MOVE – Launch: Vasgeval? Staan op!

[powerpress]

Ons val partykeer vas in ons lewens.  Dit is ‘n plek waar dinge ons vashou.  Ons raak stuck.  Dit voel of jy in ‘n groef met iets verval en jy weet nie of jy daar kan uitkom nie en soms weet jy ook nie hoe om daar uit te kom nie.  Die dilemma is dat ons soms dit nie eers agterkom tot dit te laat is nie.  Die areas in ons lewe wat vasval raak naderhand vir ons so normaal dat ons eerder leef met ‘n slegte situasie as om iets daaraan te doen.

Vandag wil ek stilstaan by ‘n ware storie wat in Jesus se tyd gebeur het:

Joh. 5:1-10         “Hierna het daar ’n groot fees van die Jode plaasgevind. Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. By Skaappoort in Jerusalem is daar ’n waterbad wat in Hebreeus Betesda genoem word. Dit het vyf onderdakpilaargange gehad waar daar ’n menigte gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes. Onder hulle was daar ’n sekere persoon wat al 38 jaar lank siek was. Jesus het hom daar sien lê en was bewus daarvan dat hy geruime tyd al siek was. Hy vra hom toe: “Wil jy graag gesond word?” Die sieke het Jesus geantwoord: “Meneer, ek het niemand naby my om my in die waterbad te tel wanneer die water geroer word nie; en terwyl ek nog naderkom, gaan iemand anders voor my in.” Jesus sê toe vir hom: “Staan nou op, tel jou slaapmatjie op en loop!” Onmiddellik het die man gesond geword, sy slaapmatjie opgetel en begin loop. Op daardie dag was dit die Sabbat. Die Jode sê toe vir die man wat so pas gesond geword het: “Dit is ’n Sabbat; daarom mag jy nie jou slaapmatjie dra nie.”  NLV

Agtergrond:

Die bad van Betesda was in die Moslem hoek van Jerusalem gewees.  So die Jode het nie werklik daar gekom nie.  Die Jode het ook nie daarvan gehou om met siekes en gestremdes te meng nie.  Die mense was beskou dat hulle ‘n sonde teen God gedoen het of ‘n duiwel in hulle gehad het.  Die vroom Jode het dit gesien as God se straf.

Die Woord Betesda – beteken in Hebreeus:  “Huis van Genade.”  Maar dit is ook deur sommige “plek van skande” genoem.  Want as God se straf dan oor jou is dan is dit ‘n slegte plek om te wees.  Baie van die wat daar was is letterlik soontoe gedra, daar neergesit en daar gelos.

Ons lees in sommige van die vertalings dat ‘n engel op ‘n bepaalde tyd die water geroer het en dan het sommige gesond geword.

Ons weet nie presies wat gebeur het nie, maar wat mens wel agterkom is dat baie daar gelê het en daar wel sommiges was wat gesond geword het.

Hoe lank nog?

Dan lees ons dat hier ‘n man was wat 38 jaar lank al siek was.  Hy was vasgeval.

Dieselfde ding het in sy lewe seker vir 38 jaar lank al oor en oor herhaal.

Mens sien ook in sy interaksie met Jesus dat hy waarskynlik opgegee het, om te probeer.

Hy het begin glo dat hy nie meer gesond kan word nie omdat hy te stadig is en die oomblik wat die water roer is hy te laat om iets te doen.  Hy is vasgeval.

 

Dan verskyn Jesus in sy storie.  38 jaar lank is hy siek.

Joh. 5:5     “Jesus het hom daar sien lê en was bewus daarvan dat hy geruime tyd al siek was. Hy vra hom toe: “Wil jy graag gesond word?”  NLV

Die vraag wat ons vanoggend vir onsself moet vra is:  Wil jy graag gesond word?

Vergeet van die ander wat jy graag hier wou hê en al die wat dit ook moet hoor.

Hoe lank is jy dalk in ‘n sekere area van jou lewe vasgeval en stuck?

 

Want ons moet kan groei.  Ons moet beter mense word met tyd.  Is daar ‘n area in jou lewe waar jy dieselfde krisis of probleem oor en oor beleef?  Van die goed word deel van ons menswees.  Soos ek nou die dag iemand se Facebook status lees:  “Ek is soos ek is.”  M.a.w. ek het ophou verander en groei, ander moet my nou maar aanvaar soos ek is.

Waarvoor dan nog ‘n verhouding met Jesus hê?  As ek nie glo dat Hy het gekom het om alles in my lewe te verander nie dan is ek net besig om ‘n vorm-godsdiens te hê.

 

Eendag is ek Arlington vullishoop toe.  Die van julle wat al daar was sal weet, dit is aardig.

