Hoe lank nog? Week 4: Gister gee hoop vir môre

[powerpress]

Vandag het ons een van die laaste uitnodigings vir ons as gemeente wat in ‘n oorgang is en ook van ons wat in ons lewe op ‘n tussen-in plek is.

Deut. 31:7-8

“Toe het Moses vir Josua geroep. In die teenwoordigheid van die hele Israel het hy vir Josua gesê: “Wees sterk en hou moed! Jy sal hierdie volk die land inlei, die land wat die Here aan hulle voorouers beloof het. Jy sal die land as hulle erfdeel aan hulle gee. Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie.”

Die boek Deuteronomium is vol pynvolle realiteite.

Ons het 2 weke gelede gesê dat die boek begin met die Israeliete wat op die kante van die Jordaanrivier staan en die beloofde land kan sien maar hulle is nog nie daar nie.

Die belofte is daar maar dit is nog nie ‘n realiteit nie.

Dit is amper soos die evangelies, Matteus Markus en Lukas met Jesus en jy los die opstanding van Jesus uit.  Dit is pynvol om so naby te wees en tog is dit nie daar nie.

 

Saam met dit sterf die grootste profeet wat die Israeliete nog gehad het, Moses, wat hulle gelei het vir 40 jaar lank en soveel druk gehad het vir so lang tyd.  ‘n Hartseer einde. Hulle het gewag in die tussen-in plek van hulle reis, die belofte is in hulle sig, hulle sit op die banke van die Jordaan rivier en nou treur hulle die dood van die grootste leier wat hulle nog gehad het. Dit is pynlik eerlik.  In baie opsigte reflekteer dit ons ervaring van die lewe.  Is dit nie?

Vir baie van ons is die lewe nie drome wat in ‘n groot mooi rooi strik toegedraai is met ‘n gelukkige einde nie.  Dit is nie ‘n sepie waar al die konflik en probleme in 30min opgelos word nie.  Nee, daar is harde eerlike realiteite van ‘n lewe wat nie alles uitwerk soos mens gedink het dit sal nie.

 

Ons almal beweeg deur baie hartseer tye en verlies van verskeie maniere.

Drome wat weggeraak het.  Maniere wat gevind moet word om te ‘cope’.

Alhoewel Deuteronomium sleg eindig is die boodskap nie net dat ons moet leer om te ‘cope’ met moeilike omstandighede in ons lewe nie.

Daar is ‘n oproep vir iets veel groter:  HOOP.

En die HOOP waarvan ons praat is nie die perfekte uitwerk van al ons begeertes en omstandighede nie.  Die oproep vir HOOP is om te glo dat GOD MET ONS IS!

 

T.s.v. moeilike tye word ons uitgedaag vir iets veel groter:  God is met ons!  Moses

Deut. 31:8 “Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie.”  NLV

Dit is ‘n baie vreemde boldness en vrymoedigheid van iemand wat binnekort gaan sterf.

Moenie bang of mismoedig wees nie, die Here is by jou!

 

Die Here belowe sy teenwoordigheid t.m.v. ons pyn

Ek moet sê dat dit vir mens so bietjie soos ‘n agterdeur voel as mens die belofte hoor.

Dit voel vir ons so amper of die Here nie nou belangstel om te help nie en nou gee Hy maar hierdie belofte vir ons.

Ek het in moeilike tye van my lewe al dikwels gedink:

“Here, dit is baie gaaf van U om u teenwoordigheid te offer maar U teenwoordigheid gaan nie my probleem oplos nie.  Ek het ‘n beter idee: Hoekom doen U nie wat u kan doen om die towerstaffie te swaai en hierdie moeilike goed te laat verdwyn nie.”

Ek sou hierdie belofte eerder partykeer wou laat verby gaan, want dit lyk nie of dit veel sal help nie.  Selfs Jesus kom aan die einde van sy lewe hier op aarde en dit lyk of Hy ‘n bladsy uit Deut. aanhaal.

Matt. 28:20         “En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die

wêreldgeskiedenis.”  NLV

Waar is die drome wat waar word?  Dit is nie wat Hy belowe nie.  In plaas daarvan belowe Hy sy teenwoordigheid.

Die probleem wat ek gehad al gehad het is dat ek God se teenwoordigheid op ‘n abstrakte manier bedink.  Dit is iets in die lug of iets wat jy kan voel of ervaar.

