MOVE – Week 1: Van Stukkend na Heel
[powerpress]
Ons almal leef soms met wat ek beskryf as die gebreekte pot sindroom.
Die gebreekte pot werk so – daar is ‘n plantpot wat by jou voordeur gebreek het op een of ander stadium. Om een of ander rede het jy hom nog nie weggevat of weggegooi nie.
In die begin sien jy hom elke keer raak wanneer jy daar verby loop.
Maar later begin jy hom nie meer raaksien nie. Jy begin leef met die gebreekte pot.
Jy sou dit nog steeds graag wou regmaak of weggooi maar dit is net nie meer vir jou so dringend of belangrik om nou daaraan aandag te skenk nie.
Die gevolg is, jy skep vir jou ‘n nuwe normaal.
Jy leef met die plantpot wat gebreek is voor jou voordeur.
Hy word ook ‘n blindekol vir jou. Almal wat by jou kuier sien die gebreekte pot raak maar hulle bly maar eerder stil want dalk pla die gebreekte pot jou nie.
So byvoorbeeld kan jy altyd redelik jou finansies onder beheer hê tot op ‘n dag wat iets gebeur, jy verloor jou werk, jy begin dalk meer begin spandeer as wat jy inkry en dan beland jy in ‘n groef. Jy begin te leef met ‘n oortrokke rekening.
In die begin pla dit jou maar later begin jy aanvaar dat dit is hoe jy nou leef.
Die gevolg is dat jy later jare lank nie jou finansies meer gesond hanteer nie en konstant in die moeilikheid beland omdat jy eenvoudig meer uitgee en aanhou verkeerde besluite maak.
Vandag se tema is stukkend na heel.
En ons gaan nie noodwendig kyk na emosionele innerlike stukkend nie maar dalk eerder na ‘n area van ons lewe waar ons gebrokenheid beleef.
Die waarheid is dat almal van ons wat hier sit in een of ander area van ons lewe in ‘n groef beland het. Iets in jou lewe is vasgeval maar jy leef eenvoudig daarmee voort.
Wat is jou normaal wat eintlik ‘n abnormaal is?
Weet jy wat is een van ons geestelike vyand se grootste wapens teen ons – misleiding.
As jy begin glo dat iets okay is wat eintlik nie okay is nie word jy mislei.
Ons memoriseer teksvers vir die week is:
Joh. 10:10 “Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig.
Ék het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het.” NLV
Die misleiding wat ons glo steel by ons. Die leuens wat ons glo, steel by ons.
En wat is die hierdie lewe wat Jesus ons na nooi?
In Grieks is daar twee woorde vir LEWE. Die een is Bios – Ek lewe fisies. Biologie.
Zoë – ‘n tipe lewe saam met God.
Nou, om ‘n heel mens te wees beteken om ‘n “zoë” lewe te leef. Die soort lewe waarna God ons uitnooi. Die probleem is dat ons nie hierdie lewe leef nie.
Daar is soveel “normale” in ons lewe dat ons baie keer nie besef dat ons mislei is en eintlik ‘n abnormale lewe leef nie.
En ons gaan beweeg. Ons gaan MOVE in hierdie 40 Dae wat kom.
As jy sê, hier is iewers in my lewe ‘n normaal wat ek vir myself geskep het (die gebreekte pot) maar ek gaan beweeg. Ek gaan hom regmaak of ek gaan hom weggooi.
Ek wil stilstaan by ‘n ontmoeting tussen Jesus en ‘n vrou daar in Joh. 4.
Net eers so bietjie agtergrond:
Jesus is op reis van Judea af terug na Galilea toe. Op pad huis toe moet hy en sy dissipels deur ‘n streek gaan wat Samaria genoem word.
Nou Samaria en die mense wat daar gewoon het is deur die Jode as ‘n baster volk beskou. Hulle het mekaar gehaat.