Een van die dinge wat jou daar opval is die reuk.  Eendag vra ek een van die mense wat ek daar sien, hoe hou julle dit uit?  Ek kan nie eers vir 5 minute hier by julle staan nie.  Hy sê toe, meneer, ons is al so lank hier, ons ruik dit nie eers meer nie.

Partykeer word ‘n probleem so deel van ons lewe dat ons nie eers meer agterkom dat dit ‘n probleem is nie.  Ons blameer al die ander mense hoekom ons is waar ons is.  Maar dieselfde finansiële of verhoudings-, afhanklikheids probleem herhaal oor en oor in ons lewe.

 

As jy iets disfunksioneel in jou lewe lank genoeg verdra, word dit vir jou normaal.

As jy lank genoeg met iets wegkom of dit los of nie daaraan aandag gee nie dan sal dit vir jou later jou nuwe normaal word.  So sleg soos dit is, dit raak normaal en aanvaarbaar.

En ons dra hierdie slegte dinge met ons rond en ons veroorsaak pyn in ander se lewens.

 

Jesus vra: “Wil jy gesond word?”

Vreemde vraag wat Jesus vra.  Ek meen – is Jesus bietjie stadig van begrip?  Nee, Jesus se vrae is gewoonlik dieper as wat mens besef.  Jesus vra hom nie of hy fisiese genesing wil hê nie.  Ek meen dit is ooglopend.  Jesus vra hom eerder of hy verantwoordelikheid wil neem om gesond te word?  M.a.w. of hy bereid is om sy verskonings en die ander mense wat hy die heel tyd blameer te los en te doen wat net hy kan doen.

Dit is nie altyd maklik nie.  Om oor te gee is nie maklik nie.  Om hulp te vra is nie maklik nie.  Dit is soos ‘n ruimteskip wat die aarde se wentelbaan wil verlaat.

Dit kos moeite en effort om los te breek van jou normaal.

Want so sleg soos dit vir jou is – om oor te gee sodat God jou kan verander is soms moeiliker as om net met die pyn en krisis verder te leef.

Daar is verantwoordelikheid wat jy moet neem – sonder dit, kan God nie sy werk doen nie.

 

Is jy op ‘n plek in jou lewe waar jy kan eerlik kan wees omtrent jouself?

Is jy op ‘n plek waar iemand jou kan wys dat daar iets is in jou lewe wat stink, wat jou elke dag bietjie minder soos Jesus maak?  Sonder dat jy jouself sal vererg.

Is jy bereid om uit die gemaksone te kom en op te hou verskonings maak?

Dit is maklik om iets of iemand anders te blameer hoekom jy nie kan los breek nie.

 

Iewers in hierdie reeks wat volgende week begin bid ek dat jy sal kyk wat is jou storie.

Dat jy die moed sal hê om op te staan.  Dat jy die guts sal hê om te sê, genoeg is nou genoeg.  Dat jy verantwoordelikheid sal neem vir jou slegte gewoontes en God sal toelaat om jou te help om daarmee te breek.

 

Joh. 5:7     “Die sieke het Jesus geantwoord: “Meneer, ek het niemand naby my om my in die waterbad te tel wanneer die water geroer word nie; en terwyl ek nog naderkom,  gaan iemand anders voor my in.”  NLV

Weet jy wat – jy sal ‘n verskoning kry as jy een soek.  Glo my.

Ons is almal besig – maar hoe hartseer is dit nie dat ons die dinge wat belangrik is in die lewe aanhoudend uitstel en nie by uitkom nie.

Lewe jy regtig?  Of gaan jy maar net deur die motions elke dag?

Ons weet nie wat hou môre vir ons in nie.

 

Wat is die default waarna jy elke keer toe terugkeer wanneer dit met jou sleg gaan emosioneel?  Wat is jou verslawing?  Jou coping meganisme in jou lewe is jou verslawing.

Iewers in ons lewe moet ons die default by God se genade uitbring.

2 Kor. 12:9 “Hy het egter vir my gesê: “My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk.”

Swakheid is nie jou probleem nie.  Dit is juis waar God se genade werk.

Weet jy waar is ons probleem?  Trots en ego.  As ons nie ons swakheid wil erken nie.

 

Jesus sê vir hom: “Staan op!”

Dalk sê God vir jou vanoggend, staan op!

Iewers moet ons aan die MOVE kom in ons lewe.

Joh. 5:8     “Jesus sê toe vir hom: “Staan nou op, tel jou slaapmatjie op en loop!”  NLV

As jy vanoggend glo, dan kan jy opstaan.

As jy vanoggend ‘n commitment maak, verantwoordelikheid neem – dan kan God iets groot in jou lewe doen.

Al wat jy vanoggend kan doen is – GLO.

Glo Hy kan jou verander.  Glo Sy genade is vir jou genoeg.

