MOVE – Week 3: Oorweldig na In Beheer
[powerpress]
Ons het in die eerste week gekyk van Stukkend na Heel en gesien dat ons almal iewers in ons lewe ‘n area het wat gebroke is en dat die Here ons uitnooi om na Hom toe te moet kom met dit. Verlede week het ons meer na ons skedules gekyk en hoe ons onsself ‘n vraag moet vra. En dit is nie hoe gaan ek tyd kry vir alles nie maar eerder Wie wil ek graag word?
Vandag gesels ons met die tema: Oorweldig na In-beheer en spesifiek rondom ons finansies. Finansies is ‘n sensitiewe onderwerp. Hoekom sê ons oorweldig? Want dit is die een area waar geweldig baie mense oorweldig voel. Hoeveel is genoeg? Gaan ek genoeg hê vir eendag? Elke dag is daar iets om te betaal of iets om te koop. Dit hou eenvoudig net nooit op nie.
Ons geskiedenis met besittings en geld het ‘n geweldige groot impak oor hoe ons vandag geld hanteer. As jy arm groot geword het en jy behaal self later sukses dan wil jy graag alles vir jou kinders gee en jy maak self dalk verkeerde keuses met geld. Van ons het weer meer welaf groot geword en dit het ook ons denke gevorm oor geld en oor dit wat jy dink nodig is in die lewe. Min ouers leer en help hulle kinders hoe om met geld te werk soos die Bybel ons leer.
En die hartseer is dat ons hantering van geld soos baie ander dinge in ons lewe gewoontevormend is. Dit is verskriklik moeilik om jou uitkyk daarop te verander as jy al jou hele lewe lank dit op ‘n sekere manier gesien en hanteer het.
Maar wat sê Jesus en die Bybel vir ons oor besittings en geld?
As daar een area in ons lewe is waar ons geweldig selfgesentreerd raak is dit met ons finanies. Want soos baie van ons geleer en gewys is – wat jy kry is privaat en dit is joune om mee te maak soos jy wil.
Wie is in beheer van jou geldsake? Vrouens? Mans? My kinders? Bankbestuurder?
Soos die ou wat by die bank aankom en die bestuurder se mnr. sit maar. Die ou se agg nee wat meneer ek is heel gemaklik hier op my knieë ek sal sommer hier op my knieë bly staan.
S.A. se spaarvlakke is van die laagste in die wêreld. Baie mense voel hulle het nooit iets om te spaar nie. Want as jy kyk na dit wat jy inkry en dit wat jy nodig het dan is daar geen ruimte vir spaar en gee nie. Maar die probleem is dat ons van kleins af verkeerd geleer of nooit geleer is nie.
Daar agter in die saal is ‘n voorbeeld van Crown van hoe ek my kinders probeer leer om met 3 spaarbussies te werk. Een vir spandeer, een vir spaar en een vir God. Maar hulle sal dikwels met my redeneer en sê, is dit nou regtig nodig om te spaar of om vir Jesus geld te gee. Wat gaan Jesus daarmee maak?
Hoe voel jy oor jou geldsake? Want ons dink dikwels die ou wat homself bekommer is die ou in die plakkerskamp is maar ek dink dikwels het ons baie meer bekommernisse in ons lewe hoe meer ons het om oor te bekommer.
Lukas 19:1-7 “Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap. En daar was iemand met die naam Saggeus; hy was ’n hooftollenaar en ’n ryk man. Hy het sy bes probeer om te sien wie Jesus is, maar hy kon nie vanweë die skare en omdat hy kort was. Hy het vooruit gehardloop om voor te kom en in ’n vyeboom geklim om Jesus te sien omdat Hy daar sou verbygaan. Toe Jesus by dié bepaalde plek kom, het Hy opgekyk in die boom en vir Saggeus gesê: “Saggeus, klim haastig af, want Ek moet nog vandag by jou tuisgaan.” Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus opgewonde ontvang. Almal wat dit gesien het, het geprotesteer en gesê: “Hy het jou werklik tuisgegaan by ’n sondige man!” NLV
Ons weet nie hoekom Saggeus by Jesus wou uitkom nie? Ons weet wel dat Jesus gereeld saam met sondaars en tollenaars tyd gespandeer het. Miskien wou Saggeus ook iets daarvan beleef.
