My storie… ek het besluit om te begin
[powerpress]
Goeie more Vriende en van my kant af, voorspoedige nuwe jaar en ons wens as gesin is ook dat julle ’n geseënde jaar sal hê, vol liefde, vreugde en vrede en dat in die jaar julle almal in dieper verhoudings sal leef met God, jou self, mekaar en ook die wêreld daar buite.
Vandag begin ons met ’n nuwe reeks wat ons noem my storie. Stories is waar oor die lewe gaan nie waar nie. Stories is wat mense bind en mekaar beter laat verstaan. Ons kom nou net uit ’n tyd uit waar ons seker een van die belangrikste stories gevier het die geboorte van Jesus. Ek is seker ons almal hou van ’n goeie storie dis hoekom ons fliek of sepies kyk op T.V
Nou ons almal het ’n storie en ons hele lewe is ’n storie wat opgedeel is in verskillende hoofstukke 2014 se hoofstuk is verby en 2015 sin lê voor ons uit. Daar is sekere hoofstukke wat ons graag deel en dis wanneer ons dit deel wat ons dieper in verhouding begin staan. Maar daar is ook sekere hoofstukke en stories wat ons nie oor wil praat nie, ons vermy hulle dis diep en vêr weggebêre en as ons daaroor moet praat dan los ons sekere detail uit of ons laat sekere detail beter klink as wat dit regtig is.
Wat vir my so interessant is, is wanneer ek terug kyk oor my lewe daar sekere besluite is wat so klein en onbelangrik gelyk het op daai stadium, maar wat so groot rol gespeel het in die rigting wat my lewe ingegaan het en hoe my storie lyk en klink.
Soos die aand toe ek ’n jeug event bygewoon het om ’n girl te ontmoet en dalk ’n soentjie en drukkie of 2 te kon kry, en daai aand ontmoet ek toe ’n man wat vir my lief is net soos ek was en is met al my foute en seer met die naam Jesus wat my vriend en verlosser wil wees en my lewe verander net daar en dan.
Vriende net so is die ander kant ook waar, nie alle stories en besluite het happy endings nie, van die besluite in ons lewe kyk ons terug na en dink ai as ek maar net nie dit gesê het nie of ek maar eerder by die huis gebly het daai aand of nee gesê het en ek sou nooit kon dink dat daai een besluit my lewe so kon opmors nie ek wens ek het nie dit gedoen nie.
Die realiteit is dat die besluite wat ek en jy gister gemaak het beïnvloed die storie wat ek en jy vandag gaan vertel en met die nuwe jaar voor ons, moet ons besef dat die besluite wat ons vandag maak bepaal die storie wat ons more gaan vertel. Ons besluite tel vriende.
Ek sal nooit vergeet hoe ek op stadium kla studeer het om pastoor te wees georden en alles maar was besig om in besigheids wêreld te werk en goed te doen, het van bestuurder van een winkel my self opgewerk na regional manager van die oos en Wes-Kaap en het 12 winkels onder my en klomp staff en my kop staan toe nie meer bediening toe nie, nou gewoonlik het en Chantal nie by haar oom-hulle in die Kaap gaan kuier alleen nie maar die aand sê ek vir Chantal kom ons gaan eet saam met hulle. Ons is besig om te kuier en haar oom ’n baie reguit man sê Steve jy doen great en alles in besigheid maar ek wil net vanaand vir jou vra ken jy die storie van Jona en ek is soos ja oom en hy is soos pasop dat jy nie Jona is nie my seun.
Daai aand huis toe gery bietjie omgekrap maar sy woorde het lank in my kop gebly tot ek besef het dat die Here my in bediening wil hê en ek moet ophou weghardloop of ophou agter ander goed soos erkenning, status en geld moet aanhardloop. Daai aand glo ek vandag nog is die saad weer geplant wat my vandag terug in bediening het.
Een besluit wat nie net my hele lewe maar ook ons as gesin se hele lewe verander het. Die besluit wat jy vandag maak beïnvloed die storie wat jy more gaan vertel.
