Waar jou skat is… God verdien jou beste

[powerpress]

Vandag begin ons ‘n nuwe reeks oor ons harte en die temavers vir die reeks is:

Mat. 6:21  “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”  AFR53

En vandag gesels ons meer spesifiek oor:  God verdien jou beste.

Rom. 12:11        “Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here.”  NLV  “Moenie vir een enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here met groot oorgawe.”  DB

Die woord entoesiasties kan ook vertaal word met: intense passie.

In ons eie woorde beteken dit: wees ten volle uitverkoop aan God.  Volle oorgawe.

1.  Is volle oorgawe / ‘aan die brand’ vir God regtig so belangrik?

2.  Wie se werk is dit op jou entoesiasties of aan die brand te hou?

3.  Watter dinge kan jy doen om geestelik warm te bly?

 

1.  Wat beteken dit om geestelik warm te wees en maak dit regtig saak?

Ek is hier om vir jou te vertel dat dit vir God saak maak.  Meer as wat ek en jy heeltemal verstaan.  Die klassieke gedeelte in die Bybel hieroor is:

Open. 3:15-16   “Ek ken jou handel en wandel. Ek weet dat jy nie koud of warm is nie. Was jy tog maar net koud of warm. Omdat jy so louwarm is, nie warm nie en ook nie koud nie, is Ek op die punt om jou uit my mond te spoeg.”

Die frase “uit my mond spoeg” beteken letterlik uitbraaksel / opgooi.

Die vers beteken dat geestelike louwarmheid, neutraliteit, is iets wat God naar maak.

Hoekom?  Wat is die probleem dan?

Want dit gee aanstoot vir ‘n God wat passievol en met volle oorgawe Sy kinders lief het.

God se liefde is ‘n selfopofferende, persoonlike, entoesiastiese liefde vir jou.

God se reddende offer vir ons, het die bloed van Sy eie Seun gekos.

Toe Jesus se woorde: “dit is volbring” uitgespreek het, was deel daarvan dat daar geen groter offer kan wees om God se liefde vir ons te bewys nie.

Wat meer kan die hemele sê, doen of wys as dit?

En vir enige ware kind van God wat reageer op daardie liefde met ‘n neutrale gees, van ek sal sien of ek daarby kan uitkom, ek sal sien of ek daarvoor tyd het – maak God siek.

Dit pas net nie die belegging, die uitstorting van genade, wat Hy gemaak het nie.

Ek dink ons verstaan dit ook op ‘n menslike vlak.  Soms is daar is geskenk wat ons weet ons kinders of kleinkinders se harte baie bly sal maak.  Partykeer is dit duur of moeilik om in die hande te kry.  En ons doen partykeer geweldige moeite om daardie item vir hulle in die hande te kry, daarvoor te spaar, dit toe te draai…

En wanneer jy daardie geskenk vir hulle gee en hulle kyk net met so traag-my-nie-agtige ondankbaarheid… hoe voel / reageer jy?  WAT???  Regtig?  Dit is soos ‘n mes in jou rug.

 

Soms vergeet ons dat God ook gevoelens het.  En wanneer Hy homself heeltemal vir ons gee en nie spaar nie EN ons reaksie is….  AAGG! en ons gaan maar net aan met ons dinge waaroor ons opgewonde is en wat ons aandag het – kan dit God se hart breek.

Dit is hoekom Openbaring sê, wees eerder koud, maar daardie middelmatigheid, dit is wat God nie kan staan nie.  Nooit nie.

Nog ‘n gedeelte wat vir my dien as ‘n waarskuwing vir geestelike apatie is Maleagi 1.

God is kwaad vir hulle oor die tipes offers wat hulle bring toe die geleentheid daar is om vir Hom offers te bring.

Die Here het dit glashelder vir hulle gemaak vroeg in hulle geskiedenis dat die enigste lam wat vir Hom aanvaarbaar sou wees, die eerste lam is wat perfek is.

Die lam wat die meeste werd is en wat die hoogste prys op ‘n veiling sou kry.

Die simboliek was daar in die O.T. dat God hulle wou wys dat Hy eendag ‘n perfekte lam, die eerste lam, die kosbaarste, waardevolste, Sy eie Seun sou gee.

So God het hulle honderde jare voordat Christus gekom het ‘n simbool of skadubeeld gegee dat die kwaliteit van die lam, werklik vir Hom belangrik is.  A.g.v. die Lam wat later sou kom.  Onthou jy wat die mense in Maleagi se tyd gedoen het?

Wanneer dit offer tyd was en hulle moes gaan kyk het vir die eerste, perfekte lam, dan het hulle in die trop gaan kyk vir die swakste en gebreklikste lam.

Hulle houding was, daar is sommige mense wat niks vir God gee nie.  Ek gee ten minste iets vir God, Hy kan bly wees en gee Hom darem iets.

