Hoe lank nog? Week 2: Die moeilikste deel van die reis

[powerpress]

Die moeilikste deel van die reis soos ons verlede week by Steve gehoor het is wanneer die einde net nie nader wil kom nie en jy in so tussen-in fase is.

Wanneer die kinders begin vra – hoe lank nog?  My jongste hou daarvan om te vergroot, so as ons sê, nog 1 uur sê ry, dan sal hy sê, nog ‘n 1000 ure.

Want vir hom voel een uur soos nog ‘n 1000 ure.

Ek en jy is maar baie dieselfde.  As dit nog 6 maande is wat jy moet uithou vir iets om te gebeur.  Wat sê ons?  Nog ‘n 1000 dae.  Dis die langste wat ek in my lewe gewag het.

As ek dink ons ons kerkbou projek wat nou so 30 maande aan die gang is en ek dink dat dit dalk nog 6 maande gaan vat, dan voel dit vir my ook soos ‘n 1000 maande.  Ek kan net nie meer wag nie.

 

Vandag gaan ons ‘n bietjie na ‘n boek in die Bybel kyk wat nie baie gelees word nie.

Dit kan debatteerbaar een van die minste gelese boeke in die Bybel wees.

Deuteronomium.  Daar is ‘n goeie rede hoekom meeste mense nie Deut. lees nie.

Om dit te verstaan moet jy so bietjie van die O.T. weet.

SKERM: Die O.T. word in twee dele verdeel.  Die 1ste deel is die 5 boeke wat die Pentateug genoem word.  Dan is daar die historiese boeke.  Hierdie maak 17 boeke op.

Daarna het ons die poëtiese boeke of wysheidsboeke (5) en die profetiese boeke. (17).

Nou as jy die Bybel van voor af lees en jy lees Numeri deur en jy begin by Deut. sal jy agterkom dat dit presies dieselfde inligting in die historiese verhaal is.

Jy kan basies Deut. heeltemal skip en aan die einde begin lees en jy sou niks gemis het nie.  Die boek Deut. begin met ‘n klomp Israeliete wat dwaal, hulle is eks-slawe.

Dan in die einde kom hulle op die kante van die Jordaan rivier bymekaar en hulle wag om die Beloofde land in te gaan.

 

Deut. het basies 3 preke van Moses en die stel wette in die middel net vir die pret daarvan.

En dan is die preke nie nuut nie, dit is preke wat al in die vorige boeke was.

Deuteronomium kom van twee woordedeutero beteken “tweede,” en nomos beteken “wet”.  So mens kan maklik dink, daar is niks nuut om te sê nie en dit net los.

So hoekom daarna kyk vandag?

Een van die redes is omdat dit die boek is wat Jesus die meeste aangehaal het toe Hy geleef het.  Sommige geleerdes beweer ook dat Deut. die teologiese middelpunt van die O.T. genoem kan word.  So hoekom het Jesus so baie van Deut. gehou?

 

Deut. 1:1-8

“In hierdie boek word die woorde van Moses weergegee. Hy het al die Israeliete toegespreek in die woestynvlakte oos van die Jordaan, oorkant Suf, in die omgewing van Paran, Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab. 2 Dit vat elf dae om met die Seïrbergpad van Horeb af by Kades-Barnea te kom. 3 Op die eerste van die elfde maand van die veertigste jaar na die uittog uit Egipte het Moses vir die Israeliete alles gesê wat die Here hom oor hulle beveel het. 4 Dit was nadat Moses vir Sihon en Og verslaan het. Koning Sihon van die Amoriete het in Gesbon gewoon, en koning Og van Basan in Astarot by Edreï. 5 Dit was oos van die Jordaan, in Moab, dat Moses die wet begin verduidelik het. Hy het gesê: 6“Die Here ons God het by Horeb vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. 7 Breek nou kamp af en trek die Bergwêreld van die Amoriete in en ook die gebied van die mense wat saam met die Amoriete in die land woon: die Jordaanvallei, die Bergwêreld, die Laeveld, die Suidland en die Kusvlakte. Dit is die hele Kanaän en die Libanon tot by die groot rivier, die Eufraat. 8 Ek stel hierdie land tot julle beskikking. Trek in en neem dit in besit. Ek, die Here, het met ‘n eed beloof om dit aan julle voorvaders Abraham, Isak en Jakob te gee en aan hulle nageslag.’

 

Deuteronomium is die verhaal van mense in oorgang.

Vers 1 begin met Moses wat die Israeliete nie net die wet weer gee nie maar die wet aan hulle interpreteer of verduidelik.  Baie van hulle was nie daar toe die wet die eerste keer vir hulle gegee is nie.

Twee keer word daar gesê, ‘Oos van die Jordaan.”

Dit is baie belangrik – want nou dwaal hulle nie meer in die woestyn rond nie MAAR hulle kan nog nie die beloofde land in besit neem nie.

 

Hulle is geforseer om te WAG.  WAG is nie iets waarmee ons goed is nie.

