My storie… ek het besluit om op te hou

(Weens ‘n tegniese probleem is hierdie boodskap nie opgeneem nie en is die audio daarvan ongelukkig nie beskikbaar nie.)

Ons het verlede week begin met ‘n reeks: My Storie.

Die reeks gaan daaroor dat almal van ons ‘n storie het wat deur ons lewe vertel word.

Die goeie nuus is dat almal van ons dele van ons storie het waarop ons trots is en wat ons met almal wil deel.  Maar ons het ook dele in ons storie waarop ons nie besonder trots is nie en wat ons eerder weglaat wanneer ons, ons storie vertel.

Maar die storie van 2015 in jou jaar is nog nie geskryf nie.

Jy het baie besluite wat jou storie vir 2015 gaan skryf.

Die besluite wat jy vandag maak, bepaal die stories wat jy môre gaan vertel.

 

Direction not intention determines destination.”  Andy Stanley.

Ons probleem is meestal nie dat ons nie weet nie.  Dit is nie dat ons nie die inligting het om weet wat om te doen nie.  Meestal is dit eenvoudig dat ons dit nie doen nie.

Moenie intensie verwar met aksie nie.

Iemand wat ‘n intensie het om iets te doen is nog ‘n ver pad van dit DOEN.

En veral dit aanhoudend doen.

 

Ek het jare gelede ‘n gewoonte dissipline aangeleer wat ons redelik gereeld toepas.

En hierdie dissipline is dat ek myself afvra, “As ek aanhou op hierdie pad, watter storie gaan ek hê om te vertel?”  “As ek aanhou om hierdie besluite te maak wat sal die uiteinde daarvan wees?”

 

So 7 ½  jaar gelede het ons swanger geraak met ons eerste kind.  En ek het gedoen wat enige goeie man sou doen, ek het my vrou ondersteun in meeste dinge.

Veral toe sy “cravings” gekry het om sekere dinge te eet, want swanger vroue eet mos vir twee, het ek haar volkome ondersteun sodat sy nie alleen voel nie.

So met die tyd het ek begin agterkom dat my fietsry lyf nie meer so maklik teen die bulte opkom nie.  Ek het opgehou oefen, ek net al hoe lekkerder begin eet, nie net ‘n Desember vergryp-jou-aan-alles eet nie.

Kort voor lank was ek op pad in ‘n rigting deur die besluite wat ek elke dag gemaak het.

En wat my laat omdraai het, my lewe se rigting wat gesondheid aanbetref so 5 jaar gelede laat verander het, was nie ‘n besoek aan die dokter of die gym se skaal nie.

Dit was dat ek my lewensstorie begin uitskryf het indien ek op hierdie pad aanhou.

“As ek aanhou op hierdie pad, watter storie gaan ek hê om te vertel?”

Waarskynlik ‘n storie van slaaploosheid, van bloeddruk- en rugprobleme, van diabetes.

Van ‘n pa wat nie saam sy kinders kan speel nie ens. ens.

 

As jy enige area van jou lewe vanoggend vat, geestelik, fisies, vriendskap, verhoudings, finansieel, emosioneel, beroep, sport.

As jy aanhou op die pad van daardie area van jou lewe, watter storie gaan jy hê om te vertel?  Gaan die ‘n goeie storie wees?  Of gaan dit ‘n hartseer storie wees?

Want hier is wat ons almal doen, ons verklein die gevolge van swak besluite in ons lewe.

 

Ons dink, aaggg, daar is nog tyd, ek sal dit later reg maak.  Ek sal nog daarby uitkom.

Wat ons nie besef nie is dat ons elke dag al hoe verder op ‘n pad stap in die verkeerde rigting.  En sommige van daardie paaie raak maande en jare en selfs dekades lank.

En omdat ons nie intense pyn het wat ons forseer om te verander nie, dink ons die gevolge van al hierdie klein besluite gaan nie so groot wees nie.

 

So, in hierdie reeks gaan ons 4 besluite maak:

Ons gaan besluit om te begin, om op te hou, om te bly en ons te gaan.

Vandag gaan ons besluit om op te hou.

 

In die O.T. was daar ‘n man met die naam Moses waarmee meeste van ons kan identifiseer.  Moses was oorweldig deur die eise van sy werk (roeping).

Hy kon eenvoudig nie byhou met die druk en die eise van die mense nie.

Hy moes soos ‘n pa van klein kindertjies heeltyd regter speel om die geskille wat hulle met mekaar het te probeer uitsorteer.  Gelukkig het hy ‘n wyse skoonpa gehad wat hom raad gegee het.

Eks. 18:17-19    “Sy skoonpa sê toe vir Moses: “Jy hanteer die saak nie reg nie. Jy en die volk sal die pas nie kan volhou nie. Dit is te veel vir jou. Jy kan dit nie alles op jou eie doen nie. Luister nou na my raad. Mag God jou help om die volk by Hom te verteenwoordig. Jy moet voortgaan om hulle probleme na Hom toe te bring vir uitsluitsel.” NLV

Dan sê hy, “Okay Moses, hier is die plan, kies leiers wat bekwaam is, lei hulle op en deel

die mense dan in 10’s, 50’s, 100’s, 1000de op.  Stel ‘n leier oor elkeen van hierdie groepe aan.”

Wanneer daar dan probleme kom, wil ek hê dat jy jou outoriteit moet delegeer aan hierdie leiers om die dinge namens jou te hanteer.