Toe Jesus hulle in die middel van die dag daar aankom stuur Jesus die dissipels om kos te gaan soek en Hy gaan na die put toe om water te kry.
Daar aangekom is hierdie Samaritaanse vrou daar. Nou die vrou is in die middel van die dag by die put. Dit was haar normaal.
Maar eintlik was dit abnormaal. Die vroue het altyd vroeg in die oggend en laat in die middag gaan water skep. Hulle het ook ‘n groepe saam geloop om water te gaan haal.
Hierdie vrou is alleen. Hoekom kom sy alleen?
As jy verder lees dan kom jy agter dat hierdie vrou se reputasie nie goed was nie.
Sy was al 5 x getroud. En nou woon sy by haar 6de man.
Almal in die dorp het waarskynlik van haar geweet en die tipe vrou wat sy was.
En a.g.v. hierdie gebrokenheid wat sy gehad het, het sy ‘n leemte gehad in haar lewe.
Leuens en verwerping en dalk mishandeling was al wat sy geken het.
Jesus ontmoet daar daar. Ek hy is slim, Hy gebruik water as aanknopingspunt.
En Hy sê vir haar, “Ek weet dat jy eintlik ‘n dieper dors in jou het as wat gewone water kan les. Daar is soveel stukkenheid en gebrokenheid in jou lewe en jy het nodig om iets anders te kry. Iets wat jou nie weer dors sal los nie.”
Jy is ongelukkig, jy val van verhouding na verhouding. Jy het ‘n dors wat nie geles word nie.
Jesus begin met haar ‘n gesprek.
Joh. 4:13-14 “Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word nie.” NLV
- Sy erken dat sy ‘n “dors” het. (“Current location”)
Ek en jy moet verantwoordelikheid kan aanvaar vir waar ons nou is voordat ons kan beweeg. Solank as wat jy ontken dat die pot by jou voordeur gebreek is.
Dat hy nie daar is nie, dat hy eintlik deur die buurman gebreek is.
Dan kan ons nie skuif, beweeg, MOVE in ons lewe nie.
Joh. 4:15 “Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, gee my van hierdie water sodat ek nie weer dors word en hierheen hoef te kom om water te skep nie.” NLV
Sy erken, sy het dors. Sy het ‘n behoefte na hierdie water waarvan Jesus praat.
Nou een van die wonders van ons dag is ‘n GPS. Ek kuier Vrydag met ‘n vriend wat van die Kaap af kom en hy bly in Blouwaterbaai by ‘n gastehuis.
Al wat hy doen is hy share sy current location met my deur whatapp en google maps vat my presies tot waar hy is.
En hier is die wonderwerk van google maps. Dit is ‘n vrou wat die aanwysings vir jou gee en jy kom daar uit. Is dit nie wonderlik nie?
Maar is dit nie wat ons soms met ons lewe moet doen nie en dit is STOP.
Doen ‘n opname. Vra jou self, wat is my lewe se “current location”? Hoe vaar ek met dit?
Want soms hardloop ons so deur die lewe dat ons GPS die heeltyd “recalculate” dat ons nie besef waar ons nou is nie.
Weet jy wat, voordat ons nie erken dat iets stukkend in ons lewe is nie kan ons nie God toelaat om dit heel te maak nie.
“All great spirituality is about what we do with our pain. If we do not transform our pain, we will transmit it to those around us.” (R. Rohr)
So my pyn kan my transformeer in ‘n beter mens OF my pyn kan nog meer pyn in ander mense se lewens veroorsaak.
Stukkende mense maak net ander mense ook stukkend.
En jy gaan in jou kinders se oë kyk en op ‘n dag besef, ek is besig om stukkend te maak.
En jy gaan in die mense naby aan jou se lewe sien, ek is besig om stukkend te maak.
Kom ons kyk net vanoggend na ons lewe en ons vra onsself af – wat is my “current location?” Met my verhouding met God? Met my verhouding met my man / vrou? Met my finansies? Met my gesondheid?
