Volgende Stap: Wie is genooides?

[powerpress]

Ek wil begin deur te vra: Waarvoor bestaan ’n bank?  Seker om jou geld vir jou veilig te bewaar sodat dit nie gesteel word nie.

Waarvoor bestaan ’n motor handelaar?  Seker om ’n voertuig aan jou te verkoop wat jou gerieflik binne jou begroting by jou destinasies uit kan bring.

Waarvoor bestaan die kerk?  Waarvoor bestaan Impetus gemeente?

Wat het ons om vir hierdie gemeenskap waarin ons is, te offer?

Jesus, liefde, goeie nuus van God se koninkryk.

Hand. 1:8  “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”  AFR83

Jesus het nie die boodskap van Jesus of liefde of goeie nuus vir die bank gegee of vir ’n motorhandelaar gegee nie maar vir sy kerk.  Ek en jy wat hier sit.

 

Vandag kyk ons na nog ’n stap in ons geestelike lewe: Hoe raak ons getuies of verteenwoordigers of agente van die goeie nuus?

Ek wil so paar oomblikke stilstaan by ’n vreemde dissipel van Jesus.  Matteus.

In die Bybelse tye was daar ’n groep mense waarvan niemand gehou het nie. Belastinggaarders.  Om vir Jan taks te werk is nie juis ’n gewilde werk om te hê nie.

In Bybelse tye was dit veel erger.

Hulle was baie sleg gewees in die oë van die Jode omdat hulle mense basies uitgebuit het en aan die kant van die Romeine was.  Hulle is gesien as kurrupte verrraaiers.

Hulle het hulle eie mense, die Jode basies, verneuk om ryk te word.

Matteus was ’n SARS vir die keiser.  Sy baas was Herodus Antipas.

Matteus het by ’n tolhek gesit wat deur die Romeine opgesit is op ’n pad wat altyd verniet was en toe ewe skielik deur Herodus Antipas ’n tolhek gemaak was.

Jy kan jou verbeel hoe gewild was Matteus om geld te vra vir mense by die tolhek waar hulle elke dag verby gegaan het en dit nog vir sy volksgenote.

Matteus se baas was Herodus Antipas.  Hy was die ou wat Jesus se neef Johannes die doper se kop laat afkap het en op ’n stadium ook vir Jesus wou dood maak.

En omdat die tollenaars vir die keiser gewerk het was hulle onaantasbaar.

 

En op ’n dag toe kom Jesus die Rabbi (leermeester) verby die tolhek in Galilea:

Luk. 5:27-28       “Daarna het Jesus uitgegaan en ’n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.”  Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg.”

Kan jy jou indink hoe dit Matteus se wêreld omgekeer het toe Jesus dit gesê het.

Wat meer is een van Jesus se ander dissipels was Simon.

Nou Simon het aan ’n radikale politieke party behoort wat die Yweraars of die Selote genoem was.

 

Hulle was soos die AWB in Jesus se tyd.  Hulle is deur die Romeine as terroriste beskou.

So, kan jy jou indink toe Jesus vir Matteus die verraaier van die Jode voorstel aan die AWB ou Simon wat almal wat iets met die Romeine te doen gehad het, gehaat het.

Simon sou nooit in sy lewe eers belasting betaal het aan hierdie ou nie en nou bring Jesus hom huis toe.  En Jesus sê, julle 2 ouens, julle deel ’n kamer van nou af.

Maar in Jesus se community was dit ’n boodskap van almal is welkom, niemand is perfek nie en alles is moontlik.

Tot die dag toe Matteus vir Jesus ontmoet het, was sy lewe deurmekaar.

Nou, het hy ’n nuwe lewe gekry, sy sonde is vergewe, hy kry aanvaarding, hy kan behoort

Alles het vir hom verander.  Hy los sy ou lewe net so agter, die geld alles en volg Jesus.

En sy lewe is nooit weer dieselfde nie.  Van ons het ook al sulke oomblikke gehad.

