Geseënd om te seën – met Christus

[powerpress]

Ons is met ’n mini reeks besig, Geseënd om te seën.  Vandag seker die belangrikste seën wat ons in ons lewe het – Christus.

Nou, as jy ’n volger van Jesus is, ’n dissipel van Hom:

Ons is geseën met Christus, om Hom te deel met ander.

Die grootste seën in jou lewe, is die feit dat jy moontlik in ’n verhouding met J.C. leef.

Sonder Hom sou jy vir altyd verlore, verdwaal en hopeloos gewees het.

 

Indien jy al ooit ten volle committed aan Christus geleef het, sou jy sy genade, krag en liefde al ervaar het in jou eie lewe.

Nou, soos met enige seën in jou lewe; word jy nie geseën om daardie seëninge vir jouself te hou nie.  Om jouself te verryk en groot te laat lyk nie.

Nee, ons word geseën om ’n seën vir ander te wees.

En hiervan is Christus die belangrikste van almal en alles.

 

Nou die idee dat ek Christus met ander moet deel is iets wat baie van ons mee sukkel.

Daar is seker verskeie redes daarvoor maar seker een van die grootstes is dat ons dink dat ons letterlik soos ’n TV evangelis moet optree om Christus met iemand te deel.

En met hierdie prentjie het meeste van ons ’n probleem omdat ons nie onsself in so iets kan insien nie of omdat ons so weersin in ’n tipiese evangelis het, wat mense bang praat met die hel en daarna geld vra om nog meer mense te wen.

 

Maar ek wil vanoggend jou oortuig dat dalk moet jou idee van hoe Christus met ander mense gedeel kan word dalk bietjie aangepas word.

Terselfdertyd dink ek ons moet besef wat op die spel is wanneer Christus met ander deel.  Partykeer dink ek ons het die idee dat dit dieselfde vlak is op iemand uit te nooi om saam met jou te gaan gym of saam met jou te gaan koffie drink of by jou te kom kuier.

As hulle “ja” sê, dan is dit wonderlik.  As hulle “nee” sê dat is dit ook okay.

 

Maar ek wil vir jou sê dat die lewensverandering wat Christus kan maak in iemand se lewe baie meer is as ’n koppie koffie of ’n oefensessie by die gym.

Dit is so goed of jy met ’n teenmiddel teen een van die gevreesde siektes van ons dag loop en jy vertel vir niemand daarvan nie.

Jy het die bestanddele om iemand se lewe te red en al wat jy aan dink is of hulle van die smaak daarvan sal hou.

 

Paulus het besef wat op die spel is wanneer hy Christus met mense gedeel het.

1 Kor. 9:19-20,22-23  “Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen. Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen. Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.” AFR83

 

Wat is hierdie vrug?  Die onmeetbare geskenk en voorreg om Christus in ons lewens te hê.  En die seën daarvan kom wanneer ek Hom ook nie vir myself hou nie maar Hom met ander deel.

Ek wil kyk na 4 onwaarskynlike evangeliste kyk wat Christus met ander gedeel het:

1.  Die Samaritaanse vrou – nooi iemand uit om self te kom kyk.

Daar is tye wat ons almal eenvoudig iemand moet vra, Haai, kom kyk bietjie wat ons doen by ons kerk.  En dan sal die H.G. doen wat Hy die beste kan doen.

Maar wat is dit met ons kultuur, dat ons glo dat ons nie oor godsdiens of politiek kan of moet praat nie.  As jy by ’n goeie winkel uitkom of hoor van ’n special iewers, sal jy dit nie met iemand deel wat jy weet na daardie item opsoek is nie.

Luister, mense daar buite is opsoek.  Hulle is meer opsoek as wat ons besef.

 

Hand. 17:27       “God het hulle gemaak om Hom te soek…”  AFR83

Wat hierdie vrou so onwaarskynlike kandidaat gemaak het om deur God gebruik te word, is die feit dat sy 3 dinge gehad het wat teen haar getel het.

1.  Sy was ’n Samaritaan.  Vir die Jode was Samaritane so goed soos honde gewees.

2.  Sy was ’n vrou.  In die antieke tyd het vroue nie eintlik enige rol gespeel nie.

3.  Was die vrou al in die rondte by die manne.  Haar immoraliteit sou haar verseker gediskwalifiseer het om deur God gebruik te word.

 

Wel, op ’n dag het hierdie meisie eenvoudig ’n ontmoeting met Jesus gehad soos ons in die video vroeër gesien het.  En hierdie ontmoeting het haar lewe drasties verander.

Glo, ons nog dat Jesus iemand se lewe drasties kan verander?

Jesus offer haar lewende water en dan sê Hy vir haar om haar man te gaan haal.