Mal. 1:8-9 “Is daar niks mee verkeerd as julle ’n blinde of ’n lam of ’n siek dier vir My kom offer nie? Probeer ’n bietjie so iets met julle goewerneur en kyk hoe baie hy daarvan gaan hou. Tog hou julle aan vra dat Ek, die Here, vir julle goed moet wees, maar solank julle so aangaan, sal Ek nie julle gebede verhoor nie, en dis net julle eie skuld. Ek wens iemand wil liewer die tempel se deur toesluit. Dan kon julle ten minste nie al hierdie nuttelose offers vir My bring nie. Ek is nie beïndruk met wat julle doen nie. Moenie dink dat Ek maar met enigiets tevrede moet wees nie. Onthou, Ek is die Here, die enigste God.

Het die gedagte al ooit by jou opgekom dat God jou beste wil hê?

Of is jou idee nog altyd, dat die Here bly moet wees vir iets wat ek gee, dit is sekerlik beter as niks.

Hierdie teks sê dit in geen onduidelike terme dat God nooit geïnteresseerd is in jou “leftovers” of wat jy oor het van jou tyd, jou talente, jou liefde, jou geld nie.

Dit pas eenvoudig nie. Nie as jy die grootheid van die offer wat vir jou gebring is verstaan nie.

Eintlik, as dit jou houding is – dan sê God, Ek neem aanstoot vir die sporadiese been wat jy vir My gooi en dink dit is ‘n offer vir My.

Sluit dan liewers die kerk se deure, dat mense nie halfhartige, louwarm offers vir My kan bring nie.  Stop, moenie met My speletjies speel nie, sê God.  Jy breek my hart.

Ek weet nie of jy al hierdie raakgelees het nie.  Maar die eerste keer wat ek dit gehoor het, het dit my so geskok dat ek geskrik het.  95% vir God is nie goed genoeg nie.

Hoekom myself en dit wat ek gee, vergelyk met mense wat vêr minder passie vir God het as ek.  My 95% is tog beter as Piet se 60%.  God moet baie in sy noppies wees met my.

Wie probeer ek fool?  95% is 5% kort van wat God van my begeer.

God verwag my 100%, Hy begeer my 100%.  Ek moet eintlik op daardie altaar wees.

 

Het God al ooit minder as Sy absolute beste vir jou gegee?

Toe ek dood was in my sonde.  Toe my oortredings ‘n doodsvonnis oor my voltrek het, toe het Hy nie ‘n been my kant toe gegooi nie, Hy het sy duurste, absolute beste vir my gegee.

Toe die tyd gekom het wat Hy die aarde verlaat het, het Hy ‘n afgewaterde weergawe van Homself vir my gegee?  Nee, Hy het die 3de persoon in die Drie-eenheid vir my gegee.

Sy Heilige Gees.  Dit is SY beste.

En in die volgende lewe wat kom, het God vir jou ‘n klein shack sonder ‘n venster belowe?

Nee, ‘n plek en omgewing wat ons gedagtes nie eers kan bedink nie.

1 Kor. 2:9 “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.”

 

Jy gaan wanneer jy jou oë toemaak hier, geneem word na God se wêreld waar jy in Sy beste gaan wees tot in alle ewigheid.  As dit jou nie raak nie, dan weet ek nie.

Hy het nog altyd, Sy absolute beste vir jou gegee.

Die minste wat ek en jy kan doen is om ten minste te probeer om ons beste vir Hom te gee. Dit is nie hierdie werke wat ons red nie, dit is wat hierdie dinge verteenwoordig.

Jou tyd, energie, talente, geld verteenwoordig jou hart.  En dit is wat Hy wil hê.

Harte wat 100% volkome op Hom gerig en gefokus is.  Nie op ander dinge nie.

Wat jy elke dag vir God gee, maak regtig saak!

Kom ek vertel jou hoe dit op praktiese maniere in my lewe uitspeel.

Wanneer ek op ‘n Sondag kerk toe ry, dan het ek ‘n ritueel.  Terwyl ek in ons straat afry en ek die see in die vêrte kan sien sê ek Here, dankie vir die voorreg om vandag na hierdie gemeente toe te gaan.  Ek gaan vandag preek asof dit my laaste preek is wat ek gaan preek, want dit kan dalk my laaste preek wees wat ek preek.

Ek vra die Here om my te help, want ek weet daar is menselewens op die spel.

Ek vra Hom om my te help om my absolute bes te gee want Hy het Sy absolute bes vir my gegee.  En dan bid ek vir elke persoon wat vandag hier gaan sit.

 

Partykeer sal ek by iemand stil staan, dalk moeg of nie werklik lus vir die afspraak nie.

En dan sal die Heilige Gees fluister, Braam, is hierdie jou beste?

Dink jy nie hierdie persoon verdien jou volle aandag en dalk jou gebede nie.

En dan moet ek bely en erken, ja Here, ek moet my hart regkry.  Hierdie persoon verdien my beste, hierdie persoon het my gebede nou nodig, hierdie persoon het U nou nodig.