Eks. 18:22-23    “Hulle moet dan as regters optree in die alledaagse sake. Vir groter sake moet hulle na jou toe kom. Die gewone sake kan hulle self hanteer. Hulle sal die las van jou skouers afhaal en dit saam met jou dra. As jy so maak en God jou lei om dit so te doen, sal jy die vrag kan dra en almal sal tevrede wees.”

 

Die goeie nuus is dat Moses na sy skoonpa geluister het en daarom het ons ‘n wonderlike storie om oor Moses vandag te vertel.

Hy was bereid om te luister, Hy was bereid om te verander, Hy het dit met hulp gedoen.

So hier is wat ek wil hê jy vandag moet doen:

Kies een area van jou lewe waar jy iets doen wat nie goed is vir jou toekoms storie nie.

En ons gaan hierdie area van ons lewe vir die Here gee om Sy hulp te vra om ‘n einde daaraan te bring.

 

Nou, ek gaan jou ‘n paar redes gee hoekom ek dink dit ‘n einde moet kry:

Hoekom moet jy ophou met iets wat nie goed vir jou is nie?

1.  Jy weet nie waarop jy uitmis as jy nie ophou nie.

Soms aanvaar ons eenvoudig dinge net omdat ons bekend daarmee is.

Ons weet nie watter vreugde, vervulling, genot, vrede daar sal wees indien ons besluit om op te hou nie.

Letterlik, klein of groot, jou hele lewe se storie kan anders wees as jy net die kans wil vat om te doen wat nodig is sodat jy kan ophou.

 

2.  Jy weet nie wat die prys sal wees as jy nie ophou nie.

Hierdie kom weer terug na my vraag van vroeër toe:  As jy hierdie pad waarop jy is aanhou loop, waar gaan dit jou uitbring?  Gelukkig?  Vervuld?  In God se wil?

Of ongelukkig?  Misluk? en vêr van God af?

Dink aan Moses, speel die storie so bietjie vooruit… Wat sou met hom gebeur het indien jy aanhou superman probeer wees en alles vir almal wees?

Wel, mens sien dit baie vandag.  Angsaanvalle, depressie, selfmoord.

Mens sien mense wat kwaad vir God word omdat Hy sekere dinge toelaat in hulle lewe.

Intussen het God niks daarmee te doen nie.  Die was soms jare en jare se klein besluite wat maar net eenvoudig geakkumuleer en opgehoop het.

Wat ek wil hê jy moet doen vandag is:

Dink aan daardie area van jou lewe wat nie op ‘n goeie pad is nie en speel die storie vorentoe. (Fast forward dit.)

Wees maar eerder ‘n bietjie dramaties sodat die “pennie kan val”.

 

Bv. As ek aanhou met hierdie mense uithang gaan ek in die tronk beland.

As ek aanhou om my liggaam te ignoreer gaan ek nie daar wees vir my kleinkinders nie.

As ek aanhou om te ontken dat ek ‘n probleem het, gaan ek nooit ophou drink, na pornografie kyk of dobbel nie.

As ek aanhou voortploeter in my huwelik gaan ek nooit gelukkig wees in my huwelik nie.

As ek aanhou oorspandeer en bo my inkomste leef gaan ek my skuldlas so groot maak dat ek nie daar kan uitkom nie en alles verloor.

Speel die storie vorentoe…

 

Ons is aan die begin van ‘n nuwe jaar – kan ek jou vra:  Wat wil God vir jou hê?

As Jesus Christus die middelpunt van jou lewe is sal dit waarskynlik iets wees soos:

God wil hê dat ek meer aandag aan my familie gee, dat ek geestelik moet groei, dat ek betrokke moet wees in Sy koninkryk, dat ek ‘n verskil in mense se lewens moet maak, dat ek my finansies aan Hom moet oorgee.

 

Nou, hier is die toepassing vraag:

In die lig van die storie wat God wil hê jy moet vertel, wat wil God hê moet jy ophou doen?

Wat moet ek ophou doen vandag, sodat ek in die toekoms die regte storie van my lewe kan vertel?

Wanneer jy hieraan dink gaan daar dalk ‘n paar dinge in jou gedagtes opkom.

Kies net een.  Nie 7 nie.  Net een.

 

Hebr. 12:1-2       “Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. (we must get rid of everything that slows us down, especially sin that distracts us) Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop.”  NLV

Nou, laaste ding wat ek wil hê jy moet besef.

Jy kan dit nie alleen doen nie.  Moenie eers probeer dit op jou eie, net met wilskrag probeer nie.  Dit gaan verseker nie werk nie.

Die mag van sonde en slegte gewoontes is eenvoudig te sterk selfs vir die persoon met die sterkste wil.

 

Kry ‘n iemand om saam met jou die mag van verkeerde gewoontes te breek.

Kry ‘n “spiritual running partner”.  Kry ‘n kundige persoon wat weet hoe om jou te help.

Dan, deur die krag van Jesus kan jy enigiets stop wat Hy jou vra om te stop.

Dit is een dag op ‘n slag.  Nog ‘n dag wat jy nie die heeltyd op jou foon by die huis is nie.

Nog ‘n dag wat jy nie na pornografie kyk nie.  Nog ‘n dag wat jy nie jou kredietkaart of “Access bond” gebruik nie.  Een dag op ‘n slag.

 

Verander die storie van jou lewe.  Dalk het jy vir jare lank al gedink dat daar ‘n dag moet kom wat ek gaan ophou met iets.  Dan is vandag daardie dag.

Jy KAN, en met God se hulp GAAN jy en SAL jy elke mag wat oor jou is oorwin.