Vereenvoudig jou lewe – Die ÉÉN ding wat jy nodig het.

[powerpress]

Daar is iets wat ek waarneem in mense se skedules.

Teen Januarie is meeste redelik entoesiasties en opgewonde oor die lewe en werk.

Hulle sien kans vir nuwe dinge en hulle verhoudings is op ‘n goeie plek.

Hier teen Februarie-Maart begin ek egter ‘n tendens waarneem:  Mense begin praat oor hoe besig hulle is.  Hulle weet nie hoe gaan hulle alles inpas in hierdie kwartaal of jaar nie

 

Teen April is daar so bietjie verligting wanneer daar weer langnaweke is en dan is dit ‘n opdraande pad.  Teen Oktober-November hoor mens die woorde:

Ek is oorweldig, ek is uitgeput, ek is te besig.  Dit is letterlik of baie mense op die spreekwoordelike beseringsbank is en net uitsien na jaareinde.  Net om alles weer van voor af te doen vir ‘n volgende jaar.  Kan enigiemand daarmee “relate”?

 

Ek dink nie dit is die tipe lewe wat Jesus vir ons wil hê nie.  As ons Jesus se dissipels is en ons volg in sy se voetstappe dat moet ons na sy lewe kyk.

Selfs al is ek nog soekend en onseker ‘n klomp dinge dink ek nog steeds dat ons nie konstant moet leef van naweek na naweek en vakansie na vakansie omdat ons oorstuur is nie.

Jesus het honderde mense gehad wat Hom gevolg het gedurende sy bediening.

Hoe meer Jesus lering gegee het, hoe meer mense het Hom begin volg.

Hulle wou meer wonderwerke, meer teachings, meer raad van Hom af hê.

En tog kry mens nooit die idee dat Hy uitgeput, oorwerk of te besig was nie.

 

Van tyd tot tyd het Hy ‘n breek gevat en dan het Hy dit saam met Sy naaste dissipels Petrus, Jakobus en Johannes gespandeer.  En dan was daar 3 wat broers en susters was – Lasarus, Maria en Martha.  Jesus was baie lief vir hierdie mense.

Met een geleentheid het Jesus so kuier nodig gehad en het Hy by Maria en Martha gestop.

 

Luk. 10:38-42    “Toe Jesus en sy dissipels hulle reis na Jerusalem voortsit, het hulle in ’n dorpie gekom waar ’n vrou, Marta, hulle in haar huis verwelkom het. Haar suster, Maria, het aan die Here se voete gesit en luister na wat Hy hulle leer. Maar Marta was bekommerd oor die groot ete wat sy besig was om voor te berei. Sy kom toe na Jesus en sê: “Here, lyk dit darem nie vir U onregverdig dat my suster net hier sit terwyl ek al die werk doen nie? Sê sy moet my kom help.” Maar die Here het geantwoord: “Marta, Marta, jy kwel jou tog oor so baie dinge! Daar is regtig net een ding wat nodig is om oor besorg te wees. Maria het dit ontdek – en Ek gaan dit nie van haar af wegneem nie.”  NLV

Mens kan die dinamiek van hierdie situasie sommer insien.  Jesus besluit om ‘n onbeplande besoek by hulle af te lê.  Lasarus is nie daar hierdie dag nie.

Daar was nie tyd om alles reg te kry vir Jesus se besoek nie.

 

Jesus was besig om te preek, om met Fariseërs te debatteer, genesings te doen en gebid.  Hy wou net stop, uit ‘bedienings – mode’ kom en te ‘recharge’ met sy vriende.

Een van die susters, Maria, trek ‘n stoel nader en ek kan haar net hoor sê, “Jesus, ek is so bly dat jy by ons kom kuier het.  Hoe was die laaste paar weke?  Hoe groot pyn was die Fariseërs gewees?  Vertel ons maar, ons is mos vriende.  Ek is so bly jy’s hier.

 

Intussen is die ander suster besig om alles in die kombuis reg te kry vir ‘n ete.

Marta is druk besig om alles vir Jesus reg te kry sodat hy lekker kan kuier.

Maria is in die sitkamer besig om Jesus geselskap te hou.  So daar is nie probleme nie, reg?

Wel, nie heeltemal nie.  Na so rukkie ontplof Marta.  Sy is vies.  Sy loer nie om die hoekie, maak oog kontak met Maria en roep haar nader nie.

Nee, sy laat ook nie so paar panne val in die kombuis dat Maria die boodskap kan kry nie.

 

Sy bars by die sitkamer in waar Jesus en Maria sit en gesels en sy verloor dit.

Sy praat nie eers met Maria nie sy is so vies dat sy sommer Jesus aanvat.

Onthou jy wat haar eerste woorde was?  “Is dit darem nie vir U onregverdig dat my suster net hier sit terwyl ek al die werk doen nie?”

Die Engelse vertalings sê, “Don’t you care?”  Nogal ironies nê?

Hier is die Seun van God wat homself vir ander mense uitgegiet het, preek, mense gesond maak, debatteer met mense wat Hom wil uitvang en nou beskuldig Marta hom dat Hy nie omgee nie…    Dan raak dit erger…  Sy sê, “Sê sy moet my kom help.”

