gees maak die Woord vir ons lewendig.  Sonder die H.G. se werk in ons, is ons soos iemand wat met ‘n bril lees wat heeltemal te sterk of te swak is.

Ons kan net eenvoudig nie uitmaak wat daar staan en wat dit vir ons beteken nie.

Of anders gestel, die H.G. plaas die nuwe natuur van God in ons wedergebore lewens.

Maak nie saak hoe goed jou ouers jou grootgemaak het, hoe mooi jy lewe nie, ons almal word gebore in ‘n wêreld wat aangetas en vervalle is a.g.v. sonde wat die wêreld binnegekom het.

1 Kor. 2:14         “Die natuurlike mens kan nie hierdie waarhede toe-eien wat van die Gees van God kom nie. Dit klink vir hulle onsinnig. Hulle kan dit nie verstaan nie, want hierdie dinge moet vanuit ’n geestelike perspektief verstaan word.”

Ons leef met ‘n wil wat korrup is.  Die eie-ek wil vir homself leef, nie vir God nie.

Die ekkige-ek stel sy eie bedrieglike motiewe eerste voor enigiets.

Die H.G. is die een wat die herstel of vernuwing bring.

Ons kry gedagtes wat in harmonie met die wil van God is.

Ons hart begin klop nie meer vir ons eie plesier en dinge nie maar vir God en dit wat Sy hart bly maak.   Soos Jesus begin ons sê:

Joh. 4:34  “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.”  AFR83

 

Geen preek, of Bybelstudie vernuwe tensy die H.G. die werk van vernuwing doen nie.

Jou hart is die grond.  Die Woord is die saad.  Die wat die Woord bring of met jou deel is die saaiers.  MAAR dit is die H.G. wat die saad laat ontkiem en Christus in ons vorm.

Die H.G. restoureer jou na die oorspronklike skeppingsdoel toe wat God gehad het toe Hy jou geskep het en gevorm het.

Hy het die krag om ‘n totale nuwe natuur in jou te skep.  Amper soos toe God gesien het daar was duisternis en Hy gesê het, “laat daar lig wees.”

So kom dieselfde H.G. en met die spreek van ‘n woord bring Hy lig in die donker areas van jou hart.

Die H.G. is die een wat ‘n verlore, slegte, korrupte persoon vat en God se natuur in hom sit deur wedergeboorte en hom ‘n nuwe natuur gee wat net groei en groei.

Sonder die vernuwende krag van die H.G. in ons lewens kan ons nie in God glo nie, kan ons nie gered word nie, kan ons nie verander nie.

 

Die vernuwingswerk van die H.G. is so fantasties.

Enige hoop dat ek dit kan doen deur ‘n nuwe bladjie oor te slaan vernietig Hy.

Want dit is nie genoeg nie.  God moet iets nuuts in jou gees doen.

Enige hoop dat kerkbywoning of goeie dinge wat ek doen dalk genoeg is oortuig Hy my, dit is nie waaroor dit gaan nie.  Ek moet die vernuwingswerk van die H.G. in my lewe begin toelaat.

 

Uiterlike verandering en om jou ongeduld en humeur te beteuel is nie genoeg nie.

‘n Nuwe Hoop is nodig.  ‘n Nuwe lewe is nodig.

‘n Lewe wat oorgegee is aan die derde persoon in die Godheid.

‘n Lewe wat die restourasie en vernuwingswerk van die H.G. ervaar en begeer.

‘n Lewe diep bewus van die inwonende teenwoordigheid van God se Gees in haar lewe.

Die H.G. skep nuwe lewe.  Die H.G. herstel dit wat die vyand verwoes het.