Ons Bou 2015 – Ons bou ‘n lewe wat iets nalaat

[powerpress]

Elkeen van ons ‘n ingebore behoefte het om ons lewe te laat saak maak of betekenis.  Betekenis is baie meer as sukses.  Sukses is gewoonlik tydelik.  Maar iemand wat ‘n lewe van betekenis leef, is iemand wat ‘n erfenis of nalatenskap agter los wat lank nadat die persoon dood is nog bly voortleef.

Indien jy die nuus vandag moes kry dat jy net ‘n kort tydjie oor het om te lewe, sou dit enige verskil vir jou maak?

Een dag het ‘n man Jesus genader met ‘n soortgelyke vraag.

“Hoe kan ek die ewige lewe kry?”  M.a.w. “Hoe kan ek seker maak dat my lewe vir God saak maak?

 

Mark. 10:17-22  “Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”  Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ jy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder.” “Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.”  Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”  Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.”  AFR 83

 

Om God ten volle lief te hê sou beteken dat hierdie ryk jongman moes sy rykdom opgee en hy was nie gewillig om dit te doen nie.    Dink wat kon gebeur het as hy sy rykdom gebruik het om in God se koninkryk beleggings te maak

Dink maar aan mense in die Bybel wat honderde jare gelede geleef het en nog steeds praat ons oor hulle en lees ons oor hulle in die Bybel.

Sommige van hulle was nooit suksesvol gewees  in hulle tyd nie maar hulle het ‘n legacy gelos wat ons vandag nog inspireer.

 

Vraag:  Wat gaan jou lewe eendag nalaat?

As dit iets is wat kan opraak of verlore raak, is dit nie ‘n legacy nie.

As jy werklik jouself vir ander gee en opoffer, sal jy verseker ‘n verskil in hulle lewe maak.

Dit het ewige waarde.

 

Maar wat as jy saam met God werk?  Wat as jy dalk in staat is om jou lewe te gee vir die dinge waarvoor Jesus sy lewe gegee het?  Vir elke mens sonder onderskeid op aarde?

Vir Sy koninkryk hier op aarde.  Vir Sy liggaam of bruid of kerk hier op aarde?

Dan kan die saad van jou lewe dalk vir geslagte nog ‘n verskil maak in mense se lewe.

As ek dink aan die persoon wat my aan die Here voorgestel het – die vrug van my bediening is deels ook sy vrug omdat hy bereid wat om saam met God in my lewe te werk.

Dawid, een van die suksesvolste konings van alle tye kom op ‘n plek in sy lewe waar hy besef dat sukses eintlik maar leeg is.

Duisende soldate onder sy beheer, soveel oorloë gewen dat hy nie eers kon tel nie.

Persoonlike rykdom wat hy nooit self sou kon uitleef nie.

 

Maar wat was sy nalatenskap?  Wat gaan Dawid agter los?

Soldate?  Die buit wat hy in sy veldslae gewen het?  Goud en silwer?  Nee, hierdie goed is tydelik.  Maar hy kon hierdie goed gebruik om ewige beleggings te maak.

Dawid kom op ‘n plek in sy lewe wat Hy besef – ek moet my lewe en dit wat ek het, belê vir die ewigheid.

Ek moet saam met God werk.  Anders gaan my lewe nie veel tel nie.

 

1 Kron. 22:5-13 “Want Dawid het gesê: “My seun Salomo is nog jonk en onervare, en die huis wat vir die Here gebou gaan word, moet indrukwekkend en groot wees, ’n roem en ’n sieraad vir alle lande. Daarom tref ek vir hom die voorbereidings.” Daarom het Dawid voor sy dood al groot hoeveelhede boumateriaal bymekaargemaak.  Daarna het Dawid sy seun Salomo laat haal en vir hom verduidelik dat hy ’n huis vir die Here, die God van Israel, moes bou. “Ek wou ’n huis tot eer van die Here my God bou,” het Dawid vir hom gesê. “Maar die Here het vir my gesê: ‘Jy het baie mense doodgemaak in die groot oorloë waarin jy geveg het. Omdat jy so baie bloed voor My op die grond vergiet het, is jy nie die een wat ’n tempel tot my eer sal bou nie. Maar jy sal ’n seun hê wat vrede en rus in sy tyd sal beleef. Ek sal hom vrede met sy vyande en al die omliggende lande gee. Sy naam sal Salomo wees, en Ek sal vrede en rus in Israel gedurende sy regering gee. Hy is die een wat ’n tempel tot my eer sal bou. Hy sal my seun wees, en Ek sal sy Vader wees. Ek sal die troon van sy koningskap oor Israel vir altyd bevestig.’  “Nou, my seun, mag die Here met jou wees en jou suksesvol maak terwyl jy die instruksies volg wanneer jy die huis van die Here jou God bou.  Mag die Here jou ook wysheid en begrip gee sodat jy die opdragte van die Here jou God sal gehoorsaam terwyl jy oor Israel regeer. Want as jy sorgvuldig al die opdragte en bepalings uitvoer wat die Here deur Moses vir Israel gegee het, sal jy suksesvol wees. Daarom, wees sterk en vol moed. Moenie bang of moedeloos word nie.”

 

Kosbare oomblikke wat Dawid saam met Sy seun Salomo het.

Miskien het hierdie laaste paar jaar van Dawid se lewe meer getel as al die jare voor dit.