Ek kan myself nogal indink dat sy so paplepel in die hand kon gehad het en na Maria toe gewys het en gesê het, “Sê jy vir haar, sy moet my kom help.”

Luister Jesus, sê jy vir hierdie lui suster van my dat sy my moet kom help, voordat ek met hierdie lepel iets doen.  (Dit is nie in die teks nie, ek verbeel my maar.)

As ek Jesus was, kan ek aan ‘n paar dinge dink wat ek vir haar sou gesê het in die oomblik.

Jesus se reaksie?  Hy vat haar nie aan nie.  Hy praat heel rustig en sê haar naam 2 keer:

“Marta, Marta.”  Wat Bybelse taal is vir rustig Marta, drink ‘n chill pil gou.  Dan sê Jesus:

“Marta, Marta, jy kwel jou tog oor so baie dinge!”  Luk. 10:41

Hy beskuldig haar nie. Hy sê nie wat sy doen is onbelangrik nie. Hy het net ‘n observasie.

Jesus sê, kom ek vereenvoudig net gou dinge so bietjie vir jou Marta:  Wanneer ek kon kuier, dan is dit basies vir vriendskap. Dit is vir konneksie. Dit is vir fellowship met vriende.

As Ek ‘n vyfster ete wou gehad het kon ek dit gereël het.  Ek het so paar weke terug 5000

mans kos gegee, jy weet.  So rukkie terug het ek shiraz by ‘n troue gemaak.

Iets om te drink en te eet is nie my probleem nie, Marta.

 

“Daar is regtig net één ding wat nodig is om oor besorg te wees. Maria het dit ontdek – en Ek gaan dit nie van haar af wegneem nie.”  Luk. 10:42

Regtig Marta, wanneer Ek kom kuier, dan is net een ding eintlik belangrik.  Maria het dit begryp.  Ek gaan dit nie van haar af wegneem deur haar kombuis toe te stuur nie.

Ek is hier vir geselskap, fellowship en vriendskap.

Jy moet eintlik hier by ons kom sit want jou hart begeer eintlik iets om weg te kom van al daai gejaagdheid en besigheid in jou lewe. Los die goed wat jy wil doen en wat op jou besige program is en kom sit hier en geniet net die ongejaagde geselskap van my en jou suster.

 

Hierdie is ‘n wonderlike storie.  Dit is eintlik ‘n teenstelling.  Net voor dit vertel Jesus die storie van die Barmhartige Samaritaan waarvan die punt eintlik aksie is.

Wanneer jy iemand in nood sien, wees aktief.  Help hulle, doen iets.

Nou hierdie situasie met Marta en Maria wat heeltemal anders is.

 

So, in al jou besigheid, in al jou take en aksies moenie uit die oog verloor dat die fundamentele ding waarna Jesus opsoek is, verhouding is.  Nie werke nie.

Ongejaagde tyd vir Hom.  Ons grootste probleem is nie ons besige programme nie.

Dit is gejaagde harte.  Dan is daar nie tyd vir God in ons lewens nie.

Hoeveel van ons sukkel met gejaagde hart sindroom?

En jy is oorweldig en uitgeput vér meer as wat jy veronderstel is om te wees?

 

Nog ‘n vraag: Dink jy dat ‘n eerlike gesprek, in ‘n rustige plek met Jesus wat lief vir jou is, sal jou dalk so bietjie sal help?

Dink jy Jesus was reg toe Hy vir Marta gesê het, dat haar enigste hoop vir haar oordrewe sin van verantwoordelikheid wat haar tot absolute uitputting gedryf het is om ‘n stoel nader te trek en ‘n gesprek met die Een te hê wat haar besige, gejaagde hart kan stil maak en haar ware Noord weer kan kalibreer?

 

In 2006 het ek ‘n muur geslaan, emosioneel was ek heeltemal uitgeput.

Ek het ‘n sielkundige gaan sien en hier is wat ek vir hom gesê het:

‘n Onvermoë om dinge te geniet.  Gevoel van alleenheid en geen intieme vriendskappe.

Oordrewe doelgerigtheid wat veroorsaak dat ek konstant teleurgestel word.

Nie genoeg ‘recovery’ tyd nie.  Lang ononderbroke werkpas.

Gevoel van verlies.

Baie gou geïrriteerd en ongeduldig en emosioneel

My identiteit is gebou rondom my bediening.  Ek weet nie wie ‘ek’ is nie.

Slaap min, sukkel om aan die slaap te raak.

 

Dit is wat gebeur wanneer jou emosionele emmer leeg is. (Prent)

Wanneer jy disconnected voel van jouself, mense en God.

Wanneer jy sit met gejaagde hart sindroom.

Wanneer jy probeer vol maak maar die gate in jou emmer is meer as die invloei wat bo gebeur.

 

Maar wanneer jou emmer vol is, hoe ervaar jy dinge dan?

Jy voel meer liefdevol teenoor mense.  Jy maak beter en wyser besluite.