Dalk het hy op ‘n plek in sy finansiële lewe gekom waat hy begin skuldig voel het oor hoe hy sy rykdom bekom het want die tollenaars was van die kurrupste mense van daai tyd. Iewers het hy gehoop om by Jesus uit te kom want jy sal nie soveel moeite doen as jy nie hoop dat dit ‘n verskil in jou lewe sal maak nie.
Iets gebeur met Saggeus. Jesus se teenwoordigheid in sy lewe laat hom anders kyk. Ook anders kyk na sy geld. Dit is wat in my en jou harte ook moet gebeur. As Jesus die Here van my lewe is, moet Hy ook die Here, van my finansies wees.
Ek wil jou vanoggend uitdaag om deur Jesus se oë na jouself te kyk. Oë wat sê maar alles wat ek het is aan my geleen. Ek is ‘n bestuurder vir God hiermee.
En interessant is dat Jesus nie vir hom sê maar Saggeus jy is ‘n oneerlike mens want by mense steel nie. Nee, die blote teenwoordigheid van Jesus laat hom anders begin kyk.
Lukas 19:8-10 “Saggeus het egter openlik gereageer en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ’n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.” Jesus sê toe vir hom: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, omdat ook hierdie man ’n seun van Abraham is. Ek, die Seun van die Mens, het immers gekom om wat verlore is, te soek en te red.” NLV
Dit is amper of Saggeus so dubbele bekering gehad het. ‘n Eerste bekering waar hy Jesus in sy lewe ingenooi het en ‘n tweede bekering waar hy gekyk het wat hy het en wat hy geword het en besluit het om alles, ook sy geld vir God te gee.
Want kyk om iets onsigbaar vir God te gee is soms makliker maar wanneer dit aan jou lyf vat, wanneer dit wat jy het elke dag daardeur geraak word is dit anders.
In hierdie week het ek ‘n ontbyt bygewoon waar een van S.A. se rykste mense was. Francois van Niekerk was die stigter van die Mertech groep maatskappye. ‘n Groep wat bestaan uit seker omtrent 12-14 maatskappye. Baie van hulle internasionaal.
Toe hy begin het met sy besigheid in 1980 het hy vir die Here gesê dat die Here die grootste aandeel in sy besigheid sal kry. Daarop het hy besluit om 30% van hulle groep se omset in verskeie stigtings te gee om Koninkrykswerk reg oor die wêreld te doen.
Wat my die meeste opgeval het van Francois is sy nederigheid en die feit dat hy reguit sê dat hy net ‘n kanaal is vir God om deur te werk. Die feit dat hy verskeie van die mees suksesvolste besighede in S.A. begin het, het min met hom te doen.
Hoekom die Here hom gekies het, weet hy nie. Hy is net daar om instrument in God se hand te wees. Hy het dit gesnap! Martin Luther, die groot hervormer het al gepraat van 3 bekerings: Bekering van jou denke (kop); Bekering van jou emosie (hart) en bekering van jou beursie. (Jou finansies).
Wanneer bekering jou beursie bereik is jy werklik bekeerd, want geld bring jou rede en jou emosie bymekaar uit. – Rede en wiskundige logika sê dat hoe meer geld jy bymekaar maak, hoe meer sal jy hê. Emosie sê dat hoe hoër jou bankbalans is, hoe hoër sal jou gevoel van sekuriteit wees en hoe gelukkiger sal jy wees… Om jou geld in God se hand te gee en volgens Sy wil te bestuur, gaan teen gewone logika en gevoel in en verg ‘n verandering (bekering) van denke en lewensuitkyk.
5 Oortuigings vir finansiële bekering:
- “Alles wat ek het, kom van God af.”
Wat ‘n groot ontnugtering is dit nie vir party mense die dag wat hulle ontdek dat hulle gesondheid, hulle breinvermoë, hulle talente, hulle geleenthede in die lewe, het ALLES van God af gekom nie.
Deut. 8:17-18 “Jy kan dalk dink: ‘My krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf.”
Ek besit niks. As God vir my ‘n opdrag gee moet ek my hand kan opmaak en gee.
Jak.1:17a “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo…” NAV
Leef jy so, dat jy besef dat elke enkele ding wat jy het is deur God vir jou gegee uit genade. Dit beteken dat ek net ‘n bestuurder is van dit wat God aan my toevertrou het.
- “Ek leef dankbaar binne God se huidige voorsiening vir my lewe.”
Begeer wat jy het. Ons probleem is dat ons begeer wat ons nie het nie. Daar is altyd iets wat ons dink, as ek dit kan kry, dan sal my lewensgeluk opgaan.
