• Ons Visie, Strewe & Waardes

Wekom by Impetus!

Ons begeer om ware dissipels van Jesus Christus en Sy liggaam te wees. Ons is ’n geestelike familie en vir baie mense is dit die plek waar hulle behoort in hierdie lewe. Ons wil ’n gemeente wees wat ’n warm, uitnodigende en liefdevolle ervaring vir mense gee wanneer hulle met ons te doen kry.’n Gemeente waar almal welkom is, nie perfek is nie en ook waar ons glo dat alles moontlik is omdat Jesus Christus die middelpunt van alles is.

By Impetus gaan dit oor ‘n holistiese spiritualiteit. Ons begeer nie om soos die volgende kerk in die wêreld te wees nie, maar wil mense bedien as geheel. Dit sluit fisies, verstand, sosiaal, emosioneel en hulle geestelike welstand in. Ons glo dat Jesus ons juis geroep het tot ’n totale spiritualiteit en nie net as geestelike mense nie. (Mat. 22:37)

Dit is vir ons belangrik om te groei in alle ouderdomsgroepe, met mense van verskeie agtergronde, rasse en kulture sodat ons werklik ’n groeiende beweging kan wees en nie net mense wat kerk hou op ’n Sondag nie. Daarom het ons nie ’n tradisionele aanslag in ons manier van dinge doen nie, maar het ons elemente van verskeie aanslagte en benaderings tot kerkwees.

Ons begeer dat Impetus werklik die tuiste van mense sal wees waar hulle passievol oor die lewe sal raak, waar hulle voel hulle behoort aan ’n geestelike familie en waar die Here ons gebruik deur die gawes wat Hy vir ons gegee het. Ons wil ’n verskil maak in die gemeenskap en ook in die wêreld waar ons betrokke is. Die aansteeklike liefde wat ons lewens verander het toe ons Jesus Christus ontmoet het, wil ons in liefde neem na elke uithoek van die aarde en werklik die Here se kerk hier op aarde wees

Ons Visie

Ons bou ‘n gemeente waar mense begelei word om in ‘n betekenisvolle verhouding met God, hulself en mekaar te leef.

Ons Strewe

Impetus is ‘n gemeente waar ons fokus op ons verhouding met God asook met mekaar. Om soos ‘n familie te word en mekaar te ondersteun in ons daaglikse lewe as kinders van God, is vir ons baie belangrik. Ons glo dat betekenisvolle verhoudings slegs moontlik is deur Christus Jesus te volg in elke aspek van ons lewens.

Daar is vyf verhoudings wat vir ons belangrik is:

  • Jou verhouding met God.  (Matt. 22:37-38)
  • Jou verhouding met jouself. (Matt. 22:37-38)
  • Jou verhouding met medegelowiges.  (Joh. 13:35)
  • Jou verhouding met mense wat Hom nie ken nie.  (Matt. 28:19)
  • Jou verhouding met God se Skepping. (Gen. 1:26)

Die naam “Impetus”

Die naam Impetus beteken momentum en gee uitdrukking aan ons begeerte om vorentoe te beweeg met mening. ‘n Woordeboek verklaar die woord as volg: “a force that sets an object into motion”. Ons begeer dat Impetus ‘n gemeente sal wees waar God se belange werklik bevorder sal word en Sy momentum ons voortdryf.

Ons Waardes

Betekenisvolle Verhoudings

Die gemeente moet ons mense help om liefdevolle en gesonde verhoudings te kweek met God, mekaar en die wêreld. Betekenis-volle verhoudings moet in elke faset van die gemeente wees. 1 Korintiërs 13; Nehemia 3; Lukas 10:1; Johannes 13:34-35.

Verlore Mense

Ons glo dat verlore mense belangrik is vir God en daarom ook belangrik vir die kerk moet wees. Dit sluit konsepte soos verhoudings-evangelisasie en evangelisasie as ‘n proses in.
Lukas 5:30-32; Lukas 15; Matteus 18:14.

Relevant

Ons glo dat die gemeente kultureel relevant moet wees maar steeds Bybels korrek. ‘n Gemeente vir die gemeenskap. ‘n Plek waarmee mense kan “relate”. Dit sluit ons beeld, uitvoerende kunste en prediking in. 1 Korintiërs 9:19-23.

Diens Deur Gawes

Ons glo dat elke persoon ‘n unieke samestelling van gawes en talente het. Elke persoon het ‘n bydrae om te lewer wat niemand anders kan lewer nie. Dit sluit konsepte soos eenheid en dienswerk deur geestelike gawes in. 1 Korintiërs 12 & 14; Romeine 12; Efesiërs 4 en Psalm 133:1.

Uitnemendheid (Excellence)

Ons glo dat uitnemendheid aan die Here die eer gee en dat dit mense inspireer. Ons glo daaraan om ons absolute bes te doen met die hulpbronne wat tot ons beskikking is en om ‘n professionele beeld uit te dra. Kolossense 3:17; Maleagi 1:6-14; Spreuke 27:17.

Kleingroepe

Ons glo dat versorging die beste in kleingroepe geskied. Lewens verandering en die uitleef van al die geestelike gawes kan ook in kleingroepe die beste gebeur. Lukas 6:12-13; Handelinge 2:44-47.

Uitverkoop aan God

Ons glo dat volle oorgawe aan Christus en aan God se koninkryk normaal moet wees vir elke gelowige. Dit sluit konsepte soos goeie rentmeesters, verantwoordbaarheid en diensbaarheid in 1 Konings 11:4; Filemon 2:1-11; 2 Korintiërs 8:7.

Proses georiënteerd

Ons glo in ‘n proses van geestelike groei in die gemeente. Die proses stimuleer groei na betekenisvolle verhoudings en volwassenheid in Christus. Efesiërs 4:25-26; Hebreërs 12:1; Filemon 1:6.