My Storie… ek het besluit om te gaan

[powerpress]

Ons is besig met ‘n reeks: My Storie.

Die reeks gaan daaroor dat almal van ons ‘n storie het wat deur ons lewe vertel word.

Ons het sedert begin Januarie gesels oor:

Ek het besluit om te begin.   Ek het besluit om op te hou.  Ek het besluit om te bly.

Vandag:  Ek het besluit om te gaan.

Die besluite wat jy vandag maak, bepaal die stories wat jy môre gaan vertel. 

Vir party van ons gaan ons op hierdie stadium van ons lewe ervaar dat dit vir ons tyd is om ‘n nuwe stap in geloof te neem.

Daar is dalk iets nuut, iets anders, iets wat jy al uitgestel het.

En dit sou vir jou makliker gewees het om te bly waar jy nou is of was maar jy ervaar in jou binneste dat dit ‘n hoofstuk in jou storie is wat moet begin.

En in daardie besluit lê onsekerheid, dalk vrees maar jy weet diep in jou binneste dat jou groei lê in daardie onsekerheid.  Om die ‘comfortzone’ te los is waar jou groei lê.

Dit is nie maklik nie, want ons almal hou van die bekende en die gemaklike maar meeste van die tyd lê ons groei as mense nie daar nie maar in die onbekende.

 

Ek onthou in my lewe hoe ek al by sulke besluite of deure gestaan het waar ek verskriklik ongemaklik en onseker gevoel het maar waar ek terug kyk hoe dit die beste keuses van my lewe was.

Ek onthou hoe ek as ‘n tiener van 17 jaar oud gevoel het dat hierdie kerk storie by die kerk waar ons was nie vir my werk nie.  Daar moes meer wees.

Ek het toe op uitnodiging van ‘n onderwyser saam met hom kerk toe gegaan en daar het ek een aand kop aan kop in Jesus vasgeloop.

 

Die Heilige Gees het my so oortuig van God se werklikheid en teenwoordigheid dat ek sommer daardie aand sonder my ouers se medewete my daar as gelowige laat doop het.

My hele lewenstorie het verander sedert daardie besluit op een Sondagaand.

Dan onthou ek hoe ek deur gemeente in Port Elizabeth uitgenooi was in 2002 om by hulle te kom preek.  Ek was werklik in ‘n groot ‘comfortzone’ in ‘n groot gemeente met baie byvoordele en die Here het vir my gevra toe hulle my later beroep:  Sal jy vir my gaan?

Daardie antwoord het die laaste 12½ jaar van my lewenstorie geword.

As ek gebly het en vir daardie vrees en onsekerheid toegegee het sou die wonderlikste 12 jaar van my bediening nie gebeur het nie.

Niemand het gesê dat dit maklik of altyd lekker was nie, maar my groei as mens en as geroepe dissipel van Jesus het gelê toe ek “ja” geantwoord het toe die Here my wou stuur.

Soms is die beste besluit wat jy kan maak om te gaan, as dit makliker was om te bly.

 

Verlede week het ons gekyk daarna dat dit soms vir ons makliker is om te gaan en tou op te gee, eerder as om te bly en deur ons uitdagings te groei.

Maar vandag is daar sommige van ons wie die Here roep om die bekende, die gemaklike, die ‘comfortzone’ te los en te kom op ‘n plek waar ons kan groei en deur Hom gebruik kan word.

 

Die verhaal in die O.T. wat dit goed illustreer is die verhaal van Abraham en Sara.

Hulle lewenstorie gaan oor Abram wat ‘n afgod, die maan aanbid het.

Hy het in Ur gewoon en die Here het na hom toe gekom en hom ‘n eenvoudige maar direkte opdrag gegee:

Gen. 12:1  “Die Here het vir Abram gesê: “Trek weg uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis en gaan na die land wat Ek jou sal aanwys.”  NLV

Die Here sê vir hom, los die bekende, die gemaklike, die voorspelbare en gaan waar ek jou wil gebruik.