Elkeen van ons het geestelike gawes of talente.  Eendag moet ons rekenskap daarvan gee aan God.  As jy dink aan jou gawes wat dit ook mag wees, herderskap, intersessie, gasvryheid, vrygewigheid – doen jy jou beste om daardie gawes te ontwikkel en te gebruik vir God en Sy koninkryk?

Partykeer as jy by die werk is en jy dink, ek werk maar net by ‘n gewone besigheid, ons maak maar net motoronderdele.

 

Fluister God ooit in jou oor, maar doen jy jou beste daar, asof jy dit vir Hom doen?

Selfs al doen niemand anders hulle beste nie, doen jy jou werk so asof jy eintlik vir God werk en nie ‘m aardse baas nie?

Baie van ons het dalk die afgelope jaar as dit kom by bydraes gedink, daar is soveel ander wat dalk glad nie gee nie, kyk wat ek darem gee as die mandjie verby kom of my EFT maak dit einde van die maand.

Is dit jou beste?  Is dit die eerste deel van jou inkomste?  Is dit jou volle tiende?

Wel, God of die kerk moet darem bly wees vir dit wat ek gee, dit is beter as niks nie.

Wat dink jy?  Ek gaan dit net nog een keer sê – God het nog nooit minder as Sy absolute beste vir jou gegee nie.  ALLES wat jy het, ek sê weer, ALLES wat jy het, is deur Hom vir jou gegee.

 

2.  Wie se werk is dit op jou entoesiasties of aan die brand te hou?

Judas 1:20        “Maar julle, geliefdes, moet aanhou om julleself op te bou op die fondament van julle allerheiligste geloof. Hou aan om te bid terwyl julle heg verbind bly aan die Heilige Gees.”

Wie se werk is dit?  Dit is elke persoon se eie werk om dit te doen.

Sou dit nie lekker gewees het as dit my werk was nie?

Dan kon jy ten minste iemand blameer.

 

3.  Watter dinge kan jy doen om geestelik warm te bly?

Dit is vir verskillende mense verskillende dinge.  Maar hier is ‘n paar wat deel van my lewe geword het lank voor ek nog ‘n pastoor geword het.  Om ‘n pastoor te word het nie eers my gedagtes gekruis toe ek eers ‘n kind van God geword het nie.

 

Plekke.  Ek moet na sekere plekke toe gaan om my geestelike aan die brand te hou.

Vir my is dit kerk toe.  Wie van julle het meeste van die tyd meer opgebou en aan die brand hier uitgestap as wat jy hier ingekom het?  Meeste?

Mense.  Daar is sekere mense met wie ek weekliks kontak moet hê om daardie ywer, entoesiasme en passie vir die Here en sy dinge warm te hou.

Ek praat van tyd tot tyd met van ons kinderkerk personeel en weet jy wat is van die dinge wat hulle vir my sê, dit is verskriklik moet om met ‘n groep kinders te werk en iets in hulle lewe te probeer inbou as hulle net so 1x ‘n maand daar is.

Dit is net of hulle nie op hulle gemak raak nie, hulle maak nie vriende nie.

En hulle probeer hulle bes om iets blywend in die kinders se lewe te doen maar as hulle een keer in 6 weke daar is, kan jy maar dit sommetjie self maak.

As jy dit nie vir jouself kan uitsorteer om kerkbywoning ‘n prioriteit te maak nie, asb. ek vra dit op die mooiste manier wat ek kan, doen dit vir jou kinders.

Sal jy hulle eerste stel en hulle bring sodat hulle dalk die geleentheid het om deur die Here aangeraak te word op ‘n Sondag oggend.  Sodat hulle vir die liggaam Christus lief kan raak?  Hoe sal hulle ooit kerk toe gaan as volwassenes as hulle nooit as kinders gesien het dat dit ‘n plek is waar hulle God kan ontmoet nie?  Hulle kan nie hulle self hier uitbring nie.  Sal jy daaraan dink volgende keer?

As daar nie daagliks tyd saam met God gespandeer word nie, hoe kan ek ‘n lewende verhouding met Hom hê?  As Sy Woord, nie feitlik daagliks in my gedagtes en my lewe leef nie, hoe sal ek enigsins verander na die beeld van Sy seun?

 

Ek wonder of jy toelaat dat die Here jou besluite in jou lewe maak?

Ek wonder of jy al besluit het of gebede bid wat jy vir die Here sê, Here help my om ten volle oorgegee, 100% committed aan U te wees.

Ek is klaar met halfhartigheid, met middelmatigheid, met louwarm.

Ek gaan myself aan die brand hou.  Wat ook al moet gebeur in my lewe om geestelike aan die brand te bly, ek gaan dit doen.  Ek gaan ophou verskonings uitdink vir myself en vir die mense in my lewe.  Ek gaan ophou om iemand anders te blameer vir my louheid.

Ek gaan van hierdie dag verder, alles vir U gee, want U het alles vir my gegee.