Onthou… om dankie te sê
Vandag gesels ons oor die tema – Onthou om dankbaar te wees.
Ons het simbole en tekens om ons te help onthou dat iets gebeur het.
Dit is dan ook hoekom daar standbeelde is, ikone is, sigbare tekens is soos kruise – om ons te help onthou dat daar iets gebeur het in die verlede wat ons nie moet vergeet nie.
So het ons bv. ook in die kerk twee simbole, die doop en die nagmaal, om ons te help onthou dat daar iets gebeur het in ons verlede wat ons nie moet vergeet nie.
So sien ons bv. regdeur die Bybel ook dat daar tye was wat die Here vir hulle gesê het dat hulle moet tekens of simbole hê om iets te onthou of wat iets verteenwoordig.
Dink bv. aan die ark wat die O.T. priesters moes dra toe die Here se mense moes trek deur die woestyn.
Hoekom so iets doen, die ark was ook swaar gewees omdat dit van goud gemaak was.
Dit was vir die Here belangrik dat hulle nooit moet vergeet dat Hy oral saam met hulle was nie, die ark was ’n simbool van die Here te teenwoordigheid.
Die Bybel is vol sulke simbole. In Josua 3 bv. kom die Israeliete voor die Jordaan rivier te staan wat oorstroom het en hulle kan nie deur nie.
Die Here praat met Josua en Hy sê vir hom dat hulle moet voorberei want Hy gaan ‘n wonderwerk doen. Dan gee Hy vir hulle duidelike instruksies oor hoe hulle moet trek.
Die priesters moes eerste instap in die water met die ark en daarna sal die wonderwerk begin gebeur. Die volk het oop droë grond deur die magtige Jordaan rivier getrek.
Toe almal deur is en die priesters hulle voete op grond sit aan die oewer aan die ander kant het die waterskeiding weer toegegaan.
Dan lees ons die volgende in Josua 4.
Jos. 4:1-7
“Nadat die hele nasie deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê: “Neem nou die twaalf man uit die volk, een uit elke stam, en sê vir hulle: Vat hier uit die Jordaan, op die plek waar die priesters gestaan het, twaalf klippe en neem hulle saam met julle deur en sit hulle neer op die plek waar julle vannag oorbly.” Josua roep toe die twaalf man wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam, en hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan en tel elkeen ’n klip op die skouer, in ooreenstemming met die getal stamme van die Israeliete. Dit moet onder julle as ’n teken dien. Wanneer julle kinders julle eendag vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir u?’ moet julle vir hulle sê die Jordaan se water is voor die verbondsark van die Here afgesny; toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die rivier se water afgesny; daarom is hierdie klippe vir die Israeliete ’n blywende herinnering daaraan.”
Die klip altaar was hulle herinnering dat die Here ‘n wonderwerk vir hulle gedoen het.
Ons het ook met ons bouprojek begin om dieselfde te doen.
Elke keer wat die Here ‘n wonderwerk vir ons as gemeente, en vir jou persoonlik ook doen gaan ons dit neerskryf en ‘n klip op hierdie stapel sit.
Hoekom doen ons dit? Ons wil onthou van die Here se goedheid.
Verlede Sondag het ons weer daar gaan kyk hoe hulle gevorder het en ons het weer vir die Here dankie gesê dat ons sovêr kon kom.
Ons het onthou van die Here se goedheid oor ons dat ons struktuur staan, ons dak op is en hulle hierdie week al begin het om die vloer te gooi in die binnekant.
Ons onthou hoe ons amper 2 jaar gelede gesê het dat ons die punt bereik het dat ons die Here moet vertrou en dat die Here vir ons gevra het om te bou en dat Hy ons 2 vissies en 5 brode in Sy hande sal vermeerder.
Dit wat ons tot dusvêr gesien het met R miljoen wat ingekom het oor die 19 maande is voorwaar ’n wonderwerk. Ons klippe is die teken van die Here se voorsiening en wonderwerke wat reeds gebeur het.
Dan het ons ’n goeie gewoonte, ’n gebruik, om elke jaar ’n dankbaarheidsfees te hou om vir die Here en ook vir mekaar dankie te sê vir dit wat ons ontvang het.
Wanneer jy lees soos bv. in Ps. 95 hoe dit die Here gegrief het wanneer sy mense nie dankbaar is nie.
Ps. 95:9 “Hulle het die goeie dinge gesien wat Ek vir hulle gedoen het maar hulle nogtans nie daaraan gesteur nie. Hulle het probeer kanse waag en probeer kyk hoe ver hulle My kon dryf voor Ek my geduld verloor.” DB
Dit is dan wat jy besef dit is vir die Here ontsaglik belangrik dat ons Hom moet erken as bron en voorsiener van alles wat goed is in ons lewe.
Jak. 1:17 “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo.” AFR83
Dit is ’n ingesteldheid, dit is ’n manier van dink, dit is ’n keuse wat ek elke dag moet maak. Want dit is onmoontlik om dankbaar te wees en te kla op dieselfde tyd.
Ons kyk meestal na DIT WAT ONS NIE HET NIE as WAT ONS HET.
En daaroor is ons onvergenoegd en ondankbaar, al sal ons dit nie erken nie.
Ware dankbaarheid is nie afhanklik van goeie omstandighede en baie goed nie.
1 Thes. 5:18 “Julle dankbaarheid is nie afhanklik van julle omstandighede nie. Wees altyd tevrede, want dan stap julle op die pad wat God vir julle beplan het toe julle in Christus Jesus begin glo het.” DB
So waarvoor is jy dankbaar vandag? Is jy dankbaar vir omstandighede wat goed is of is jy dalk nie dankbaar nie omdat jy omstandighede nie so goed is nie.
Ware dankbaarheid word gemeet in wat ek maak met dit wat vir my gegee is en nie net wat ek daaroor sê nie.
Ps. 95:1-7; 9
“Die Here is ons God en ons is sy mense.
Kom, laat ons ons Here eer.
Laat ons lofliedere uit volle bors sing, want Hy het ons gered.
Laat ons na Hom toe gaan met al die dankies wat uit die diepte van ons hart kom.
In ons mooiste liedere moet ons dit vir Hom sê.
Want die Here is God; Hy is die sterkste van die sterkstes.
Soos ’n onoorwinbare Heerser staan Hy in die pad van enigiemand wat sy plek wil vat.
Gaan staan jy op die hoogste berg of in die diepste plek op aarde—dit is die Here s’n.
Die see het Hy gemaak en soos ’n kunstenaar het Hy die aarde met sy hande gevorm.
Kom ons buig voor God en erken Hom vir hoe groot Hy regtig is.
Kom ons kniel nederig voor die Heer wat ook vir ons gemaak het.
Want Hy is ons God en ons is sy mense.
Hy beskerm ons soos ’n herder sy skape versorg en beskerm.”