Transformed – Week 1: Geestelike Transformasie
[powerpress]
Enige ware transformasie in ons lewens begin by geestelike transformasie.
Daarom begin ons hier. Daar is geweldig baie boeke, kursusse en programme beskikbaar wat jou wil help om ’n area van jou lewe te transformeer, maar ware transformasie in ons lewens begin wanneer ons nader aan God beweeg.
Hy is die enigste een wat permanente en betekenisvolle transformasie in ons lewens bewerkstellig.
Rom. 12:2 “Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm (transform) deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe.” NLV
Ons gaan een week net aan die ons denke spandeer maar hoekom is ons denke so geweldig belangrik?
Want ons denke bepaal ons gevoelens en ons gevoelens bepaal ons optrede.
Daarom word ons, soos ons dink. As jy negatiewe, depressiewe gedagtes dink, wat gaan met jou gebeur? Jy gaan sinies, skepties en depressief wees.
Daarom is dit verskriklik belangrik om jou denke te verander.
Twee maniere hoe ons jou in die Transformed reeks wil help daarmee.
1. Ons het ’n dagstuk boekie. Elke dag van die week kan jy iets lees wat jou kan help om jou denke te vernuwe. Langsaan elke dag is daar ook ’n gedeelte wat jy kan gebruik om te skryf. Die doel is nie daarom so vinnig moontlik te lees sodat jy dit kan verstaan nie, die doel is dat jy dit sal internaliseer en God toelaat om met jou te praat deur die stukkie. Daarom stel ek voor, gebruik genoeg tyd om die invul gedeeltes by elke dag te doen.
2. Wanneer jy by die kerk uitstap vandag gaan jy ’n SMS kry as jy jou kontakbesonderhede vir ons gegee het. In die SMS is die teksvers van die week. As jy ’n slimfoon het en jy klik op die link sal jy die prentjie met die teksvers aflaai. Dit kan jy dan op jou foon of rekenaar stoor om elke dag daarna te kyk totdat daardie teksvers in jou gedagtes vasgelê is.
Geestelike transformasie beginsel: Hoe nader jy aan God kom hoe meer sal Hy jou transformeer.
Die teenoorgestelde is ook waar: Die verder jy van God af dryf hoe meer sal hierdie wêreld jou konformeer en hoe meer moeilikheid sal jy kry.
As jy jou Bybel oopmaak en van iemand lees wat naby aan God gekom het, sal een ding jou opval – die persoon se lewe is radikaal en drasties geraak en getransformeer.
Dink aan Paulus. Een dag wat Hy Jesus ontmoet het op die pad na Damaskus en alles het verander in sy lewe.
Dink aan Moses. Ons lees dat selfs sy fisiese voorkoms het verander wanneer hy naby aan God was. Sy gesig het begin skyn.
Maar eie aan die mens, is ons soos skape. Het jy al skape dopgehou? Bly hulle altyd bymekaar, naby aan die skaapwagter? Nee, hulle begin te dwaal. Hulle sien gras wat vir hulle aantreklik lyk en hulle wil gaan proe.
Hulle natuur is om te dwaal. So is my en jou natuur om nie naby aan God te bly nie.
Ons dwaal ook af, soms meer as wat ons dit sal erken.
Nou, as jy begin afdwaal het, hoe kom jy weer terug by die skaapwagter?
As jy geestelik nie op die beste plek is wat jy al in jou lewe was nie, hoe kom jy weer terug waar jy was? Gelukkig is daar ’n verhaal daaroor in die Bybel. Verlore seun.
Lukas 15:11-24 “’n Man het twee seuns gehad. Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Ek wil my deel van die boedel nou hê, eerder as om te wag tot Pa doodgaan.’ Die pa het toe ingestem om sy goed tussen sy twee seuns te verdeel. “’n Paar dae later het hierdie jonger seun al sy besittings in geld omskep, na ’n ver land gereis, en daar al sy geld verkwis met ’n uitspattige lewe. Teen die tyd dat sy geld opgeraak het, het ’n groot hongersnood oor die land gekom en hy het begin honger ly. Hy kry toe werk by ’n plaaslike boer en dié het hom die veld ingestuur om varke op te pas. Die seun het só honger geword dat selfs die peule wat die varke gevreet het, vir hom smaaklik gelyk het. Maar niemand het hom enigiets gegee om te eet nie. “Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom, het hy vir homself gesê: ‘By die huis het selfs die gehuurde werkers meer as genoeg kos, en hier is ek besig om van honger dood te gaan! Ek sal teruggaan na my pa toe en vir hom sê: Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie. Neem my asseblief in diens as ’n gehuurde werker.’ “Daarop het hy teruggegaan na sy pa toe. En toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen. Sy seun het vir hom gesê: ‘Pa, ek het gesondig teen God én teen Pa; ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie.’