Jy ervaar God se teenwoordigheid meer konstant.  Daar is dankbaarheid in jou hart.

Ek is meer geduldig met my familie.  Ek gee meer om vir ander mense ook.

Dalk wanneer jy vol is, leef jy die lewe wat Jesus jou geroep het om te lewe?

En die vrede wat alle verstand te bowe gaan waarvan die Bybel praat is in jou lewe.

So dit is moontlik, is dit nie?  Ek glo ons almal was al daar gewees op ‘n stadium.

 

Maar wanneer jy leeg is, hoe voel dit?  Die eerste woord wat ek aan dink is – onregverdig.

Marta se woorde – Jesus, dit is onregverdig dat ek so moet werk en Maria sit net daar.

Dan begin ons met verwyte en dinge voel dat dit nie meer vir ons sin maak nie.

Jy sit so baie in, jy gee so baie om – en kyk wat kry jy terug?  Niks of baie min.

Jy voel uitgeput, oorweldig, liggeraak en raak gou geïrriteerd.  Enigiemand?

Ek dink dit is reg om te sê dat nie een van ons op ons beste is wanneer ons hier is nie.

 

As jy besluit om vanuit ‘n vol emmer te leef gaan jy ‘n klomp mense ook teleurstel.

Want net soos Jesus ‘n konstante stroom van mense gehad het wat sy aandag, bediening en raad wou hê moes Hy ongelukkig baie van hulle teleurstel.

Baie moes wegstap en dink, maar Hy is dan die Seun van God, hoekom wil Hy nie my help nie?

Maar Jesus moes tyd maak om by Sy Vader te gaan sit.  Hy moes tyd maak om by sy vriende uit te kom.  Hy moes dinge doen om seker te maak dat sy emmer weer vol raak.

 

Ek dink deel daarvan is om te ontdek wie jy regtig is?

Wat is jou gawes?  Wat is jou roeping?  Waaroor is jy passievol?

Hierdie is alles dinge waarmee ons jou kan help in die gemeente en wat ook deel van ons dissipelskap program is.

Maar daar is net een persoon wat jou emmer weer vol kan maak – en dit is JY.

 

As jy naby aan leeg is sal jy dinge soek om die onvermydelike te probeer uitstel.

Sommige mense werk net harder.  Hulle raak soos werkesels wat nooit ophou werk nie.

Hoekom dinge doen wat ander mense kan doen?  Daarmee bedoel ek, as jy omkap, dan sal hulle net ‘n ander jy kry wat die werk doen wat jy gedoen het.

Maar die dinge wat niemand anders as jy kan doen nie – om ‘n pa/ma te wees, om ‘n vrou vir jou man te wees. Niemand anders kan dit doen nie! Geen plaasvervanger kan dit doen nie.

Hoekom is dit dan ons hierdie verhoudings so maklik afskeep?

 

Ander van ons kies weer een of ander vorm van verslawing.

Kos – ons ooreet met elke ete want dit laat ons beter voel.

Alkohol en pornografie – maniere om te vlug van die realiteit af.

Koop – dinge wat ons dink ons gelukkig sal maak.

Maar as jou emmer leeg is – dan sal geen ding, geen vakansie, geen persoon dit weer vol kan maak nie.  Net God en jy wat saam tyd spandeer.

 

As jy daardie paplepel in die hand het en vir almal vertel wat hulle moet doen dan is dit dalk tyd dat jy die stoel nader trek en daardie gejaagde hart stil maak.

1. Hoe vol is jou emmer?

As Jesus dit sê, hierdie EEN DING het jy nodig, praat Hy met jou?

(Prent)  Ek hou hiervan.  Is hierdie beeld waar in jou lewe?

Dit is die begin – as jy sukkel daarmee, kan ons jou help.

Jou hand styf in God se hand.  Wanneer dit in jou lewe ‘n realiteit is op ‘n daaglikse basis sal jou emmer voller en voller raak maak nie saak hoeveel druk jy op jou het nie.

 

2.  Watter dinge het jy nodig om te doen sodat jou geestelike en emosionele emmer vol bly? 

Die dinge wat jou altyd opgewonde gemaak het.

As jy begin ontvlug het, of vasgevang geraak het in iets…  Besef dat DIT jou lewe op die ou einde sal vernietig, om nie te praat van die verhoudings wat gaan verlore gaan nie.

Familie?  Werk?  Ontspanning?  Oefening?

 

Wanneer jy aan die onderkant van jou emmer is, gaan jy besluite neem wat jou lewe baie gaan kompliseer.  Dit is nie God se wil nie.

God se wil is – hierdie prent wat jy sien. (Foto van Jesus met iemand op bankie).

Dalk moet jy vanoggend jou afstand en ontvlugting bely en Hom weer vra of jy net weer by Hom kan gaan sit.

 

Hy sal die sterkste hervulling van jou geestelike en emosionele emmer wees.

Dalk moet jy gaan verskoning vra aan jou familie of vriende omdat jy oor die rand (edge) was die laaste tyd.

Jy is jou beste self wanneer jou emmer konstant vol is.