Na sy moes bloos om te sê dat sy nie ’n man het nie, slaan Jesus haar vir ’n ses deur vir haar te sê dat sy al 5 keer getroud was en dat die een by wie sy nou bly ook nie haar man is nie.  Hoe weet Jesus hierdie goed dink sy?

Toe Jesus vir haar sê dat Hy die Messias is, lees ons vêrder in:

Joh. 4:28-30      “Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: “Kom kyk, hier is ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”  Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom.”  AFR83

 

Sy het eenvoudig vir mense gesê, Kom kyk.  Die een na wie niemand eintlik sou luister nie, word die persoon wie God gebruik om mense by Christus uit te bring.

Wat doen sy nie?  Sy begin nie ’n Bybelstudie nie.  Sy gaan klop nie aan mense se deure en vra hulle of hulle saak met God reg is nie.

Al wat sy doen, is, sy steek haar trots en reputasie in die sak en sê, Kom kyk!

 

Dink bietjie hoe het dit vir jou begin.  Vir baie van ons hier het dit begin deur iemand wat vir ons gesê het, Kom kyk en hulle het ons uitgenooi.

Het jy geweet dat ons elke Sondag so geleentheid skep.  Hierdie kwartaal skep ons ook weer so geleentheid wanneer so almal saam ’n reeks doen.

Impetus, dis nie ’n klub hierdie nie, dit is ’n plek waar mense Christus kan ontmoet.

 

2.  Die Blinde man – vertel jou eie storie

Die blinde man in Joh. 9 is deur Jesus gesond gemaak.

Soms is die enigste ding wat ons hoef te doen om ons eie storie te vertel.

Die blinde man is blindgebore.  Op ’n dag kom ’n man met die naam Jesus na hom toe, spoeg in die grond, maak modder daarmee en smeer dit aan sy oë.

Daarna sê Jesus vir hom om sy oë te gaan was in ’n bad.

Vir die eerste keer in sy lewe kon hy kleur en vorms en dinge sien waarvan hy nog net gehoor het.

 

En die vriendelike kerkmense laat ’n storm losbars rondom hierdie man se kop.

Hulle ondervra letterlik almal, wil by hom uitvind of Jesus ’n sondaar is, of hy van sy geboorte af blind is.  En al wat hy doen, is om die storie van wat met hom gebeur het te vertel.  Polities, teologies, ideologies korrek of nie.  Hy vertel net wat gebeur het.

Joh. 9:25  “Of hy ’n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”  AFR83

 

En so kan ek en jy ook ons storie vertel.  Vertel wat Christus vir ons gedoen het.

En hierdie storie sal mense vertel hoe groot God is en wat Hy al vir ons gedoen het.

Vanoggend is daar so iemand wat haar storie gaan vertel en ek glo ook dat hierdie storie daar buite mense na Christus toe sal bring.

GETUIENIS Hettie Kuhn

 

Jy sê, maar ek het nie so storie om te vertel nie.  Dit maak nie saak nie.

Jou lewe en jou storie is spesiaal.  En God gebruik jou storie op maniere wat jy nie eers gedink het moontlik is nie.

 

3.  Dorkas:  Gee jou lewe vir ander.

Tabita of Dorkas leer ons die beginsel dat jy Christus met ander kan deel deur eenvoudig jou lewe vir hulle te gee.  Daar is ’n mooi beskrywing van haar in:

Hand. 9:36         “In Joppe, ’n entjie van Lidda af, het ’n volgeling van Jesus gebly met die naam Tabita. (In Grieks: Dorkas.) Sy het baie omgegee vir ander mense. Waar sy kon, het sy die armes gehelp en goeie dinge vir ander mense gedoen.”  DB

 

Hierdie vrou het soos ons verlede week ook gesien het, ’n las gehad.  God het haar met ’n las geseën.  In daardie tyd het ’n vrou wanneer haar man gesterf het, alles verloor.

Haar man se besittings het na sy seun gegaan. Wat hy daarmee gedoen het, was sy saak.

So het daar letterlik talle vroue haweloos gesit wanneer hul mans gesterf het.

 

En wat die Here gedoen het, Hy het vir Dorkas ’n las gegee om vir hierdie vroue om te gee.  Wat het sy gedoen?  Sy het saam hulle gebid.  Sy het in hulle lewe betrokke geraak.

Sy het vir hulle klere gemaak, kos gegee.

Haar bediening was so waardevol, die dag wat sy gesterf het, het God haar uit die dood opgewek.  Gaan lees dit maar self.

 

Jy kan ook dieselfde doen.  Gee net jou lewe weg vir ander mense en wees ’n seën vir hulle in die naam van Christus.

Te veel mense vandag wil nie betrokke raak in ander se lewens behalwe hul eie en hul familie s’n nie.  Ons gee nie regtig om vir ander as ons net uitkyk vir onsself nie.

