Geseënd om te seën – met ‘n las

[powerpress]

Ek wil vandag begin met ’n minireeks getiteld “Geseënd”.  Ons gaan vir die volgende twee weke bietjie kyk na dinge waarmee God ons geseën het maar effens anders as wat ons gewoonlik sou beskryf.  Gewoonlik sou ons sê, ek is geseënd wanneer ons ’n nuwe kar kry, ‘n bevordering by die werk kry, ’n perfekte parkeerplek by die mall kry.

Maar ek wil bietjie kyk na goed waarmee God ons geseën het wat so bietjie anders as dit is, miskien het jy dit nog nooit gesien as seëninge nie.

Volgende week kyk ons na met Christus, daarom moet ek Hom deel met ander.

Vandag:  Geseën met ’n las.

 

’n Las is iets betekenisvol wat jou pla.  Jy kyk na iets in die wêreld of iets rondom jou en jy voel , dit is net nie reg nie.  Dit hinder jou diep en dit breek jou hart.

Dit is iets waaroor jy bid, waaroor jy gereeld dink, dit ontstel jou op een of ander manier.

Maar dit is nie ‘n ontsteld omdat jy nie iets kry wat jy soek nie, dit is ’n ontsteld vir iets anders of iemand anders, of ’n groep mense wat swaarkry op een of ander manier.

God het jou geseën met ‘n las.

Maar hierdie is nie ‘n las wat ‘n vloek is nie, dit is ’n seën om so las te hê.

 

Bill Hybels skryf in sy boek “Holy Discontent” dat God in elke mens se lewe ‘’n Goddelike las sit wat Sy hart, Sy karakter en Sy natuur wys.

Ek bid dat God elkeen van ons sê harte sal vergroot dat ons gepla sal word deur ’n las wat nie wil weggaan nie.  ‘n Las van iets wat verkeerd is in hierdie gebroke wêreld.

En dan bid ek verder dat ons ook by die punt sal kom dat ons kan sê, ek kan dit eenvoudig nie meer vat nie.  Ek moet iets hieraan doen.

 

Ontmoet Abigail Lupi.  Sy is tien jaar oud.

abagaillupi

Baie kinders hou daarvan om shows vir hulle ouers en grootouers te hou maar Abigail is anders.  Toe sy 7 jaar oud wat het sy ’n musikale konsert gehou vir haar ouma wat toe 100 jaar oud was by haar “frailcare” sentrum waar sy geleef het.  Dit is toe was sy ontdek het dat baie van die ou mensies in die ouetehuis nie besoekers kry nie.  Sy het besluit dat sy dit nie kan vat nie.

Wat het sy daaraan gedoen?  Sy het al haar vriende genooi om saam met haar konserte vir bejaardes te hou regoor die staat waarin sy bly in Amerika.  Vandag het Abigail ’n ensamble van 13 meisies tussen 6 en 13 jaar wat meer as 90 Broadway liedjies ken en gaan optree in ouetehuise oraloor.

“I like to brighten up people’s days and help them have a fun time,” says Abigail. “If I do my best, they’ll have a smile on their faces by the end.”

Sy het ’n las wat deur die Here in haar hart geplaas is vir ou mensies en sy het iets daaraan gedoen.

 

Ontmoet Peter Larson.  Hy is 17 jaar oud.

peter larson

Vir die laaste 12 jaar slaap hy elke jaar in ‘n karton boks van middel November tot einde Desember.  Daardeur doen hy bewusmaking vir al die hawelose mense in Plymouth waar hy bly.  Sedert hy 6 jaar oud was, het hy alreeds $400,000 vir hawelose ingesamel.  Hierdie jaar hoop hy om $100,000 dollar in te samel, genoeg om 50 families vir ’n jaar huisvesting te gee.

Die Here het hom ’n las gegee dat hy al vir 12 jaar lank een keer ’n jaar in ’n karton boks slaap.