 

MAAR iets het hom begin pla en knaag aan hom, sy ander tollenaar vriende, gehaat deur almal. Hulle is die slegte ouens van hulle omgewing.

Hierdie is die korrupte skelm ouens wat die ander dissipels nooit eers mee sou praat nie.

Maar vir Matteus was hulle mense, met name en sy ou vriende.

En op ’n dag besluit hy, hy gaan ’n partytjie hou.  Hy gaan al hierdie slegte ouens uitnooi na ’n partytjie toe en hy gaan Jesus ook uitnooi.  Sy vriende hou van partytjies.

Die godsdienstige manne van Jesus se tyd het nie daarvan gehou nie.

Maar Jesus stem in. Hy het gereeld met hierdie tollenaars en sondaars gekuier.

 

Luk. 5:29-32       “Levi het ’n groot feesmaal in sy huis gehou ter ere van Jesus, en ’n groot aantal tollenaars en ander mense het saam met hulle aangesit. Die Fariseërs, en veral die skrifgeleerdes onder hulle, het by sy dissipels gekla en gesê: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?”  Toe antwoord Jesus hulle: “Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars.”

So hier is die grootste Rabbi van Israel, Jesus, en hy kuier met Matteus se vriende.

Kan jy dink wat dit aan Jesus se reputasie gedoen het?

Waaroor dink jy het hulle gesels?

So, Jesus waar kry jy jou geld vandaan om belasting te betaal?

Ag, ek stuur gewoonlik sommer vir Petrus af see toe om ’n vis te vang en dan haal ons sommer ’n goue muntstuk uit die vis se bek uit en dan gebruik ons sommer dit.

 

Maar Matteus se ervaring by Jesus het hom so dankbaar en opgewonde gemaak dat hy sy vriende uitgenooi het na hierdie partytjie toe saam met Jesus.

Hy het seker in die geheim gehoop en dalk gebid dat Jesus hierdie vriende van hom ook sal aanvaar en wys hoe God regtig is.

 

  1. Ken jy enigiemand wat Jesus nodig het?

Of anders gestel: Ken jy enigiemand waarna Jesus sou kyk en dink, hierdie man of vrou, hy of sy het My nie nodig nie?

Kom ons neem dit nog ’n stap verder: Jou vriend of vriendin, kennis by die werk, ma of pa, broer of suster – as jy oor hulle dink kom dit by jou op – ek is besorg oor hulle geestelike welstand.

En in jou stilligheid het jy al gedink soos Matteus – Here hoe kan ek ‘n ontmoeting met Jesus en hierdie persone reël op een of ander manier?

 

  1. As ek dit risiko neem om iemand na Jesus toe te wys, op wie kan ek reken om my te help? Die antwoord vir die vraag is God.

Die oomblik wat ek die kans vat om iemand uit te nooi, vir haar te bid, vir hom te vertel – dan is God self deur sy Heilige Gees aan die werk saam met jou in daardie persoon.

Die oomblik wat jy in die stroom ingaan sal jy agterkom dat jy nie alleen is nie.

Deur die eeue het mense hulle lewe gegee om iemand anders na Jesus toe te wys.

Baie is tronk toe omdat hulle iemand anders uitgenooi het kerk toe.

Kol. 4:2-4  “Vra God om vir my deure oop te maak sodat ek die mense van Christus kan vertel. Ek wil vir almal die geheim vertel dat Christus ook vir hulle bedoel is, al sit ek ook juis daarom vandag in die tronk.  Vra God ook om my te help om die regte dinge op die regte tyd te sê as ek vir mense van Jesus vertel.”  DB

Maar weet jy wat, ons wil dit te veilig speel.  Ons wil niemand afronteer nie.

Ons wil nie die kans vat dat iemand nie sal opdaag nie.

