Ek het ‘n vriend wat… pessimisties is

 

 

Waar was jy 24 April 1994?  Ek onthou dat ek gaan stem het.  Ek onthou dat daar die was wat gedink het dit gaan nou die einde van Suid Afrika wees.  Die wat blikkies kos gekoop het en voorrade opgebou het in hulle ondergrondse skuilings vir wanneer die burgeroorlog sou uitbreek.

Maar ek onthou ook drome.  Dat ons land miskien na die jare se afsondering en apartheid nou ‘n nuwe toekoms het.  Dat daar tog plek vir almal in ‘n nuwe Suid Afrika kan wees.  Mense het eers gedink hoe gaan ‘n swart man, Nelson Mandela vaar as president.  Later het meeste darem besef dat daar baie drome is wat ook gebore is soos die Rugby wêreldbeker 1995.

En so ook ons, ons sit drome en beloftes vir onsself uit en ons glo hoe verder ons stap hoe nader aan daardie beloftes sal ons kom.  Israel het hierdie droom gehad.  Dat hulle vry kan wees, dat hulle ‘n beloofde land kan kry.   En soos tyd aangegaan het, het hulle geglo sal hulle nader aan daardie droom kom.  Abraham – jy gaan ‘n groot nageslag hê en in jou gaan die hele aarde geseën word.  Dan is dit Jakob en Josef.

Josef word darem tweede in bevel in Egipte en dit is seker ‘n tree nader aan die belofte.  Dan is daar Moses.  Wat hulle bevry van die Egiptenare, dit is nader aan die belofte.  Dan is die 40 jaar in die woestyn, wat ‘n moeilike tyd was maar aan die einde daarvan was hulle nader aan die belofte gewees.

Uiteindelik kom hulle in Kanaän aan, die beloofde land, die land van melk en heuning.  Nou is hulle nog nader aan die belofte.   Dan gebeur daar iets – daar is amper soos ‘n burgeroorlog.  En die volk skeur in twee.

Die noordelike stamme word dan weggevoer deur die Assiriërs. Ons hoor nie weer van hulle nie.  Die Suidelike stamme was nog so rukkie daar en toe kom die Babiloniërs.  En hulle vat Juda weg en hulle ontvoer hulle.  En hulle beland in Babel.  En hier sit hierdie klomp Israeliete en hulle eindig in Babel, myle ver van die belofte af en hulle weet nie wat om te doen nie.

Dit was baie erg vir hulle.  Nie net beloftes so effens buite bereik gelyk nie, dit is asof hulle hele geskiedenis in ‘n ander rigting begin beweeg.

En hulle het gevoel, dit is nie net of dit nou langer gaan neem nie, dit is asof ons in ‘n totale ander rigting gaan en wegbeweeg.  Asof daardie drome gesterf het.

Van die musikante in daardie tyd het liede geskryf soos:

Ps. 137:1, 4        “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink.  Hoe kan ons die lied van die Here sing in ’n vreemde land?”

Hulle is op hierdie plek van absolute moedeloosheid.

As jy na die koerante en nuus kyk die afgelope jaar dan is daar mense wat ‘n soortgelyke prentjie skets van ons land en waarheen ons op pad is.  Dinge is op pad ondertoe en hoopvolle toekoms is vinnig besig om te verdwyn.

Ouens soos Steve Hofmeyer en ander sal ‘n prentjie skets wat min of meer so lyk:

Ons het begin met ‘n droom in 1994.  En daar was n paar tree gewees in daardie rigting.  Kom ons sê Rugby Wêreldbeker.  Mandela was toe nie so slegte president nie, dit was ‘n tree in die regte rigting.  Die sokker wêreld beker was ook ‘n groot tree.

Maar ons het dit alles verloor.  Dit waarvoor ons gebid en geglo het is weg.

Die pessimiste sê, hier waar ons nou is.  Dit is nie asof ons stadiger of kleiner tree gee nie, dit is asof ons in ‘n totale ander rigting beweeg.  Wat gaan van ons word?  En wat gebeur as jy jouself konstant bombardeer met inligting dat ons weg beweeg van die belofte?

Jy word moedeloos, jy verloor hoop, ALLES wat gebeur is negatief.  Jy voel, die geskiedenis is besig om teen ons te draai.  Dalk is jy so pessimis en soos ons dit eerder wil sê, ‘n realis.

Dit voel of ons wegstap van die belofte af.  Wat gaan aan met die myne, wat gaan aan met die ekonomie?

Dit is waar die ouens sit wanneer Jeremia skryf in Jeremia 29.  Hulle sit in Babel.  Die mense wat so bietjie navorsing gedoen het sê daar is twee agendas wat hier afspeel.

1. ‘n Joodse agenda – trek laer.

Ons sit nou hier, ons is nie deel van hulle nie, ons gaan onsself eenkant hou en afsonder.

Ons met ons geloof gaan onsself eenkant hou.