 

So wat ek nou verder gaan doen, is om te kyk na drie vrae wat ek wil illustreer met 3 verhale uit die Bybel om te kom by jou las wat die Here op jou hart geplaas het.

1.  Wat breek jou hart?

Wat is dit, dat wanneer jy ’n sekere groep mense sien, ’n sekere ding wat in die wêreld aan die gang is dat jy net bewoë raak en voel maar dit is nie reg nie.  Dit is nie regverdig nie, ek moet eenvoudig iets hieraan doen.

’n Uitstekende voorbeeld in die Bybel hiervan is Nehemia wat uitgevind het dat sy mense gespot word, dat hulle weerloos is, dat hulle oop is vir aanvalle omdat die mure van hulle stad Jerusalem afgebreek was vir meer as 90 jaar lank.

 

Hy was self nog nooit daar gewees nie maar die nuus dat hulle so weerloos was, het om so geraak dat hy dag en nag begin bid het en vir die Here gevra het wat hy kan doen.

Neh. 1:3-4 “Hulle antwoord was: “Dit gaan nie goed met die mense wat uit die ballingskap teruggekeer het en daar oorgebly het nie. In die provinsie Juda is daar groot ellende en bespotting. Jerusalem se muur lê om en die stadspoorte is deur vuur vernietig.” Toe ek dit hoor, het ek gaan sit en huil. Vir dae aaneen het ek getreur, gevas en tot die God van die hemel gebid.”  NLV

 

Hierdie nuus het sy hart gebreek.  Hy het nie gevoel, ag dis nou jammer en sal regtig vir hulle bid daar in Jerusalem nie.  Hy het gevoel hy moet bid en hy moet iets daaraan doen.

Dit kan nie gedoen word nie, het almal gesê.  Die vyandige koning sal nooit dat hulle begin in die mure herstel nie.  Wie sal betaal vir al die werk wat gedoen moet word?

So kon hulle seker aangaan en aangaan. Maar Nehemia het gevoel. Ek moet iets hieraan doen.  Onmoontlik of nie, as God saam met my is dan is enigiets moontlik.

 

Vir ons as gemeente is hierdie natuurlik een van die tekste waarop ons staan as dit kom by ons gemeente se bouprojek.  Vir meer as 15 jaar hou ons kerk hier in hierdie skoolsaal en vir baie van ons het dit gemaklik begin raak.  Dit is al wat ons geken het.

Maar deur die eeue het die Here nog altyd sy liggaam gehelp om kerke te bou sodat sy kerk ’n tuiste kan kry om Sy liefde en genade aan ’n gemeenskap te wys.

Dit is die plek wat baie mense hulle geestelike reis begin.  Die plek waar hulle die eerste keer kerk toe gegaan het of weer die Here ontmoet het.

 

Daarom het ons 3 jaar gelede reeds by die Here gehoor dat ons as gemeente Hom moet vertrou om ons te help om in die moeilike ekonomiese tye ’n kerk vir Hom te bou.

Dit is ’n las wat die Here op my hart geplaas het en ek glo op meeste van ons wat hier sit se harte geplaas het om vir Hom ’n kerk te bou.

 

So wat is dit wat jou hart breek?  Wat is dit wat jou laat voel, maar ek moet my veilige wêreldjie verlaat en iets doen ’n situasie wat God se hart breek.

Dalk is dit ou mensies wat alleen is.  Dalk is dit moeders met baba’s wat haweloos is.

Dalk is dit tiener meisies wat swanger is.  Dalk is dit mense wat werkloos is.

 

2.  Wat maak jou kwaad?

Okay, ek praat nou nie van die 4 ure wag by Binnelandse sake of SARS nie.

Nee, ek praat van die dinge wat ongeregtigheid is en wat jou kwaad maak.

Die voorbeeld in die Bybel wat ons hier by gaan leer is Moses.

