Volgende Stap: Die Krag van Behoort

[powerpress]

Ons is besig met ‘n reeks – Volgende Stap.  Ons kyk na daardie onmisbare dele van ons groei as gelowiges en wat die volgende stap dalk in jou geloof is om te groei.

Luk. 6:12-13      “In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God.  Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies…”

En dan gaan Lukas voort om al hulle name te gee.

Luk. 6:17-19       “Hy het saam met hulle van die berg afgekom en op ’n gelykte by ’n groot aantal volgelinge gaan staan. Van die hele Joodse land en Jerusalem en van die kusgebied van Tirus en Sidon af was daar ’n menigte mense wat gekom het om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook dié wat onder onrein geeste gely het, is gesond gemaak.  Al die mense het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan het en Hy almal gesond gemaak het.”

Ons kan in hierdie gedeelte en ander ‘n baie definitiewe patroon in Jesus se lewe agterkom:

Hy spandeer tyd wanneer dit donker is alleen saam met Sy Vader.  In die oggend stel Hy sy dissipels aan en spandeer tyd met hulle. Hy kry ‘n groepie mense om saam met Hom Sy bediening te doen. Dan gaan Hy saam met hulle om te werk en te bedien.

Daar’s ‘n liefde vir God, liefde vir mense, en ‘n werk om te doen. En dit is hoe ons as kerk ook wil wees.  Dit was die ritme in Jesus se lewe.

En vandag kyk ons na een van die volgende treë in ‘n volger van Jesus se lewe – om te behoort.  Daar was baie wat geïnteresseer was in Jesus maar ‘n paar was sy dissipels.

 

Ek dink seker ‘n geldige vraag om te vra as dit by Jesus kom is: ‘Hoekom het Hy hierdie stap geneem om ‘n klein groepie bymekaar te maak?’

Hoekom het Hy hulle nodig gehad?  Het hulle enige waarde toegevoeg tot Sy bediening? Nee, hulle het meeste van die kere nie verstaan wat Hy geleer het nie.

Hulle het baie onder mekaar gestry.  Soos bv. wie is die grootste? Wie gaan aan Sy regterhand en aan sy linkerhand sit?  Dit het ‘n ‘fight’ onder mekaar veroorsaak.

Hulle het die kinders van Jesus af gehou.

Hulle het belowe dat hulle saam met Hom in Sy donkerste uur te wees en toe dit kom toe hardloop hulle weg.  Jesus bid dat Sy sweet soos bloed word en hulle slaap.

Daar in Lukas 9 gaan hulle deur ‘n Samaritaanse dorpie en hulle vra Hom:

Luk. 9:54   “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?”

 

So hoekom sou Jesus moeite doen met hierdie spul kleingelowiges, diewe, belastinggaarders, geweldenaars wat sommer ore af kap?

Waar kom Jesus aan hierdie ouens? Afsondering, ek meen dit maak sin.  Hy moet tyd met Sy Vader spandeer. Maar hierdie klomp ‘loosers’ wat niks reg kan doen nie…?

 

Ek dink daar is net 2 moontlike antwoorde: Hy het ‘n langtermyn plan gehad EN… Hy’t mense nodig gehad om lief te hê.  Om te behoort.

Hy was nie onseker van homself of emosioneel onstabiel nie maar die kern waaroor alles gegaan het vir Hom is nie iets ingewikkeld nie, dis een woord: liefde.

As hulle vir Hom gevra het waaroor gaan alles in God se koninkryk dan antwoord Hy:

Mat. 22:37-39     “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

 

Jesus sê, as dinge so bietjie onduidelik vir julle word, waaroor gaan alles? Wees lief vir God met alles (ALLES) en wees lief vir hierdie klomp onvolmaakte mense om jou.

Dit het ook nie beteken dat Hy net saggies oor die weg met Sy dissipels gekom het nie. Nee, juis omdat Hy hulle lief gehad het, het Hy hulle gedruk en uitgedaag.

En het hulle seker so bietjie gewens dat Hy hulle minder liefgehad het.

 

Net voor Hy gesterf het a.g.v. hierdie liefde vir onvolmaakte mense roep Hy hulle en sê:

Joh. 13:34-35     “Ek gee julle ’n nuwe gebod (Rabbi’s): julle moet mekaar liefhê.(Niks nuut) Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. (dit was anders) As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Jesus sê vir Sy dissipels – julle moet die mees liefdevolle groep mense op aarde wees.

Is dit wat my en jou beskryf?  Die mees liefdevolle persoon by die werk?  Die mees liefdevolle persoon in jou vriendegroep?  Die mees liefdevolle persoon by die huis?

