Vergete waardes – Aanspreeklikheid

[powerpress]

Een van die waardes waaroor ons deesdae baie min praat is aanspreeklikheid.

Die rede daarvoor is dat ons in die geheim ‘n begeerte het om aan niemand aanspreeklik te wees nie.  Ons wil outonoom wees.  Ons wil koning wees.

In Suid-Afrika se konteks wil meeste van ons soos JZ wees.  Niemand moet ons teenstaan en ons ‘challenge’ wanneer dit kom by in ons lewe nie.

Seker een van die lekkerste dinge om 18 of 21 jaar te word is dat jy self kan kies wat jy gaan doen en wat jy nie wil doen nie.

As jy eers uit die huis uit is, het jy basies vrye teuls om jou lewe te leef soos wat JY wil sonder om verantwoording aan enigiemand te doen.

Maar dit is nie noodwendig ‘n goeie ding nie. Soos ons sien in ons liewe president se lewe.

 

Een van die mees interessante gedeeltes in die Bybel is die geskiedenis wat handel oor konings in die Bybel.  Onthou voordat hulle konings gehad het, was hulle regeer deur God se wet en het net priesters en profete gehad om hulle te lei.

Maar toe die Israeliete begin sien dat die nasies om hulle konings het, het hulle begin aandring om ook ‘n koning te hê.  Die Here het vir hulle gesê dat die nie ‘n goeie idee is nie want konings tree soos konings op.

 

Meeste van die konings wat Israel gehad het was sleg.

En meeste van hulle het net gedoen wat hulle wou.  Want konings dink soos ons JZ.

Ek hoef nie aanspreeklik te wees teenoor enige wette nie.  Ek maak die wette.

En as ek die wette maak, dan kan ek die wette ook breek as ek wil.

 

Wel vir al die ander nasies op aarde was dit okay maar die Here het vir Israel gesê, dit is nie okay nie.  Julle moet aan My verantwoording doen, nie die aardse koning nie.

Julle moet My wette gehoorsaam, nie die koning s’n nie.

Maar dit was ‘n probleem want enige koning wil twee dinge wees:

 

Konings wil outonoom en onverantwoordbaar wees.

Outonoom is, ek wil doen wat ek wil doen.

Onverantwoordbaar is, ek wil aan niemand verslag doen nie.

‘n Verdere probleem was dat wanneer jy ‘n Joodse koning was, dan moes jy ook na die profete luister.  Want as jy rebelleer teenoor God dan sal daar pyn wees.

Rebellie = pyn.

En oor en oor stuur God die profete om vir hulle te sê, luister, as jy koning gaan wees, moet jy ‘n koning wees wat onder gesag kan staan.  Jy moet aanspreeklik wees.

Dit is net hier waar dit eintlik baie prakties raak in ons lewens.

Daar is iets in ons almal, die iets heel natuurlik, wat koning wil wees.

Dalk nie oor ander mense nie maar verseker oor ons eie lewens.

Ek wil doen, wat ek dink reg is om te doen en ek wil nie aan iemand verantwoordbaar wees nie.  En sê, ja pa, ja ma.  Ja, baas, ja, mevrou nie.  Ek wil doen wat ek wil doen.

 

En terselfde tyd worstel ons met dieselfde ding wat die konings mee geworstel het.

Ons ervaar dikwels dat ons rebellie tot pyn lei.

En in ‘n geestelike sin is dit veral waar.  As ek God se wil hetsy doelbewus of per ongeluk verontagsaam, dan is daar pyn.  Dan kry ek met gebrokenheid te doen.

 

Om dit te illustreer wil ek julle na ‘n koning neem.  Hy was die laaste koning in die suidelike koninkryk van Juda.  Sedekia het nie geweet hy gaan die laaste koning van Juda wees nie want partykeer tel God nie tot drie nie.

Kom ek vertel jou vinnig hoe Sedekia koning geword het.

