Goeie Vrydag 3 April ’15 – Mislukking
[powerpress]
Hoe sou jy gevoel het as jy Petrus was?
“Nee, ek ken Hom nie. Ek weet nie waarvan julle praat nie…”
Die vernedering, die selfverwyt dat die presiese ding wat jy gesê het, jy nie sal doen nie, dit doen jy. Miskien het sy woorde: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie” in sy kop oor en oor gemaal.
In hierdie kritiese oomblik toe jy jou Here en meester moet bystaan en verdedig dink jy net aan jou eie kop. Wat ‘n mislukking.
Miskien het hy teruggedink aan daardie dag in Lukas 5:8 toe hy vir Jesus gesê het:
“Oh, Lord, please leave me – I’m too much of a sinner to be around you.” NLT
Want hier sit hy vandag weer, en hy voel presies dieselfde.
‘n Mislukking.
Petrus het aan die einde van homself gekom. Dit was seker die laagtepunt van sy lewe.
Wat meer is, kort daarna is Jesus gemartel, gekruisig en sterf Hy.
Alles wat vir Petrus kosbaar was tot op daardie stadium tuimel in mekaar soos ‘n gebou wat plat geskiet word. Net stof.
Petrus die rots? Eerder, Petrus die stof, die nikswerd, die mislukking.
Maar God wou gehad het Petrus moet tot op hierdie punt van sy lewe kom waar alles misluk het. Mislukking is eintlik ‘n goeie ding.
Want arrogansie en selfvoldaanheid het nie ‘n kruis nodig nie.
Die Kruis het gekom omdat ons krag, ons eie Ekkige Ek nooit goed genoeg was nie.
Nadat Jesus opgestaan het uit die dood het Hy ‘n paar keer aan sy dissipels verskyn maar hulle het Hom aanvanklik nie herken nie.
Eers die derde keer toe Hy aan hulle verskyn het, het hulle Hom erken.
Dit is met hierdie derde verskyning van Jesus wat Hy weer direk met Petrus praat.
Die opskrif in die NLV is: Petrus ontvang sy lewensopdrag.
Dis amper of daar nog te veel van Petrus se eie-ek was en Jesus hierdie lewensopdrag vir hom eers kon gee nadat Hy so ontsaglik misluk het.
Johannes 21:15-17,19
“Toe hulle klaar ontbyt geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief, meer as hierdies?” Petrus sê vir Jesus: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my lammers.” Jesus vra hom toe ’n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet,” antwoord Petrus. Jesus sê vir hom: “Wees ’n herder vir my skape.” ’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het hartseer geword omdat Jesus hom ’n derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Jesus: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my skape. Ek verseker jou, toe jy nog jonger was, het jy self jou klere vasgegordel en het jy rondgegaan waar jy ook al wou; wanneer jy egter oud is, sal jy jou hande uitstrek en iemand anders sal jou klere vasgordel en jou bring waar jy nie graag sal wil wees nie.” Dit het Jesus gesê om te sinspeel op die soort dood waarmee Petrus God sou verheerlik. Nadat Hy dit gesê het, sê Jesus vir Petrus: “Volg My as my dissipel!” NLV
Dit is interessant hoe Jesus Petrus benader met hierdie ontbyt.
Hy kon so maklik gesê het: “Ek het op jou gereken Petrus, van al die dissipels het Ek gedink jy sou by my staan.”
Nee, i.p.v. dit sê Jesus, “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”
Maar dit is amper of Jesus weet dat Petrus partykeer twee monde het en net een oor om te luister en dan herhaal Jesus sy vraag 3 maal.
Want drie is mos Petrus se nommer. Drie keer het Hy Jesus verloën, en drie keer vra Jesus hom of hy Hom lief het.
En mens kry die idee dat Jesus dan Petrus se aandag het. En Petrus is effens seergemaak deur die herhaling van Jesus se vraag. Dan sê Petrus:
“Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”
Ek dink hierdie gedeelte het alles te doen met Petrus se mislukking wat vasloop in ‘n God wie se genade net onbeskryflik groot is.
Hoe dan anders – sou enige van ons so teenoor Petrus, die verloënaar opgetree het?
Nee, Petrus jou verloëning was eintlik ‘n goeie ding. Dit het jou laat besef dat jy in jou eie krag niks is nie. Nie eers jou beste poging was goed genoeg nie.
Maar dit het jou hart oopgemaak dat die stroom van genade oor jou uitgegooi kon word.
Dit het jou vrygemaak om onder God se genade dinge te doen nie vir Sy aanvaarding nie maar omdat Hy jou aanvaar het.
Wanneer jy misluk het, Petrus – is die vraag of jy God se liefde kan raaksien in die kruis?
Kan jy God se daad van genade raaksien wat jou wil optel vanoggend waar jy is.
Ons definisie van liefde is ‘n sterk gevoel vir iemand.
Jesus se definisie van liefde is gehoorsaamheid.
Joh. 14:15 “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.” AFR83
Daarom gee Jesus vir Petrus ook drie keer ‘n opdrag: “Versorg my lammers, wees ‘n herder vir My skape, versorg My skape.”
Hoe kom ek terug van mislukking? Ek raak besig met die dinge waarvoor God lief is.
Sy kinders, Sy skape, Sy mense. “Community” met ander gelowiges, nie onttrek myself en kry myself jammer in ‘n hoekie nie.
Maak jou lewe ‘n toonbeeld van genade en vergifnis. Ook self-vergifnis soms vir dit wat jy gedoen het in jou swakheid en dommigheid. As Jesus my dan vergewe, om myself nie te vergewe nie maak ek myself net weer belangriker as Hy. Hy is Skepper, Seun van God. Hy maak vry. Wie is ek dan om nie vry te maak nie?
Wat het Jesus gedoen toe Hy op die kruis vir jou en my gesterf het? Hy het God verheerlik. Petrus, wie misluk het (glad nie soos sy Meester nie) kom so terug van sy mislukking af en maak so groot impak met sy lewe verder, dat Sy dood ook God verheerlik toe hy gekruisig is.
God se genade is meer geïnteresseerd in waarheen jy gaan as waarvandaan jy af kom.
Jy kan so terug kom van mislukking af en so groot impak maak dat jy selfs God kan verheerlik deur die manier waarop jy sterf.
Mislukking met al sy verbuigings is ‘n pynlike kragtige woord.
Maar kan ek ‘n nog twee meer kragtige woorde vir jou voorhou: Vergifnis en Genade.
En dit sien ek net as ek soos Paulus kop-aan-kop in Jesus Christus die Verlosser vasloop
Gal. 1:16 “Later het God sy Seun, Jesus Christus, aan my bekend- gemaak. Van daardie oomblik af het my hele lewe verander.” Boodskap
My gebed vir jou is – dat hierdie oomblik vandag, jou lewe sal verander.
Omdat die dood van ons Here Jesus Christus vandag vir jou dalk ‘n nuwe betekenis gekry het en omdat jy dalk opnuut of vir ‘n eerste keer bewus geraak het van Sy vergifnis en genade wat onbeskryflik groot is.
Ek wil vandag vir jou sê: “Kom by die genade van Jesus jou Redder uit.”
Want dit is genade wat vrymaak. Dit genade wat sê, jy is reeds goed genoeg.
Dit is genade wat sê, jy hoef nie jouself te bewys nie. Dit is genade wat sê, jy kan maar swak wees, jy kan maar misluk, want die Een in wie jy glo is die Een wat nooit misluk het nie. En Sy vergifnis en genade gee Hy onvoorwaardelik aan jou.