Nooit weer… moet jy vergeet dat jou innerlike lewe jou uiterlike sukses bepaal nie

[powerpress]

Ons reeks nooit weer nie… kyk ons na ’n paar lewensbeginsels wat wanneer ons dit begin leef jou lewe ingrypend kan verander.

Wanneer jy deur hierdie deure van verandering gestap het, sal jy uitvind dat jy nooit weer wil terugkeer na die ou manier van dinge doen nie.  Vandag:

Nooit weer moet jy vergeet dat jou innerlike lewe jou uiterlike sukses bepaal nie.

As ek vir julle vra, hoe lyk ’n boom?  Hoeveel van julle sal iets beskryf wat so lyk? (boom met net ‘n bokant)

Maar dit is net die helfte van ’n boom, daar is ’n deel van ’n boom wat ons nie kan sien nie.  Eintlik lyk ’n boom so.  (Boom met wortels ook) Maar omdat ons nie die onderste deel sien nie dink ons nie hy is belangrik nie.

Maar die waarheid is dat die onderste deel van ’n boom eintlik belangriker is as die boonste deel van die boom.  Want ‘n boom sonder sterk en gesonde wortels sal eintlik nooit vrugte dra nie en sal mettertyd sterf omdat hy nie genoeg voeding kry nie.

 

Die grootste deel van ons lewe fokus ons op die uiterlike. Hoe ek lyk, hoe ek presteer, wat ander van my dink, die dinge wat ek het, die dinge wat ek doen. Ons leef met die bokant van die boom in gedagte.

Ons spandeer meeste van ons tyd, ons geld, ons aandag aan ons uiterlike lewe. Dit is vir ons verskriklik belangrik om ons beeld na buite goed vir mense is.

 

Mat. 7:17-18       “Weet julle, alle mense op aarde is eintlik soos vrugtebome: goeie vrugtebome dra elke jaar goeie vrugte. Slegte bome dra weer net slegte vrugte. Dus: goeie mense doen dinge wat God se hart bly maak, terwyl slegte mense dinge doen wat Hom kwaad maak. So eenvoudig is dit. “Ek sê weer: kyk maar net hoe mense elke dag leef. Dan weet julle wat in hulle hart omgaan!”  DB

Ons het ’n innerlike mens wat vir ander mense nie sigbaar is nie maar dit God sigbaar is

Hierdie innerlike mens is eintlik meer belangrik vir God as ons uiterlike mens, dit wat almal sien, want leer die Bybel ons, God kyk na die hart van mense.

Hierdie innerlike jy, is jou gedagtes, emosies, drome, begeertes, talente, energie, gees.

As ons praat van die ewige lewe en dat jy ’n ewige wese is, dan is dit hierdie gedeelte van jou menswees waarvan ons praat.

As jy ongemaklik is met die innerlike lewe dan beklemtoon dit eintlik net hoe jy soos meeste mense nie in voeling is met jou werklike innerlike self nie.

Hoe meer ek klem lê op my uiterlike lewe, hoe meer onbelangrik raak my innerlike lewe.

Hoe groter my uiterlike lewe is, hoe vinniger lewe ek, hoe makliker raak ek moedeloos en geestelik en emosioneel uitgeput.

Eintlik is ons geskep om van binne af buitetoe te lewe en nie andersom nie.

Wat in my wortels (onsigbare) van my lewe aan die gang is, vorm en maak my uiterlike lewe.  Die boom se wortels bepaal wat sy vrugte gaan wees.

Spreuke 4:23     “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”  AFR83

Wat is jou hart?  Dit is jou gedagtes, jou begeertes, jou emosies.

 

1.  Die goeie lewe is nie aan die buitekant nie.

Wanneer is kyk na Jesus se lewe, dan sien ons iemand wat van binne af buitetoe gelewe het.

Hy het nie probeer om mense se beïndruk nie.  Hy het nie gedink groter is beter nie.

