Nooit weer… moet jy korttermyngemak bo langtermynvoordeel kies nie

[powerpress]

Ons reeks nooit weer nie… gaan oor verandering in ons lewe.  Die Here nooi ons tot wysheid en tot deure van verandering in ons lewe. Wanneer jy deur hierdie deure van verandering gestap het, sal jy uitvind dat jy nooit weer wil terugkeer na die ou manier van dinge doen nie.  Vandag:

Nooit weer moet jy korttermyngemak bo langtermynvoordele kies nie.

Dalk het hierdie situasie in jou huis al afgespeel:

My seun kom huppel huppel ingehardloop en die trane loop van sy gesig af.

Wat gaan aan probeer ek uitvind?  Ek het in ’n splinter getrap.

Dit is sommer dan wat ek weet hier kom nog meer trane.

As ek kyk sien ek daar is iets in sy voet maar my moed sak sommer tot in my skoene want dit lyk baie diep.

 

Dan die slegte nuus.  Ons gaan hom moet uithaal met ’n naald.

Die onmiddellike teenvraag kom dan ook veral as hulle klein is:  Gaan dit seer wees?

Nou hoe antwoord mens hierdie vraag?  Sê jy “ja” dan wil hy nie eers verder kyk in die eerste plek nie.  Sê jy “nee” en dit is wel seer dan kom die verwyte.

So gewoonlik draai mens die antwoord in so bietjie watte toe, ja dit gaan so bietjie seer wees maar dit gaan gou oor wees (of so hoop jy) en dan kan jy weer gaan speel.

 

Dan die operasie, koplig is aan, naald in die hand, skerpste oë wat jy kan en jy begin die vel losmaak of wegskeur tot jy die splinter kan uitkry.

En wat leer ons hulle – as jy nie die klein rukkie se pyn kan verduur nie, sal die splinter daar bly en nog net baie seerder raak.

Eerder nou pyn vir so rukkie maar dan kan jy later rondhardloop soos jy wil.

 

Ek het gehoor van ’n man wat bang was vir die tandarts. Wie is nou bang vir ’n tandarts?

Toe hy tand gekry het wat begin pyn het, het hy gehoor van ’n vloeistof wat jy op jou tand kan gooi om die pyn weg te neem.  Dit was wonderlik.

So elke paar uur het hy net ’n paar druppels op sy tand gegooi en die pyn was weg.

Die probleem was natuurlik dat die eintlike probleem nie aangespreek is nie wat ’n tand was wat begin sleg raak het en reggemaak moes word.

Maar omdat hy die ongemak, vrees, gekners van tande nie wou deurmaak nie het die tand begin vrot en op die ou einde moes die tand getrek word omdat hy verlore was.

 

1.  Uiteindelike sukses het altyd eers korttermyn pyn.

Baie mense se lewenspatroon is “om pyn te vermy”.  Dit is hulle onbewuste lewensdoel.

Die waarheid is dat almal voor situasies te staan kom wat ons noop om iets pynliks te doen.  En eers wanneer ek besef dat ek die neiging het om oombliklike pyn wat nodig is, te vermy en besluit om korttermynpyn te verduur kan ek aanbeweeg in my lewe.

Selfs in hulle geloofslewe glo hulle dat daar altyd voorspoed moet wees en dat dit altyd goed moet gaan.

Dit bring ’n mens natuurlik op ’n krisis uit die dag wanneer jou geloof wel getoets word en wanneer God nie alles doen wat jy graag wil hê Hy moet vir jou doen nie.

1 Pet. 5:10 “God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.”  Afr83

Hoe ontwikkel ’n mens sterk geloof?  Geloof wat getoets word raak sterk.

Die Bybel se boodskap is baie duidelik, dieselfde pad wat Jesus gestap het, sal ons ook stap.  Nie in dieselfde mate en intensiteit dalk nie maar ook die pad van korttermyn pyn.

“Jesus was patient under even greater suffering for us, so we can be patient under lesser suffering for him.” Timothy Keller.

Pyn kom altyd voor plesier, belegging voor wins, studie voor ’n kwalifikasie, oefening voor gesondheid, ongerief voor genesing.

Ek kom van baie kerke te hore wie se omgewing met die jare so verander het dat hulle eintlik geforseer word om een van twee dinge te doen.

Of hulle moet verander saam met die omgewing.  Of hulle moet wegtrek uit hulle omgewing.  Die vrees en pyn daarvan is vir meeste ouer mense wat by daardie gemeente in leierskap is te moeilik en riskant dat hulle niks doen nie.

Die uiteinde is ’n gemeente wat stadig maar seker irrelevant vir hulle omgewing raak.

 

2.  Luiheid is nie onaktief nie, luiheid is om pyn te vermy.

Ons dink meeste van die tyd dat ’n luiaard iemand is wat niks doen nie en aan die slaap raak op die bank.    Coach potato of stoel patat.

Maar wat ek ontdek het, is dat daar baie geweldig aktiewe mense is wat baie lui is.

Hoe is dit moontlik?  Die Bybel gebruik die woord luiaard gewoonlik in die konteks van iemand wat traag is en wat ongemak of pyn wil vermy.