Ongeveer 597 v.C. het Nebukadnesar wat basies alles regeer het al reeds Juda ‘n ondergeskikte staat gemaak.  Dit het beteken dat hulle vir hom belastings moes stuur.

Wel, die vorige koning Jojakim het besluit, ons gaan dit nie meer doen nie.

Die gevolg was dat Nebukadnesar sy weermag gestuur het, Jerusalem oorgeneem het en die mure afgebreek het, die tempel gestroop en gewoes het.

Jojakim het geboei en na Babilon toe gestuur.  Want Nebukadnesar het ‘n cool ding gedoen – hy het konings versamel. En hy het Jojakim by sy koning versameling gevoeg.

 

Toe het hy vir Sedekia as koning aangestel maar jy is net koning omdat ek jou koning maak.  Drie reëls:  1.  Jy mag nie ‘n weermag op die been bring nie.  2. Jy stuur aan my belasting.  3.  Moenie die mure van Jerusalem herstel nie want ek wil julle kwesbaar en arm hê en ek wil julle in my volle beheer hou.

En Sedekia sit op die kroon en hy kan sy geluk nie glo nie.  “Ek is die KONING.”

 

Kort daarna kom een van die mal profete ouens, Jeremia, en vertel vir Sedekia, God het met my gepraat.  Hy is besig om ons te straf vir die rebellie van die konings voor jou.

Meeste konings voor ons het heidense gode aanbid.  Daarom oordeel God ons.

Hier is wat jy moet doen:  Jy moet aanvaar dat God besig is om ons te dissiplineer.

Hy het alles van ons weggeneem.  Hy het ons rekenaars weggeneem.  Hy het ons facebook weggeneem.  Hy het ons karre weggeneem.

 

Hier is wat jy moet doen Sedekia:  bring die mense terug na God toe.

Vergeet van Nebukadnesar, vergeet van ‘n weermag.

Lei die volk na die Here toe en God sal ons herstel wanneer Hy besluit om dit te doen.

Maar Sedekia is die KONING.  Wat doen hy?

2 Kron. 36:11-12         “Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het elf jaar in Jerusalem regeer. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here sy God en het nie berou gehad toe Jeremia die profeet die woorde van die Here verkondig het nie.”  NLV

 

Sedekia sê, ek is koning.  Ek is nie verantwoordbaar teenoor God nie.  Wie is Hy om in my lewe te kom inmeng?  Dankie vir die preek Jeremia – sien jou!  “It’s my life.”

2 Kron. 36:13     “Hy het ook teen koning Nebukadnesar in opstand gekom al het hy ’n eed van getrouheid voor God afgelê. Sedekia was hardkoppig en onversetlik en het geweier om terug te draai na die Here die God van Israel.”  NLV

Nebukadnesar stuur ‘n klein groep van sy weermag en hy sê gaan haal tog net vir

Sedekia uit, ek kan nie die arrogansie van hierdie ou verdra nie.

Toe Sedekia Nebukadnesar se weermag sien raak hy paniekerig en hy roep vir Jeremia en vra hom wat hy moet doen.

 

Jeremia sê vir hom dat hy net hierdie laaste kans oor het, gaan by die poorte uit, buig voor hierdie koning saam met jou familie en jou lewe sal gespaar word.

Sedekia: “Ek, buig voor ‘n ander koning?  Never, I’m the king.”

So paar dae gaan verby en die weermag van Nebukadnesar trek terug.

En Sedekia sê vir Jeremia, sien jy, die Here het ons gered.

Maar Jeremia sê, die Here het ons nie gered nie Sedekia, hulle gaan terug kom.

Wat hulle nie geweet het nie is dat die Egiptenare vir Nebukadnesar aangeval het en hy sy manskappe opgeroep het om te kom help veg.

 

Sedekia besluit hy het nou genoeg gehad van Jeremia en hulle maak hom vas en gooi hom in ‘n put met modder.