“Maar sy pa sê vir die bediendes: ‘Gou, bring die mooiste mantel in die huis, en trek dit vir hom aan. Kry ’n ring vir sy vinger, en sandale vir sy voete. En slag die vetgemaakte kalf. Ons moet feesvier, want hierdie seun van my was dood en hy het nou teruggekeer na die lewe. Hy was verlore, maar nou is hy gevind.’ Toe het hulle begin feesvier.” NLV
Die seun het gesê, gee vir my wat ek wil hê. Ek wil dit hê en ek wil dit nou hê.
Hy gaan Las Vegas toe en spandeer alles op vroue, drank en musiek.
Toe die geld opraak kry hy seker die slegste werk wat ’n Joodse seun ooit kon hê – hy moet varke oppas. Dan raak hy so desperaat dat selfs die varke se kos vir hom aantreklik lyk. Jy moet weet dit gaan sleg, as die varke se kos vir jou lekker begin lyk…
Tot op ’n dag wat hy besluit hy het nou genoeg gehad. Hy dink hy verdien nie sy pa se liefde en aanvaarding as ’n seun nie maar dalk kan hy net as ’n bediende vir hom gaan werk, Maar die pa se reaksie is verstommend – hy aanvaar hom en is steeds lief vir hom.
Hoe kom jy weer terug na God toe?
1. Besluit jy het nou genoeg gehad. (Fed up)
Luk. 15:17 “Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom…”
Jy moet keelvol, ‘fed up’ raak met jou lewe en met jou omstandighede, anders sal niks verander in jou lewe nie.
Maak nie saak wat dit is nie. As dit jou gemoed is, moet jy by die punt kom, om te sê, nou het ek genoeg gehad. As dit verhoudings is, moet jy sê, ek gaan nie meer so aangaan nie. Ek gaan hulp soek tot ek hulp kry.
Jy moet desperaat en honger raak vir verandering anders sal niks in jou lewe verander nie.
Vraag? Hy het tot sy sinne gekom. Met wat in jou lewe moet jy tot jou sinne kom?
Het al by daardie plek uitgekom? As jy nog nie het nie, sal God jou aandag probeer kry deur jou omstandighede. Dit gaan vir jou voel dit begin reën in jou lewe.
As Hy nog steeds nie jou aandag kry nie sal Hy ’n storm stuur in jou lewe.
Hy sal by die deur van jou lewe staan en klop en klop. Totdat jy genoeg gehad het en oopmaak. God is te lief vir ons, om ons net te los en te sien hoe ons onsself vernietig of die duiwel toelaat om ons te vernietig.
Dis die eerste stap – jy moet keelvol, ‘fed up’ raak met jou situasie.
2. Neem verantwoordelikheid. (Own up)
Jy moet verantwoordelikheid neem vir jou eie sonde en foute.
Jy moet besef dat as jy so aangaan dan sal dit nie net sleg vir jou wees nie, dit sal iets in jou lewe vernietig.
Jes. 59:2 “Julle probleem is dat julle sondes julle afgesny het van God. Hy het weggedraai van julle. Dit is weens julle sondes dat Hy nie meer na julle wil luister nie.” NLV
Jy moet besef dat jy weggedwaal het. Solank jy probeer om ander te blameer, ’n kerk te blameer, jou omstandighede te blameer, sal niks verander in jou lewe nie.
Jy moet oorgee en “own up”. Neem verantwoordelikheid vir die area van jou lewe wat nog nie onder God se beheer is nie.
Het jy ooit gebid oor ’n situasie in jou lewe en dit het gevoel of God ’n 10,000km van jou af is? Neem verantwoordelikheid vir dit wat jou deel is.
As jy vêr van God af voel, raai wie het wegbeweeg? Nie God nie.
Seker die mees algemeenste maniere hoe ons wegdryf van God af is wanneer ons ons liefde vir iets anders gee.
As jy enigiets anders in jou lewe meer liefde en tyd gee as God, dan word dit is afgod in jou lewe. Ons dink altyd afgode is klip of goue beelde wat mense aanbid.
Nee, dit kan jou gesin wees, jou werk wees, sukses wees, genot in die lewe wees.