Jy kan m.a.w. ’n luiaard wees en baie aktief wees.

Enigiets waardevols het ’n eie ritme:  eers pyn, dan beloning.  As ons sommer vroeg die pyn aanpak, sal die beloning ook gou volg.

Die teenoorgestelde geld ook: As ons nou die pyn vermy, sal die beloning nooit kom nie.  En daar sal meer pyn later wees.

Mense wat pyn vermy, sal nie kry wat hulle graag wil hê nie.  Punt.

En in ’n tydsgees waar onvergenoegdheid en entitlement aan die orde van die dag is, is dit iets wat al hoe belangriker gaan word.

’n Paar voorbeelde:  ’n Meisie gaan met ’n ou uit aan wie sy geheg geraak het maar sy weet op die langtermyn is hy nie die ou wat sy mee wil trou nie.  Hulle waardes is te verskillend en daar is dinge in sy persoonlikheid waarvan sy nie hou nie en wat nie gaan verander nie.

Tog stel sy die onvermydelike net meer en meer uit.  Sy wil eerder in haar huidige werklikheid leef met skuldgevoelens as om te doen wat sy weet reg sou wees.

Waarom neem sy nie hierdie stap nie?  Sy weet dit gaan vir haar en hom baie pynlik wees.

’n Besigheidsman het ’n besigheid in ’n omgewing wat verander het en hy weet dat hy moet skuif.  Hy sal nooit sy potensiaal bereik as hy bly waar hy is nie.

Maar elke keer as hy dit oorweeg, dink hy aan die 6 maande se ontwrigting, die kliënte wat hulle gaan soek, die telefone, die voorraad, die werkers wat gaan kla, die versekering, die aanvanklike hoër uitgawes en nog baie meer.

Elke keer as hy aan die pyn dink van skuif dan stel hy dit weer uit.

Die uiteinde:  Sy besigheid gaan onder omdat hy nie meer kan groei waar hy is nie.

Hoekom kom hy nie so vêr nie?  Hy het geweet dit gaan baie pynlik wees.

God se boodskap is duidelik:  Gaan eers deur die regte soort pyn en jy sal kry wat jy wil hê.  Eers ’n sterwe, dan ’n opstanding.  Eers ’n opoffering dan ’n beloning.

1 Pet. 4:1-2         “Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen dat wie liggaamlik gely het, met die sonde afgereken het: vir die res van sy aardse bestaan word sy lewe nie meer beheers deur menslike begeertes nie, maar deur die wil van God.”  Afr83

Haal eers die doring uit voordat jy verder speel.  Of anders gestel:

As jy die oorvloedslewe wat Jesus vir ons kom gee het wil hê, sal jy eers moet sterf vir die jouself en die eie-ek.

 

3.  In die voetspore van Jesus beteken dat ek ook pyn sal verduur.

In die voetspore van Jesus beteken dat my gemak ondergeskik aan God se wil is.

In die voetspore van Jesus beteken dat ek nie kan uitstel wat ek weet die regte ding is om te doen nie.

In die voetspore van Jesus beteken dat ek soms alleen en verlate sal voel omdat dit nie ’n gewilde keuse sal wees nie.

Maar die liefde, die vrede dat jy die regte ding doen, sal op die langtermyn elke stukkie ongemak en pyn wat jy nou moet verduur verreweg oortref.

Hebr. 12:1-2       “…laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.”  Afr83

Dink net weer aan dit wat Jesus vir jou deurgegaan het…

Hy het dit nie gedwonge gedoen nie, Hy het dit gekies.

En Sy keuse vir pyn is iets wat ’n resultaat gebring het, wat jou lewe radikaal geraak het.

Hy het gekies om te ly, om jou met God te versoen.  En sodat daar vergifnis in hierdie wêreld kon inkom vir elke mens wat kies om Hom ten volle te aanvaar.

Hy is verneder, mishandel, het pyn verduur tot sy dood toe, sodat ek en jy vandag kan ervaar wat dit is om naby aan God te kom.

Om daardie intimiteit en vriendskap te ervaar wat ons altyd na sou gesoek het.

Om ’n brug te bou tussen ons en Hom wat alles verander het.

In die voetspore van Jesus beteken ook dat ek die pyn moet verduur om te sterf en die eie-ek te kruisig en nie meer vir myself te lewe nie.

 

Dit is gewoonlik moeiliker as wat ons verwag het.  Ja, maar wanneer jy nader en nader aan Hom beweeg en meer en meer van Hom ervaar soos Hy regtig is, sal jy jouself afvra: Hoekom het ek dit nie vroeër gedoen nie?

Watter pynlike stap is jy besig om te vermy?

Watter besluit stel jy uit omdat dit vir jou bitter moeilik is?

Moenie dit verder uitstel nie.  Moenie die splinter in jou voet los of die pynstiller net weer op daardie seer tand gooi nie.  Nee, doen wat moeilik is vir nou, maar ervaar die vreugde van langtermyn geluk as jy doen wat jy oortuig in jou hart van is.