 

Dink aan Abraham, hy moet al sy familie, sy sekuriteit los en gaan na ‘n plek toe waar jy nog nooit was nie.  In daardie tyd kon jy nie net op ‘n vliegtuig klim en terug vlieg huis toe as dinge nie uitwerk nie.  Al wat hy het is ‘n belofte:

Gen. 12:2-3        “Ek sal jou die voorvader maak van ’n groot nasie. Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees, en vir ander tot ’n seën sal wees. Ek sal dié seën wat jou seën en dié wat jou vervloek, sal Ek vervloek. In jou sal al die mense op die aarde geseën word.”  NLV

 

Abraham word verander deur hierdie belofte wat God aan hom gemaak het.

Die beloftes wat ons maak aan God verander ons nooit nie.  Dit is die wat God maak.

En wat doen Abraham:

Gen. 12:4  “Abram het toe weggetrek soos die Here hom beveel het en Lot het saamgegaan. Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran weggetrek het.”  NLV

Ek wil hê jy moet net hier stop vir ‘n oomblik en dink, wat sou gebeur het as Abram nie gegaan het nie?

Wat as hy dit gerasionaliseer het soos ons baie keer doen en gedink het, ek kan nie nou daarby uitkom nie.  Ek het my redes maar nou is nie ‘n goeie tyd nie.  Ek wil eers…

Dit is makliker om te bly by wat vir my gemaklik en bekend is.

Ons het probeer om kinders te kry maar dit het nie gewerk nie.  Dis nie dat dit nie lekker was om te probeer nie, maar dit het nie gewerk nie.

 

Vandag nog verwys baie mense na die God van…. Abraham, Isak en Jakob.

As Abraham nie gegaan het nie, dan sou daar nie ‘n Isak en ‘n Jakob gewees het nie.

Dan sou hy nog in Ur gesit het en die maangod aanbid het.  Reg?

Hebr. 11:8 “Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ’n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland.”  NLV

 

Ek is hier om vandag vir iemand te sê dat daar ‘n hoofstuk in jou lewe gaan kom waar jy gaan ervaar dit is tyd vir iets nuuts, vir iets anders.

En dit sal baie makliker gewees het om te bly in die gemaksone waar jy nou is.

En jy kan al die verskonings en redes opnoem hoekom jy nie nou daarby kan uitkom of hoekom die tyd nie reg is nie of hoekom die hoofstuk nog nie klaar is nie MAAR…

Diep in jou binneste het jy lankal die trek van die Heilige Gees ervaar dat die tyd gekom het om te beweeg en die veilige hawe te los.

 

“Twenty years from now you will be more disappointed by the things you didn’t do than by the ones you did. So throw off the bowlines, sail away from the safe harbour. Catch the trade winds in your sails. Explore. Dream.”  Mark Twain

 

Die keuse vir jou is tussen vrees en geloof.  Vrees dat dit nie reg kan uitwerk nie.

Of Geloof in God se stem, wat met jou praat om te gaan na ‘n plek van groei toe.

As God die outeur is van jou lewenstorie, wat is dit wat Hy vandag van jou wil hê?

As jy net ‘n tree terug kan staan, weg van jou vrees, verskonings en onsekerheid af:

Wat ervaar jy wil God vir jou sê?

Toepassing:  Watter stap in geloof moet jy neem?

 

Wat is jou volgende stap?  En vir almal kan dit iets anders wees.

Maar ek pleit by jou, moenie tevrede wees met die gemaklike, die veilige, die bekende nie.

Want dit is nie waar jou groei gaan wees nie.  Dit is nie waar vervulling sal wees nie.

Watter stap in geloof moet jy neem?

 

Ek glo ook dat jy vanoggend hier is vir ‘n rede.  Die Here het jou nie hiernatoe gebring het per toeval nie.  En nou is jy hier, en God wil jou gebruik en Hy wil jou bring op ‘n plek
van groei.

 

Vir party van julle is daardie stap in geloof ‘n besluit om te commit en deel te word van hierdie geestelike familie.  En jy moet volgende maand ons nuwe lidmate oriëntering bywoon en deel raak.

Vir party van julle is jy werklik in ‘n groef wat jou geestelike groei aanbetref en jy moet jou geestelike lewe ‘n prioriteit maak soos jy baie ander dinge ‘n prioriteit maak.

As dit jou nie iets gaan kos nie, as daar nie opoffering betrokke gaan wees nie, dan is dit waarskynlik nie iets wat ‘n verskil in jou lewe gaan maak nie.