Meeste van ons ken doe storie van Moses in die O.T. waar hy in Egipte grootgeword het maar nooit sy mense die Hebreërs vergeet het nie.

 

Eks. 2:11-12      “Op ’n goeie dag toe Moses al ’n groot man was, het hy by sy mense gaan kuier. Hy het gesien hoe hard hulle moes werk. Terwyl hy daar was, sien hy hoe ’n Egiptenaar een van sy volksgenote uit die Hebreeuse slawe aanrand.  Moses het goed rondgekyk en toe hy seker was dat daar niemand naby is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan.”  NLV

 

Hy het sy oomblik gehad wat hom laat voel het, ek kan dit nie meer vat nie en toe slaan hy ’n Egiptenaar dood.  Alhoewel hy nie reg uiting gegee het aan sy woede nie, was sy woede geoorloof.  Hy kon maar kwaad word want dit wat gebeur het, was nie reg nie.

Hy besluit anders as Nehemia om nie op die Here te wag nie maar om dinge in sy hande te neem.  Dit het hom op ’n jare lange ompad gesit om net weer by hierdie punt uit te kom dat hy besef het dat God hom wil gebruik om iets wat God se hart bitter kwaad gemaak het.  Mishandeling maak God kwaad.

 

Wat was Moses se eerste woorde aan die Farao toe hulle hom gaan sien het.  Die Here sê hy het nou genoeg gehad.  Laat sy mense gaan.  Ek kan dit nie langer verduur nie.  Miskien kyk jy na verskillende verslawings en dit maak jou kwaad want jy sien hoe dit mense se lewens verwoes en jy voel kwaad.

Miskien kyk jy na die politieke situasie in die land en jy word kwaad en jy dink, nou wat kan ek hieraan doen?

 

Toe Moeder Teresa die mense van Etiopië gesien het sy die volgende gesê,

“When I see waste, I feel angry on the inside.  I don’t approve of myself for getting angry, but it’s something you can’t help after seeing the people in Ethiopia.”

Wat bring hierdie regverdige woede in jou na vore?

 

3.  Waarvoor gee jy om waarvoor ander nie omgee nie?

Wat is dit wat jou laat voel, nou hoekom is al die ander nie so passievol hieroor soos ek is nie?  Kan julle nie sien hoeveel dit saak maak nie, hoekom gee julle nie soveel om hiervoor soos ek nie?

Wel, die antwoord is, Die Here het jou geseën, Hy het jou met ’n las geseën wat Hy graag wil hê jy iets mee moet maak.

Waarvoor gee jy om waarvoor min ander dalk voor omgee?

 

Dalk is dit nuwe gelowiges wat moet groei in die Here.  Dalk is dit om goeie rentmeesters te wees van alles wat God vir ons gee selfs die natuur.

Hier is wat ek graag wil hê jy moet doen.  Jy moet stoei met hierdie vrae.  Jy moet bid oor hulle.  Praat oor hulle in julle omgeegroep hierdie week.

Ek wil hê jy moet kom by ’n enkele sin wat begin met, Ek het ’n las vir…

 

Voor ek afsluit vir ek net na 3 maniere kyk hoe jy nie met hierdie las moet benader nie.

1.  Kla oor jou las.

Daar is baie mense wat dinge sien in die wêreld wat nie reg is nie en al wat hulle daaroor doen, is om net te kla daaroor.

Dit is almal se skuld dat niemand iets daaraan doen nie.

As dit jou benadering gaan wees wil ek vir jou respekvol vra om eerder stil te bly.

Want klagtes het nog nooit enige situasie verander nie en dit maak die hart van die Here ook kwaad want dan leef ons sonder dankbaarheid.

 

2.  Ignoreer jou las.

Hulle probeer om hulself los te maak van hierdie las.  Hulle maak die stil stem van die H.G. maar elke keer net weer stil en weer stil wanneer Hy dit op hulle harte lê tot die dag wat die stem nie weer terugkom nie.