Hy gee sy seun raad.  Hy werk saam met God.

Hy gebruik sy lewe en die tydelike goed wat hy het, om ewige beleggings in die toekoms te maak.

 

Waarin belê jy jou lewe en besittings?

As jou lewe net gaan oor jou eie koninkryk en jou gemak en genot gaan dit nie ‘n verskil maak in enigiemand se lewe nie.

As jy jou lewe leef elke dag as ‘n verteenwoordiger van God.

Gereed om te doen wat Hy jou vra.

Gereed om enigiets van jouself op te offer t.w.v. God en Sy koninkryk DAN sal jy ‘n verskil maak in mense se lewens.

 

Die opgee van gemak en genot, is ‘n vereiste vir ‘n lewe wat iets nalaat.

Dink maar aan enige persoon wat ‘n betekenisvolle lewe geleef het en ‘n verskil gemaak het in ander mense se lewens en jy sal dadelik sien dat dit iemand was wat sy eie begeertes en genot ondergeskik gesit het aan die missie wat hy gehad het.

Dit is heel dikwels mense wat groot opofferings gemaak het om ‘n verskil in ander se lewens te weeg te bring.

 

Geen atleet wat lief is vir laat slaap, min oefen, ongesond eet het al ooit goud gekry op ‘n Olimpiese spele nie.

Geen gelowige wat ‘n verskil in God se koninkryk gemaak het, het nie ‘n lewe van selfkruisiging en selfopoffering geleef sodat God hom of haar kan gebruik nie.

 

Impetus, ons as gemeente is besig om soos die tema video van hierdie reeks vertel, ‘n boom te plant.  En hierdie boom kan dalk honderde jare oud word.

Deur vir ons as gemeente ‘n permanente tuiste te bou sal ons ‘n baken in ons stad word.

Ons kinders en hulle kinders en hulle kinders gaan nog die Here daar dien.

 

Wanneer ‘n mens deur Graaff Reinet die 5de oudste dorp in Suid Afrika ry is daar ‘n baken waarvan mense reg oor die wêreld weet.

In die middel van die dorp staan daar ‘n kerk.  Die NG gemeente Graaff Reinet.

Daardie kerk is gebou in 1886.  Vandag nog is daar ‘n sterk en aktiewe gemeente in daardie gebou.  Hulle is nog steeds ‘n baken vir die gemeenskap.

 

Kan jy jouself indink hoeveel mense moes in 128 jaar al in daardie kerk gesit het?

Kan jy jouself indink hoeveel mense is getroud in daardie kerk in 128 jaar?

Hoeveel mense het hulle geloofsverhouding met Jesus Christus begin in daardie gebou.

Daar word vertel dat die mense wat betrokke was met die oprig van die gebou lidmate was wat baie vrygewig was maar ook groot opofferings gemaak het.

Van die klipwerk is met ossewaens kilometers weg aangery om in die gebou in te bou.

A.g.v. hierdie mense se opofferings 128 jaar gelede het duisende oor die jare al hulle geloofsreis daar begin.

 

Ja, die ware kerk is die mense.  Dit mag ons nooit vergeet nie.

Maar na 128 jaar is die bydraes wat mense gebring het in 1886 nog steeds besig om ‘n nalatenskap te los.

Na soveel jare is hulle opofferings in tyd en geld nog steeds besig om dissipels vir God se koninkryk te maak.

In my oë is dit ‘n groot erfenis, nalatenskap of ‘n legacy.

Daarom Impetus gemeente, het die Here die geleentheid vir ons geskep om ook iets na te laat vir ons nageslag.

En ek glo dat Hy vandag ons uitnooi om deel te raak van ‘n wonderwerk wat Hy besig is om te doen.  Om in moeilike tye ekonomiese tye soos hierdie ‘n kerk te bou is nie in ons vermoë nie.  Maar dit is in God se vermoë.

 

Dawid het ook vir die volk gevra om hulle offers te bring sodat hulle ‘n huis vir die Here kon bou.

Dan bid Dawid ‘n lofpsalm om vir die Here dankie te sê vir Sy grootheid en Sy voorsiening

1 Kron. 29:13-14         “En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam, want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U, wat ons van U gekry het.”

 

Ons het verlede week gesien hoe die wonderwerk gebeur het met die brode en vissies wat hulle na Jesus toe gebring het.  Hulle moes gebring het wat hulle kon kry.  En dit is wat ons met ons geloofsoffer vandag weer gaan doen.

En toe, nadat Jesus daarvoor gebid het (vir dit wat te min was) het hulle begin uitdeel.

Soos hulle uitgedeel het, het die wonderwerk gebeur.

Soos wat ons verlede jaar begin het met ons bouwerk, het die wonderwerk ook in ons gemeente gebeur.  Dit wat met ons gebeur is ‘n reuse wonderwerk, moenie dit mis nie.

 

En ons kan kies om aan te gaan met ons gewone lewe met dinge wat elke gewone mens nastreef.  Gemak, genot, besittings, status.

OF ons kan kies om saam met God deel te raak van iets wat ‘n legacy gaan los.

Ons kan Sy ware kerk bou (die mense) deur ‘n fisiese kerk te bou waar duisende mense oor die jare Hom nog sal vind.

Ons kan betekenis met ons lewe vind deur in die grootste doel hier op aarde betrokke te wees.