Die Heilige Gees – Deel 7: Die Heilige Gees se Woonplek

[powerpress]

Hier by Impetus glo ons dat sorg en omgee deur verhoudings met mekaar plaasvind. Dit is vir ons baie belangrik dat elkeen hier in verhouding sal leef met ander gelowiges. Nou op ’n Sondag kan jy voor en na die diens koffie drink en met ander mense gesels en ek wil julle aanmoedig om dit te doen. Kom ’n bietjie vroëer en bly bietjie langer. Hier kan jy ’n kort tydjie met ’n paar persone gesels, maar daar is geleenthede waar jy jou lewe met ander kan deel en dit is in ons kleingroepe (omgeegroepe en dissipelskapgroepe) en dit is daar waar ware omgee en geestelike groei gebeur. As jy nog nie aan ’n omgeegroep of dissipelskapgroep behoort nie, vul sommer nou die afskeurstrokie in.

Wanneer ons as gelowiges so saamkom en daar liefde en omgee is beskryf die Bybel ons as die Liggaam van Christus.

Dit is vir my baie betekenisvol dat die Bybel die beeld van ’n liggaam gebruik om ons verhouding as gelowiges met mekaar te beskryf.  Ons gesamentlik staan bekend as die liggaam van Christus.

Romeine 12:5 Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.

My ouers het grootgeword in ’n tradisie waar enige aktiwiteit van die liggaam as sondig beskou is. Die liggaam is gesien as ’n tydelike tuiste hier op aarde terwyl ons eintlik op reis is na ’n ewige tuiste in die hemel. Dit is ’n nodige euwel wat net verdra moet word en wat se begeertes teengestaan moet word. Nou ja, teen die die tyd dat ek in die wêreld gekom het, het daardie beeld van die liggaam darem so ’n bietjie verander, maar liggaamliike oefening is steeds as van min nut gesien en om te dans was net iets wat ander mense gedoen het wat nie so geestelik soos ons was nie. Vandag kan ek my verkyk aan my seun Dillon wat sy lyf so lekker kan beweeg en my dogter Maneesha wat sport so geniet.

As Christene wat in ’n gevalle wêreld leef het baie van julle het dalk soos ek ’n dubbelsinnige konsep van ons liggame ge-erf. Aan die een kant is ons liggame net iets is wat ons siel en gees tydelik hier op aarde huisves en  die liggaam moet net in standgehou word vir daardie doel. Verder moet die liggaam se behoeftes en begeertes onderdruk word.

Teenoor dit is daar die huidige sekulêre kultuur wat ’n geweldige fokus plaas op die perfekte liggaam. In vandag se kultuur is die mooiste liggaam gelyk aan die suksesvolste lewe. Ek hoef julle nie te vertel van hoe die beroemde sterre se foto’s deur photoshop gemanipuleer word net om aanvaarbaar te wees nie.

Is ons liggame dan boos of is dit iets wat geïdialiseer moet word?

Ons agtergronde en die sekulêre kultuur maak dit vir ons baie moeilik om die Bybelse realiteit te aanvaar dat God ons liggame geskep het en dat Hy dit dit net soos die res van die skepping as BAIE GOED verklaar het.

Genesis 1:26&31 God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.

God verklaar die skepping en die mense wat hy skep nie net as goed nie, maar as BAIE GOED.

Dawid het hierdie persektief gehad dat God iets wonderlik geskep het en hy vier die feit dat hy hier op aarde geplaas is met ’n liggaam met ’n lied aan God:

Psalm 139:14

Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.

 

Die Bybel sien die ligaam as ’n geestelike skepping. Nie iets apart van die siel en gees nie, maar as ’n eenheid met die siel en gees.

En dan kom Paulus en verwys na ons liggame as tempels van God:

1 Korintiërs 6:19-20

Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

Is dit nie wonderlik nie? Van al die wonderlike plekke in die skepping waardeur God homself kan openbaar kies Hy om dit in ons liggame te kom doen.