Dit is om die gawes wat die Here vir jou gegee het, te begrawe of te verkwis.

Nee, God het jou met te veel geseën dat jy dit net vir jouself kan hou.

Jou lewe kan ’n getuienis en seën vir ander wees as jy net bereid is om te leef vir meer as net jouself.

 

Dink bietjie aan die mense in jou gemeente.  Gee jy jou lewe vir hulle?

Die mense in jou selgroep?  Is jy regtig beskikbaar vir hulle?

Of is jy maar net besig om jou eie klein koninkrykie en die dinge wat vir jou belangrik is?

God seën ons sodat ons ’n seën vir ander kan wees.

 

Soms is dit so eenvoudig soos, “Kom en kyk self.”  Ander kere is dit, “Kom ek vertel jou my storie.”  Soms is dit, “Laat ek jou dien en vertel hoekom ek dit doen.”

Dan is daar nog ’n onwaarskynlike evangelis:

4.  Petrus:  Soms moet jy eerlik wees.

Sommige van ons het die persoonlikheid en die takt om mense liefdevol te konfronteer.

Petrus was so ou.  Hy was ’n los kanon met tye.  Hy is die een wat ore afgekap het met sy swaard en toe moes Jesus die oor gesond maak.  Hy was konfronterend.

En tog het God hom ook gebruik, al was hy in mense se gesigte.

Oor en oor het hy ’n gemors gemaak van dinge maar wie kies God as gasspreker op Pinksterdag?  Petrus.  Wat was sy boodskap gewees?  Voel goed boodskappie?

Jesus gaan vir jou ryk maak.  Nee, Sy boodskap was basies.  Julle is sondaars en oppas hel toe.  Julle moet julle saak met God regmaak of daar kom groot moeilikheid.

Wat het gebeur?

 

Hand: 2:38,41    “Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.  Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg.”  AFR83

Nou, ek dink nie hierdie aanslag werk in die meerderheid gevalle nie.  Dit is soos die ou wat daar by SARS begin preek terwyl mense in die ry staan.  Hy weet hulle kan nie weghardloop nie.  So hy misbruik die geleentheid om vir mense te preek.  Kyk, ek moes myself keer om nie vir hom ’n paar nuwe tale te leer nie.  Dit maak mense net kwaad.

 

Maar, daar is ’n minderheid kere wanneer die H.G. jou sal gebruik om met Goddelike wysheid iemand te konfronteer omdat dit moontlik die enigste manier is wat God sy aandag sal kry.

 

Meeste van die tyd is die deel van Christus met ander ’n verhoudingsding.  Iemand wat jy vertrou en vir wie jy sal luister wat Christus na jou toe sal bring.

Selfs in konfrontasie – is dit gewoonlik verhouding wat beter werk as geen verhouding.

Maar dit bring my weer na ’n vorige punt toe.  Besef jy nog wat is op die spel as dit kom by mense se ewige siele.  Dit is nie ’n uitnodiging na ’n kinderpartytjie by Spur toe nie.

Dit is soms ’n saak van lewe of dood.

 

Vir God was dit so belangrik dat dit ’n saak van dood was.

Want so lief het God my en jou gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het…

Om wat te doen?  Om te sterf.  Dit het sy lewe gekos.

En sy lewe was die saad wat gesaai is sodat ek en jy Christus kan ontvang.

Maar ons ontvang Hom nie sodat ons Hom vir onsself kan hou nie.

Nee, ons het Christus ontvang om Hom met ander te deel.

Wanneer God iemand op jou gedagtes sit, gee aandag.  Pay close attention.

Want dit kan wees dat God jou op een van hierdie onwaarskynlike maniere wil gebruik.

Dalk is dit ’n uitnodiging.

Dalk is dit om te vertel oor ’n koppie koffie wat met jou gebeur het.

Dalk is dit om te dien en dan te vertel hoekom jy dit doen.

Dalk is dit om reguit te vra, hoe gaan dit geestelik met jou, want ek is bekommerd oor jou.

 

As jy in Jesus Christus vasgeloop het, is jy ’n ander mens.  Iets het met jou gebeur.

Daar het ’n innerlike transformasie plaasgevind.

God het jou ’n nuwe lewe gegee.  ’n Tweede kans.

En partykeer ’n derde en ’n vierde kans ook.

 

Partykeer weet jy nie wat om vir mense te sê wanneer jy hulle wil uitnooi nie.

Vertel hulle net, Kom kyk waar ek elke week weer vol raak.  Die lewe slaan en stamp jou redelik hard daar buite, maar weet jy waar ek word vol iewers op ’n Sondagoggend en dit is nie in die bed nie.  Ek kry weer hoop vir die lewe iewers, kom saam met my.

Moenie dit vir jouself hou nie.  Wees ’n seën vir ander.