Maar ek het al die fout gemaak op die tasbare effek van God se teenwoordigheid te onderskat.

 

Daar is iets wat my bybly wanneer ek al mense wat terminaal siek is besoek het.

Met my eie ma wat gesterf het aan kanker het ek dieselfde ervaring gehad.

Daar kom ‘n stadium wat hulle geen ander begeerte het as om net nog ‘n oomblik saam met jou te wees nie.  Daar is nie ‘n begeerte vir probleme wat opgelos moet word of omstandighede wat moet verbeter of dinge wat reggemaak moet word nie.

Al wat belangrik is wanneer ons deur pyn of hartseer gaan is dat iemand by ons is.

Dat ons die ervaring en die gevoel het, ek is nie alleen hier nie.

Al werk dinge nie uit nie, dit gaan okay wees.  Ek is nie alleen hier nie.

 

Niks wat gedoen of gesê kan of moet word nie – net om daar te wees.

Die krag van God se teenwoordigheid is nie iets wat jy kan uitdruk of beskryf aan iemand nie.  Dit is iets wat enige verduideliking verbygaan.

Dit is soos om na ‘n stuk musiek te luister of na ‘n kunswerk te kyk wat jou asem wegslaan en dan te vra beskryf wat jy nou gesien, gehoor of ervaar het.

God met ons, het die krag om enige twyfel, donker of moedeloosheid te oorweldig.

Immanuel – God met ons – dit is die hart van die Evangelie.

Jesus wat gekom het om saam met ons te wees in die stof, die modder, die moeilike realiteite van die lewe.

En hierdie belofte word herhaal in die lewe, die dood en die opstanding van Jesus.

 

In die tussen-in tyd van ons lewe wanneer ons HOOP soek is die uitnodiging aan ons om te bid vir Immanuel – God met ons.

Bid dat Hy jou iets sal gee van Sy teenwoordigheid.

En sy teenwoordigheid kom op soveel verskillende maniere:

Soms is Hy by ons – deur die gemeenskap van ander gelowiges wat om ons is.

Soms is dit in die saamwees, in die mense wat een van gees is, in die omgee en liefde wat ons ervaar wat God Immanuel vir ons word.

Soms is Hy Immanuel deur musiek.  Deur dit te luister of dalk saam met ander te sing.

 

Soms is Hy by ons deur gebed.  Dat wanneer ek alleen met Hom is en met Hom praat dat ervaar ek iets van sy teenwoordigheid wat my weer HOOP gee.

Soms is dit deur wat ek sien in die wêreld of die natuur dat ek weer HOOP kry dat ek nie alleen is nie, dat Hy steeds hierdie wêreld in die palm van Sy hand hou.

Soms is dit dat ek net gaan slaap en môre wakker word en die sonsopkoms sien en dink Sy genade is nuut elke môre.  Sy genade vir my.

 

Die volgende boek in die Ou Testament is Josua.  Deuteronomium sluit af soos met ‘n Paas-Vrydag op ‘n moeilike, pynvolle en hartseer plek.  So begin Josua met hoop soos ‘n Opstanding Sondag met die volgende woorde:

Jos. 1:5-6 “Soos Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees. Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek sal jou nooit los nie.  “Wees sterk en dapper. Jy is die een wat hierdie volk moet lei om die land in besit te neem. Ek het dit met ’n eed aan hulle voorouers beloof.”  NLV

Weereens ‘n belofte:  ‘n Belofte dat Hy saam met jou is.

Ek wil afsluit deur jou te vra of jy hierdie 2 verse sal lees asof hulle vir jou geskryf is.

Kom ons lees dit saam…

GEBED

 

So bietjie verder in Josua 4 lees ons die gedeelte waarop ons hierdie klippe voor in die kerk baseer.  Hulle staan letterlik op die wal van die rivier voordat hulle deur dit trek.

Josua 4:5-7       “Hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan. Elkeen moet ’n klip op sy skouer tel sodat daar vir elke stam een is. Ons sal daarmee ’n gedenkteken bou. Julle kinders sal julle in die toekoms vra: ‘Waaraan herinner hierdie klippe julle?’ Julle moet dan vir hulle vertel: ‘Die water van die Jordaan is afgesny toe die ark van die verbond van die Here deur die Jordaan gegaan het.’ Hierdie klippe sal die Israeliete altyd daaraan herinner.”

En die Here se voorsiening het opgedaag.

Hulle mag nooit daarvan vergeet het nie.