Onthou… om hoop te hê
[powerpress]
‘n Mens hoef seker nie te veel te sê of te ver te gaan om te sien hoe min hoop mense deesdae het nie. Daar is soveel negatiwiteit om ons vandag.
As jy enigsins die nuus so nou en dan kyk of lees sal jy weet dat die politieke, ekonomiese klimaat en rasse spanning iets is wat jou vinnig depressief maak.
Ek het toenemend met mense te doen wat depressief is omdat dinge om hulle nie uitwerk soos wat hulle gedink het dit sou nie of soos hulle graag wil nie.
As jy nie vandag met ware hoop lewe nie, sal jy baie gou negatief, moedeloos en hopeloos raak.
Maar waar vind jy hoop? As iets met jou gebeur vandag wat jou plat slaan en onkant vang, wat doen jy om môre weer op te staan met nuwe hoop dat dinge gaan uitwerk?
Kom ons wees eerlik, ons almal kry dae, partykeer weke wat ons depressief raak en dinge nie vir jou uitwerk nie. Wat maak jy dan?
Ps. 42:6 “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?” Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!” AFR83
Mens kom partykeer op hierdie plek en dan moet jy vir jouself preek en jouself regruk anders gaan jy afsak in ‘n donker diep gaan waar jy baie moeilik gaan uitklim.
Maar hier is die dilemma: Om op God te hoop kom nie natuurlik vir ons nie.
Hoop is nie ons default of verstek opsie nie. Negatief, krities en moedeloos is die gevalle natuur wat ons het se default opsie. Dit is ‘n stryd, dit is ‘n geveg.
En party dae wen jy die geveg en ander dae verloor jy die geveg. John Piper praat van:
Hoop is ‘n reservoir vir emosionele sterkte
– Wanneer iets sleg of onaangenaam gebeur kyk ek in my emosionele reservoir vir hoop en krag om die slegte ervaring te absorbeer met goeie gedagtes.
As ek dit nie doen nie dan verval ek in selfbejammering of selfregverdiging.
– Wanneer my beplanning nie uitwerk nie – Ek raak siek, dinge gaan nie soos ek dit beplan het nie dan kyk ek in my emosionele tenk vir hoop of krag om aan te gaan en nie op te gee nie.
Nou, die groot vraag: Wat is die bron van jou HOOP?
M.a.w. wat gebruik jy om daardie emosionele tenk van jou vol te maak met HOOP?
Vir meeste mense is dit tydelike goed. My gemak, iets wat ek koop en my lekker laat voel, iets wat ek doen en my genot gee, iemand wat ek mee praat en my weer positief maak.
Hier is die dilemma daarvan: As dit iets tydelik is dan gaan dit nie hou nie of dit sal later nie meer genoeg wees om jou tenk vol te maak nie.
HOOP lek uit jou emosionele tenk uit. Dit is amper soos Simson se hare wat gesny word en hy sy krag verloor en dit vat lank voor dit weer terug groei en weer vol is.
“Ons besit nooit hoop nie. Dis iets wat ons elke dag nuut en vars moet leer. Ons bly beginners vir wie God elke oggend uit genade ons ʼn nuwe kwota hoop moet gee”
Wat is Bybelse HOOP dan?
‘n Vaste verwagting en begeerte vir iets goeds in die toekoms.
Hoop is nie wiskundig of logies verstaanbaar nie.
As jy twee appels het en nog twee bysit dan sal jy sekerheid hê dat daar logies vier appels sal wees.
Maar wanneer dit kom by HOOP dan werk dit nie op logika nie.
Hoop werk op ‘n morele sekerheid nie ‘n logiese sekerheid nie.
HOOP is gebaseer op aksies van jou wil.
Morele sekerheid is gebaseer op die commitment van mense se wil.
Wat ook al te doen het met ons wil, raak is saak van morele sekerheid en dit skep hoop in ons lewe.