Hulle is in ‘n oorgang – nog nie waar hulle wil wees nie maar ook nie meer waar hulle vandaan gekom het nie.

Is dit nie waar ons as gemeente is nie?  Is dit nie waar ons baie keer in ons lewe is nie?

Ons het ‘n besluit gemaak maar nou lewe ons met die oorgang, die aanpassing, die tussen-in fase, van daardie besluit voordat dit klaar kom.

Aanpassings is deel van die lewe maar hoe haat ons dit nie?

Die hele boek Deut. is ‘n oorgangsboek.  Dit is ‘n brug tussen die Torah die wet en die begin van die historiese boeke en die profete.

Dit forseer die Israeliete (en ons) om te luister na ‘n LAANGG preek van ‘n baie ou man.

 

Die ‘tussen-in’ is die moeilikste deel van enige reis

Daardie oorgang, die ‘hoe lank nog’ deel is die moeilikste.

Die opgewondenheid en die avontuur is verby en jy is nie meer by die huis nie.

Maar die WAG is uitstekende teelaarde vir groei in ons lewe.

Dit is ‘n plek waar ons moet WAG en LUISTER.  Nie reageer nie en glad nie reaktief nie.

Die ‘tussen-in’ vra ons baie moed om geduldig te wees en die onbekende te verduur.

Aan die een kant kan niks gedoen word nie maar ter selfde tyd is dit nie ‘n plek van rus nie.

 

Dit is ‘n plek van rustelose afwagting.  Die ‘tussen-in’ is ‘n plek waar ons die algemene kinders frustrasie begin ervaar wat vra:  “Are we there yet?”  Hoe lank nog?

Sommige van ons is in beroepe waar ons vra:  ‘Hoe lank nog?’

Hoe lank nog voordat ek kan doen wat ek glo die Here wil hê ek moet doen?

Ander van ons is dalk in ‘n verhouding waar ons vra:  ‘Hoe lank nog?’

Hoe lank nog voordat hierdie ongemak of struikelblokke in ons verhouding opgelos kan word?

 

Ek onthou om my vorige gemeente hoe ek baie gefrustreerd begin raak het en ervaar het dat die Here iets nuuts en anders vir my het.  Maar daardie wag, die tyd wat ek moes vasbyt, moes verduur, wat net ‘n paar maande was, was die langste deel van my bediening.  Toe Vanessa vir meer as 2 jaar weer begin werk soek nadat sy vir 5 jaar by die kinders was.  Dit was die langste 2 jaar van ons lewe.

Dit is nie pret nie – maar dit is ‘n normale deel van die lewe in geloof.  Dit is in daardie ‘tussen-in’ tye van ons lewe wat ons geloof groei.

Dit is wanneer ons meer geestelik volwasse raak as in die gemaksone wat ons so geniet.

 

 

Ek weet baie van julle ervaar ‘n ‘tussen-in’ tyd in julle lewe op die stadium.

Die drome is daar vêr op die horison en dit voel of hulle nooit nader kom nie.

Die plek waar jy vandaan gekom het en die slawerny is gou vergete.

En die ongemak en die frustrasie van dinge wat nog nie uitwerk nie is amper daagliks daar.

 

Die uitnodiging is:  WAG en LUISTER

Twee dinge waarmee ons nie baie goed is nie.  Wel, ten minste nie ek nie.

Om ¾ klaar te wees met ons fase 1 is wonderlik maar dit is nog nie daar nie.

Om te WAG is nie maklik of lekker nie. Ons is te veel ingestel op vinnige kitsbevrediging.

Van die groot katedrale en kerke oor die eeue het sommige tot 150 jaar gevat om te bou.  Dis dalk goed ek leef nie in daardie tyd nie want ek sou dit dalk nie oorleef het nie.

As God sê, VERTROU op MY!  Dan klink dit so cliché-erig.

 

Vertrou op die Here…  Wag op die Here…

Maar dit is in die wag wat ons gereed raak om die beloftes te kan ontvang.

Hoekom het dit die Israeliete 40 jaar geneem om ‘n reis wat net 11 dae kon geneem het?

Nie omdat hulle nie ‘n GPS gehad het nie.  Nie omdat hulle verdwaal het nie.

Omdat HULLE nie gereed was vir die beloofde land nie.

Wat IN JOU gebeur in die ‘tussen-in’ tyd is wat belangrik is.  Nie wat MET jou gebeur nie.

 

As jy vandag in ‘n ‘tussen-in’ tyd is….  Ek nooi jou uit om vir God te vra:  Hoe lank nog?

Maar ek wil jou ook uitnooi om te LUISTER na Sy antwoord.

Want sy antwoord word nie in dae en maande getel nie, maar eerder in verandering wat in jou moet gebeur getel.

En dit is om te hoor wat jy dalk nie wil hoor nie.  Dit is om te vertrou as alles in jou sê – sorg nou vir jouself, jy het nou lank genoeg gewag.

Die uitnodiging in die tussen-in is, WAG en LUISTER.