So vriende die groot vraag is hoe lewe ek en jy ’n storie wat die moeite werd is om te vertel. Ek dink die antwoord vir ons in Heb. 12 vers 2 uit die boodskap(2)Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou en Hy sal ons tot aan die einde daarmee help, sodat ons geloof sal bly wat dit behoort te wees. Dink aan sy voorbeeld.
Vriende sal dit nie ongelooflik wees as ek en jy op Jesus konsentreer en sy voorbeeld volg en toe laat dat Hy ons help om die storie te leef en vertel wat God wil hê ons moet vertel nie. Hoe leef ons ’n storie wat die moeite werd is om te vertel deur te konsentreer op Jesus.
En dis wat ons in die die volgende 4 weke gaan doen vandag gaan ons besluit om te begin, ons gaan besluit om met een dissipline te begin wat ons gaan help om die storie te vertel wat God wil hê ons moet vertel.
Volgende week gaan ons besluit om te stop of ‘n einde te bring. Elkeen van ons het sekere goed wat ons doen of dink of sê wat negatief is en wat ons keer om die storie te vertel wat God wil hê ons moet vertel.
Week 3 gaan ons bly wat soms is dit makliker om weg te hardloop of om op te gee en sou dit beter gewees het om te bly. Ons gee op op God of die kerk, ’n vriendskap, ’n droom of ‘n huwelik en ons gaan weg waar dit beter is om te bly.
Week 4 dan sal ons gaan wat soms wil ons bly wat dis makliker en lekkerder maar ons gaan besluit om te gaan wat om die storie te vertel wat God wil vertel moet ons ook soms in die geloof die volgende tree gee en gaan.
Maar vanoggend gaan ons besluit om te begin vandag. Ek praat nie hiervan ’n nuwe besigheid te begin of om te begin daai boek skryf of begin studeer nie. Ek praat nie van om daai nuwe bediening te begin nie dis eers in week vier, wat ek hiervan praat is dat ek en jy gaan besluit om een dissipline te begin wat ons lewens gaan transformeer.
Vandag staan ons stil by Daniel in die Leeukuil en weereens net bevestiging dat selfs in die ou testament dat katte ’n probleem is. Vinnig ’n bietjie agtergrond. Daniel is in ballingskap en nie regtig een van die mense nie ’n uitlander maar hy was die koning se witbroodjie. Koning Darius het baie van Daniel gehou en dit oorweeg om Daniel hoofamptenaar te maak oor al die ander 120 amptenare in die koningryk. Die ander Amptenare was nie baie happy nie en hulle wou ontslae raak van Daniel en dan lees ons in Daniel 6:
(5) Die amptenare en hoofde het toe begin fout soek om iets oor sy werk teen Daniël in te bring. Hulle kon nêrens enige fout kry nie. Daniël was betroubaar en daar kon niks gekry word waarin hy nalatig was nie.(6) Omdat hulle niks teen hom kon kry nie, het hierdie mense toe besluit dat hulle op grond van sy godsdiens iets teen hom sou kry.
So hierdie ouens soek iets teen Daniel hulle kan niks kry nie en dan besluit hulle om sy geloof teen hom te gebruik. En wat doen hulle hul gaan na Koning Darius toe en sê dat hulle hom so baie like en hy is so great dat hulle dink vir 30 dae moet almal niemand anders as hom aanbid nie en as iemand die wet sou oortree en in daai 30 dae enige iemand anders aanbid moet hulle vir die leeus gevoer word. Die Koning dink dis ’n great plan en maak die wet.
Hier moet ek en jy begin wonder…….
Hoekom is Daniël betroubaar en eerbaar en hoekom word hy bevorder in leierskap en is God se guns op sy lewe en word hy gered van die leeus se bekke. Hoekom is hierdie ouens so ernstig hieroor en ek vermoed want hulle het ’n dissipline in Daniel se lewe gesien wat hy gedoen het dat hulle geweet het Daniel sou die wet oortree. En ons lees van dit in vers (11)Toe Daniël hoor dat die wet onderteken is, het hy huis toe gegaan. Hy het daar ’n venster gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem. Hy het daar drie maal ’n dag op sy knieë gegaan om tot sy God te bid en om Hom te loof, soos hy gewoond was om te doen.