Illustrasie: Ek en my vrou Vanessa het feitlik 16 jaar van bewyse van die commitments van ons wil en God se genadige wil dat ons getroud is.
Wanneer ons praat van ons toekoms, dan praat ons nie van gewone hoop as ons sê ons hoop dat ons getroud sal bly nie. Ons praat van ‘n vertroue en sekerheid.
En hierdie sekerheid is nie gebaseer op iets tydelik nie maar op God se karakter en ons eie karakters. Maar iets kan fout gaan, is dit nie so nie?
Daarteenoor kan ek sê dat ek HOOP dat elke oorlog wat nou op aarde aan die gang is môre sal stop en mense in vrede sal saamleef.
Is dit moontlik? Ja, dit is wiskundig moontlik maar onwaarskynlik. Hoekom?
Want ons weet iets van die mens se karakter af en van die menslike wil.
Daar is ‘n sekerheid wat kom wanneer ek die karakter van iemand ken of van ‘n groep mense ken. Dit is nie onfeilbaar nie, maar daar is sekerheid en vertroue.
Dit dra jou deur die rowwe tye in die lewe.
Bybelse HOOP is nie net ‘n begeerte vir iets goeds om te gebeur nie.
Dit is ‘n versekerde verwagting en begeerte vir iets goed in die toekoms.
Ps. 39:8 “En nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op U.” AFR53
Wanneer ons sê, “My hoop is op God.” Beteken dit nie my vingers is gekruis en ek hoop vir die beste nie. Nee, my hoop is gebaseer op God se karakter deur die eeue dat Hy sy kinders dra deur enige storm in die lewe.
Dit beteken in die woorde van William Carey: “Verwag groot dinge van die Here.”
“Moenie aan jou hoop vashou nie. Hou aan Christus vas, die Bron van Hoop.” C. Spurgeon.
So die vraag dan aan my en jou is: Hoe hou jy aan Christus vas?
As iemand jou sou vra? Wat doen jy om aan Christus die bron van jou HOOP vas te hou, wat sal jy antwoord?
En dit is waar ek jou vandag wil uitdaag.
Dit is een ding om te sê Christus is die belangrikste persoon in my lewe maar hoeveel tyd spandeer ek met die belangrikste persoon in my lewe?
Dit is een ding om te sê ek glo in ‘n geestelike familie maar maak ek enige moeite om saam met my geestelike familie te wees op ‘n Sondag? Glo ek God werk op ‘n manier deur Sy liggaam wat ek nie op my eie kan beleef nie?
Jy sien, dit help eenvoudig nie jy weet iets sal jou help en iets is vir jou belangrik maar jy maak nie keuses en besluite om daardie dinge konstant in jou lewe te bou nie.
Ons het vroeër gesê, Hoop lek uit. Daarom moet jy daagliks by die bron van hoop uitkom.
Ons het ook gesê dat Hoop ‘n aksie van jou wil en karakter is.
Daarom is ‘n intensie om HOOP in jou lewe te bou nie genoeg nie.
Jy moet besluit om dinge te doen sodat jy hoop in jou lewe kan inbou.
Jak. 2:17 “So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit
sonder meer dood.” AFR53
Iets wat vir jou belangrik is gebeur nie vanself nie, dit kos ‘n besluit om tyd daarvoor te maak sodat die effek daarvan oor die langtermyn op jou lewe kan wees.
Dit geld vir verhoudings, vir jou gesondheid, vir jou finansies, vir alles wat die moeite werd is in die lewe.
En as dit nie vanself gebeur nie, hier is wat ek geleer het: Dit gaan nie vanself gebeur nie.
Jy gaan dit moet hanteer soos ‘n afspraak elke dag. Elke week.
As jy ‘n houding het van, ek sal kyk of ek vandag tyd kry om daarby uit te kom. Raai wat?
As jy ‘n houding het van, dit is vir my belangrik maar ek daar is dinge wat meer dringend is op hierdie stadium in my lewe. Raai wat?
