Hoe groot is jou oes?

[powerpress]

’n Ou boer het ’n seun gehad maar die seun was maar so bietjie soos die verlore seun in Lukas 15.  Hy het sy lewe geniet en altyd kortpaaie gesoek vir dinge in die lewe.

Dit was ook nie lank nie of die boer se seun het in die moeilikheid met die gereg geraak en moes tronk toe gaan vir ’n hele paar jaar.

Terwyl die seun in die tronk is skryf sy pa toe vir hom ’n brief wat min of meer so gaan:

My liewe seun, hierdie jaar sal ek nie kan aartappels plant nie, want ek is al oud en ek sal nooit die land alleen kan om ploeg nie, ek weet as jy hier was, sou jy my kon help.

Die baie slim maar skelm seun skryf toe terug: “Pa, moet asb. nie eers dink om die lande om te ploeg nie, want dit is waar ek die geld begrawe het.”

Die owerhede het die briewe gelees en die volgende dag het hulle begin om die ou boer se hele plaas omgeploeg om te soek van die geld wat die seun kwansuis iewers begrawe het.  So week later skryf die seun weer… “Pa, plant nou die aartappels, dit is die beste wat ek van hierdie kant af, sal kan doen.”

Lukas 8:5-8       “’n Boer het uitgegaan om saad te saai. Terwyl hy dit oor die land gestrooi het, het ’n deel op ’n voetpad geval waarop getrap word en die voëls het dit kom eet. ’n Ander deel het in vlak grond op ’n klipbank geval. Hierdie saad het begin groei, maar het gou verlep en verdroog omdat daar nie vog was nie. Nog ’n deel het geval waar dorings opgeskiet en die nuwe blare versmoor het. En ’n ander deel het in vrugbare grond geval. Hierdie saad het gegroei en het ’n oes gelewer 100 maal soveel as wat geplant is.”

Luk. 8:11-15      “Die saad is God se boodskap. Die saad wat op die harde pad geval het, is die mense wat die boodskap hoor, maar dan kom die duiwel en steel dit en verhoed hulle om te glo en verlos te word. “Die klipperige grond is mense wat die boodskap met blydskap aanhoor. Maar soos jong plantjies in sulke grond het hulle nie diep wortels nie. Hulle glo wel vir ’n rukkie, maar hulle verlep wanneer die warm winde van beproewing waai. “Die saad tussen die onkruid is mense wat die boodskap hoor en ook aanvaar, maar tog te gou word dit verdring deur die sorge en rykdom en plesiere van hierdie lewe. En só groei hulle nooit tot volwassenheid nie.  “Maar die saad wat in goeie grond val, is mense met ’n goeie en opregte hart wat God se boodskap hoor, daaraan vashou en konstant ’n groot oes oplewer.”

Daar is ‘n paar dinge wat my opval in hierdie verhaal.

Die betekenis hiervan nogal baie diep.  Die saad is eenvoudig die goeie nuus van God se koninkryk wat moet kom in elke mens se lewe.

Elke saadjie verteenwoordig die groei wat in iemand se lewe plaasvind na die beeld van Jesus Christus, hy is ons rolmodel.  Maar ook die saad wat ons saai in ander se lewens.

En dan vir baie redes alhoewel daar baie saad gesaai word, is daar redes hoekom hierdie saad nie ontkiem nie.

En deel van Jesus boodskap is: moenie mismoedig raak nie.

Daar is nie fout met die saad of die boodskap nie.

Sommige van die saad gaan wel op goeie grond val.  Iemand sal wel op die ou einde ontvanklik wees en die saad sal groei en dit gaan ’n pragtige boom of oes wees.

Die sommetjie van Jesus se storie wat my nogal pla.

Jesus vertel die storie, Hy kon dit vertel op enige manier wat Hy wou.

Maar Jesus vertel dit met ’n “saad-sterfte-verhouding” as jy dit so kan beskryf.

Hy kon gesê het die saad ¼ van die tyd nie groei nie, of helfte van die tyd.

Maar Hy kies ’n 75% saad-sterfte-verhouding wat nogal hoog is.