Soos hy gewoond was om te doen, ons weet nie hoe lank Daniel al besig was met die dissipline in sy lewe nie, maar wat ons wel weet is dat sy gewoonte was om elke dag 3 keer op ‘n dag te bid tot God en God te loof en prys. Hy het 3 keer ’n dag hom self weer met God kom connect sodat hy die storie kon leef en vertel wat God wou hê hy moes vertel en daardeur het hy guns by die koning en is God se beskerming op hom. Deur ’n besluit wat Daniel gemaak het kom God en transformeer sy lewe. Ons besluite vriende bepaal watter stories ons gaan vertel.
Vanoggend wil ek jou 2 vrae vra.
Wat is die storie wat God vir jou wil hê en wil hê jy moet vertel 5 jaar van nou af of selfs ‘n jaar van nou af. Wat is dit wat God vir jou wil hê en wil hê jy moet nastreef in die toekoms?
En ek is seker as ek en jy eerlik is vanoggend is daar area’s in ons lewens waar ek en jy kan sê daai area of prioriteit in my lewe is nie waar dit behoort te wees nie, of as ek aanhou die hofstuk skryf soos ek dit tans doen gaan dit nie goed eindig nie.
Wat is die storie wat God vir jou wil hê en wil hê jy moet vertel?
Vir van julle is dit dalk dat jy ’n ander finansiële storie moet vertel. Dalk begin jy vandag ’n dissipline en ek weet nie wat dit is nie maar dalk begin jy vandag besluit om meer vrygewig te wees teenoor die kerk en weldadigheid organisasies, dalk begin jy met ‘n budget te werk en knip jy jou kredietkaarte op en kry iemand wat jou help met geld werk. En as jy vandag begin met daai dissipline dan oor 5 jaar kan jou storie dalk iets soos volg wees. 5 jaar terug het ek geleef vir my koningryk en meer en meer en meer en toe het begin om vrygewig te wees teenoor God en het ek my volle 10de begin gee en ons kerk was in staat om soveel meer mense en gesinne in nood te help maar ek het ook meer as my 10de begin weggee en weet jy wat ek is vry van materialism maar ek het nog steeds meer as wat ek nodig het. Of 5 jaar terug het ons geleef van salaris tot salaris. Ons het gesukkel om te oorleef ons wou gee maar het niks gehad om te gee nie maar ons het begin en deur harde werk en 5 gedissiplineerde jare is ons skuld vry.
Vriende dit kan jou storie wees as jy besluit om te begin vandag met daai dissipline wat jou later in staat stel om daai storie te vertel.
Miskien wil die Here hê dat jy dalk die regte prioriteite moet begin leef want van ons prioriteite is verkeerd en vyf jaar van nou af as jy nou begin met die dissipline kan jou storie dalk wees.
Paar jaar terug was ek nie ‘n goeie man vir my vrou nie en nie ‘n goeie pa of ma nie, ek het heeltyd gewerk of ek was altyd kwaad en reg om te ontplof. God het gesê ek moet begin om my prioriteite reg te kry en ek het begin om vroer huis toe te gaan en saam met my gesin te eet om tafel, ek het begin werk by die werk los en nie huis toe te bring nie en nou het ek die huwelik wat ek nog altyd wou hê, my kinders ken hulle pa of ma en ek is betrokke in hulle lewe.
Dis dalk die storie wat jy kan vertel maar ons moet begin vandag met daai dissipline.
So my volgende vraag is, gebaseer op die storie wat jy voel God vir jou wil hê en wil hê jy moet vertel.
Wat is die dissipline wat jy moet vandag begin?
Wat moet jy vandag begin doen sodat jy die storie sal kan vertel wat God vir jou wil hê en wil hê jy moet vertel ’n storie wat die moeite werd is om voor te lewe. Ek wil hê dat jy vandag een dissipline en net een sal kies wat jy die jaar opgaan fokus.