As iets vir jou belangrik is, moet jy ‘n afspraak maak om elke dag / week daarby uit te kom.
Anders gaan jy eenvoudig nie daarby uitkom nie.
“Daar is geen hopelose situasie nie, net mense wat hoop verloor het met die situasie.” W Barckley
Mense wat hoop verloor. Het dit nie baie alledaags geword nie?
Ons kan selfs hoop met onsself of ons omstandighede verloor. (My eie situasie).
Die hoop dat ons nog kan verander. Die hoop dat daar vir ons ’n goeie toekoms is.
Die hoop dat dinge vir ons sal uitwerk, maar net God weet waar om in ons lewens te werk.
Charles Steinmetz was een van die wêreld se slimste mense in die veld van elektrisiteit. Niemand het in sy dag meer geweet as hy nie. Hy het die eerste generators gebou vir Henry Ford in sy eerste motorfabriek. Toe alles in plek was, het alles prefek gewerk. Danksy die elektriese genie van Charles Steinmetz het karre van die produksielyn gerol en het die profyt vir Henry Ford begin inrol. Dinge het vir ’n paar maande glad verloop.
Tot op ’n dag wat alles sonder waarskuwing tot ’n stilstand gekom het. Die Ford aanleg het donker geword. Hulle het geld by die uur verloor tot Ford se groot frustrasie. Toe kontak hulle vir Steinmetz, die brein agter die sisteem. Hy het opgedaag en onmiddellik begin werk. Hy het aan ’n paar skakelaars gewerk, ’n paar metertjies. Hy het gekyk na ’n paar van die motors, ’n paar knoppe gedruk en ’n paar drade verander. Toe sit hy die hoofskakelaar aan, die ligte het aangekom en die masjiene het weer begin werk. Alles was terug na normaal.
’n Paar dae later het Henry Ford ’n rekening van Steinmetz gekry van $10,000. Alhoewel Henry Ford ’n ryk man was teen die tyd kon hy sy oë nie glo nie. So verskriklike bedrag geld gaan hy nie betaal nie, die was buite die kwessie. Hy het agterop die rekening vir Charlie ’n boodskap geskryf: “Charlie, isn’t this bill just a little high for a few hours of tinkering around with a few wires and switches?”
Steinmetz het ook op die rekening geskryf en dit terug gestuur. “For tinkering around on the motors: $10. For knowing where to tinker: $9,990. Total $10,000.”
Henry Ford het die rekening betaal.
Wanneer jy jou lewe vir God oopmaak sodat Hy aan jou kan werk is dit baie soortgelyk. Om jou te laat groei is nie die moeilike deel nie. Maar net Hy weet presies waar in jou lewe jy nou iets nodig het wat net Hy kan herstel of genees. Jesus is die groot Geneesheer wat presies weet hoe om te diagnoseer en jou op ’n nuwe pad van groei te sit, as jy Hom toelaat.
Rom. 15:13 “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”
Wie of wat is jou bron van Hoop? God is! Hy is jou bron van HOOP.
Hierdie tyd van die jaar is daar baie mense wat hopeloos lewe.
Hulle lewe het nie uitgewerk soos hulle gedink het nie en dan verloor hulle hoop.
Maar ek en jy moet hoop hê. Hoekom, want ons ken die bron van hoop.
As jou vertroue in die ware bron van hoop is dan sal jy besef dat tydelike goed of selfs mense jou altyd gaan teleurstel of eendag nie meer daar wees nie.
Ons moet draers van hoop wees. Hierdie Kersfees, moenie net saam al die doemprofete net verdoemenis uitspreek oor ons land en oor jouself nie.
Daar is net mense wat hoop verloor met ’n situasie. Maar as God aan jou kant is, dan is daar ’n toekoms. Dan is daar hoop, al sien jy dit nie nou met jou oë nie.
Hebr. 11:1 “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” AFR83