MOVE – Week 5: Verdwaal na Gevind

[powerpress]

Hoe maklik is dit nie om die foute en tekortkominge van ander raak te sien nie en hoe moeilik sien ons ons eie foute raak?

Ons dink baie oor ander – meeste van die tyd nie hoe ons hulle kan help nie maar eerder hoe ons vaar teenoor hulle.

Vanoggend is ons 5de boodskap van ons reeks MOVE.

Ons gesels vandag van verdwaal na gevind.

Die nommer een aantuiging van hulle wat nie kerk toe gaan of kerkloos is teen gelowiges vandag is dat hulle… oordeel.  Hulle judge.

Daarteenoor sien ons Jesus se lewe was vol van genade.

Genade is basies die teenoorgestelde van veroordeling.

 

Iets was merkwaardig van Jesus vir die mense wat met Hom te doen gehad het.  I.p.v. dat Hy soos die ander kerkleiers van Sy tyd die grense baie hard en duidelik maak wie in God se koninkryk is en wie uit is het Hy baie tyd gespandeer met hulle wat as “outsiders” beskou was deur die vroom kerkmense van Sy tyd.

 

Gelukkig vir ons werk God se koninkryk nie op die beginsel van regverdigheid nie.

Anders sou ek en jy nie hier gewees het vandag nie.

Jesus was ‘n agent van genade.  Hy het gekom sodat mense God se genade en liefde kon sien.  Hy het nie net gepraat daaroor nie, hy het dit ook gedemonstreer met sy lewe.

Regverdig beteken ons kry wat ons verdien.

Is dit wat Jesus verkondig het?  Nee, Hy het konstant gepraat met “outsiders” en hulle vertel dat hy gekom het om hulle uit te nooi na God se koninkryk toe.

 

Tot groot onsteltenes van die kerkmense van Jesus se tyd (Fariseers en skifgeleerdes) het Jesus heel dikwels by tollenaars en sondaars gestop en selfs gaan eet.

Hy het die sondaars van sy tyd so lief gehad dat sy boodskap vir hulle baie eenvoudig was:  wat was dit?  Jesus se boodskap van genade:

  1. Almal is welkom.
  2. Almal kan inkom op dieselfde manier.
  3. Almal kan die vereistes nakom.

En vandag is hierdie boodskap of die goeie nuus nog steeds dieselfde.

As ek hierdie boodskap van God se genade snap dan verander dit absoluut alles in my lewe.  Nie net is ek goed genoeg vir God nie.  Hy maak my een van Sy kinders.

It was Christ’s death on the cross that makes the kingdom of God available to you and me. Is that fair? No. It’s far better than fair.  It’s grace!

En dan vra Hy my om hierdie goeie nuus of boodskap van genade ook met ander te deel.

Hy vra my om ook ‘n agent van Sy genade te wees.

 

Hoekom maak ons, die kerk, dit dikwels so moeilik vir mense om hierdie genade raak te sien?  Moet ons dit nie vir hulle makliker maak om hierdie genade te sien nie?

Lukas 15:1-2      “Die tollenaars en die Sondaars het die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Hierteen het die Fariseërs en skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: ‘Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.’”AFR83

Die outsiders het die gewoonte gehad om te kom luister.

Nou sukkel ek so bietjie met myself en die kerk van vandag.  Waarom is dit dat die outsiders van vandag (kerkloos, kerklos) eerder alles in hulle vermoeë sal doen om die kerk en kerksmense te vermy?  En daarteenoor het hulle gereeld na Jesus gaan luister.

 

Daar is ‘n groot verskil om te praat/preek van genade en om te leef met genade.

Jesus het geleef met genade.  Almal is welkom.  Niemand is perfek nie.  Enigiets is moontlik.  Dit is een ding om dit te sê, maar ‘n heel ander ding om dit te leef.

Die kerk sal die mees aantreklikste wees vir mense wanneer die boodskap van genade mees sigbaar is in ons lewe.

Dit is hoe Jesus gelewe het.  En die regverdiges van Jesus se tyd het hom gehaat daarvoor.

 

Daar in Lukas 15 wat ons nou gelees het is die Fariseërs en skrifgeleerdes baie ontsteld oor sondaars na Jesus kom luister het.  Net voor dit het Hy ook ‘n man gesond gemaak op die sabbat.  Iets wat nooit moes gebeur het volgens die wet nie.

Dan kom Jesus en Hy beklemtoon God se hart met 3 verhale.

Die 3 verhale van Lukas 15: (Verlore Penning, Verlore skaap, Verlore seun).

  1. Elke keer was iets verlore.

Het jy geweet dat daar elke dag iemand is met wie jy in aanraking kom wat verdwaal is.

Ek en jy was ook eens op ‘n tyd soekend.  Soms is ons nog steeds soekend na iets.

Dit is nie ons wat God gevind het nie.  Dit is eerder God wat ons gevind het.