Vergeet ons nie dalk wat op die spel is wanneer iemand die lewe sonder Jesus aanpak nie?  Vergeet ons nie wat is die uiteinde as iemand nooit ‘n ontmoeting met Jesus kry nie?

Vergeet ons nie dat dit nog altyd deel was van God se plan met sy kerk hier op aarde nie?

Dat ons Hom moet verteenwoordig.  Dat ons lig met wees.  Dat ons ‘n teenmiddel het vir die gevaarlikste siekte wat daar is.

 

Kan ek jou vandag uitdaag?

Ek wil jou graag so oomblik vra om net saam te speel.

Jy hoef nie as jy nie gemaklik is hiermee nie.

Wie van julle het by Jesus of ‘n kerk uitgekom omdat iemand jou genooi of vertel het?

Wie van julle het by Impetus uitgekom omdat iemand jou genooi of vertel het?

M.a.w. jy het by Jesus uitgekom a.g.v. iemand wat jou genooi of vertel het, daar was iewers op een of ander manier ‘n verhouding betrokke?

Die meederheid van ons het ‘n verhouding met God begin omdat iemand ons genooi het, iemand ons vertel het, iemand ‘n pad met ons gestap het.

Annatjie en Steve was vir die laaste kwartaal by al ons omgeegroepe en ek het haar gevra om kortliks te vertel wat hulle oor en oor by al die groepe gehoor het wat hulle besoek het.

 

Nou, ek het ‘n uitdaging, ‘n challenge vir jou.

Ken jy iemand wat Jesus nodig het?  Iemand wat kerklos, kerkloos, en kerk seergekry is.

Kom ons stel net voor – elkeen van ons kan 5 mense persoonlik uitnooi na volgende week of die reeks wat volgende week afskop.

Die klem val op persoonlik – jy kan die link wat ons per sms gestuur het gebruik, op jou Facebook sit as jy wil maar ek wil jou vra om persoonlik 5 mense uit te nooi.

Ons is meer as ‘n 100 mense hier vanoggend maar kom ons sê ons was ‘n 100.

Dit sou beteken dat 500 mense na volgende week se diens toe uitgenooi word.

Nou, kom ons wees realisties, ek weet nie al 500 gaan hier opdaag nie.

Maar kom ons sê net 10% daarvan m.a.w. 50 mense daag op volgende week.

Dan is daar 50 mense meer in volgende week se diens of wat die reeks saam met ons doen as vandag.  Dink jy nie daar sal blydskap wees in die hemel daaroor as 1 persoon wat dalk weggedwaal het, of kerkloos of kerklos is weer terugkom na die Here toe nie?

Dink jy nie die hemel en die Heilige Gees sal saam met jou werk met daardie persoon nie?

Kom ons dink net weer aan ons eie storie – hoe jy hier gekom?

Wil jy dit nie doen vir iemand anders nie?

 

Wil jy nie ook vir iemand anders vertel van ‘n gemeente waar almal welkom is. Niemand perfek is nie.  Alles moontlik is nie. Wil jy nie glo dat God die hardste hart en grootste sondaar soos ek en jy ook kan red nie?

Sal jy die challenge aanvaar?  5 mense, persoonlik.

Indien jy nie die link gekry het nie of nie met elektroniese goed werk nie – agter in die saal is fisiete of besigheid kaartjies met ons adres, tye en die datum van die reeks.

 

Neem vir jou 5 en vertrou die Here om jou te help om die 5 regte mense uit te nooi om volgende week saam jou kerk toe te kom.  Bid en vra vir die Here wie hierdie 5 moet wees.  Gaan haal hulle by die huis as hulle vreemd of uit plek sal voel om alleen hier op te daag. Nooi hulle uit om dalk voor kerk ‘n koppie koffie saam met jou te drink. Kom ons vetrou die Here saam dat Hy groot dinge in ons lewens gaan doen die volgende paar weke. Kom ons wees soos Matteus en nooi mense uit na volgende week se partytjie toe.