Hy het geweet dat wie jy is, is vêr meer belangrik as wat jy doen.

Trouens Hy het so afsku gehad in oppervlakkigheid of mense wat maak of hulle baie vrug het maar eintlik vrot is aan die binnekant dat Hy die kwaadste vir hulle geword het.

Mat. 23:24-25     “Sowaar, julle is soos iemand wat die buitekant van ’n skottel silwerskoon maak maar dit binne-in net so vuil los. Dit is vir julle baie belangrik hoe mense van buite lyk. Hoe hulle egter van binne lyk, pla julle glad nie. Hulle kan selfs maar vol haat en allerhande ander lelike dinge wees, dit maak nie saak nie! Fariseërs, maak tog asseblief julle oë oop! Sorg eers dat die binnekant mooi skoon is.”  DB

Waarvan praat Jesus?  Hy praat van hulle innerlike mens.

Want vrug / sukses in die lewe kom van die binnekant af en nie van die buitekant af nie.

Die innerlike mens is gefokus op wie jy is.

Die uiterlike mens is gefokus op wat jy doen.

Jesus se advies:  Wie jy is, is baie meer belangrik, as wat jy doen.

 

Sielkundige navorsing wys dit ook vir ons.

Dr. Henry Cloud skryf in “The law of happiness” dat net 10% van ons geluk deur eksterne omstandighede bepaal word.

Ons dink dikwels: ‘As ek maar net geld gehad het, met die regte persoon kan trou, of alleenlopend is, in so huis gebly het, kon gemaklik aftree, DAN sal ek gelukkig wees.

Mense wat navorsing gedoen het, het agtergekom, dit help net so bietjie.

Ons is wie ons is; uiterlike omstandighede verander nie wie ons innerlik is nie.

Die 90% word opgemaak deur twee dinge.  1. Jou temperament en genetiese samestelling.  Party mense is net van baba af meer gelukkig as mense.

Die res het niks te doen met jou biologie of omstandighede nie.

2. Gewoontes, gesindheid of ingesteldheid.

M.a.w. ’n groot deel van jou lewensvreugde spruit uit wie jy kies om innerlik te ontwikkel.

Die geestelike jy wat God geskape het en wat jy kies om te ontwikkel.

 

2.  Die goeie lewe kom van die binnekant af.

As jy jou week in twee dele kon opdeel, hoeveel tyd bestee jy aan jou innerlike mens en hoeveel tyd bestee jy aan jou uiterlike mens?

Want die innerlike mens groei nie van self nie.  Wortels groei ook baie stadiger as wat blare of vrugte groei.

2 Kor. 4:16         “Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.”  AFR83

Die Skrywer van Korintiërs, Paulus se hier, dag tot dag.  So ek moet elke dag soos wat ek skeer, my grimering opsit, my tande borsel, my hare kam.

Elke dag innerlik ook gewoontes hê om innerlik te groei.  Om deur Jesus se teenwoordigheid in my lewe getransformeer te word in ander mens.

Om weer terug te kom:  Hoeveel tyd bestee jy elke dag aan jou uiterlike en hoeveel tyd aan jou innerlike?  My vermoede is dat die skaal waarskynlik baie swaarder weeg aan die uiterlike kant.

Die dag wanneer ek besef ek is hier op aarde geplaas nie om ’n naam vir my self te maak nie maar om God se naam te heilig dan verander my lewensuitkyk.

Die dag wanneer ek besef dat ek nie gebore is om my koninkryk te bou nie, maar om Sy koninkryk te bou, dan raak ek baie minder angstig en bekommerd oor dinge.

Die dag wat ek besef dat ek nie my wil hoef te laat geskied nie maar Sy wil laat geskied, dan kan ek ontspan want ek is nie meer in beheer nie maar Hy is.