Dit is genade.  Want as Hy nie van Sy kant af iets gedoen het om jou te vind nie sou jy jou lewe lank aanhou soek het.

 

Iemand het verlede week iets gesê dat my hart geraak het.

Wat as ons ophou sê, Here ek het my hart vir U gegee.  En eerder begin vra:

“Here, gee U hart vir my.”

Want my hart is nog so baie vol veroordeling en kritiek.

My hart is selfsugtig en selfgerig en vol hardkoppigheid.

Maar as ek Sy hart kry – dan sal ek begin huil.  Nie huil omdat dinge nie gaan soos ek dit wil hê nie.  Nee, huil omdat mense dit nie sien nie.  Huil omdat iemand weggeraak het.

Huil omdat my seun nie by my is nie.  Huil omdat daar een skaap is wat weggeraak het.

 

  1. Elke keer was daar ‘n soektog.

Alles word gelos sodat dit wat verlore is gevind kan word.

Die penning moes nie ‘n beursie soek sodat hy weer gevind kon word nie.

Die skaap moes nie aanhou ronddwaal totdat hy eendag heel toevallig in die skaapwagter vasgeloop het nie.  Nee, die skaapwagter het hom gaan soek.

Die verlore Seun se pa het nie sy seun afgeskryf en aangegaan met sy lewe nie.  Nee, mens kry die idee dat hy elke dag by die venster gaan staan het en uitgekyk het, wanneer kom sy seun weer terug.

 

Jesus sê vir Sy dissipels, julle sal vissers van mense word.  Wanneer ek God se hart begin kry begin ek uitkyk vir verdwaaldes.  My eie selfsugtige bestaan word opgegee en ‘n reddingsveldtog word van stapel gestuur om hulle wat verdwaal is te vind.

Hartseer is dit dat ons as kerk baie beplanning en denke insit om die 99 gelukkig te hou en ons vergeet van die 1 wat weggeraak het of verdwaal het.

Wat kos dit ons?– Om ‘n boodskap te stuur?  Om aan te hou tot hulle weer die lig sien.

Om ‘n uitnodiging te gee, om saam te eet, om regtig om te gee.

 

  1. Elke keer is daar ‘n fees wanneer dit wat weg was gevind word.

Genade is dat maak nie saak wie jy is nie – God se arms staan oop.

Jy kan nie meer doen of minder doen om Hom tevrede te stel nie.

As ek vergeet waar ek vandaan gekom het – is ek soos die oudste broer in Lukas 15.

Luk. 15:28-29 “Die ouer broer het hom liederlik vererg en wou nie ingaan nie. Sy pa het toe uitgekom en hom gesoebat, maar hy het geantwoord: ‘Ek het al die jare hard gewerk vir Pa en nooit geweier om enigiets te doen wat Pa my gesê het om te doen nie. En in al die tyd het Pa my nie eers ’n bokkie gegee om saam met my vriende fees te vier nie.”  NLV

Wat sê die oudste broer?

Hierdie jonger broer van my verdien nie jou genade nie.

Hierdie jonger broer van my het jou teleurgestel en ek was nog altyd gehoorsaam.

 

Maar dit is nie genade nie.  Die oudste broer is vol veroordeling.

Hy is nie ‘n agent van genade nie.

Hy vergeet die nuwe reëls van van God se koninkryk:

  1. Almal is welkom.
  2. Almal kan inkom op dieselfde manier.
  3. Almal kan die vereistes nakom. Wat is die vereiste?  Glo net dat Jesus alles vir jou gedoen het.  Hou op doen en begin glo.  Die oudste seun wou nog doen.

 

Luk. 15:32 “Ons moet hierdie gelukkige dag vier. Want jou broer was dood en het teruggekom na die lewe! Hy was verlore, maar nou is hy gevind!’”  NLV

As ek Sy hart het, dan sal dit my meer opgewonde maak as ‘n miljoen rand in die bank.

As ek Sy hart het, dan sal ek ook omgee vir hulle wat nog verdwaal is.

As ek Sy hart het, dan sal ek dink en bid vir hulle in die wêreld wat vervolg word, wat selfs dood gemaak word, wat hulle lewe opgee sodat hulle agente van genade kan wees.

 

As ek Sy hart het, sal ek ook soek, soos iemand wat ‘n kosbare besitting verloor het totdat ek dit gevind het.

As ek Sy hart het, sal ek ‘n agent van genade wees en vir almal vertel.

Almal is welkom.  Niemand is perfek nie.  Almal kan inkom op dieselfde manier deur te glo.  Alles is moontlik, want waar God is, is alles moontlik.

Mag jou lewe mensee trek na Hom toe.  Mag die voorbeeld van genade en liefde wat Jesus vir ons gelos het ons lewe so raak dat ons ook gaan met ‘n boodskap van genade.

GEBED