Ons Bou ‘n DOELGERIGTE lewe
[powerpress]
“ONS BOU” VIDEO VERDUIDELIK:
Dit gaan vir ons oor groei, nalatenskap en ons bydraes.
GROEI
Ons glo dat die Here ons uitnooi om te groei in ons geestelike lewens in hierdie tydperk en ook dat ons as gemeente gereed moet maak vir ‘n groei tydperk.
Groei kan nie self gedoen word nie, dit word deur God gedoen en daarom glo ons ook dat organiese groei soos ‘n boom, dit vir ons die beste uitdruk.
Ons kan maar net die grond voorberei en die boom plant maar God is die een wat die groei gaan bring in ons lewens en in die gemeente.
NALATENSKAP
Soos wat die kinders in hierdie video die boompie gaan plant wat eendag ‘n reuse boom gaan word gaan ons as gemeente ‘n kerk bou wat eendag baie lewens gaan raak.
Wanneer jy dink aan ‘n kerkgebou van ‘n honderd jaar oud – hoeveel lewens het daardie gebou nie gehelp raak en jong paartjies het daar getrou en gesinne het daar kerk toe gekom nie? Dit is ‘n legacy of nalatenskap.
‘n Groot boom het ‘n nalatenskap, stories om te vertel. So ook gaan ons eendag baie stories hê om te vertel oor die tydperk wat ons kerk gebou het.
BYDRAES
Julle sal sien dat ons leuse vir die veldtog “elke druppel tel” is. Dit is gebaseer op die beginsel daarvan dat ons almal gelyke opofferings kan maak maar verskillende bedrae gaan gee.
Elke druppel tel, selfs dit wat lyk soos te min. In God se hande word die 2 vissies en 5 broodjies die bestanddele wat ‘n menigte gaan voed.
Al wat elkeen van ons kan doen is dit wat ons het, te bring en dit in God se hande te plaas sodat Hy die wonderwerk kan doen.
Vandag: Ons Bou ‘n DOELGERIGTE lewe
As ek vir jou sou sê: ‘Wat is die doel van die lewe?’ wat sou jy antwoord?
“Die doel van die lewe is…” hoe sou jy dit klaar maak.
Jou antwoord hang alles af, van die bril waarmee jy kyk.
Efesiërs 5:15-17 “Wees baie versigtig hoe julle leef. Leef soos mense wat weet wat God van ’n sinvolle lewe verwag en nie soos mense wat niks daarvan weet nie. Moenie jou tyd mors nie. Maak die beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry, want ons leef in moeilike en slegte tye. Moenie julle lewe mors deur sonder ’n doel te leef nie, maar maak seker hoe die Here wil hê julle moet leef.” Boodskap
Die lewe kan soms maar baie voorspelbaar wees.
Ek lees die verhaal van ‘n man in Los Angeles wat na 20 jaar terug na die huis toe gegaan het waar hy grootgeword het.
Vir interessantheid besluit hy om bietjie in die solder te gaan rondkrap.
En verbaas is hy toe hy ‘n ou jas van hom na 20 jaar in die solder kry.
Toe hy in die sakke voel kry hy ‘n strokie van skoene wat hy 20 jaar gelede ingegee het om reggemaak te word maar vergeet het om op te tel.
Vir die grap daarvan besluit hy om te gaan kyk of die winkel nog bestaan en sowaar.
Daar is die winkel en die oom wat daar gewerk het is nog steeds daar.
Die ou haal die strokie uit en gee dit vir die oomie.
Hy verdwyn agter in die winkel en kom na so 5 minute uit en sê vir die ou: “Hulle sal volgende Vrydag reg wees.”
Maar soms kan die lewe ook baie onvoorspelbaar wees.
Ons weet nooit wat kan môre gebeur nie.
Ons leef nie vir altyd nie. Selfs nie as jy jonk is en jy dink jy het nog baie jare voor jou is jy gevrywaar teen slegte nuus of ‘n tragedie nie.
Daarom skryf Paulus in Efesiërs: “Moenie julle lewe mors deur sonder ’n doel te leef nie, maar maak seker hoe die Here wil hê julle moet leef.”
Ons begin hierdie week vir 2 weke lank ‘n tydperk waar ons weer gaan toelaat dat die Here ons lei om betrokke te raak in die grootste beweging van alle tye op aarde.
Die Here se kerk, en meer spesifiek ons gemeente wat besig is om ‘n tuiste te bou wat sal dien as platform sodat ons die Here se koninkryk verder kan neem.
Hoekom is jy hier? Hoekom is ons hier? Hoekom is Impetus hier?
Wat vir ons belangrik is, is natuurlik sigbaar nie net in wat ons sê nie, maar eintlik eerder in hoe ons lewe. Ek kan tog nie sê dat my geloof my anker is maar ek het nie ‘n daaglikse lewende verhouding met God en ek praat nooit met Hom nie.
“Maak seker hoe die Here wil hê julle moet leef.” Wat sal dit beteken?