Die Heilige Gees se woonplek is jou en my liggaam!

Ek weet nie van julle nie, maar soms is ek baie gelukkig met die liggaam wat ek gegee is en ander kere wens ek dat ek ’n ander, mooier, sterker, beter liggaam kon kry. Maar kan jy dink dat God ons liggame as sy woonplek kies? Dat ons tempels is van die Heilige Gees?

Ja, ons liggame is nie perfek nie en dit is ok. God kies om in ons gebrokenheid te kom bly. Hy het na ’n gebroke wêrled gekom en nou kom Hy en woon in gebroke liggame. Is dit nie wonderlik nie? Jy hoef nie perfek te wees vir ’n perfekte God om in jou te kom woon nie.

Nou as God deur die Heilige Gees dan binne in ons woon en ons liggame beskryf word as tempels dan is dit mos n baie belangrike plek. Ons liggame is besonders. Paulus skryf in Korintiërs aan die Christene in Korinte wat ‘n heidense stad was en hulle konsep van ‘n tempel was dat dit die plek was waarnatoe jy moes gaan as jy met jou god wou praat en hom of haar wou aanbid. Vir daardie hoorders was dit ‘n heel nuwe konsep om hulle eie liggame te sien as tempels, ‘n plek waar jy enige tyd met God kan praat en Hom aanbid. So ons kan uit Paulus se woorde aflei dat in die eerste plek is ons liggame ‘n plek waar ons God kan ontmoet.

Jou liggaam is ‘n plek waar jy God kan ontmoet.

Jy het dalk nog nooit so daaraan gedink nie. Jy kan God ontmoet, leer ken en met Hom in verhouding staan deur jou liggaam. As ons God toelaat om ons denke te verander oor ons liggame kan dit iets heilig raak waar ons die teenwoordigheid van die Heilige Gees kan ervaar

1 Korintiërs 6:19

Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie?

Dit is ’n exciting konsep om te dink dat ons eie liggame wat ons soms so minag ’n plek kan wees waar ons God die almatige kan ontmoet. Die Christelike spiritualiteit is in werklikheid vlees en bloed spiritualiteit. Dit is nie ‘n spiritualiteit wat verwyder is van die liggaam nie. Ons liggame is deel van ons spiritualiteit.

God kan met ons praat deur ons liggame. Dit is tog met jou ore dat jy nou my stem kan hoor wat vir jou die goeie nuus oor jou liggaam vertel. Dit is deur jou liggaam wat jy vandag hier is en saam met jou vriende God kan aanbid

As die Heilige Gees in ons liggame bly dan kan ons na God leer luister deur na ons liggame te luister. In tyd van spanning weet ons mos dat ons liggame vir ons die boodskap gee daarom rustiger te vat deur pyn. Ons is eerder geneig om pynstillers te drink as om te luister. Ons liggaam vertel ons dat ons rus en herstel nodig het. En dit is nie net slaap en vakansie hou wat dit bring nie. Ware rus en hertsel kan ons kry deur in stilte by God te wees. Jou liggaam vra daarvoor en ekmoedig julle aan om so ‘n dissipline aan te leer.

Daar word gereeld stil retraites aangebied op Shama. Dit is die plek waar die dissipelskap retraites gehou word. Dalk moet jy op so ‘n retraite gaan.

Ons liggame het ook ‘n manier om ons te laat weet as iets reg of verkeerd is. Ons praat mos van ons “gut gevoel”. Soms kan ek nie iets in woorde sit sit nie, maar ek weet net en ek voel dit met my lyf. Iets is verkeerd of ek voel reg oor ‘n saak.