Die boom wat groei, is die saad wat ontkiem is ’n hart wat oop en ontvanklik is vir die dinge wat God in daardie persoon se lewe wil doen.

In die werk wat ek doen, is dit iets wat ek gereeld sien.

Mense wie se totale lewensrigting begin verander.

Hulle kry ’n nuwe rigting in hulle lewe.  Hulle kry ’n doel waarvoor hulle opstaan elke dag.

Ek is een van die mense wat glo dat almal se lewe beter sou wees as God in die middel of senter van daardie persoon se lewe is.

Nou, as jy een van vandag se kommersiële boere is of in besigheid is en jy het nie geloofsoë om na dinge te kyk nie dan is hierdie ’n baie slegte scenario.

Vir jou sal die boom of die saad wat ontkiem ’n nuwe produk of unieke besigheidsgeleentheid wees of ’n groot oes wat inkom.

Vir my as ’n pastoor is dit om meer bome te sien hierdie jaar as verlede jaar.

Meer saad wat in mense se lewens ontkiem.  Meer getransformeerde lewens.

Maar as ek dink aan die saad wat nie ontkiem nie en die verhouding is 3 uit 4 dan voel ’n mens mismoedig.

Om te dink dat nie net helfte van die saad gaan nie ontkiem nie maar driekwart van die saad wat gesaai word gaan nie ontkiem nie.

So, as my begeerte dan is om meer bome te sien en om meer van God se koninkrykswerk te sien, wat sal ek moet doen?

(Skerm) PLANT MEER SAAD!  PLANT MEER SAAD!

 

As net 25% saad in my lewe en in mense se lewens ontkiem, wat sal ek moet aanhou doen?  Opgee?  Nee, ek sal net eenvoudig meer saad moet saai sodat die 25% se volume in my lewe opgaan en die 25% in ander se lewens ook opgaan.

Miskien moet ek nie langer kla oor hoe min bome daar nou is nie en hoe stadig hulle groei nie dalk moet ek eenvoudig meer saad saai.

Nou die praktiese implikasie daarvan:

By Impetus gemeente glo ons in vier verhoudings in jou lewe.

Drie plekke in ons lewe waar God saad wil saai:

 

1.  Jou verhouding met Hom.

In Matteus 22 kom ’n persoon na Jesus toe wat ek dink so bietjie in ’n midlife crisis is.

Hierdie ou wil weet waaroor gaan die lewe nou eintlik?

Miskien het hy getrou alles gedoen wat sy ouers hom geleer het en wat die vroom kerksmense hom geleer het; miskien het hy oorweldig gevoel omdat daar so baie reëls is om te gehoorsaam, wat is nou eintlik belangrik en wat is nie?

Mat. 22:36-40     “Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”  Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’  In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Jesus praat hard en duidelik.  Die bottom line is:  Liefde vir God.  Liefde vir jouself.  Liefde vir jou naaste.  Liefde vir vreemdelinge of soekende mense.

Nou, terug na ons verhaal van die saaier.

As jy wil hê daar moet meer saad val in jou lewe sodat die ¾ wat gaan doodgaan of kom ons sê, jy weet en hoor maar nie doen nie… Wat sal jy moet doen?

Jy sal meer saad moet saai in jou verhouding met Hom.

In enige verhouding is die intimiteit en die geluk wat ek daar beleef direk gekoppel aan die hoeveelheid kwaliteit tyd wat ek saam met die persoon spandeer.

So, in jou verhouding met God.  Hoeveel kwaliteit tyd is daar tussen jou en Hom?

Hoeveel saad word op hierdie grond in jou lewe gesaai?

Ek weet daar is baie mense wie sê, ek weet eenvoudig nie wat om te doen as ek stiltetyd het nie.  Dit is so vervelig, ek lees net ’n stukkie en bid en dit is dit.

Dan is daar nog ’n rede hoekom jy iets soos dissipelskap moet oorweeg want hier word jy stap vir stap begelei om van jou tyd saam met God iets opwindend en na uit te sien te maak.