Wel, ek dink nie dit kom natuurlik of maklik nie.
Ons is nie ingestel om te dink wat iemand anders dink wanneer dit kom by ons eie lewe nie.
Ons sien dinge soos ons dit sien. Nie soos iemand anders dit sien nie.
As ek dink die lewe gaan daaroor dat jy alles net moet geniet en doen waarvoor jy lus is, dan word God net ‘n groot pretbederwer as Hy iets anders van my vra wat opofferend van aard is. En tog is dit die kern van die evangelie. Dat ons, ons lewe moet aflê.
Dat ons ons eie belang en eie begeertes moet aflê.
Mark. 8:34-37 “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis opneem en agter My aan kom. As julle probeer om julle lewe selfsugtig vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My en ter wille van die Goeie Nuus prysgee, sal julle dit juis red. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade? Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie.” NLV
So wat sê hy hier? Maak seker jy lewe vir die regte doel.
Doen ‘n voorraadopname
Enige besigheid moet elke jaar ‘n voorraadopname doen en ‘n finansiële jaareinde hê.
Besighede doen dit om te sien wat die werklike stand van sake in die onderneming is.
Wanneer laas het jy ‘n geestelike voorraadopname gedoen?
Ek kom nogal agter hoe ouer ek word hoe maklik dit is om een ding te sê of selfs te glo en om dan ‘n ander ding te doen. Ons verwar intensie met aksie.
Ek wil graag iets doen, is nie, ek is besig om iets te doen nie.
En heel dikwels wanneer dit kom by ons geloofsake is daar baie meer intensies as ware aksies en woord by die daad voeg.
Jak. 2:21-24 “Ons voorvader Abraham se geloof het dade geword: Hy het sy seun Isak op die altaar gelê en God het hom vrygespreek. Jy sien dus dat sy geloof gepaardgegaan het met sy dade, en die geloof uit die dade volmaak geword het. Dit het dus presies gebeur soos dit in die Skrif staan: “Abraham het tot geloof in God gekom, en God het hom vrygespreek.” Hy is selfs “vriend van God” genoem. Julle sien dus dat ’n mens óók op grond van sy dade vrygespreek word en nie net op grond van sy geloof nie.” NLV
Abraham is ‘n interessante karakter:
In die Bybel lees ons nie veel van Tera nie maar wanneer ‘n mens Joodse geskrifte gaan opkyk sien mens bietjie meer van hom.
Tera was een van die Babiloniese konings se minister. Later word daar vertel dat hy ‘n hoë priesters was van die afgode aanbidders, in koning Nimrod se paleis.
Die koning het vroeg al waarskuwings gehad dat Tera se seun Abram ‘n bedreiging vir sy koninkryk sou wees. Daarom het die koning probeer om Abram op ‘n baie vroeë ouderdom as baba al dood te maak maar Tera het hom uitoorlê en ‘n slaaf se baba is doodgemaak wat op dieselfde dag gebore is.
Abram het gevlug saam sy ma en het in ‘n grot weggekruip tot hy 10 jaar oud was.
Tradisie beweer dat Abram op vroeë ouderdom al besef het dat die skepping nie deur afgode gemaak is nie en het hy by sy groot oupa grootjie Noag en Sem geleer van die vloed en die ware God, ‘Yahweh’ wat alles geskep het.
Op ‘n stadium het Tera, Abram se pa, die afgode en die die Babiloniese koning verlaat en het besluit om na Kanaän toe te reis waar die beloofde land van die Jode was.
Dit was nie vir hulle maklik om uit Ur pad te gee nie. Hier is hulle gebore, dit was die bekende.
Dit is ook die plek waar Abram se broer begrawe is.
Tog het hulle alles opgepak en die lang reis aangepak na die onbekende Kanaän toe.
Mense wat leef met ‘n doel weet daar kom ‘n tyd wat die bekende gelos moet word en ‘n onseker reis in die onbekende aangepak moet word. Dit is nooit maklik nie.
Op pad Kanaän toe het hulle eers vertoef by Haran.
Wat net ‘n paar dae sou wees het later maande en jare geword.
Tera, Abram se pa, het gemaklik hier begin raak en nie meer kans gesien om die onbekende in te gaan nie.
Alhoewel Abram al oud was het hy waarskynlik elke jaar vir sy pa gevra, “Pa gaan ons hierdie jaar verder trek na die beloofde land toe?” en dan was die antwoord, “Nie hierdie jaar nie my seun, dalk volgende jaar.”
Dit het so aangegaan vir jare lank. Elke keer sê Tera, nie hierdie jaar nie.
En dan as ons die bekende roeping van Abram lees in Genesis 12 is Abram omtrent 75 jaar oud.
Abram kon by sy gemak en die bekende bly het. Hy het gehad wat hy nodig gehad het.
Hy was getroud, sy pa het tot inkeer gekom en die ware God begin aanbid.
Maar iets het hom laat voel daar moet meer wees. Daar is ‘n groter doel met die lewe.