Nie een van die dinge is sleg opsig self nie maar wanneer hulle jou eerste liefde raak, dan raak hulle ’n afgod in jou lewe.
Jy is so naby aan God soos wat jy kies om te wees.
“Own up”, neem verantwoordelikheid. Jesus het dikwels vir siekes gevra, wil jy gesond word? Dit lyk soos ’n dom vraag maar wat Jesus probeer vasstel is om die persoon verantwoordelikheid gaan neem om te verander.
Wanneer jy verantwoordelikheid neem en “own up”, wat doen God?
Hy is soos die verlore seun se pa. Nog vinniger as wat hy by sy pa kan uitkom het die liefdevolle pa na hom toe gehardloop.
Jou op om vir jouself te jok oor die ware toestand van jou siel, neem verantwoordelikheid.
As jy wil weet wat die werklike toestand van jou liggaam is, wat doen jy? Jy gaan vir ’n volledige mediese ondersoek. ’n Check up.
Wel, as jy wil weet wat die werklike toestand van jou geestelike lewe is, doen ’n geestelike check up. In julle boekies op bl. 163 “Spiritual health assessment” – 10 min.
2 Cor. 13:5 “Test yourselves to make sure you are solid in the faith. Don’t drift along taking everything for granted. Give yourselves regular checkups.” MSG
3. Gee jouself as offer. (Offer up)
Die verlore seun het gegaan van iemand wat net wou hê en hê, na iemand wat homself aangebied het as dienaar maak nie saak wat die sou beteken nie.
Luk. 15:12 “Die jongste seun kom toe op ’n dag by sy pa en sê vir hom: ‘Pa, ek wil nou dadelik my erfporsie hê.” DB
Luk. 15:19 “….maak my soos een van u huurlinge.” AFR83
Daar is ’n reuse verskil van “gee vir my nou dadelik wat my toekom” na “maak my…”
Die 3de punt is, maak my. Ek gee myself volkome vir U, transformeer U my lewe.
Vorm en maak my soos wat U wil, nie soos wat ek wil nie.
As jy God toelaat, gaan Hy jou hele lewe aan jou werk. Dit is nooit onmiddellik nie, dit is ’n proses maar dit begin altyd met ’n besluit om oor te gee.
2 Kor. 3:18 “Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe.” AFR83
“Verander” in Grieks: metamorfou – to change into another form, to change, to transform.
Van iemand wat niks soos Jesus lyk nie tot iemand wat Sy beeld en lewe uitbeeld hier op aarde. Dit moet steeds toeneem.
Jy moet kan sê, “Lord, take me, form me, make me into your likeness.”
Rom. 12:2 “Don’t copy the behavior and customs of this world, but let God transform you into a new person by changing the way you think.” NLT
4. Vier fees saam met Hom
Die jongste seun het veroordeling verwag, wat kry hy? ’n Fees.
Hy gaan in en vier fees saam met sy pa.
Die oudste seun wat die seun is wat wou werk vir sy geregtigheid weier om in te gaan.
Luk. 15:28 “Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie.” AFR83
Daar is musiek, gedans, gesing. Hoekom? Want die pa was oorstel van vreugde omdat die seun wat vêr van Hom af was besluit het om terug te kom na sy pa se huis toe.
Sommige van ons het so godsdienstig grootgeword dat ons nie weet wat dit is om te sing en bly te wees vir die regte goed nie. Ons wil net werk vir ons redding.
As jy jou gemoed wil lig, sing saam met ander mense. Iets gebeur in jou binneste.
Ons het rede om fees te vier. Iemand het gekom en ons lewens getransformeer.
Iemand het gekom en ons skuld een oortredings aan die kruis vasgespyker.
Iemand het die veroordeling weggeneem en ons kom wys hoe die Vader se hart lyk – liefdevol en genadig.
Die Here het vir ons twee simbole gegee om te onthou dat Hy soos die pa is van die verlore seun. Die doop en die nagmaal.
Nagmaal sê, onthou jy het ’n liefdevolle Pa wat sy alles gegee het om jou naby aan Hom te bring. Nagmaal sê, ek is hier om fees te vier. Ek was verlore maar God het my gevind. Ek was dood maar God het my weer lewendig gemaak.
Nagmaal sê, ek is moeg geprobeer op my eie, ek het genoeg gehad.
Ek aanvaar die offer van Jesus en nou bring ek myself as offer na Hom toe.
1 Kor. 11:23-26 “Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.” AFR83