As jy graag net geluk en gemak in die lewe nastreef dat sal jy dit doen.

Jy sal dink aan alles wat verkeerd kan gaan en jy sal jouself vertel dat dit nie die moeite werd is nie en dit net ignoreer.

 

3.  Doen iets uit skuldgevoel en maak dit ander se las.

Vir baie mense voel hulle ’n sin van verantwoordelikheid en dalk so bietjie skuldgevoel en dan doen hulle iets.  So, ek sien iets wat my pla en ek het R50 in my sak en ek sê hier is R50, gaan die Here seën jou.  Volgende keer sal ek dalk R500 gee.

Maar ek wil vir jou sê dat dit meeste van die tyd die maklikste uitweg is om net geld te gee.  As dit is waar jou las eindig, glo ek nie die Here is gelukkig daarmee nie.

 

Want die Here plaas iets in jou hart omdat Hy ook iets in jou wil doen.

As jy net maklik daarvan kan wegstap en sê nou het ek my verantwoordelikheid gedoen, nou moet ander daarmee aangaan dan is net skuldgevoel wat jou gedryf het om iets te doen.

Op die heel minste, moet ek darem gereeld bid vir ’n las anders verstaan ek nie dat ek geseën is om ander te seën nie.

Moet ook nie jou skuldgevoel gebruik om ander te kry om iets aan jou las te doen nie.  Die Here plaas iets in jou hart sodat JY iets daaraan kan doen.

 

Ek hoop dat jy hierdie seën van die Here in jou lewe raaksien.

Hy seën jou, sodat jy ’n seën vir ander kan wees.

Die regte manier om met jou las om te gaan:  Laat jou las jou omsit in aksie.

Jou las moet jou so ontstel dat dit jou vreeslik ontstel.  Dit moet jou oorweldig.

Jy kan dit nie ignoreer nie, jy moet dit embrace, Want jy gaan iets van God se hart in die proses ontdek wat jy nooit voorheen geweet of verstaan het nie.

Jy sê dit ontstel my om daaroor te dink of om daarheen te gaan.  Dit is presies wat die Here vra, Want daardie rou emosie sal jou ruk uit ’n gemaklike lewe wat selfsugtig net vir jouself gelewe word.

 

As jy nie emosioneel raak oor iets nie, sal jy nie reageer daarop nie en sal jy ook nie oorgaan tot aksie nie.  Jy moet ’n gevoel van roeping hê, ’n roeping dat die Here hierdie ding op jou hart gelê het en dat jy, nie iemand anders nie, jy iets daaraan moet doen.

En met respek gesê, die Here moet jou omkrap tot op die punt wat jy dit nie meer kan vat nie.

 

Moenie Sy stem ignoreer nie.  Moenie dink ander moet maar iets hieraan doen nie.

Moenie tevrede wees met jou gemaklike lewe en met die dinge wat jou veilig laat voel nie.  Nee, dit is vals, dit gaan eendag nie meer daar wees nie.

Begin betekenisvol leef.  Laat jou las ’n seën begin raak vir ander.

Jes. 6:8     “Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek met ’n boodskap na my volk toe stuur? Wie sal vir Ons gaan?” Ek het geantwoord: “Here, ek sal gaan! Stuur my!”

Jesaja het een van die moeilikste boodskappe gehad van alle mense, Hy moes God se woord gaan verkondig en het geweet dat hulle nie na hom sal luister nie.  Dit het hom nie gestop nie.  Dit het sy las net groter gemaak.  In ’n stadium sê Jeremia wat Jesaja opgevolg het dat dit soos vuur hier in sy binneste is wat brand.  Wat is hierdie vuur?  Die las wat die Here vir hom gegee het.

Het jy al toegelaat dat die Here jou ontstel met die dinge wat Sy hart breek?

Dalk moet jy gaan dink aan hierdie vrae wat ons in die begin gehad het.