En die mense loop daar verby en hulle hoor hierdie put wat praat.  “Bekeer julle!”

En hulle trek hom daar uit.  Hy hou nie op praat nie en hulle gooi hom in die tronk.

Maar Jeremia hou net aan.  Julle enigste hoop is om oor te gee.

En een oggend toe Sedekia wakker word roep hulle hom om te kom kyk.

En die Skrif sê so vêr soos ‘n mens kon sien het Nebukadnesar sy hele weermag gebring.

2 Kon. 25:1-2     “Dit was in die negende jaar van Sedekia se bewind in Jerusalem. Op die tiende dag van die tiende maand het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër teen Jerusalem opgetrek. Hulle het by die stad kamp opgeslaan en beleëringswalle rondom teen die mure opgehoop. Jerusalem is beleër tot in die elfde jaar van koning Sedekia se bewind.”  NLV

 

2 jaar. Hulle het besluit om hulle nie aan te val nie, hulle gaan sterf van die honger.

Vir 2 jaar het hulle gely.  En na 2 jaar roep hy na Jeremia.

Jeremia, sal jy bid.?  Hy is soos, BID?  Ek gaan nie bid nie.

Ek het vir jou gesê dat jy onder God se oordeel is en God het jou kans op kans op kans gegee.  Maar jy was te hardkoppig om te luister.

Jer. 38:17-18     “Jeremia het toe vir Sedekia gesê: “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: As u aan die offisiere van die Babiloniese koning oorgee, sal u en u familie bly lewe. Hulle sal dan ook nie die stad met vuur verbrand nie. Maar as u weier om oor te gee aan die offisiere van die Babiloniese koning, sal u nie ontsnap nie! Die stad sal in die mag van die Babiloniërs val en hulle sal dit aan die brand steek.”  NLV

So Sedekia, as jy onder gaan, sal almal saam met jou onder gaan.

Jer. 38:20 “Jeremia het geantwoord: “Hulle sal u nie oorgee nie. As u doen wat ek sê, sal u aan die Here gehoorsaam wees. Dit sal dan met u goed gaan. U lewe sal gespaar word.”  DB

Hou op om so hardkoppig te wees en so stywe nek te hê.

Jer. 38:21 “Die Here het vir my gewys wat sal gebeur as u weier om oor te gee: ”  DB

As jy dink Nebukadnesar was vies die laaste 2 kere toe hy hier was, sal jy sien wat hy met jou maak wanneer jy nie aan hom oorgee nie.

 

Nou, dit is ‘n groot en dramatiese storie.  Die materiaal waaruit movies gemaak word.

Maar tot ‘n sekere mate is dit ‘n groot weergawe van iets wat dalk in jou lewe aan die gang is.  Dalk op hierdie stadium.

Jy is besig om die gevolge te dra omdat jy koning wil wees van jou lewe.

 

Die gedagte dat ek outonoom wil wees en wil doen wat ek wil doen.  En as iemand my challenge op daardie area van my lewe, dan sê ek mooi vir hulle, gaan aan.

Ek hoef nie aan julle verantwoording te doen nie.  En hardkoppig is ‘n ligte manier om jou houding te beskryf.  En jy sit dalk hier en dink, nou wie het vir hom gesê dat ek hier gaan wees.  Niemand het nie.  Dit is in elkeen van ons, om koning te wil wees.

En ek weet hoe dit voel wanneer mens met die Here se wil worstel. Jy voel dat jy soveel gaan opgee.  Dit is omdat ons nie God verstaan nie en ons weet nie hoeveel Hy ons lief het nie. Want as jy so effens terug staan dan sien jy God het nie probeer om hulle te straf nie. Hy het probeer om hulle terug te wen en hulle weer Sy hart te wys.

Maar Sedekia wou koning wees en hy het aanhou optree soos ‘n koning. Hy het gevolge gehad wat hy nie net nie kon bestuur nie, hy het konsekwensies gehad wat hy gevrees het.  En a.g.v. sy vrees het hy ‘n verskriklike fout gemaak.