- Ons het waarheid nodig om te verander.
Dit is iets wat mens opval in die verhaal van Jesus en die vrou.
Niks word ge-sugar coat nie. Jesus sê dit soos dit is. Die vrou erken ook dit soos dit is.
Hulle sê menslike natuur dikteer dat ons net a.g.v. drie redes verander.
- Pyn laat jou verander. Kyk as iets so seer is dat jy nie anders kan om daarna te kyk nie dan verander jy.
Dit is soos ek met my nierstene. Nie tot ek byna flou is van die pyn is ek ongevalle toe nie.
Baie keer in ons lewe ook. As daar genoeg pyn is, dan verander jy.
Dikwels is die pyn wat ons verander nie iets wat ons permanent verander nie.
- Jy het nie keuse om te verander nie.
Ek dink byvoorbeeld vir die van julle wat bietjie ouer is aan die weermag. Jy het nie ‘n keuse nie. Jou hare word nie gesny soos jy dit graag wil hê nie.
Daar is een keuse, dit is clipper no.1. Jy kon nie kies nie.
Maar albei hierdie eerste twee is nie goeie verandering nie. Want later in jou lewe kon daar weer baie verwyte a.g.v. hierdie pyn en die feit dat jy nie kon kies nie.
- Jy kan kies om te verander.
As daar genoeg waarheid in jou lewe kom dat jy ‘n keuse maak om vir die waarheid te kies en ophou om die leuen of die misleiding te glo, dan kan jy permanent verander.
Joh. 4:15-16 “Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom dan terug hiernatoe.”
Die vrou het dadelik reageer: “Ek het nie ’n man nie.” NLV
Die waarheid van haar “current location” kom na haar toe.
Ons het partykeer waarheids oomblikke in ons lewe nodig sodat ons vry kan word.
Waarheids oomblikke kom soms op onverwagse tye in ons lewe. Iemand sterf. Iemand raak ernstig siek. Iemand is in ‘n motorongeluk. Jy gaan deur ‘n egskeiding. Jy word insolvent verklaar.
Partykeer kom dit wanneer jy met ‘n vriend of ‘n geestelike begeleier ontmoet en die persoon challenge jou oor iets in jou lewe.
Jakob het op ‘n stadium op ‘n plek in sy lewe gekom waar hy ‘n droom gehad het.
En toe hy wakker word toe sê hy, “Die Here was op hierdie plek.” Partykeer is ons so in die resies van die lewe dat ons nie waarheidsoomblikke het nie. Ons kom nie eers agter die Here is hier nie.
Nooi sy waarheid in jou lewe in. Besef die waarheid wat jou sal vrymaak nooi jou uit om te beweeg.
- BEWEEG en ontmoet die Watergewer.
Hierdie een gesprek met Jesus het haar totale lewe verander.
Glo jy in God se krag, dat Hy die krag het om lewens te verander? Om jou te verander?
Sy word ‘n getuie in die dorp. Sy het ge-MOVE. As jy verder lees dan sal jy sien
Joh. 4:39 “Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het.”
Ek wil afsluit met die woorde van die Lewegewer, die Watergewer vaoggend in Jes. 55
Jes. 55:1-3 “Almal wat dors is, kom na die water toe. Selfs al het jy geen geld nie, kom, koop en eet. Kom, koop wyn en melk sonder prys en geld. Hoekom spandeer julle julle geld op dit wat nie brood is nie? Hoekom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister mooi na My, dan sal julle eet wat goed is, en versadig kan word met die beste wat te kry is! Luister tog, kom na My toe. Luister na My dat julle kan lewe. Ek is gereed om ’n ewige verbond te sluit. Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos Ek aan Dawid belowe het.” NLV
Mag jy eerstens besef hoe dors jy het. Mag die waarheid jou verander dat jy kies om ‘n heel mens te word. Maar mag jy ook BEWEEG en die Lewegewer ontmoet waar jy nou is.
GEBED