 

Dit is wat Hy vir ons wil hê?  Dit is wat Hy vir Impetus Gemeente wil hê.  Nie dat ons die slimste, rykste en mooiste moet wees nie, maar die mees liefdevolste groep.  As julle liefhet soos Ek lief het, sê Jesus, dan sal julle onkeerbaar wees.

Ek wil in die tyd wat oorbly 3 beginsels met julle deel wat deel is ‘n groep volgers van Jesus:

Is dit die gevoel wat mense kry wanneer hulle by jou is, by ons gemeente is?

 

  1. Almal is welkom

Jesus het homself die onderwerp van ‘n skandaal gemaak deur Sy optrede.

Het almal wat na Hom toe gekom het verwelkom, lief gehad, aanvaar en omhels.

Dit het nie saak gemaak nie.  Prostitute, Samaritane (ander rasse), heidene, Romeine, slawe.

En die kerkmense van Jesus se tyd het dit van Hom gesê:

Luk. 15:2   “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”

Dit was nie bedoel as ‘n kompliment nie, geen kerkleier doen dit nie.

 

Dit was asof Jesus ‘n bord om sy nek gehad het – almal is welkom.

Sondaars, uitgeworpenes, melaatses.  En sy dissipels was bietjie verneder hierdeur.

Maar nadat Jesus gesterf het en die Heilige Gees uitgestort is het ‘n baie vreemde ding met hierdie groepie gebeur… nog nooit in hulle lewe het hulle dit ervaar nie.

Hulle het ook hierdie liefde vir almal (alle rasse en kulture) gehad.

 

Nog nooit van tevore was daar ‘n gemeenskap wat mense net aanvaar het soos hulle is nie.

A.g.v. die sondeval het ons hierdie ingeboude vermoë om te oordeel.

Ons is almal besig om onsself op te weeg teen ander en hulle te oordeel.

En die wêreld het nog altyd mense wat op die rand van die samelewing was weggestoot.

Maar toe was daar hierdie groepie mense wat hulle leier se voorbeeld onthou het wat voor hulle neergekniel het en hulle voete gewas het soos ‘n slaaf.

En toe het Hy gesê:  Soos Ek julle liefgehad het, moet julle mekaar ook liefhê.

 

Nog nooit was daar so gemeenskap nie. Hoekom sal ‘n mens slawe en uitgeworpenes liefhê?

En dit was een van die mees beskrywendste eienskappe van die eerste Christene.

Hulle het kinders, siekes, oues, verstotenes, liefgehad nog voor hulle van Jesus vertel het.

T.s.v. vervolging en sommige wat hulle lewe verloor het het hulle liefgehad.

Statistiek sê vir ons dat die Christelike kerk die eerste 5 eeue die vinnigste ooit gegroei het.

 

Wanneer jy iewers behoort, wanneer liefde deel van jou lewe word, dan word jy letterlik en selfs fisies gesond.

Verskeie studies het al gevind dat geïsoleerde mense 3 keer makliker sterf as mense met sterk verhoudings.

 

Wat hulle ook gevind het is dat mense met slegte gesondheidsgewoontes soos rook, alkohol, baie stres, geen oefening maar wat sterk interpersoonlike verhoudings het langer leef as mense met goeie gesondheidsgewoontes maar min verhoudings.

M.a.w. dit is beter om ‘n chocolate met goeie vriende te eet as ‘n groente alleen by die huis.

 

Gal. 3:28   “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”

Vraag:  dink jy God kan vandag nog steeds so iets doen?  Of het die Gees van die Here sy krag verloor?

Dink jy dit is vandag nog moontlik dat mense ander lief kan hê maak nie saak wie hulle is en waar hulle vandaan kom en wat hulle gedoen het nie?

Dink jy God kan so iets in jou doen?  Dink jy God kan so iets hier doen?

 

  1. Niemand is perfek nie

Hou jy nie van hierdie stelling nie?  Almal hier het al baie droog gemaak.

Almal hier is maar plat op die grond by die kruis.

Die bloed van Jesus is vir elkeen van ons gestort.  So, daar is vergifnis vir almal.

So hier was ‘n groep mense wat nie gepla is oor hulle reputasie nie, wat nie ander wil beïndruk nie, almal is net sondaars, gered en leef deur die genade van God.

 

Niemand is perfek nie.  As jy is, het jy die reg verdien ons ander mense te oordeel.

As jy nie perfek is nie, dan het jy nie die reg om ander te oordeel nie.