In ‘n 2012 Gallup geluk-skaal opname lys is 6 van die top tien lande waar mense die gelukkigste voel in Latyns Amerika. Irak is sewende & Amerika 33ste op die lys…
Fil.4:12b “I have learned the secret of being content in in any and every situation, whether well-fed or hungry, whether living in plenty or in want.” NIV
Dit is ons verantwoordelikheid om die nodige aanpassings te maak, sodat ons met dankbaarheid en vergenoegdheid binne God se huidige voorsiening vir ons kan leef.
Is jy ‘n gelukkige mens? Want geluk is iets wat van binne af kom, nie van buite af nie.
- “Ek eer die Here deur ‘n tiende (10%) van my inkomste te gee om die werk van Sy gemeente en Koninkryk te bevorder.”
Hoekom vra God vir ons om dit te doen? Want Hy is die bron van alles in ons lewe. Hoekom is dit dat baie mense vir God net die leftovers wil gee en nie die beste deel nie? Dit is amper of God en sy koninkryk soos ‘n boemelaar by die robot staan en ek voel skuldig, so ek gee maar vir Hom ook ‘n paar rand.
Spr.3:9-10 “Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van wyn.” NAV
Ek het hierdie beginsel in my lewe begin leef toe ek op 17 jarige ouderdom my hart vir hom gegee het. My eerste salaris was R500. Die eerste uitgawe wat ek gemaak het op daardie salaris was R50 vir die Here se werk.
26 jaar later is dit nog steeds die eerste item op my begroting. Het ek al swaar gekry? Ja. Het ek al honger gaan slaap? Ja, daar was kere as jong pastoor gewees. Was daar al dae wat ek gedink het, is dit regtig nodig, is dit nie maar net ‘n wet wat ek onderhou nie. Ja, die duiwel plant allerande sulke leuens in mens se kop.
Maar weet jy wat ek ook ontdek het – dat dit nooit daaroor gaan dat ek nie kan bekostig om te gee nie. Dit is eerder andersom, ek kan nie bekostig om nie te gee nie. Hoekom? Want daardeur eer ek God op ‘n tasbare manier as Bron van alles in my lewe.
- “Ek leef deur te spaar vir ander seisoene in my lewe.”
Daar is seisoene in ‘n mens se lewe. Jy sal nie vir ewig kan werk nie, al dink jy so. Daar is dinge wat in jou en jou kinders se lewe gebeur wat jy nie kan doen as jy nie voorsiening daarvoor gaan maak nie.
Maak bymekaar vir die seisoen van behoefte en dat jy nog steeds ‘n oop hand kan hê wanneer jy nie meer ‘n salaris verdien nie of jou werk verloor of siek raak.
Spr. 6:6-9 “Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie ’n leier nie, nie ’n opsigter of ’n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd.”
Ons moet voorsiening maak in moeilike tye. God gee vir ons wysheid om met sy geld te werk. Baie keer kry ons swaar omdat ons naief is en dink dat daar nooit ‘n dag sal kom wat ons voorsiening nodig het nie.
Die grootste ding wat ek vanoggend vir jou wil sê is dat jy met ‘n oop gemoed die Here moet toegang gee tot elke area van jou lewe. Ook jou fiansies.
Wees oop om Sy stem te hoor vandag. Wees oop om daardie worsteling in jou hart te laat gaan wanneer jy besef maar aardse begeertes is vir my belangriker as die Here se werk.
Wees oop dat God jou kan ontmoet waar jy is vandag. God kan jy nie ontmoet op ‘n plek in nou lewe as Hy nie met jou daaroor kan praat nie. Weet jy wat, jou lewe kan nie vorentoe beweeg as God nie met jou kan praat oor elke terrein van jou lewe nie.
Om dit te kan doen beteken dit dalk dat jy iets opgee. As Hy werklik beheer het oor elke area van jou lewe dan sal Hy jou ontmoet op die plek waar jy is. Dit kan beteken dat jy dalk moet afskaal, vereenvoudig, minder luukses in jou lewe hê.
Maar God wil gebruik wat in jou hande is. Jy is Sy instrument. Hy wil jou krag en vermoëns gebruik om Sy koninkryk hier op aarde te bou. Dit is ook wat ons teksvers Deut 8:17-18 van die week sê.
“Don’t try to work for Me. Live with Me and for Me. I am God and I will do the work and determine the outcome.” Russel.