Toe is daar selfs profete soos Gananja wat profeteer en sê die Here sê die volgende:

Jer. 28:4   “want Ek sal die juk wat Babel se koning julle oplê, verbreek.”

Oor twee jaar sal julle teruggaan nie meer hier wees nie.  God gaan julle verlos.

Moenie deel word van Babel nie, God gaan hulle vernietig.

Jeremia het eers gesê mag dit so wees maar toe hy met die Here gepraat het daaroor het die Here gesê dat dit nie die waarheid is nie.  Hy gaan hulle nie verlos nie.

Hulle sal in Babel bly en Nebukadnesar dien.

 

  1. Babiloniese se agenda – word deel van ons.

Hulle het vir die volke gesê, julle kan deel word van ons sisteem, ons voorspoed word.

Neem net ons manier kultuur, geloof en manier van dinge aan.

As jy hard werk gaan jy bo uitkom.

Wat dan gebeur het is, binne 2 of 3 generasies bestaan daardie volk of geloof nie meer nie en hulle het eintlik maar Babiloniërs geword.

Nou dit is in hierdie wêreld wat Jeremia vir hulle skryf terwyl hulle heeltemal moed verloor het en teen die vloer sit.  Dalk het jy ‘n vriend wat so voel.  Totaal hulpeloos begin voel.

Jeremia skryf hierdie ongelooflik brief vir hulle en ek wil 4 dinge vir julle uitlig vandag:

 

Jeremia vertel vir hulle en sê: julle sit nou hier in ballingskap, die eerste ding wat julle moet doen is om:

1.  Laat gaan jou droom.

Dit wat jy dink hoe dinge veronderstel is om uit te werk en jy voel nie dit gaan na daardie rigting toe nie.  Los daardie droom.

Jeremia sê vir hulle, daardie is goed waaraan julle vashou, goed wat julle glo.

En julle voel, as ek dit nie kan kry nie… weier ek om verder deel te wees van alles.

Ek het my droom en ek moet daar uitkom, maak nie saak wat nie.

Baie daarvan is nie noodwendig God se agenda nie, dit is drome dat dinge gerieflik en gemaklik vir ons sal uitwerk.  Alles moet vir MY uitwerk, vergeet van God en sy plan met my lewe en met ons land.  Solank dinge net vir my gesin uitwerk, dis al wat belangrik is.

 

Dit is seker een van die heel moeilikste dinge om te doen.  Om te sê vir hierdie droom, hierdie prentjie wat ek in my kop het, jy moet gaan.

Jer. 29:4-8         “Bou vir julle huise in Babel om in te bly. Maak vir julle tuine en eet die kos wat uit die tuine kom. Julle moet ook trou en kinders hê. Sorg ook dat julle kinders maats kry om mee te trou. Mag hulle vir julle baie kleinkinders gee. Werk daaraan dat julle getalle meer word en nie minder nie. Doen ook julle deel dat daar vrede en voorspoed in Babel sal wees. Vra ook in gebed vir die Here dat dit goed sal gaan met die stad waar julle aangekom het toe julle uit julle land weggevat is. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.” Die Here wat die God van Israel is, sê: “Moenie toelaat dat die profete en die waarsêers wat daar by julle is, julle bedrieg nie. Julle moet julle ook nie steur aan hulle drome nie.”  DB

God het ‘n plan, Hy het ‘n droom maar Sy plan is dalk anders as jou plan.  Hulle het gedink God se droom is om hierdie groot politieke mag te verslaan.  God gaan kom en die Babiloniërs vernietig en hulle uitwis.

Dit is ook hoekom hulle nie die Messias herken toe Hy gekom het nie.  Hulle het aan hulle eie drome vasgehou. Wat die Here se profeet Jeremia vir hulle sê is, laat hierdie drome gaan.  Moenie luister vir die valse profete wat sê oor twee jaar sal alles fantasties wees nie.

Luister eers, word eers stil en hoor regtig by God.  Waarheen nooi Hy jou na toe uit?

  1. Bou die plek waar jy nou is – Babel.

Daar waar julle nou is, in die plek wat nie vir julle sin maak nie.  In die vreemde goddelose plek.  Onder hierdie leiers wat nie God vrees nie en julle nie wil dien nie.

Bou huise, maak tuine, vergroot julle families, wees so suksesvol soos julle kan.

Jer. 29:7   “Vra ook in gebed vir die Here dat dit goed sal gaan met die stad waar julle aangekom het toe julle uit julle land weggevat is. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.”  DB

Hulle haat hierdie Babiloniërs – die Here sê vir hulle, waartoe julle geroep word is om daar waar julle is, lig te wees, te skyn, ‘n verskil te maak.

Hy sê nie vir hulle word soos hulle, neem hulle kultuur, geloof en gebruike aan nie.

Nee, die Here sê vir hulle, wees my kinders op ‘n plek wat vir julle nou donker is.

Maak ‘n verskil waar daar nie hoop is nie.

