Die Heilige Gees – Deel 6: Leer, lei en stuur

[powerpress]

 

Vandag bietjie meer oor hoe die H.G. ons leer en lei.

Joh. 14:16          “en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”

Ek sien in hierdie gedeelte 2 dinge wat vir my uitstaan:

Eerstens: “…herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”

Wanneer iemand besluit het om Jesus te volg met hulle lewe is daar iets wat krities is vir hulle lewe.  So persoon moet Jesus leer ken en ook wat Jesus gesê het.

Indien ek Jesus Christus wil volg moet ek dan tog weet waarheen Hy my lei.

En dit is die H.G. wat ons herinner aan elke woord wat Jesus gesê het toe Hy op aarde was.  Dit is amper soos ‘n mentor of ‘n lewensafrigter wat elke oomblik van die dag by jou is en jou wil herinner aan jou afrigter (coach) se woorde.

Die H.G. is gereed om dit te doen selfs meer gereeld as wat jy dit verwag en na Hom kyk om dit te doen.

 

Dit is nie toevallig dat Jesus die volgende woorde net in die volgende vers gesê het nie:

Joh. 14:27          “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie.”  AFR83

Daar is baie diep betekenis in hierdie woorde van Jesus.

Dit is deur die H.G. wat ons herinner aan die woorde van Jesus en deur ons te leer van die waarheid van God dat ons hierdie soort vrede kry.

Dit is seker een van die grootste behoeftes wat mense het, vrede, werklike innerlike vrede.  –  Wel, Jesus leer ons, dit kom deur te weet wat Hy gesê het en dit begin uitleef.

Tweedens: “…sal Hy julle alles leer.”

Daar is selfs ‘n meer duidelike belofte in:

Joh. 16:12-14    “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”  AFR83

Wat ‘n voorreg is dit nie vir elke ware volger van Jesus nie:  om deur God self geleer te word.  Nie deur ‘n Rabbi nie.  Nie deur ‘n DVD kursus nie.  Nie deur iemand anders nie.

Deur God self.  Hy wil jou leer.  Hy wil met jou kommunikeer.

En die een wat die meeste deur die H.G. geleer word is die een wat die meeste bereid is om te luister na die H.G. se stem of insprake in sy lewe.

Jy het ‘n goddelike leermeester – ‘n coach, ‘n mentor, ‘n lewensafrigter.

 

Wat sal die H.G. ons leer?  “sal Hy julle in die hele waarheid lei

Wat is hierdie waarheid?  Geestelike dinge.  Die dinge van God wat jou ‘n vry mens maak.  Die waarheid oor jouself en hierdie wêreld vanuit God se oë.

1 Joh. 2:27         “Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy Gees leer julle alles, en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen leuen nie. Ja, soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly.”

Dit beteken natuurlik nie dat ons nie deur ander mense iets kan of moet leer nie.

Dit beteken dat elkeen van ons ‘n lewensafrigter het wat baie beter weet waarmee God besig is in jou lewe as wat enige ander persoon weet op hierdie aarde.

Ons is eerstens afhanklik van die H.G. om ons te leer en tweedens is ons nie afhanklik van mense om ons te leer nie, God gebruik ons in mekaar se lewens soos Hy wil.

 

Joh. 16:14          “Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”  AFR83

Die H.G. se werk bo enige ander werk wat Hy in jou doen is om Jesus Christus aan jou bekend te maak en om Hom te verheerlik in en deur jou.

Dit is die H.G. wat ons trek om nader aan Jesus te lewe.

Dit is die H.G. se werk om Jesus te verheerlik.  Ons kan Jesus nie verstaan as die H.G. hom nie vir ons lewend maak in ons nie.

1 Kor. 2:1-5        “Broers en susters, toe ek destyds vir die eerste keer na julle toe gekom het, het ek nie ’n stortvloed woorde of indrukwekkende wysheid gebruik om aan julle God se groot geheim, naamlik die Goeie Nuus, te verkondig nie. Want ek het besluit om as ek by julle is, net op Jesus Christus te konsentreer en veral op sy kruisdood. Ek het na julle gekom in swakheid – angstig en vol huiwering. My boodskap en my prediking was bitter eenvoudig. Ek het julle nie probeer oorreed deur geleerde welsprekendheid nie, maar deur die Heilige Gees wat kragtig onder julle gewerk het. Dit het ek gedoen sodat julle geloof nie sou berus op menslike geleerdheid nie, maar op die krag van God.”  NLV

Wat probeer Paulus hier skryf in die brief aan die Korintiërs?

Die H.G. gaan Jesus duidelik aan ons openbaar en dit is nie iets wat kom deur slim geleerde, wêreldse kennis nie maar deur die eenvoud wat die H.G. mense leer oor Hom.

Dit is die H.G. wat jou sal leer wat en hoe om dinge te doen en sê sodat jy deur God gebruik kan word.

 

Die Heilige Gees leer ons nie net nie maar Hy lei ons ook en gee aan ons onderskeiding.

1 Joh. 4:1 “My dear friends, don’t believe everything you hear. Carefully weigh and examine what people tell you. Not everyone who talks about God comes from God.”  Message

Hoe weet ek die Here lei my of lei iemand anders?  Dit is die H.G. wat dit aan ons wys en ook aan ons duidelik maak.

Ons gaan nie in die reeks spesifiek kyk na die verskillende maniere waarop die H.G. ons lei nie maar wat ek wel vir jou kan sê is dat is dat die H.G. duidelik lei veral wanneer ons bereid is om saam met iemand anders of ander mense Sy wil probeer onderskei.