Bid ons tog nie so maklik, laat Naam geheilig word, laat U koninkryk kom, laat U wil geskied sonder om eers te dink wat dit beteken nie?

 

Jou verhouding met God is veronderstel om ’n kompas in jou lewe te wees, jou ware Noord.  As ons weet ons innerlike dié belangrikste ding in die lewe is, dan sal ons kies om tyd en energie daaraan te bestee om God en ons geestelike groei bo al ons gemak en begeertes te plaas.

Want sukses of vrugbaarheid kom uit ons identiteit as kinders van God en uit ons hart.

Ongelukkig is dit stadig en soms pynlik omdat God wegkap of wegbrand, alles wat nie in Sy beeld is nie.

Wanneer ons Hom toelaat dan kom Hy met tyd en maak van ons ander mense met nuwe harte.

 

3.  Ons almal het ‘gebrokenheid’ in die lewe.

Dalk voel jy dit is wonderlik maar God kan nie hierdie rimpels in my lewe uitstryk nie.

Ek is opgefrommel deur hartseer en dinge wat nie uitgewerk het nie.

My innerlike mens is so klein dat ek nie eers weet of hy of sy nog daar is nie.

Dan wil ek jou sê dat ons almal ‘kwessies’ of issues in die lewe het.

Die effek van die gebrokenheid in hierdie lewe speel in ons almal se lewe ’n groot rol.

Of dit is dat ek nie myself kan aanvaar vir wie is ek is nie, disfunksionele verhoudings, moeilike werksomstandighede, uitbranding, stres, verlore drome, skuldgevoel, alleenheid…

Maar die waarheid is dat baie van daardie probleme afhang of ons versigtig is met ons innerlike lewe, ons hart, ons gedagtes.

Ons het ’n goeie Vader wat met sy liefde elke kraak van gebrokenheid wil kom vul in ons lewe.

Selfs met die omstandighede wat nie ons fout was nie, wil Hy kom en die beserings genees en vir ons nuwe oë gee om daarna te kyk en ons innerlik ontwikkel.

Hy wil die bekommernis oor al die uiterlike dinge wat ons lewe so oorheers wegneem en ons wys wie Hy is en hoe groot Sy liefde is.

Hy wil daardie mislukkings en onsekerheid verander in iets wat Hy gebruik om ons bruikbaar te maak vir Sy koninkryk.

Die outeur van ons lewe wil weer die storie skryf wat hy oorspronklik beplan het.

Item:  Onbeskaamd, Ontvou.

Die Here het die Israeliete se geroep om hulp gehoor toe hulle in Egipte was en Hy het hulle gered.  Maar hulle moes die reis van geloof en geestelike groei onderneem om die Beloofde Land te bereik.

Hulle moes toelaat dat Hy die werk IN hulle doen sodat hulle voorspoedig kon word.

Een van die grootste nooit-weer-lesse vind plaas wanneer ’n mens besef dat die oplossing van jou probleme nie daarin lê om ’n uiterlike oplossings te soek nie.

Nee, God stel baie meer belang in wat IN JOU gebeur as wat MET JOU gebeur.

Hy wil ’n innerlike lewensverandering in jou laat gebeur.

Hy wil jou kop-aan-kop in Sy Seun Jesus laat vasloop sodat die liefde en genade van Jesus jou kan omkeer.

Hy wil jou ’n nuwe deernis vir mense gee.  Want mense is sy agenda hier op aarde.

Hy wil jou denke verander want Hy weet as jou denke kan verander, sal jou hele lewe verander.

Hy wil jou ’n doel en ’n roeping gee.  Iets om voor te leef, iets om voor op te staan, iets om oor opgewonde te raak.

Maar meeste van alles, Hy wil jou hart hê.  Jou innerlike mens.

Want jou innerlike mens is die ware jy, nie die voorgee jy nie.

En hierdie innerlike mens wil Hy transformeer na Sy beeld, soos wat Hy oorspronklik beplan het.