2 Kon. 25:3-7     “Teen die negende dag van die vierde maand van die elfde jaar wat Sedekia regeer het, was daar glad nie meer kos vir die mense nie. Dié nag is daar ’n gat deur die stadsmuur gebreek en die soldate het probeer vlug. Al het hulle geweet dat die Babiloniese soldate die stad omring, het hulle in die rigting van die Jordaanrivier probeer wegkom. Die Babiloniese soldate het hulle egter agtervolg en die koning op die vlakte by Jerigo ingehaal en gevang. Teen daardie tyd was sy hele leër al versprei soos hulle probeer vlug het. Sedekia is toe na die koning van Babel in Ribla geneem. Hulle het hom net daar verhoor. Hy moes kyk hoe sy seuns doodgemaak word en toe is sy oë uitgesteek. Daarna is hy met ’n ketting vasgemaak en na Babel toe weggevat.”  DB

 

Wow, imagine dat dit die laaste ding is wat jy sien dat jou seuns voor jou dood gemaak word.  Dit is so bietjie dramaties en depressing.

Weer, as jy die konteks van dit in die Bybel verstaan dan sal jy weet dat God hulle nie wou terugkry nie.  Nee, Hy wou hulle terug wen.

En die rede hoekom God tot sulke uitsterstes sal gaan is omdat:

Jy aan Hom behoort.

En die rede hoekom God soms tot uitsterstes sal gaan om jou aandag te kry. Die rede hoekom daar baie keer konsekwensies is vir ons hardkoppigheid is nie omdat Hy kwaad vir jou is nie, dit is omdat God jou soek. En Hy soek nie jou offers of jou diens aan Hom nie, Hy soek jou oorgawe aan Hom.

Soos ‘n goeie pa sy kinders dissiplineer, dissiplineer God ons soms om naby Hom te bly. God het Israel vêr te veel lief gehad om hulle net te los sodat hulle sonde hulle vernietig.

 

‘n Paar honderd jaar later het Johannes geskryf in:

Rev. 3:19-20      “Those whom I love, I rebuke and discipline. So be earnest and repent. Here I am! I stand at the door and knock. If anyone hears my voice and opens the door, I will come in and eat with that person, and they with me.”

Ek klop nie omdat die deur toe is nie.  Ek klop nie omdat Ek nie in kan kom nie.

Soos Sedekia staan Hy by die deur en klop omdat Hy jou liefhet en jou vra om daardie area van jou lewe waar jy so graag wil sê, dit is my lewe los my uit, aan Hom moet oorgee.  Daardie area van jou lewe waar Hy al meer as een keer geklop en geklop het en jy nie wil oorgee en Hom toelaat om oor dit te heers nie.

Omdat Ek jou liefhet, sal ek doen wat ookal nodig is om jou aandag te kry.  Omdat ek jou liefhet sal Ek aanhou om jou te pla.  En om die dinge vir jou uit te wys wat niemand vir jou wil uitwys nie.  Maar moenie jou hart vir hierdie area van jou lewe vir my verhard nie.  Gee oor, bekeer jou.  Draai om.  Ek glo jy weet presies wat jou ding is.

Vir party is dit om daardie gesprek met jou man en vrou te hê voordat hulle self uitvind.

Vir party is dit om die pyn te face en hulp te gaan soek en jy was tot nou toe te trots om hulp te soek by enigiemand.

Vir party van julle is dit om daardie verhouding te beëindig.

Vir party van julle is dit om ontslae te raak van daardie toestelle wat jou lewe gaan vernietig en jou laat wegdryf van God en jou gesin af.

En wat hierdie ding ookal is, dit is iets waar jy vir God en vir ander wil sê, ek wil koning wees, ek wil aan niemand verantwoordelik wees nie.

En God sê, nee, nee, Ek wil jou Koning wees.  So maak die deur oop.