Jesus het die hard en duidelik gesê:

Mat. 7:1     “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie.”

Elkeen van ons is ook anders inmekaar gesit.

 

Party van ons se temperament is waaghalsig en hou daarvan om kanse te vat.

Ander van ons het ‘n hoë sensitiwiteit vir risiko.  Dit is hoe ons inmekaar gesit is.

En om te gaan dink of sê iemand anders het nie genoeg geloof omdat hy nie wil uitwaag en iets doen nie, is om te oordeel.

Van ons is mense wat dinge voel, ander is weer mense wat dinge bedink.

Om te sê die ou wat nie op sy intuïsie kan regeer en eers vir dinge goed oordink is kleingelowig is om hulle te oordeel vir wie hulle is.

 

Daar is mense vanoggend hier wat ‘n enorme stap van geloof moes neem net om hier te wees en hulle angstigheid vlakke tussen ‘n klomp mense wat hulle uitkyk is geweldig hoog

Ander hou weer van mense, hoe meer, hoe beter en voel weer niks gebeur as daar nie ‘n duisend mense is nie.

Almal is verskillend, maar wanneer ek iemand anders in my gedagtes laer as myself plaas is ek besig om te oordeel.

 

Jesus, Seun van God het nooit afgekyk op mense nie.  Dit is nie God se hart nie.

Ja, ons spreek waarheid teenoor mekaar.  Ons noem sonde, sonde.

Ons bely ons sonde as ons eerlik met onsself en ander is – dit is alles deel van fellowship.

As ons nooit vir mekaar vergifnis vra of gee nie, dan beteken dit ons is nie eg nie.

Dan maak ons ook nie ruimte vir mekaar, om foute te maak nie.

 

Ware community het konfrontasie, anders is ons ‘n klomp ‘fake’ mense bymekaar.

Maar ware community het ook vergifnis en laat nie onopgeloste konflik net gaan nie.

Dissipels van Jesus besef – niemand is perfek nie.

Hoe meer ek wegkruip, hoe minder betrokke ek is – hoe meer beskerm ek myself teen seerkry en teleurstelling, Ja.

Maar hoe meer ek vuil word, hoe meer ek houe kry soos Jesus, hoe meer verstaan ek ook van God se liefde en genade.

Hoe meer voel ek ook ek behoort iewers as is dit nie perfek nie.

Want daar is nie perfekte mense nie, perfekte plekke nie, daar is nie perfekte kerke nie.

 

  1. Alles is moontlik

Weet jy hoe het die dissipels geleer? Deur eers ‘n klomp kleingelowige nikswerds te wees.

Ons kry partykeer die idee dat hulle sy slawe was, sy gevangenes was.

Maar dit is nie waar nie, enigeen van hulle kon op enige stadium wegstap.

Maar hulle het nie.  Hulle het besef dat hulle moet behoort.

Hulle het besef dat al maak hulle droog, liefde altyd groter moet wees.

Daar was nie ‘n ander kerk of Rabbi by wie hulle kon aansluit as iemand hulle te na gekom het nie.

Hulle het besef dat as hulle wil deel in die oorwinning saam met Jesus, hulle ook eers moet voete was, geslaan word, en dien soos Hy gedien het.

Hierdie dissipels het ‘gestick’.  Hulle het hulself blootgestel vir teleurstelling.

Maar die uiteinde was wonderwerke, die een na die ander.

 

Wanneer God sy transformerende krag in ‘n groep mense begin is daar geen keer aan nie

Dan word Simon, ‘n shaky impulsiewe ou, Petrus, Petra die rots.

Dit is wanneer Saul, ‘n Joodse fanatikus, wat almal behalwe Jode haat, iemand word wat sy energie, sy vryheid en uiteindelik sy lewe gee vir elke ongelowige wat hy ontmoet.

Want waar mense liefde laat heers is enigiets moontlik.

 

Jy sien God sien onder die oppervlak, Hy werk agter die skerms.

Toe Hy op die kruis hang roep Hy nie ‘n weermag van engele af om hulle in as te verander nie.

Hy weet, alles is moontlik.  Maar daar is ook ‘n tyd vir alles.

En dit is hoe daar ‘n groep mense begin wat ‘n gemeenskap vorm.

Wat brood in mekaar se huise breek en saam bid en weet hulle is hier vir ‘n doel.

 

Waar Jesus is, is ‘n gemeenskap van mense wat hulle lewe met mekaar deel.

Daar is almal welkom.  Daar is niemand perfek nie.  Daar is enigiets moontlik.

Dit is eenvoudig om sê, maar baie moeilik om te leef.