Baie keer is hierdie seine wat ons liggame vir ons stuur God wat met ons wil praat, maar omdat ons die liggaam baie keer as minder belangrik beskou ignoreer ons daardie seine. Ons gedagtes is baie keer so besig dat ons die seine van ons liggame ignoreer. Ons het nie tyd om na God te luister wat wil praat nie. In sulke tye behoort ons ‘n plekkie van stilte kry en God vra: “Wat gaan hier aan?” Wil U dalk vir my iets sê?” En dan moet jy tyd maak om te luister.

Ek sê nie hier dat jy net moet reageer op wat jy in jou “gut” ervaar nie. Maar moenie dit ignoreer nie. As jy so ‘n gevoel ervaar gaan vra vir God wat aan die gang is.

Daar is baie wat ons kan leer as ons oplet wat in ons liggame aan die gang is. Maar weerens dit vra aandag. Dit vra dat ons leer om bewustelik te leef. Ons moet uit die rat race padgee en tyd maak vir luister na wat ons liggame sê en met God daaroor gaan praat.

‘n Tempel is ‘n ook plek waar ons kan aanbid.

Deur jou liggaam kan jy God aanbid

Jou lyf kan dinge kommunikeer waar ons woorde tekort skiet.

Het jy al ooit die ervaring gehad waar jy wou neerbuig voor God? Dit is jou liggaam wat weet dat jy die teenwoordigheid van God ervaar en die reaksie daarop is buig in nederigheid en aanbidding. Die Psalms is vol van hierdie lyftaal wat kommunikeer waar woorde tekort skiet.

Psalm 95:6 Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!

Psalm 99:5 Prys die Here ons God. Kom buig in aanbidding voor Hom: Hy is heilig!

Of jy ervaar jou behoefte na God, jou afhanklikheid van Hom en jy wil net jou hande uitsteek soos ‘n bedelaar. Soos die blinde man wat na Jesus uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!” Lukas 18:35

Of in ‘n kerkdiens waar jy oorweldig was deur God se grootheid, sy liefde en groot genade en jy het die behoefte om jou hande op te steek. Dis Bybels om dit te doen.

Psalm 63:5 Ek sal U my lewe lank loof, my hande ophef om u Naam te prys.

Psalm 132:2 Hef julle hande in gebed op na die heiligdom en prys die Here!

Hierdie gebare wat ons met ons liggame doen kan kragtige maniere wees waarmee ons met God kan kommunikeer waar ons ons totale menswees in verhouding met Hom staan. Met meer as ons intelek, meer as ons emosies, meer as ons wil, ook met ons liggaam. Die eertse gebod sê mos dat ons vir God moet lief wees met ons hele hart, al ons krag en verstand – dit beteken met ons hele menswees.

Laat jou liggaam praat

God wil jou liggaam waarmee jy nie altyd mee gemaklik is nie gebruik. Ons kan tog so ongelukkig wees met ons lywe, maar HIERDIE lyf is die plek waar God woon en jou wil ontmoet. Waardeur Hy met jou wil praat en waarmee jy Hom kan aanbid.

As hierdie konsep van jou liggaam as ontmoetingsplek en aanbiddings konneksie met God vir jou vreemd is nooi ek jou uit om jou grense so bietjie te skuif. Dalk het jy vandag iets erken wat jy al gevoel het, jy het dalk al gevoel om voor God jou hande op te steek, te buig, plat op jou gesig te lê, maar jou kultuur of denkwyse oor hoe jy mag optree het jou teruggehou. Gaan kry vir jou ‘n plekkie waar jy alleen is voor God en waag dit om dit te doen.

Ons gaan nou liedere sing waardeur ons met ons stemme God gaan aanbid en ek nooi jou uit, bring jou hele self voor God in jou aanbidding. Gebruik jou liggaam, jou stem, jou hande, maak dalk jou oë toe of kyk op terwyl ons saamsing.

As jy steeds nie voel jy kan hier jouself uitleef nie, gaan na jou binnekamer, jou intieme plek waar jy alleen voor God kan luister na jou liggaam en met God kommunikeer en ook Hom aanbid.