 

En daardeur dink ek dit is belangrik om te sê dat ons moet geestelik volwasse raak dat ons sy stem self kan onderskei sonder dat ons die leiding van die Here by iemand of iets buite onsself kry.  As ek die moeite doen om in ‘n verhouding met Hom te leef en ek maak al die eksterne en interne geraas in my lewe stil dan praat Hy merkwaardig duidelik.  Sonder om ‘n profeet op te soek of my Bybel oop te maak en my vinger op ‘n versie te druk en te dink dit is nou God wat met my praat.

 

Maar dan moet elke kind van God ook mense in sy lewe hê wat hulle help onderskei, wat hulle kan wys op hulle blindekolle, wat die stof uit hulle eie oë kan blaas.

Ons leef in ‘n baie individualistiese wêreld en en te veel mense leef hulle lewe heeltemal onafhanklik van God en sê dan net dat die Here hulle gelei het om iets te doen sonder om eers te toets of iets werklik die wil van God is.

Spr. 15:22 “Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie; dit slaag wanneer daar baie raadgewers is.”

 

Hoe wens ek nie dat meer mense ‘n geestelike coach of ‘n geestelike begeleier of ‘n geestelike lewensafrigter kan kry om hulle te help onderskei waarmee God in hulle lewe besig is nie.

Ek dink ons sal baie vinniger groei, wyser besluite maak en meer saam met God werk as ons sulke mense in ons lewe toelaat wat die H.G. kan gebruik.

 

Die Heilige Gees stuur ons altyd om God te verteenwoordig en Sy werk voort te sit

Die persoon wat dink dat die H.G. net gekom het om ons krag te gee om van die grootste uitdagings en versoekings in die lewe te kan weerstaan maak Sy werk baie klein.

Hy stuur ons.  Hy wil ons gebruik in Sy koninkryk anders het Hy jou “opgebeam” die oomblik toe jy jou lewe vir Hom gegee het.

Hand. 1:8  “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”  AFR83

 

Die H.G. gaan jou roep om iets vir God te doen een of ander tyd in jou lewe.

Die persoon wat dink dat die H.G. net ‘n krag is of net ‘n simbool van God se teenwoordigheid is sal op ‘n stadium sy ervaring moet aanpas want die H.G. is ‘n persoon wat Jesus Christus aan ons openbaar en ons dan stuur soos wat die Vader Jesus gestuur het na die wêreld toe.

Beteken dit dan ons almal op een of ander sendingveld in Japan of in Afrika gaan op eindig?  Nee, verseker nie.

Maar die dag toe Hy jou gemaak het, het Hy vir jou talente gegee.  Die dag toe jy die beheer van jou lewe aan Hom oorgegee het, het Hy vir jou gawes gegee.

En Hy wil hierdie gawes in Sy koninkryk hier op aarde gebruik.

Die H.G. stuur ons en maak ons bekwaam om vir God te werk in hierdie wêreld.

Of dit as ‘n onderwyser is, as ‘n sekretaresse is, as ‘n besigheids-eienaar is – Hy wil jou gebruik om sy verteenwoordiger te wees.  En dit is die H.G. se werk om jou bekwaam te maak en om jou te gebruik waar Hy die geleentheid sien om jou te kan gebruik.

Maar Hy kan net beskikbare manne en vroue gebruik.

Hy kan net mense gebruik wat die H.G. se fluistering of stem ken.

Hy kan net mense gebruik wat besef hulle grootste doel hier op aarde is nie om baie geld te maak nie maar om God te verteenwoordig en Sy hande en voete te wees.

Hoeveel betekenis, passie en doel kom nie ons lewe binne die dag wat ons besef dat die H.G. ons roep om vir God te werk nie.

Elke ander begeerte of droom begin vaag en leeg lyk die dag wanneer ons besef dat die H.G. ons wil gebruik, dat Hy groter drome vir ons het en dat Hy ons wil stuur.

Die mens wat Sy lewe totaal en al oorgegee het, haar eie planne eenkant toe geskuif het, sal ervaar hoe die H.G. ‘n begeerte in hom/haar bewerk wat soos ‘n vuur is wat begin brand en nie uitgeblus kan word nie.

 

Dit is die H.G. wat ons herinner aan Jesus se woorde in:

Joh. 20:21          “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”  OAV

Dit is die H.G. wat ons stuur en ons bekwaam maak om die werk te doen wat Hy ons gee wanneer Hy ons stuur.

Dit is die H.G. wat die begeerte en die passie binne ons aan die brand steek om ons eie gemaksone te los en op ‘n groot onbekende reis te neem.

 

Ons is gewoonlik soos Josua en Jesaja– en sê Here, wie is ek dat U my wil gebruik?

Ek is die minste, ek het nog so baie dinge om uit te sorteer, ek het nog kinders, ek moet die pot aan die kook hou.

En die H.G. is die een wat na ons toe kom en vir ons sê waaroor bekommer jy jou oor dinge wat nie joune is om oor te bekommer nie?

Ek wil jou gebruik en daarom wil ek jou stuur.

Jes. 6:8     “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan?”

 

Maar Here wat sal ek sê?  Sal jy vir My gaan?

Maar Here ek weet nie hoe dinge sal uitwerk nie?  Sal jy vir My gaan?

Maar Here daar is nog so baie vrae.  Sal jy vir My gaan?

Wanneer jy vandag by hierdie deure uitstap, stap jy in jou sendingveld in.  En God vra vir jou, sal jy vir my gaan?  Sal jy toelaat dat My Gees jou krag en wysheid gee om in My koninkryk te werk?

Sal jy toelaat dat die volheid van My Gees in jou begin woon?  Sal jy toelaat dat die grootheid van My heerlikheid in jou woon.

As jy dors het, kom drink by my, want ek sal vir jou strome van lewende water gee wat vanuit jou binneste sal vloei.

En hopelik sal jy soos Jesaja antwoord in vers 8.

Jes. 6:8     “Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.”  OAV