Hy het ‘n roeping ontvang en dit sou by hom bly vir die res van sy lewe.
Luister: mense wat leef met ‘n roeping is nie tevrede met ‘n gemaklike lewe en middelmatigheid nie. Hulle leef vir iets meer as hulself. Hulle leef met ‘n groter doel.
Abram pak die pad Kanaän toe aan. Sy hart seker seer en verskeurd. Aan die een kant los hy sy ouers agter en hy weet nie of hy hulle ooit weer sal sien nie.
Aan die anderkant – opgewonde maar bang. God het met hom gepraat en hy moet gehoorsaam wees. Hy moet glo dat God ‘n plan het, al verstaan hy dit nie nou nie.
Soms moes vertwyfeling hom oorval, moes hy gedink het, wat het ek nou aangevang?
Moet ek nie maar terug na die bekende toe nie?
Dalk was hierdie belofte en woord van God maar net praatjies in sy kop.
Maar die oortuiging dat God gepraat het en dat God hom ‘n roeping gegee het was groter as die twyfel wat daar soms was.
Hierdie God wat hom geroep het en hom ‘n doel gegee het om uit te leef, het hom nie alleen gelos nie. Hy was saam met hom. Die Here het sy geloof versterk.
As jy met tye begin twyfel in die Here se roeping op jou lewe, weet een ding – God los jou nie alleen nie. Soms is dit ‘n lang reis, soms is die teenstand groot.
Maar mense wat deur God geroep is leef altyd met ‘n innerlike sterkte dat hulle sal uitkom by God se beloftes al neem dit hoe lank. God maak nie foute nie.
Maklik is dit nie. In ‘n onbekende reis is daar nooit waarborge nie.
Kyk bv. na Abram se pa Tera, hy kon dit nie regkry nie.
Lank gelede het hy besluit om Kanaän toe te trek en hy kon dit nie doen nie.
Wat het Abram anders gemaak as sy pa? Hoekom het hy gedink hy sou dit kon doen?
Maar hy moes ‘n moeilike keuse maak: Gaan hy in die werklikheid vas staar of gaan hy in geloof hierdie reis aanpak wat God vir hom gegee het?
Dit sou letterlik beteken dat hy alles op die spel sou plaas.
Sy lewe, sy vrou se lewe en sy nefie Lot se lewe. Al hulle besittings. Dit was alles of niks.
Vir omdraai was daar nie meer kans gewees nie.
Die veilige hawe is verlaat en nou was die groot oop onbekende wat vir hom gewag het.
‘n Reuse avontuur het op hom gewag. Dit is ‘n geloofsreis.
Dit is ‘n opgee van alles wat hom sekuriteit en identiteit gegee het en veilig laat voel het.
As jy doelgerig en met ‘n roeping wil lewe, dan is daar nie plek vir agterdeure nie.
Daar is nie plek vir omdraai of ander planne of ‘n shadow missie nie.
God wou hom deel maak van die groot nalatenskap wat sou kom.
Hierdie stap van gehoorsaamheid het veroorsaak dat miljoene hom sien as die vader van geloof.
Dit moes onwerklik gevoel het, met tye dom.
Maar God het vir Abram uitgenooi om deel van Sy storie op aarde te word.
Daar is ‘n God wat JOU uitnooi om deel van Sy storie te word.
As Jesus vir Petrus sê in:
Mat. 16:18 “En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”
Dan nooi Jesus ons ook uit om deel te raak van die grootste beweging op aarde.
Vir eeue al is daar manne en vroue wat groot gewaag het vir God se koninkryk omdat hulle besef het dat hulle moet leef vir meer as net hulself.
Wat iets nagelaat het wat ewige waarde het. ‘n Groot legacy gelos het.
Vir eeue al roep God mense om hulle eie koninkryke te los en deel te word van die Koninkryk wat alle koninkryke sal oorleef.
Vir eeue al fluister die Heilige Gees saggies om mense se ore net soos hy in Jesaja se oor gefluister het in:
Jes. 6:8 “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.”
Ek wil vandag vir jou sê dat die Here JOU ook GEROEP het.
Wat daardie roeping is weet ek nie maar jy moet dit uitvind in jou reis saam met God.
Maar Hy het ook ‘n roeping vir ons as Impetus as geloofsfamilie gegee.
En ons moet gehoorsaam wees aan daardie roeping.
Ons kan nie doelloos leef en net doelloos kerkhou nie.
Ons moet die onbekende ingaan met net een wete, God het gesê, GAAN.
God het geroep en Hy soek manne en vroue wat ook “ja” sal sê as Hy roep en vra: “Wie sal vir my gaan?” “Wie sal My help om my kerk en my koninkryk te bou?”
“Ek het jou in hierdie liggaam gesit vir ‘n rede. En Ek wil dit wat ek vir jou gegee het, jou talente, jou energie, jou gawes, jou besittings en geld gebruik om My kerk verder te bou.”
Mag ons antwoord en sê, “Hier is ek Here, gebruik my, stuur my!”