 

En DAN – neem aksie.  Maak ‘n besluit.  MOVE.

Maak jou hart en jou gedagtes oop vanoggend.  Laat toe dat die Heilige Gees in jou gebroke lewe ‘n saad kom plant wat dalk alles in jou lewe gaan verander.

Los die verskonings van die water roer nie op die regte manier nie, die ander spring elke keer voor jou in… en staan op!

 

Jy sê, Braam, jy verstaan nie.  Ek sukkel al 38 jaar hiermee.

Ek het al so baie probeer.  Dit is net waar ek en jy die fout maak.

Ek probeer – Nee, gee oor!  Surrender!  Glo en gee die eerste stap in die regte rigting.

Jesus kom nie en sê hier is die ritueel of die formule nie.

Nee, Hy kom en sê, GLO, gee oor en staan op!

 

Nog ‘n probleem wat ons het is dat ons vir God wil voorskryf hoe Hy moet werk.

Ons het ‘n verwagting en as dit nie gebeur volgens ons raamwerk nie dan wil God nie my help nie.  Luister, vergeet van jou verwagting.

Soos dit nou is – GLO.  Soos dit nou is – neem jou eerste stap.

Joh. 5:9-10         “Onmiddellik het die man gesond geword, sy slaapmatjie opgetel en begin loop. Op daardie dag was dit die Sabbat. Die Jode sê toe vir die man wat so pas gesond geword het: “Dit is ’n Sabbat; daarom mag jy nie jou slaapmatjie dra nie.”  NLV

 

38 Jaar se vas sit, se verskonings, se siek wees – word onmiddelik gesond.

Weet jy wat?  Toe hierdie ou op die sabbat sy matjie optel en loop wat hy nie mag gedoen het nie – toe het almal geweet.

Party van ons wil tog so privaat wees.  Weet jy wat – God doen nie wonderwerke in mense se lewens sodat dit weggesteek kan word nie.

Jou storie wil God gebruik om iemand anders se lewe te raak.  Vergeet van jou ego, vergeet van jou image.  Laat toe dat God jou storie gebruik in iemand anders se lewe.

 

Mat. 17:20 “The simple truth is that if you had a mere kernel of faith, a poppy seed, say, you would tell this mountain, ‘Move!’ and it would move. There is nothing that you wouldn’t be able to tackle.”  The Message

As jy vanoggend net kan glo, al is dit so klein soos ‘n poppy seed.  ‘n Korreltjie.  As jy net kan glo dat die onmoontlike moontlik is, dan kan God die res doen.

SLUIT Oë.

Ek wil jou vra om vir jouself ‘n prentjie te skets in jou gedagtes hoe jou lewe kan wees as jy gaan opstaan.  As jy gaan die eerste stap neem vandag.  Maak daardie prentjie.  Kry die een ding, die een area van jou lewe waar jy wil hê God moet begin betrokke raak.  Dan gee jy dit nou oor.  Jy gaan ophou probeer.  Jy gaan God toelaat.

GEBED

Ek wil afsluit deur jou te vra of jy nie ‘n verbintenis wil maak nie.  Ons begin volgende week hierdie reeks MOVE.  Ek wil jou uitnooi of uitdaag om jou eerste stap te neem.  Ons groei wanneer ons commitments maak.  Ons raak fiks wanneer ons ‘n oefen program het en daarby hou.

So, hier is die uitdaging:

Daar is 3 hoofelemente in die reeks wat die kinders, die tieners, almal van 0-99jr gaan doen.

  1. Dagstukkies – stiltetyd elke dag vir 40 Dae lank begin volgende week. Op die webwerf move2016.co.za is dit ook beskikbaar as jy dit aanlyn wil lees. Daar is ook al die ander materiaal daar beskikbaar.
  2. Die Sondag dienste – elke week gaan ons ‘n nuwe tema inlei deur die boodskap hier in die kerk. Dit is jou wegspring vir die week. So, ek wil jou uitdaag om ‘n nuwe normaal vir jou te kry as jy nie gereeld op die stadium kerk toe gaan nie.  Maak ‘n commitment vir jouself om hierdie 6 weke van volgende week af by te woon.
  3. ‘n Omgeegroep – ons groei deur verhoudings. As jy nie by ‘n klein groepie van 4-12 gelowiges is nie, wil jy nie net vir die 6 weke by een inskakel nie. Dalk wil jy een begin met ‘n groep van jou vriende.  Die materiaal is ook in julle boekies en die videos is op die webwerf beskikbaar.  Ons kan jou ook help as jy hulp nodig het.

So, dit is my uitdaging vir jou vanoggend.  Doen iets wat uit jou comfortzone is.

Staan op, waag uit. Doen iets waarvoor jy dalk bang is maar jy weet dit is die regte ding vir jou om nou te doen.