 

2.  Jou verhouding met jouself.

Dit is vir my baie interessant dat Jesus hier is Matteus 22 die manier hoe ek ander kan liefhê, direk koppel aan die manier hoe ek myself liefhet.

Maar wie is jy nou eintlik?  Baie mense sê, hulle ken hulle self daarom sal hulle eerder iets doen of nie doen nie voordat hulle hulself in die moeilikheid kry.

Dit is nie die ware jy nie.  Binne jou is daar twee mense wat eintlik lewe.

Die valse EK en die ware EK.  Die valse EK is die een wat haarself wil verdedig as iemand haar in ’n slegte lig stel.

Die valse EK is iemand wat liggeraak is as iemand iets sê wat jou omkrap.

Die valse EK is selfsugtig en selfgerig en dink 99% van die tyd aan wat vir hom belangrik is wat wat hy graag in die lewe wil hê.

Jesus sê, daardie EK moet sterf.  Jy moet bewus raak van die nuwe lewe wat in jou begin het.  Daardie saad wat geplant is toe jou Hom ontmoet het, dit moet ontkiem en groei.

Die WARE EK is wie jy in Christus is.

Col. 3:3-4  “Your old life is dead. Your new life, which is your real life—even though invisible to spectators—is with Christ in God. He is your life.”  The Message

Hoeveel saad in jou lewe word gesaai om uit te vind wie jy eintlik is?  Wie is hierdie nuwe mens wat gebore is die dag toe jy besluit het om die rigting van jou lewe te verander?

Is dit vir jou belangrik om die ware EK te ontdek?  Die Ek wat nie selfgerig is nie.

Die EK wat weet wat sy blindekolle en foute is en nie dit probeer verdedig om wegsteek nie.

 

3.  Jou verhouding met ander.

Eintlik onderskei ons by Impetus ook nog tussen mense wat hier is en mense wat ons graag hier wil kry omdat ons glo hulle lewe sal ook hier geraak word.

Maar hoeveel saad saai jy in ander se lewens?

En daarmee bedoel ek nie nou of jy ’n helpende hand soms is en mense bystaan wat hulp nodig het nie.

Daarmee bedoel ek op geestelike gebied, hoe gereeld vertel jy hulle wat Jesus vir jou beteken?  Hoe gereeld gooi jy net ’n saadjie uit en sê, hoekom kom kyk jy nie bietjie hoe lyk dit daar by my gemeente nie?

Hoe gereeld stap jy oor die pad of die vertrek en nooi jou buurman of jou kollega by die werk en sê, weet ons is ’n groep wat een keer ’n week bymekaarkom en net vir mekaar bid en mekaar ondersteun en ons doen die lewe saam.  Kom saam na my omgeegroep toe.

Hoeveel geestelike saad saai jy in ander mense se lewens?  Is dit maar min?

Dan is dalk weer tyd dat ons dink hoekom ons hier op aarde is?

Hoekom het God jou die mens gemaak wat jy is?

Hoekom het hy jou tussen daardie klomp mense gesit waar jy môreoggend is?

Vir jouself?  Ek dink nie so nie.

Om net ’n paycheck te kry aan die einde van die maand?  Ek dink ook nie so nie.

 

En laat ons nie mismoedig raak as ¾ van die saad wat ons saai en die buurman wat jy al 3 keer genooi het nog nie kom nie.  Nee.

As ons wil hê die saad moet ontkiem en daar moet meer bome wees of die oes moet groter word, gaan ons eenvoudig meer saad moet saai.

 

Vanoggend het jy ’n pakkie saad gekry toe jy ingestap het.

Ek wil hê, jy moet hom in jou hand sit.  Dink aan hierdie saadjies.

Wat beteken hulle vir jou?

Waar moet daar saad gesaai word in jou lewe of in iemand anders se lewe?

Waar moet jy geestelike saad saai in iemand se lewe?

En ja, ¾ daarvan gaan dalk nie ontkiem nie.  Maar weet jy wat – hoe meer jy saai, hoe meer sal daar wees wat ontkiem.  Hoe meer bome of plante sal daar wees.

Hou aan saai.  Want jy bring nie die groei nie.  Dit is iets wat net God gaan doen.