Die rede hoekom sê een ding is want as julle soos ek is dan kyk jy na jou lewe en jy is soos ek het 4 of 5 goed wat ek moet aanwerk. Die probleem is dat as jy 4 of 5 goed probeer dan doen jy nie een nie. Daarom wil ek jou aanmoedig bid en vra die Here wat is die storie wat U wil hê ek moet kan vertel en dan besluit wat is daai een dissipline wat jy moet doen, sodat jy daai storie kan vertel en dan begin vandag en commit om daai een ding die jaar te doen.
Kan ek een dissipline met julle deel wat ek begin het toe ek nog op skool was en dit was die dissipline van tiende. Vandat ek my lewe oorgegee het aan die Here het ek besluit om die tiende beginsel te doen. Ek het besluit om elke keer as ek geld gekry het of dit was sakgeld of vir Kersfees of verjaarsdag het ek seker gemaak ek gee my volle tiende. So as ek 100 gekry het, het ek 10 rand vir die Here gegee. Toe ek begin werk het en my eerste R500 verdien R50 vir die kerk. Soos my salaris op beweeg het so het my tiende. Toe ek en Chantal verloof raak en ons begin leef uit een rekening en ons ‘n budget opstel was die eerste uitgawe op die lys ons volle tiende en soos die jare aangegaan het, het ons aangehou ons volle tiende gee op salaris maar ook op ons bonusse, ons belasting terugbetaling of enige ekstra geld verdien, maar ons het nie net ons volle tiende te geen nie maar het ons ook begin om elke jaar as ons salarisse verhoog ’n persentasie gedeelte te saai en ons hart is dat ons dit elke jaar sal kan doen en so kan groei in ons vrygewigheid.
Hoekom vertel ek julle dit want jare terug het ons ’n besluit geneem dat ons ’n sekere storie wil vertel en om dit te doen, sal ons ’n dissipline moet toepas en het daarmee begin. En soos in Daniel se lewe kan ons vandag getuig van God se getrouheid en goedheid.
Vriende so my vraag is watse storie wil God he moet jy vertel en watse dissipline is daar wat jy moet begin?
Vriende 2014 was seker die slegste jaar vir my gewees as dit kom by gesondheid en ek het besef dat dis nie die storie is wat God vir my of my gesin wil hê mie en ook nie die storie is wat ek wil aanhou leef of vertel nie en daarom het ek besef die jaar die dissipline wat ek opgaan fokus is om meer gesonder te leef deur beter te eet en meer oefen.
Dalk is daar van julle wat hier sit met verslawing en dalk moet jy by ’n plek uitkom wat jou kan help daardeur. Dalk is daar haat in jou hart of mense wat jy moet vergewe, dalk is jou prioriteite deur mekaar en het jy nodig om by iemand.
Dalk is jou huwelik nie wat dit moet wees of kan wees nie. Julle is saam en eintlik meer goeie vriende as man en vrou en vandag julle kinders gehad het, was julle nog nooit alleen nie. Dalk het julle nodig om iets weer te begin doen om julle huwelik reg te ruk. Dalk begin om saam te bid aand. Dalk weer begin om ’n aand uit te sit een keer ‘n week waar julle weer soos verliefdes mekaar date en mekaar weer te vind.
Dalk is jou geestelike lewe nie waar dit moet wees nie en moet jy dalk besluit om kerk weer ’n prioriteit te maak en nie net te gaan wanneer dit jou pas nie. Ook begin om betrokke te wees nie net op Sondae oggende nie maar ook selgroep by te woon maar ook om by ‘n dissipelskap groep in te skakel en betrokke te raak deur jou geld te gee asook jou talente in bedieninge.
Vriende ek weet nie watse dissipline jy moet begin nie maar ek weet as jy stil raak en God vra sal hy jou lei om te weet. Wat is die storie wat God wil hê jy moet kan vertel?
Vriende ons kan ’n storie leef wat die moeite werd is om te vertel as ons besluit om vandag te begin.
Kom ons bid saam.