En vir baie van ons is dit tyd om daardie geestelike traagheid af te skud en deel te raak van iets soos ‘n dissipelskap groep.

 

Vir baie van ons is dit baie gemaklik om net in die gehoor weg te raak en nêrens te behoort aan ‘n groep mense wat weekliks hulle lewe met mekaar deel nie.

En jy kan jou en jou kinders se besige program en ‘n lys so lank soos jou arm opnoem hoekom jy nie deel kan raak van ‘n omgeegroep nie maar jy weet jou swakpunt is dat jy hierdie geloofsreis of Christenskap ding as ‘n lone ranger aanpak.  Jy het nie ander mense nodig nie.  En die vrees dat mense jou gaan vra om dinge te doen en dat daar snaakse mense gaan wees wat jou irriteer hou jou weg van ‘n groep.

Maar ‘n geloofstap vir jou sal wees om die verskonings te los en by ‘n omgeegroep aan te sluit.

 

Dan dink ons sommige van ons twyfel in onsself en ons vermoë en ons weet dat die Here vir ons ‘n gawe of ‘n talent gegee het met iets, maar jy begrawe daardie talent.

Dalk is dit dalk al jare wat jy weggesteek is vir God se doel met jou in Sy kerk.

En vir jou is dit tyd om te besluit om die veiligheid van ‘n onbetrokke lid van hierdie familie te los en te begin om die plek waar die Here jou geplaas het te dien.

Om deur God gebruik te word hier waar jou medegelowiges jou nodig het.

Ons het werklik mense nodig in ‘n paar van ons kern bedienings soos ons kinderkerk, orkes, sopmaak bediening vir ons sopkombuis op Vrydae.

Hierdie is nie net dinge wat ons doen nie.  Dit is wie ons is.

Ons kinders is vir ons belangrik – hoe kan ons daardie generasie oorsien as hulle in 5 of 10 jaar van nou af volwassenes is wat dalk nooit weer kerk toe wil gaan nie.

Ons glo Sondae moet die beste uur van ‘n kind se week wees.  Hoe kan dit hulle beste uur wees as daar nie mense wat met opgewondenheid en liefde vir hulle bedien nie.

 

Wat beteken dit om kerk te wees?  Ek dink deel daarvan is om in mekaar se lewens betrokke te wees.  So teleurstellend en morsig soos dit partykeer kan wees.

Want ek weet nie of jy dit al agtergekom het nie, maar jy is nie perfek nie, en ek is verseker ook nie perfek nie.

Maar deur hierdie gebroke mense wat partykeer mens se heiligmaking toets werk die Here op maniere wat bo ons verstand is.

Anders kon ons almal maar by die huis gesit het en kerk op die TV gekyk het, as dit net oor ‘n goeie boodskap en mooi musiek gegaan het.

 

Nee, God gebruik hierdie mense wat om jou sit, so feilbaar soos hulle is, om jou te laat groei na die beeld van Christus.  Hoe werk dit?  Ek weet nie.

Maar vra maar vir Jesus se dissipels en vir Petrus wat die nommer 1 teleurstelling in Jesus se span was.  En ten spyte daarvan sê Jesus, Petrus op jou sal Ek my kerk bou.

Wat het Jesus gedink toe Hy daardie woorde gesê het?

En tog, 20 eeue later, hier sit ek en jy omdat die dissipels en die apostels bereid was om hulle lewens met mekaar te deel en om te gaan, toe God vir hulle gevra het om te gaan.

 

So wat is jou volgende stap in jou geestelike lewe?

Het jy geestelike doelwitte?  Wat is besig om in jou geestelike lewe te gebeur?

Of hoop jy maar dat jy vanself net soos Jesus Christus sal word as jy so nou en dan kerk toe gaan?  As dit maar net so was, dan was van ons engele en die wêreld dalk ‘n ander beter plek.  Nee, die prys om soos Christus te word lê verseker nie by die bekende nie.

Dit lê in die onbekende, die moeilike, die vertroue in Hom, nie in jouself nie.

Daarom daag ek jou vandag uit – om te gaan.  Gaan na die plek toe gaan jy moet wees om te groei sodat jy God en jou medemens liewer kan hê.