Bly by My, Ek is saam met julle hier.  Word lief vir hierdie heidene, moenie julleself eenkant hou nie.

Ek dink hulle was vies en kwaad toe hulle hierdie brief gekry het.

Later sê die Here, julle gaan nog vir 70 jaar hier wees.  Moenie jou tas pak nie, pak hom maar uit.  Besef dat My plan groter as jou plan dalk is.

As jy later sien watter verskil Daniel en sy vriende kon maak in so donker plek dan besef jy hoe groot God se plan eintlik was.

Daniel het nie soos hulle geword nie.  Hy het homself ook nie eenkant gehou nie.

Hy het ‘n verskil gemaak.

Later sê Jesus, julle is ‘n stad op ‘n berg.  Leef so, dat die mense julle werke sien.

Daar is vir hulle ‘n roeping in die moedeloosheid, in die ballingskap, in die vreemde.

Moenie net in dinge wees vir jouself en jou eie voordeel nie.

Leef julle vir julle eie koninkryke of leef julle vir My koninkryk?

Die derde ding wat Jeremia vir hulle sê is, toe julle nog in Jerusalem was en die droom gehad het en gevoel het julle kom al nader daaraan, toe het alles so uitgewerk vir julle.

Nou sit hulle in die vreemde, dit was vir hulle ‘n enorme ding dat hulle tempel afgebreek was.  Hulle het amper hulle God verloor deurdat hulle nie meer ‘n tempel gehad het nie.

Kyk moedeloosheid bring jou op daardie plek, waar jy voel, ek het God verloor, waar is Hy dan nou, dat ek Hom nodig het?    Dan kom die uitnodiging:

 

  1. God kom op nuwe maniere

In die moedeloosheid bring Jeremia vir hulle die uitnodiging, raak bewus – die Here kom op nuwe maniere.  Op vars maniere.

Kyk uit daarvoor dat God julle gaan verras.

Die vraag is dalk vir jou, Hoe oop is jy dat God jou kan verras?

Dalk is daar iets in jou wat voel, dit is nie meer soos dit was nie.  Ja, dit is nie meer soos dit was nie.  Maar beteken dit dat God ophou werk het?

Beteken dit dat God gaan kom soos Hy in die verlede gekom het?

Beteken dit dat jou idee van voorspoed weer gaan gebeur?

Dalk nie, God is altyd nuut, Hy is vars.  Die oomblik wat jy dink nou het ek dit.

Nou weet ek hoe Hy werk, dan verloor jy dit.

Want Hy is net soveel meer as wat ons dink Hy kan wees.

 

  1. Dit lyk soos die einde, maar dit is nie.

Dit lyk of geskiedenis teen hulle gedraai het.  Dit lyk dalk of dit die einde is maar dit is nie.

Dit lyk of Jesus vandag dalk more sal kom, maar julle sal nie weet nie.  Dalk eers oor 100 jaar.

Hoe verder jy lees, sien jy hierdie bewustheid by hulle, al lyk dit soos die einde, is God nog steeds besig met iets.

Die storie gaan aan.  Dit lyk of dit hopeloos is maar dit is nie.

En Jesus die Messias kom op ‘n tyd in hulle geskiedenis toe hulle Hom die minste verwag het.  God het hulle totaal verras.  Dié dat meeste van hulle Hom nie erken het nie want hulle het hom nie verwag in ‘n tyd toe dit gelyk het soos die einde nie.

Jesus kom nie Jerusalem en tempel toe nie.  Die plek waar Hy moet heers en regeer.

Nee, Jesus kom Betlehem toe.  ‘n Romeinse keiser regeer toe Hy kom.

Hy kom in omstandighede wat nie gunstig is vir ‘n bewys van Sy mag nie.

Hy kom in daardie ongemaklike spasie in.

Dit wat julle gedink het die einde is, was toe nie.

Die Here sê:  Ek werk wanneer jy dit nie verwag nie.  Ek daag op wanneer daar nie meer hoop oor is nie.   Selfs toe Jesus sterf en in die graf gesit word.  Dan lyk dit of alles verby is.  Dit lyk of dinge nie uitgewerk het nie of God hom misgis het met hierdie aardse magte.

Van die sterkste en mees inspirerende mense in die geskiedenis is mense wat geleef het in die hopelose van omstandighede en hoopvol en dankbaar geleef het.

Mense wat gesê het, dit wat lyk soos die einde, dit is nie die einde nie.  Daar is hoop.

Jesus sê, kom Ek gee vir jou nuwe brille.

Kom Ek gee vir jou die hoop wat jy soek in ‘n hopelose omgewing.

Die graf is leeg.  God is hier, Hy is tussen ons.  Hy verras ons.

Hy sê vir ons, Ek is nog steeds hier, Ek is nog steeds in beheer.

Jer. 29:11“Ek weet wat Ek vir julle in gedagte het. Ek beplan dat goeie dinge met julle sal gebeur en nie slegte goed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.”  DB

(Gebruik en aangepas met toestemming van Mosaiek)